— Braam le Roux —
Die Wind Beveel
Braam le Roux
Temmers van die Woestyn · No. 2
Met die houvas van die rowersbende gebreek en Lou Badendorff wat die woestyn in gevlug het, verloop daar ’n paar weke van vrede op Kuruman. Dis egter die aankoms van die nuwe vrederegter wat juis die teenoorgestelde toedrag saambring, want diamantsmokkel neem dodelik toe en Badendorff is terug om wraak te neem. Riaan Naudé en Sonja besef dat met die nuwe vrederegter se manne wat amper openlik moord pleeg, moet hulle reg in eie hande neem.
Oorspronklik uitgegee in 1953.
Die Watermonster Brul
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 26
Die Swart Luiperd is steeds in Bolivië, waar hy en Ricardo Barossa, ’n ryk Portugees en avonturier, uiteindelik die mitiese Stad van Woera bereik het. Daar is die ontvangs egter minder as vriendelik, weens die vyandigheid van Berto, Ricardo se broer en nou die koning van die stad. Dit raak ’n stryd om oorlewing, met ’n angsvolle nag in die Grot van die Verderf en dan ’n geveg in die Put van Verderf teen die gevreesde watermonster. Gelukkig vir Leon is almal in Woera nie tevrede met Berto se tiranniese heerskappy nie en raak die Swart Luiperd teen sy sin betrokke by ’n rewolusie – maar wie is sy vriende, die soldate of die priesters?
Oorspronklik uitgegee in 1955.
Fees van die Kopbeen
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 25
Die Swart Luiperd is in Bolivië, op pad na die stad van Woera. Ricardo Barossa, ’n ryk Portugees en avonturier, het etlike jare gelede daarvandaan ontvlug, maar sy broer gevangene agtergelaat in die stad. Nou is dit Leon se taak om hom soontoe te vergesel en die lot van die vermiste broer te bepaal. Sake word egter benoud wanneer die ekspedisie die bron van voedsel raak vir ’n onbekende watermonster, en die wrede Jivaro’s nuwe kopbene begeer. Die Luiperdman se boog span tot breekpunt om Woera heelhuids te bereik.
Oorspronklik uitgegee in 1955.
Rooi is die Waters
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 24
Die Swart Luiperd besluit om te gaan kyk hoe lyk die Krater van die Dood, maar oppad soontoe word hy deur vlugtelinge vertel dat fortuinsoekers hul stat aangeval en uitgemoor het. Die Luiperdman besef dat dit dieselfde safari is waarvan hy in Nairobi verneem het, een wat skynbaar net vreedsame natuurkundige studies wou doen. Nou is hulle egter ook oppad na die Krater van die Dood met gevangenes wat gaan moet die rykdom in die berg uitgrawe. Dis gedugte boewe waarteen Leon en sy makkers te staan kom, skurke wat raakskiet en nie skroom om die krokodille in die rivier te voer nie.
Oorspronklik uitgegee in 1955.
Vallei van Gedrogte
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 23
Die gevreesde Nuba-Nuba is weer besig met hul terroristiese aktiwiteite. Majoor Clive Butler word deur die regering aangesê om hulle te stop en hul leier, die reuse M’wani, te vang. Min het Clive en sy twee maats geweet wat vir hulle wag daar in die Newelberge waar die Nuba-Nuba hulself skuilhou.
Etlike weke later, met hul gulsige lus vir dood en verwoesting nog vêr van bevredig, kruis die Nuba-Nuba se pad met dié van Die Swart Luiperd … maar eers moet die honger gedrogte van die verlore vallei getrotseer word.
Oorspronklik uitgegee in 1955.
Wraak van die Gorillas
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 22
Krisjan glimlag weer en loop dan in die rigting waar hy die Luiperdman van sy perd sien val het. Hy beweeg vinnig en intussen hou hy die gras, bosse en rotse langs hom en voor hom stip dop. Hy het gesien dat die Luiperdman se luiperds by hom is. Dit mag net moontlik wees dat die diere hom lê en inwag. Maar met die geweer in sy hande, is hy nie juis bang nie. Voordat een van hulle naby hom is, sal hy hom kan omkap … nes hy sopas die Luiperdman doodgeskiet het.
Die Swart Luiperd kom te staan teen Ratau, ’n mensvreter-luiperd wat die plaaslike bevolking terroriseer. Dis egter die aankoms van ’n safari jagters met twee mak gorillas wat die Luiperdman laat reken dat alles is nie Ratau se werk nie.
Oorspronklik uitgegee in 1955.
Geheim van die Wit Heks
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 19
“Maak hom dood! Slag hom af dat ons sy vel aan die Wit Heks kan bring.”
Daar volg ’n oorverdowende kreet en die agt Duiwelmanne storm met swaaiende knuppels. Simson en Spikkels hef dadelik ’n ewe luide gebrul aan. Die hele oerwoud sidder en vir ’n oomblik oordonder dit die geskree van die aanvallers. Noudat hulle soos een man storm, lyk hulle afskuwelik, wreed, doodtartend. Dit is asof ’n kordon duiwels met hulle monstergesigte moorddadig op die drietal losbars. ’n Gooimes trek deur die lug, maar die Swart Luiperd buk laag en dit val klinkend teen die boomstam agter hom.
In hierdie boek kom Leon en sy makkers se eerste avontuur in die woude van Suid-Amerika met geweld tot ’n einde, want die oomblik van afrekening met die wrede Wit Heks van Paititi het aangebreek!
Oorspronklik uitgegee in 1954.
Bloedfees van die Ape
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 21
Die dreuning van die vliegtuig word oorverdowend. Die masjiengeweer bars weer los. In daardie oomblik voordat die masjiengeweer weer dood en verderf gebraak het, sien die Luiperdman Percy se gesig, ’n verwronge gelaat met helder doodssweet op sy gesig. Hy sien die hand wat opwaarts gryp en ’n versmoorde kreet volg. Dan ruk Percy se liggaam soos warm lood hom deurboor. Die vliegtuig duik opwaarts en Percy bly lê, vormloos.
Casper C. Langford, ’n ryk Amerikaner, se seun het verdwyn naby die Berge van die Draak. Nou word die hulp van Die Swart Luiperd ingeroep om die soekgeselskap te lei. Maar is dinge soos dit lyk? Waarom beweer die Luiperdman se Pigmee-vriend dat daar is nie ’n verlore seun nie? Wie, of eerder wat is die Banjanie waarteen gewaarsku word?
Oorspronklik uitgegee in 1955.
Dans van die Dood
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 20
Die Swart Luiperd is terug in Afrika en raak sommer onmiddellik haaks met ’n safari wildjagters wat diere vang vir ’n sirkus.
Dis egter die teenwoordigheid van die wrede Monga’s as gidse en kruiers wat vinnig toon dat hierdie is eerder slinkse fortuinsoekers en slawe-handelaars. Hulle beraam ’n plan om vir Leon te dwing om hulle na die ivoorskatte duskant die Blouberge te neem.
Die staccato-lawaai van masjiengewere brand deur die oerwoud en die Luiperdman moet alles op die spel plaas om vir Sonet en klein Bennie te red van ’n wrede marteldood!
Oorspronklik uitgegee in 1954.
Die Bekende Vreemdeling
Braam le Roux
Temmers van die Woestyn · No. 1
Lou Badendorff en sy makkers is die groot diamant- en beessmokkelaars in die distrik. Niks en niemand staan lank in hul pad nie.
Dan arriveer daar ’n vreemdeling op die dorp, ’n man wat lyk nes Hannes Naudé wat onlangs vermoor is.
Oorspronklik uitgegee in 1953.
E-BOEK (DRM-VRY)
E-boek beskikbaar vanaf Amazon.com.
Waar die Dooies Leef
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 18
Onwillekeurig spring die Luiperdman ’n tree terug. Met ’n afskrikwekkende geblaas styg die reptiel hoër en hoër uit die water uit. Sy lyf is vaal-groen en slymerig. Die groot kop lyk soos dié van ’n trapsuutjie, maar Leon sien dat die ondier verskriklike geel slagtande het. Dit blaas weer, en die geluid vul die ruimtes om hulle. Die ding seil teen die wal op. Die Luiperdman sien dat dit kort voorpootjies het en langer agterpote. Dit kruip moeisaam-stadig teen die steilte op terwyl die modder en slyk van die onding afdrup. Daar is ’n skerp, lang vin wat van die dier se kop strek tot waar sy stert sy lyf verlaat. Terwyl die gedierte stadig aangekruip kom, skiet daardie vin omhoog en word telkens weer ingetrek. ’n Lang, groen tong blits aanhoudend uit en in, en die geblaas word ’n ysingwekkende gebrul.
Oorspronklik uitgegee in 1954.
Wind oor Haar Graf
Braam le Roux
Temmers van die Woestyn · No. 8
Die beesboere van die Kuruman-distrik is besig om ’n pad te bou na die noorde, om hul beeste aan die Duitsers te kan verkoop. Die pad gaan deur Rooi Els se gebied loop en hy is sterk daarteen gekant.
Sake bereik breekpunt wanneer enkele boere Rooie se beeste steel, met die gevolg dat dié en sy manne oorlog verklaar en die dorpie van Ga-Mopedi beset.
Magda Fourie plaas alles op die spel om vrede te bewerkstellig tussen Rooi Els en die distrik se beesboere.
Oorspronklik uitgegee in 1954.
Gees uit die Vuur
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 17
Die geraamte lag luidkeels en onaards. Ignatius sien hoedat die Jivaro met die gesmelte goud nader kom na hom toe, met ’n afgryslike uitdrukking op sy gesig. Ignatius wil skree, maar hy bedwing homself. Dit voel asof yskoue water oor sy hart loop en asof sy keel skielik droog is en brand. Ignatius ruk aan die toue. Die dromme klop uittartend in sy ore. Dit is asof hy ’n fees in die hel bywoon. Die Jivaro met die gesmelte goud skiet nader, buk, en dan steek ’n verskriklike pyn in sy murg op, en hy hoor homself gil.
Oorspronklik uitgegee in 1954.
Die Duiwel is ’n Vrou
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 16
Die Luiperdman stap vinnig nader na die kreunende Groot Aap toe. Hy buk oor hom en betas sy kop. Die Groot Aap lê nou stil, maar sy bene skop styf en die verskriklike pyn laat sy hele liggaam bewe. Die Swart Luiperd was net op die punt om die kop en die eienaardige ‘pantservel’ van die Groot Aap nader te beskou, toe ’n Amarari-wag skielik uitroep.
‘Die Oekapi’s val aan! Die Oekapi’s val aan!’ weergalm dit in die vroeë oggendlug.
Oorspronklik uitgegee in 1954.
Pad van die Arend
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 15
Die Swart Luiperd en familie is in Suid-Amerika om die antropoloog Ignatius Malan te help met sy navorsing. Alles verloop vreedsaam, totdat die kondors opdaag om die dorpie se kinders weg te dra na die Groen Hel toe. Daar kom die Swart Luiperd te staan teen die mitiese jaguarmanne en moet ook die gevaarlike anakonda van die riviere trotseer.
Oorspronklik uitgegee in 1954.
Man Sonder Kop
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 14
Die Swart Luiperd is vyftig treë van die toneel van afskuwelikheid af. Hy skree so hard as wat hy kan; die Rama swaai om op die rug van sy perd. Dadelik sien hy die aanstormende Swart Luiperd. Hy ruk aan die teuels van sy perd en mompel iets. Die wit perd swaai om; dadelik sien die dier vir Leon. Die oë van die perd het skielik verander. Sonder dat die Rama op haar rug haar spore gee, pyl sy op Leon af. Haar oë is rooi en nou is die dier met haar rooi oë en spierwit vel ’n ware hel-perd. Die sandkorrels spat soos sy storm. Daar is ’n snaakse gesnork wat afskrikwekkend klink. Dit lyk asof die reuk van bloed en die aanskouing daarvan haar mal gemaak het.
Oorspronklik uitgegee in 1954.
Die Dood Kom Stil
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 13
Selfs vir die Swart Luiperd is die toneeltjie hier onder hom afskrikwekkend. Soos die Monga wat hy so flussies teëgekom het, is die gesigte van die spiesdansers ook getatoeëer. En in die flikkerlig van die vlamme is die kop van ’n wolf duidelik herkenbaar. Leon besef dat hierdie afskrikwekkende wolfbakkies wat op die Monga-gesigte getatoeëer is, ontsettend vreesaanjaend vir die Pigmeë moet wees. Alleen net by die aanskouing van hierdie wolf-figure, kan die Pigmeë se moed hulle begewe, kan hul moraal lamgelê word.
Oorspronklik uitgegee in 1954.
Skedels in die Sand
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 12
Sonet is ontvoer!
In die Drakensberge kom die Swart Luiperd af op ’n bende opium-smokkelaars en die enigste manier om vir Sonet te bevry is om die hele bende uit te roei. Maklik gaan die nie, want die smokkelaars het hulp vanaf ’n onverwagse bondgenoot.
Oorspronklik uitgegee in 1953.
Kloue van die Valk
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 11
’n Bende ruiters is besig om al die perdeboere van die distrik te besteel. Sake raak moeilik wanneer die leier van hierdie rowers, slegs bekend as ‘Die Valk’, met geweld, ontvoering en verwoesting vir Leon probeer teenwerk.
Oorspronklik uitgegee in 1953.
Rooi Maskers
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 10
Die Swart Luiperd en maats is opsoek na avontuur in die Kaokoveld van Suidwes-Afrika, want daar is die wêreld nog oop en vry. Gou blyk dit egter dat hierdie gebied ook die skuilplek van die wrede bende van die Rooi Masker te wees, wat meer in die skild voer as net diamante smokkel en speurders vermoor.
Oorspronklik uitgegee in 1953.
Die Mense van die Meer
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 9
Die Swart Luiperd en sy afdeling Pigmeë reis dieper in die gebied van die gevreesde Mongas in om die ander lede van die mislukte antropologiese ekspedisie te red.
Die bloedspoor lei na ’n geheimsinnige fort omring deur ’n meer wat bewoon word deur eienaardige vismense.
(Hierdie boek volg op Pyle van Vuur.)
Oorspronklik uitgegee in 1951.
Moordenaar in Wit
Braam le Roux
Temmers van die Woestyn · No. 7
Danie, Henning en verskeie verarmde families is oppad na die plaas wat deur Danie se oorlede vader aan hulle nagelaat is. Dit is egter gou duidelik dat die groot beesboere glad nie hierdie nuwelinge in hul kontrei wil hê nie: eers word die brug opgeblaas minute voor die trekkers daarop oorry, en dan word Danie beskuldig van beesstelery.
Oorspronklik uitgegee in 1954.
Pyle van Vuur
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 8
Terug van sy avonture op die Eiland van die Blou Duiwels, verneem Leon (alias die Swart Luiperd) dat Sonet saam met vriende op ’n antropologiese ekspedisie is opsoek na ’n stam woestynbewoners. In Midde-Afrika word die ekspedisie deur die gevreesde Mongas aangeval en verkry Leon hulp van ’n groepie Pigmeë om die nuwe slawe te bevry.
Oorspronklik uitgegee in 1951.
Vlamme teen die Horison
Braam le Roux
Temmers van die Woestyn · No. 6
Na ’n onderonsie met sy tweelingbroer, besluit Alfred om weg te trek van die familieplaas af. Dinge loop egter lelik skeef deurdat die voorman hierdie geleentheid gebruik om vir Alfred as die skuldige in ’n bloedige beesstelery te laat lyk!
Oorspronklik uitgegee in 1954.
Ek Kom Vannag!
Braam le Roux
Temmers van die Woestyn · No. 3
Ren Cillié ontsnap uit die eilandtronk om wraak te neem op die drie mense wat sy verloofde vermoor en hom daarvan beskuldig het.
Oorspronklik uitgegee in 1953.
Gif vir die Hart
Braam le Roux
Temmers van die Woestyn · No. 5
Alfred en sy pa grou al jare lank na goud in die woestyn, maar na die aanval van ’n ou vyand word dit aan Alfred geopenbaar dat hy nie werklik is wie hy dink hy is nie. Met die kaart wat die geheime myn aandui, agt sakkies goudstof, etlike duisend pond in die bank en ’n wrede boewe-bende op sy hakke, gaan soek Alfred na sy tweelingbroer, wat uitdraai ook agter sy bloed aan is — maar om ’n veel ander rede!
Oorspronklik uitgegee in 1954.
Die Eiland van die Blou Duiwels
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 7
Leon, oftewel die Swart Luiperd, word deur ’n ruwe fortuinsoeker gevra om saam te gaan na die Eiland van die Blou Duiwels.
Oorspronklik uitgegee in 1951.
Die Galg in die Oerwoud
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 6
Onderwyl Leon (ook bekend as die Swart Luiperd), Donker, Spikkels en Simson in die noorde van Suidwes-Afrika kuier, gewaar hulle die gevreesde massa-moordenaar, Brutus. Die agtervolging lei na ’n verlore vallei, regeer deur ’n beeldskone, maar wrede koningin.
Oorspronklik uitgegee in 1949.
Wyn met Bloed
Braam le Roux
Temmers van die Woestyn · No. 4
Hy is gevonnis tot lewenslange tronkstraf op ’n eiland in die stroomgebied van die Oranje-rivier vir ’n daad wat hy nie begaan het nie, weens ’n grusame moord op ’n jong, beeldskone meisie! Sy was die sewentienjarige dogter van ’n man wat vir hom, Ren Cillié, met ’n brandende haat gehaat het. Haar naam was Leonora — Leonora Maree, en haar vader was Paul Maree wat in Kuruman, aan die rand van die Kalahari-woestyn, bekend was as die grootste en slinkste veedief wat hierdie geweste ooit opgelewer het.
(Hierdie boek volg op Ek Kom Vannag!)
Oorspronklik uitgegee in 1954.
Die Kruipende Dood
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 5
Onderwyl Leon (ook bekend as die Swart Luiperd), Donker, Spikkels en Simson lekker besig is om te rus vir die aand tydens hul reis deur Oos-Afrika, word hulle aangeval deur sluipers. Hierdie insident lei gou tot ’n stryd om lewe of dood op die Eiland van Geraamtes, alvorens die geheim van die Kruipende Dood en die onheilige monnike daaragter ontmasker kan word.
Oorspronklik uitgegee in 1949.
Kamerade van die Draak
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 4
Leon, oftewel die Swart Luiperd, word deur die vuurtoring-opsigter gevra om sy klein dorpie te kom help teen die Draakruiters. Dis egter nie so maklik nie, en daar skuil meer agter as net ’n klomp skurke wat roof en plunder.
Oorspronklik uitgegee in 1949.
Die Bloedboodskap
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 3
Die gevreesde kannibale van Tsawo is op soek na die fortuinsoekers wat hulle koning vermoor en skatte gesteel het, maar word onwetende gehelp deur juis daardie fortuinsoekers. Met wraak en rykdom as dryfkrag beplan hulle ’n aanval op die klein dorpie waar Leon, oftewel die Swart Luiperd, en familie woon.
(Hierdie boek volg op Die Mensvreters van Tsawo.)
Oorspronklik uitgegee in 1949.
Die Mensvreters van Tsawo
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 2
Terwyl Leon, oftewel die Swart Luiperd, by sy oom in Oos-Afrika kuier, verneem hy van die kluisenaar wat weet waar die geheime stad van Tsawo is. Ongelukkig is ’n klomp gewetenlose fortuinsoekers ook agter die skatte aan en ontlok so die gevreesde reuse bewakers van Tsawo – en hulle honger vir slagoffers.
Oorspronklik uitgegee in 1949.
Gemaskerde Moordenaars
Braam le Roux
Die Swart Luiperd · No. 1
Die begin van die avonture. Leon en geselskap word aangeval en beroof deur Sulg se bende. Met sy vader dood en Lettie ontvoer, neem hy die gestalte van die Swart Luiperd aan om wraak te neem.
Die boek verklaar waarom Leon nou juis die Swart Luiperd geword het.
Oorspronklik uitgegee in 1949.