— Hoofstuk 1 —
Swart Sluipers
Versengende hitte skroei die oerwoudbosse. Dit is bedompig warm hier tussen die ruigtes en boomreuse. Die geklop van die tamboere wat die Swart Luiperd nog ’n oomblik gelede gehoor het, het eensklaps opgehou. Daar lê nou ’n doodse stilte oor die hele omgewing. Asof hulle iets gewaar het, het ook die ape en die voëls in die boomtoppe bokant die Luiperdman en sy drie maats opgehou skree en sketter.
Daar heers ’n onheilspellende stilte en Simson en Spikkels, die twee mak luiperds, is glad nie op hul gemak nie. Hulle spits hul ore.
Donker, die Swart Luiperd se ryperd, is blykbaar te moeg en uitgeput om waaksaam genoeg te wees. Die sweet rol oor sy blink-swart vel. Hy suip gretig van die koel water op wat tussen die witstammige woudreuse deurkronkel en van die hoë berge afkomstig is.
Die Swart Luiperd kyk vinnig om hom heen. Hy gewaar egter geen verdagte geluide nie. Spikkels en Simson se gedrag verraai egter dat daar gevaar in die nabyheid is; hulle lê nou doodstil onder een van die bome, platgedruk, gereed om hulle te verdedig. Dit kan nie ongediertes wees nie, want Leon ken sy gespikkelde kamerade al. Hulle sou ’n benoude brulgeluidjie gegee het as dit ’n leeu of ’n ander roofdier was wat hulle in die ruigtes naby hulle gewaar.
’n Groot, groenkleurige bospapegaai fladder uit ’n boom in die nabyheid. Dit laat die Swart Luiperd effens skrik. Sy hand gaan vinnig na die mes wat in ’n leerskede aan sy sy hang. Hy wens heimlik dat dit nie so stil moet wees nie; dat daardie tamboerslae wat deur die bosse gedreun het, weer ’n aanvang moet neem. Hierdie stilte in die oerwoud is senuweetergend. Hy is nou dood seker daarvan dat iets op hulle afsluip.
Blitsvinnig swaai die Luiperdman hom die volgende oomblik op die boomtak bokant hom. Hy hys hom met behulp van ’n stewige bobbejaantou nog hoër-op. Hy het hom verbeel dat hy ’n sagte geritsel in die bosse voor hulle gehoor het.
Nóg die Swart Luiperd, nóg sy twee waaksame tiers is daarvan bewus dat verskeie groot oë glurend uit die bosse op hulle gerig is. Dit is klein maar breedgeskouerde mannetjies, van die klein duiweltjies van die ondeurdringbare bosse hier in die hartjie van die Kongo. Baie reisigers het die Luiperdman teen hierdie dwergras van die oerwoud gewaarsku. En nou, terwyl die Luiperdman bo in die mik van die boom sit, weet hy instinktief dat dit die sluipers van die bosse is wat waarskynlik op hul spoor is. Hy ken die dodelikheid van hul gifpyle. En by dié gedagte sit hy sy jagmes in die skede terug, haal sy boog vinnig van sy rug af en pas met vlugtige handbewegings ’n pyl daarin.
Die voorste Pigmee het die Luiperdman en sy maats al lankal gewaar en sluip met die tred van ’n roofdier geruisloos op hulle af. ’n Pigmee-jagter het hom byna boeglam geskrik toe hy sowat twee ure gelede op die maskerfiguur van die Swart Luiperd afgekom het. Hy het hom vinnig na die naaste stat gehaas – en toe het die tamboere gedreun soos die klein wreedaards hul hoofman in kennis gestel het van die vreemde gedrog wat die bosse binnegedring het.
Dit is die tamboer-boodskap waarna die Swart Luiperd so flussies met ingehoue onrus geluister het, maar nie verstaan het nie. Hierdie dosyn manne, elkeen met ’n pyl en boog en spiese gewapen, is afgevaardig om die Luiperdman lewendig te vang en na die stat te bring. Hulle aarsel egter nou tussen die ruigtes. Hulle het gesien hoe die Swart Luiperd hom blitsvinnig en behendig in die boom inswaai.
Nie een van hulle het genoeg moed om eerste te storm nie, maar die hoofman wil die vreemdeling hê. Die hoofman se woorde in die taal van die tamboere was, ‘Bring hom lewendig na die stat toe. As hy ’n soort god uit die vreemde is, sal ons hom in die hok van die groot gorilla werp. Dan sal ons sien wie die sterkste is. Vang hom lewendig. ’n Twaalftal mans is genoeg.’
Na die eerste geritsel soos van iets wat op droë takke getrap het, volg weer ’n stilte. Opeens, na etlike minute, roer die blare aan die linkerkant van die Swart Luiperd. Donker ruk sy kop omhoog – die water drup van sy bek af – en hy runnik senuweeagtig. Nou eers gewaar hy die sluipende tred van die dwergmensies wat hulle feitlik omsingel het.
Die Pigmeë se bloeddors en onverskrokke wreedheid het egter nou plek gemaak vir ’n soort vrees. Hulle gluur na die wese daar in die boom. ’n Paar fluister en die Swart Luiperd en sy maats hoor daardie gefluister.
Nog net ’n paar sekondes van wag, en dan du ’n arm die blare opsy; groot oë, wydgesper, staar in die rigting van die twee tiers en die perd. Die Swart Luiperd weet nie of hy moet skiet of nie. Die snaakse brabbeltaal van hierdie klein wreedaards het hy so half-en-half aangeleer toe hy ’n jaar of twee aan die grense van die Kongo rondgedool het. Hy verbaas hom dat die klein mannetjies tot so naby aan hom kon beweeg het, sonder dat die geringste geluid hul aantog verraai het.
Die Swart Luiperd gewaar die gesig feitlik op dieselfde oomblik as sy tiers. Spikkels en Simson soek haastig na beter skuiling en brul kortaf en waarskuwend.
’n Sekonde later swiep ’n pyl uit die boog van die voorste Pigmee; dit tref Spikkels byna. Die Luiperdman sien dadelik dat hulle omsingel is.
’n Sestal van die klein mensvretertjies peul uit die bosse en storm op Donker af. Donker runnik skel en kap met sy voorpote na die bonkige, grootkoppige mense van die bosse. Vrees het hom oorweldig en sy hele liggaam bewe. Hy kan egter nie agtertoe nie, want drie van die dwergies keer hom van agter.
Die Luiperdman besef dat hy nou moet optree. Sy boog span en een van die grootste van die aanvallers byt stof.
Die ander is nog huiwerig om die gemaskerde, vir hulle vreemde wese, aan te val. Hulle beweeg stadig na die boom toe en praat in hul stotterende taal.
Uit die hoek van sy oog sien Leon skielik dat een van die Pigmeë besig is om met ’n kort spies na die bors van Donker te steek. Vinnig stuur hy ’n pyl na die blaaie van die Pigmee. Dit tref die oerwoudbewoner met ’n klapgeluid en dring byna dwarsdeur sy liggaam. Hy stort vooroor, en Leon sien hoedat Donker se hoewe ’n paar keer op die slap liggaam te lande kom.
Die Swart Luiperd spring uit die boom op die vyf Pigmeë af en skree terselfdertyd ’n bevel aan sy twee tiers uit. Die luiperds gehoorsaam dadelik en soos blits val hulle die gewapende Pigmeë, wat om Donker saamdrom om ’n doodsteek in te kry, aan.
So ’n aanval het die Pigmeë nie verwag nie. Twee van hulle word in ’n ommesientjie platgetrek. Donker is mans genoeg vir die oorblywende drie. Hy skop en hamer met sy voorpote na die dwergagtige inboorlinge. Een van hulle steier terug, bots teen ’n boomstam en bly roerloos lê. Die ander is egter te vinnig vir die perd en ontwyk die hoewe wat op hulle neerdaal. Een gee eenkant toe pad en lê aan met sy pyl en boog. Spikkels is egter dadelik weer op die aanval en met ’n gegrom spring sy die Pigmee onderstebo, kry hom aan die keel beet en swaai hom heen en weer.
Die Swart Luiperd het hom egter misgis wat die krag van die dwergras van die bosse betref. Skaars het hy grond gevat of verskeie hande pak hom beet. Een het hom dadelik aan sy bene beet en trag om dit onder sy liggaam uit te ruk. Soveel krag het hy nie in hierdie mensies se arms en bene verwag nie. Dit is soos gomlastiekagtige liggame wat hom soos miere beetpak.
Met een kragtige swaai van sy liggaam werp hy egter twee van die mannetjies van hom af weg, maar terselfdertyd slaag die ander vier daarin om die Luiperdman plat te trek. Die Swart Luiperd slaan egter woes, en nog ’n dwergmens seil van hom af weg.
Dit gee Simson die kans om die half-bewustelose Pigmee weg te sleep van die ander aanvallers af. Na etlike oomblikke het hy reeds die Pigmee kafgeloop en hy storm nou weer om sy gemaskerde maat by te staan.
Die Swart Luiperd het nog ’n Pigmee buite aksie gestel deur hom byna te verwurg. Hy is nou weer op sy voete, en voordat hy nog een kan platslaan, verdwyn die oorblywende vier, twee van hulle goed afgeknou. Die Luiperdman en sy maats luister hoe die bosse en takke kraak soos die vier die aftog blaas.
Die Swart Luiperd kyk om hom rond om te sien of daar nie nog van die aanvallers in die omgewing is nie. Hy besef egter dat hulle nie ’n oomblik langer hier moet vertoef nie. Die Pigmeë is gedug en onverskrokke, en hulle sal maar weer terugkom, hierdie keer met baie meer manne.
‘Kom, maats!’ beveel hy saggies, kry Donker onder beheer en is in ’n oogwenk in die saal en laat so vinnig soos moontlik deur die bosse spat. Die perd is nou die ene senuweeagtigheid en Leon sien dat daar ’n snywond aan sy blad is. Hy klim dadelik weer af. Indien dit een van die gifpyle van die Pigmeë is wat die dier daar getref het, sal Donker dit nie meer lank uithou nie. Hy trek sy asem diep in. Die twee tiers staan grommend nader. Gou stel die Luiperdman egter vas dat dit ’n spies is wat die perd skrams getref het.
Hy sal met sy diermaats so ver moontlik moet vorder, en dan is die hoop nog maar skraal om die Pigmeë af te skud. Hulle sluip in hierdie wêreld so geruisloos soos sy gespikkelde katte, en enige oomblik kan hulle agter die baie bome uit te voorskyn tree.
Dit is vir die Swart Luiperd ook duidelik dat sy masker hulle afskrik. Indien hulle eers ontdek dat hy die gesig van ’n mens het, sal hulle nie meer skrikkerig en vreesbevange weifel nie, maar sommer holderstebolder stormloop.
Dit is nou so warm dat die Luiperdman dit byna nie meer kan uithou nie. Hy en Donker ly albei onder hierdie genadeloos-uitputtende hitte. ’n Paar keer moet hy selfs sy masker verwyder om die sweet wat langs sy wange afrol en op sy voorhoof biggel, af te vee. Hy sal nog ver deur die Kongo-bosse moet reis om deur Pigmee-land te dring. En wanneer hulle die gevare in hierdie ruigtes agtergelaat het, lê daar nog asemberowende avonture vir hulle voor.
Hoewel wild volop is, het sy twee tiers en hyself vandag nog niks te ete gehad nie. Net Donker het hom wel so flussies aan sappige gras langs die bergstroom te buite gegaan. En hy weet uit ondervinding dat sy luiperds nie altyd op ’n leë maag tot gehoorsaamheid gedwing kan word nie. Hy sal so gou moontlik moet sorg dat hulle sommer ’n groot maal in die hande kry.
Onderwyl die Swart Luiperd voortry, kyk hy stip en waaksaam voor hom in die bosse uit, sy sintuie – soos sy diermaats s’n – gespanne om elke geluidjie op te vang. In hierdie woud met sy legio riviere krioel dit van wild, maar die bokke is ook uiters skelm en geslepe.
Onbewus luister die Swart Luiperd of hy nie weer daardie ritmies-dralende, vreesinboesemende gedoem-doem van die Pigmee-tamboere hoor nie. Hy verwag dat dit enige tyd weer kan losbars, sodra dit by die eerste dwergstat bekend word dat die aanval op die vreemdeling met sy dierkop, wat dit durf waag het om hul heiligdom binne te dring, misluk het.
Hier tussen die bosse deur vorder die luiperds vinniger en gemakliker as Donker. Hulle voel die hitte van die oerwoud nie so fel op hulle neerskroei soos die Luiperdman en die swart hings nie. In hierdie tropeklimaat is die gespikkelde katte in hul element. Spikkels en Simson grom telkens gedemp en ongeduldig asof hulle beurte maak om hul misnoeë te kenne te gee.
Die Luiperdman paai, ‘Toemaar, my katjies! Nou-nou lê julle heerlik aan die blad van ’n bok en kou.’
· · ·
Na ’n halfuur se vleg deur die bosse, hou die Swart Luiperd sy perd opeens in. Sag-weg hoor hy ’n geritsel hier voor hom in ’n digte plaat bosse, so ondeurdringbaar dat hy wonder of die perd sy pad daardeur sal kan baan.
Die Swart Luiperd luister aandagtig, en sy twee tiers gaan lê plat op hul pense en gluur voor hulle uit. Die geritsel word harder. Leon stel nou vas dat dit die gemurmul van water is. Hulle het weer op een van die baie riviere en strome in hierdie woude afgekom, strome wat wemel van daardie skurfvellige reptiele, die krokodille. Hy hoor nou ook die geproes van seekoeie.
Simson en Spikkels raak kriewelrig. Hulle gewaar iets anders as hul gemaskerde maat. Met hul fyn reuksintuig het hulle reeds vasgestel dat hier êrens voor hulle langs die bos-omsoomde rivier ’n paar waterbokke versigtig aan die water suip. Hulle word byna onbeheerbaar, en die Swart Luiperd moet net keer of die twee gespikkeldes storm sommer holderstebolder deur die ruigtes. Die Luiperdman weet uit ervaring dat die bokke nie maklik sal wegkom nie. Die wind is in hul guns en een sal in die slag moet bly.
Die Swart Luiperd maak weer ’n beweging in die luiperds se rigting en kyk hulle streng aan. Die moontlikheid is altyd daar dat die twee tiers in hul oorgulsigheid dalk ’n paar van die krokodille ten prooi sal val.
Versigtig en geruisloos klim die Luiperdman van sy perd af. Hy haal sy pyl en boog van sy rug af, klop Donker op die nek en beveel, ‘Staan!’
Die dier gehoorsaam dadelik en bly roerloos staan. Net af en toe waai sy stert heen en weer om lastige steekvlieë te verjaag.
Spikkels en Simson kruip laag op hul pense tussen die ruigtes deur en die Swart Luiperd is met een sprong op een van die takke van ’n reuse boom. Net enkele takke roer as die Luiperdman hoër klim.
Die sierlike bokke ruk hul koppe omhoog, maar hulle is nie bang vir die mede-bosbewoners wat in takke rondslinger nie. ’n Groot ram snuif die lug egter diep in en die oortjies gaan wakker heen en weer.
Eindelik is die Luiperdman hoog genoeg in die boom om half oor die toppe van die kleiner bome heen te sien. Hy sien die rivier, taamlik breed, hier voor hom langs die riete verbykronkel. Aan die oorkant lê ’n paar groot krokodille lomerig in die sonkolle en bak. Dit lyk asof hulle hulle nie eens aan die bokke aan die waterkant steur nie, maar die Swart Luiperd kan sien dat hulle ’n wakende ogie op die bewegende vlugvoetiges hou. ’n Paar skurwes is reeds in die water en net die punt van die oogbanke dryf soos droë blare bokant die watervlak.
Die riete aan die duskantse wal is effens oopgetrap, en die Swart Luiperd merk plotseling die sierlike kop van ’n uitgevrete waterbok. Die Luiperdman du die blare wat sy gesigsveld belemmer effens opsy; dan span sy boog. Hy mik na die nek van die wildsbok – die volgende oomblik swiep die pyl deur die lug. ’n Hees geproes word ’n gedeelte van ’n sekonde later gehoor en toe is dit of die riete oral in beroering kom. Dit kraak soos die bokke omswaai van die waterkant af.
Die bok met Leon se pyl in die nek, sink half in die water op sy knieë neer. Alles gebeur nou so vinnig dat geen menslike oog dit kan volg nie. Die bokke maal verbouereerd in die rondte. Daar is net een rigting waarheen hulle kan vlug – en dit is langs die half-oopgetrapte paadjie soos hulle ingekom het. Dit is egter of hulle instinktief weet dat die gevaar nou ook van daardie kant af dreig. Die Swart Luiperd sien hoe die water omhoog ploeg en hoe die dier wat hy so flussies neergevel het, deur ’n krokodil in die dieptes ingesleep word.
Dan neem een van die bokke met ’n snork die voortou, dawer blindelings deur die riete en steek deur die ruigtes waar daar geen paadjie is nie. Maar voordat hy ver kan vorder, spring Simson met ’n gebrul op hom af en vel hom neer. Die dier is egter baie sterk en trag om Simson met die horings by te kry. Spikkels wat blykbaar nie juis geneë voel om haar verder in te span om die kos wat by haar verby dreun by te dam nie, spring Simson te hulp.
Die Swart Luiperd hoor die gespook en gesnork maar hy kan nie sien wat gaande is nie. Hy is egter baie seker dat sy katte daarin geslaag het om een van die grotes neer te trek.
Die ander bokke skeur deur die takke en ruigtes onderkant die Swart Luiperd. Hy hoor nog die laaste doodsroggel van die bok wat sy twee tiers platgetrek het.
Maar dan vaar daar die volgende oomblik ’n koue rilling langs sy ruggraat af. Hy hoor die gebrul van ’n leeu en kort daarop die hees, vreesbevange gerunnik van Donker.
Die Luiperdman val-spring na benede. Die takke raps hom geniepsig. Hy wil so vinnig moontlik deur die ruigtes na vorentoe beur, maar ’n laaghangende tak raap sy boog van sy rug af. Die Luiperdman talm egter nie om dit weer op te tel nie. Met ’n paar spronge is hy op die plek waar hy Donker gelaat het.
Donker staan met sy rug teen die ruigtes, onderwyl twee leeus, ’n maanhaarmannetjie en ’n wyfie, op ’n kort afstand van die dier op hom aansluip, asof hulle weet dat hierdie gespierde perd in ’n hoek vasgekeer is, en asof hulle wil vasstel dat hulle hierdie seldsame proei se vleis weldra terdeë sal kan geniet.
Donker runnik en sy pote kap in die lug – juis op daardie oomblik storm die maanhaar.