GROENHEIDE BOEKE

Die Swart Luiperd #22: Wraak van die Gorillas

— HOOFSTUK 1 —

DIE SWART SLUIPER

Die blare van die oerwoudreuse is nog nat van die dou. Die strale van die tropeson skyn mild op die aarde neer, daarom dat die wouddiere vanoggend so opgewek te kere gaan. Die blouape klouter ál langs die bobbejaantou en baljaar so dat die woud daarvan antwoord gee. Veelkleurige voëls fladder van boom tot boom, verskrik oor soveel apegeraas. In die breë rivier wat die oerwoud byna in twee sny, proes en snuif die seekoeie dat dit ’n naarheid is. In die afgelope aantal weke het die oerwoud reën gekry, reën wat elke dag neergesous het, totdat dit gevoel het asof die aarde buig onder die kloutjies van die bokke wat rustig op die vlaktes tussen die woud en die hoë berge, aan die wei was. Maar nou is die reën verby en die dae heerlik. Dit is glad nie warm nie. Eers so teen twaalfuur begin die sonbesies kras en die kraaie bo in die wolklose blou lug gaap.

Asof ’n reuse dier daarin rondbeweeg, roer en raas die takke aan die rand van die woud. Dit is kompleet of dit een van die groot gorillas is wat met sy kroos boomwaarts na die vlaktes op trek is waar die wildsbokke, wildebeeste en sebras vanmôre in bont troppe wei.

’n Paar blouape vlug toe hulle die kragtige beroering in die takke sien en die bobbejane sit op die dwars­takke met koppe skeef na die beweging in die takke en kyk. Dit is of hulle nie bang is nie, want watter ding kan so deur die bome beweeg behalwe hulle soort? Dit moet dus een van hulle soort wees wat vanmôre so vinnig en flink tussen die takke deur seil.

Na ’n rukkie gee ’n groot aap vinnig van sy boomtak af pad toe hy eindelik agtergekom het watter ding hier­die dwarrelwind in die bome veroorsaak. Som­mige van sy mede-boombewoners volg sy voorbeeld toe hulle hom eerbiedig sien padgee … En dan verskyn ’n groot, swart liggaam op ’n dwarstak aan die soom van die woud en hy staar oor die vlaktes heen, waar ’n groot sambreelvormige boom hier en daar, afgewissel deur talle kleiner doringbome, die gras­velde oortroon.

Die swart gestalte het twee bene, reguit bene en arms soos ’n mens, en hy beweeg soos ’n mens, maar hy is so tuis soos menige ape in die woudreuse.

Maar dit is eintlik daardie kop wat die aap, wat nou op ’n swaar dwarstak enige tree van die swart figuur af sit, nie kan kleinkry nie. Daar staan ’n mens in daardie boom na die vlaktes en kyk. Dit is ’n mens se bene en ’n mens se hande, maar nie die kop nie! Die kop lyk soos dié van ’n gevaarlike swart luiperd wat soms hier in die oerwoud in die nag grommend op soek is na prooi. Maar die reuk wat van daardie swart figuur na die aap aangesweef kom, is bepaald nie dié van ’n swart luiperd nie, maar dié van die tweebeen-wesens wat af en toe die oerwoud kom besoek wanneer hulle moordlus hulle uit die beskawing uitdryf.

Met sy swart mondering oor sy gespierde liggaam en die luiperdmasker oor sy kop, gluur die Luiperd­man soos ’n halfmens oor die vlaktes waar die wilds­bokke vanoggend baljaar. Hy snuif die lug diep in en voel so opgewek soos die natuur. Hy staan roerloos op die tak en soek naarstiglik na die beweging wat hy nou hier op die vlaktes verwag. ’n Oomblik gelede het ’n meisie onder die boom waarin hy sit en peins het, verby geloop, met ’n geweer in haar hand. Sy het geloop asof sy iets bekruip. Hy het haar net ’n oomblik gesien, toe het sy hart ’n klop gemis, want ’n meisie in die drag van die Europese avonturiers, word hier net so selde soos ‘n motor gesien, en dan stap hulle nooit alleen deur die oerwoud nie, maar in geselskap van jagtermans. Die Luiperdman, alias die Swart Luiperd, omdat die mondering wat hy aan het pikswart is en die masker wat hy dra hom soms laat lyk na ’n regte swart luiperd van die woude, was die ene belangstelling. Maar toe hy later van die een boom na die ander boom spring, het sy skoon uit die gesig verdwyn. Sy het in die rigting van die vlaktes beweeg, en as sy nie skielik weer terug gedraai het, dieper die bosse in nie, moet sy nou hier êrens voor hom wees. Maar hy sien nou niks en daar verskyn ’n frons op sy voorkop agter sy swart dieremasker.

Skielik grom ’n luiperd net onderkant die boom waarin hy hom bevind. Die Luiperdman kyk vinnig af. Die gespikkelde lê reg onder die boom waarin die Luiperdman staan en hy kwispel sy stert en gluur voor hom uit asof hy iets sien waarvan hy glad nie hou nie.

Dadelik weet die Luiperdman dat sy luiperd, Simson, wat vanoggend saam met hom op jag gekom het, iets moet sien wat hy nie kan sien nie. Skielik sluip die luiperd vorentoe en die Swart Luiperd weet definitief dat iets sy toorn ontsteek het.

Reg voor die Luiperdman, in die ope, is ’n groot rots, waaruit ’n taai boomstam groei. Die stam het die rots deur die eeue al in twee geskeur en die skeur gaap groot genoeg vir ’n mens of dier om daardeur te kruip. Die Luiperdman kan die graswêreld anderkant die rots duidelik deur die skeur sien. Die Swart Luiperd sien nou hoedat die gespikkelde kat, Simson, deur die lang gras en die bossies sluip en dan die volgende oomblik in die skeur spring. Daar in die skeur trek hy sy ore plat en sy gegrom word ’n geroggel.

Nou het hy die Luiperdman nuuskierig gemaak. Hy wip op en vang die tak bokant hom met albei hande vas en dan swaai hy sy liggaam vorentoe en los dan skielik. Sy atleties-geboude liggaam vlieg deur die lug, skuins na onder en ’n oomblik later vang hy ’n tak van die volgende boom met sy hande raak, ’n tak wat veel laer hang as die tak waarvandaan hy ’n oomblik gelede geswaai het. Hy is nog ongeveer veertien voet van die grond af, maar hy spring skielik grond toe, kom netjies op albei voete af, sy knieë vou onder hom en voordat hy behoorlik op sy hurke sit, skiet hy hom weer veerkragtig orent en die volgende oomblik hardloop hy geruisloos tussen die gras deur. Hy klouter vinnig teen die hoë rots op en ’n oomblik later staan hy langs die stam van die halfdroë boom wat die rotsblok in twee laat bars het.

Hy buk dadelik half agter die stam weg toe hy die beroering voor hom in die lang gras gewaar. Hy sien die meisie weer. Sy staan met haar rug na hom toe. Dit is ’n skraal vrou, met ’n noupassende rybroek en kort kamaste aan. Haar blonde hare word deur ’n wit helmhoed platgedruk, maar dit kartel tog sierlik onder die helmhoed uit. Sy hou die geweer voor haar, gereed om dit blitsig na haar skouer te bring wanneer dit nodig is.

Die Luiperdman, wat die veld ken, en weet hoe baldadig die diere van die bos en die veld deesdae is, weet dat dit ’n waagstuk vir die meisie is om haar alleen deur die bosse en lang gras te begewe. ’n Roofdier sal huiwer om twee mense sommer aan te val, maar as ’n enkele een hierlangs loop, wat die oerwoud boonop nie ken nie, word hul energie vir hulle soms te veel.

Meteens begin die meisie weer loop. Sy loop nou skuins van die rots af weg en die Swart Luiperd kan haar profiel nou bestudeer. Hy sien die fyn neusie, die mooi lippe en die grasieuse bewegings van haar liggaam. Selfs vir die wilde man wat die oerwoud lief het en die oorbeskawing haat, is dit ’n mooi meisie. En vir die Luiperdman om so iets te herken, is belang­rik, want hy hou gedurig vol dat daar uit die beskaafde wêreld, met sy onrustige massas en selfsugtige neigings, selde iets goeds en moois kan kom. Maar hier loop ’n beeldskone blondine geen vyftig tree skuins by hom verby nie. Sy sou gepas het in die immer rustelose omgewing van ’n stad, waar moderne voertuie jou byna mal maak met hulle geraas, maar nie hier in die vreedsame, dog gevaarlike oerwoud nie.

Skielik grom Simson weer hier onder in die rots­skeur. Hierdie keer is dit ’n dreigende, waarsku­wende gegrom. En toe sien die Luiperdman die rede vir Simson se rusteloosheid. ’n Gespierde, pikswart luiperd sluip tussen die lang gras deur. Sy vel blink in die strale van die son. In ’n oogwenk sien die Luiperd­man sy geel slagtande. Toe die sierlike swart dier vassteek, kwispel hy sy stert en sy oë is moord­dadig en slinks. Hy kyk reg na die bewegende meisie, en dan sluip hy nader, vinnig, geruisloos, met trillende swart spiere. Hy is geen dertig tree van die niksver­moedende meisie af nie, wat nou half gekrom in die rigting van ’n paar bokke beweeg.

Die Luiperdman sien dat daardie swart gedrog enige oomblik gaan storm. Daar is nie meer ’n minuut tyd nie. Blitsvinnig klouter die Luiperdman van die hoë rots af en toe hy voor die skeur in die rots staan, roep hy gedemp na Simson, die gespikkelde, wat instinktief voel dat daar nou-nou bloed gaan vloei. Hierdie swart sluiper is die nemesis van menige mens, dit is die skrik van menige kraal. Die swart sluiper is bekend vir sy nagtelike besoeke aan die strooise van die oues van dae waar hy hulle met sy lang slagtande gaan uit­haal. Dit is ’n slinkse dier, ’n mensvreter wat verseg om enige iets anders te vreet as sagte mensvlees en hier loop nou weer ’n stukkie koningsvleis voor hom. Hier­die ongenadige swart sluiper het in hierdie geweste al die naam gekry van die Swart Duiwel en die mense vrees hom meer as enige gevaar wat in die oerwoud mag skuil.

“Simson, storm … storm, ou maat, vang die Swarte!”

Simson kwispel sy stert. Hy voel nie lus om hierdie opdrag uit te voer nie, want hy ken die krag van hier­die gedrog, hy ken sy gedugtheid met ’n diere-instink wat aan hom eie is. As hy kon praat, sou hy gesê het: “Hom aanval? Dit is dan die Swart Duiwel!”

Simson se stert kwispel ál vinniger en vinniger, sy nekhare staan orent, sy oë gloei vasberade.

Die Luiperdman spoor weer aan.

“Gryp hom, Simson!” en hy beweeg self vinnig voren­toe.

Simson weet presies wat sy tweebeen-maat wil hê. Jare van tem en oefening saam met die Luiperdman in die bosse, het hom geleer om op die geringste bevel, die nietigste teken van sy tweebeen-heer en meester te reageer. Hy storm dus vinnig by die Luiperdman verby. Toe hy drie tree agter die groot swart gevaarte met sy soepele spiere is, storm die mensvreter ook vorentoe. Hy het tot binne vyftien tree van die meisie af beweeg.

Simson is egter op volle dreef en op die oomblik toe die meisie die dreigende, binnensbuikse gegrom van die Swart Duiwel agter haar hoor en omswaai, spring die gespikkelde agter op die swart liggaam.

’n Verwoede gebrul volg, en in haar poging om weer om te spring en te vlug, struikel sy oor ’n los rots en val tussen die gras plat. Die geweer val uit haar hande. Daar is nou egter ’n verskriklike gebrul, gegrom en gesteun hier by haar, seker nie tien tree van haar af nie. Sy sien die groot, swart luiperd omswaai en die gespikkelde luiperd teen die grond neerkap. Sy het nog nooit so ’n groot, gespierde swart luiperd in haar leeftyd gesien nie. Die gedierte is byna so groot soos ’n leeu, en dit spring nou met oop bek en geel slagtande op die gespikkelde luiperd.

Sy kom verbouereerd orent en tel haar geweer op, bring dit met moeite teen haar skouer, maar dan hoor sy ineens hoedat die groot swart luiperd se verwoede gebrul in iets soos ’n verskrikte gegrom verander en sy sien hoedat hy omspring en soos blits tussen die lang gras verdwyn. Net ’n oomblik later grom die swart gedierte hier geen vyftig tree van haar af nie, ’n gegrom waarin hy duidelik sy misnoeë te kenne gee. Dit is duidelik dat die swart luiperd gevlug het, maar waarom? Hy het die veel kleiner gespikkelde kat heeltemal in sy mag gehad. Skielik val dit haar weer by van die luiperd wat hier voor haar met die swart luiperd kragte gemeet het. Sy bring haar geweer weer dadelik na haar skouer toe en lê aan. Sy is daarvan oortuig dat albei hierdie roofdiere haar bekruip het, maar dat hulle in die proses teen mekaar vasgeloop het.

Net toe sy die sneller wil trek, kraak ’n stem hier skuins van haar af. Dit klap soos ’n sweepslag en sy wip soos sy skrik. Sy kyk vinnig op. Die stem het hier skuins regs van haar af opgeklink.

Plotseling voel sy koue rillings langs haar ruggraat aftril. Dit voel skielik of al haar bloed wegvloei van haar hart en kop af. Haar knieë knik onder haar.

’n Lang figuur, met die kop van ’n luiperd, staan hier skuins voor haar op ’n groot granietklip, geen vyf tree van die gespikkelde kat af nie. Terwyl die figuur met ’n hol stem praat, grom die gespikkelde, vlieg om en spring bo-op die rots langs die tweebeen-wese.

Vaag dring die stem tot haar deur.

”Hoekom wil jy jou weldoener skiet, meisiemens! Ek het gehoor dat mooi nooiens gewoonlik die held om­hels wat haar lewe red. Besef jy nie dat hierdie luiperd jou nou net van ’n grusame dood gered het nie?” Die stem klink hol en onnatuurlik agter die masker uit.

Die gestalte staan bewegingloos en die luiperd skuur sy groot kop teen die Luiperdman se bene aan. Die meisie laat die geweer val en haar hand gaan moeg na haar voorkop en sy vee met die agterkant daar­van oor haar oë en beswete voorkop.

Die Luiperdman sien dadelik dat die meisie haar boeg­lam geskrik het. Hy spring rats van die rots af en beweeg nader na haar toe. Haar oë word ineens wild van vrees, haar mond gaan oop om te gil, maar daar kom geen geluid uit nie. Binne drie tree van die meisie af, steek die Luiperdman vas. Simson is langs hom en hy kyk die meisie met haar groot blou oë vriendelik aan.

“Nie nodig om jou dood te skrik nie, meisie. Ek is ’n mens, en hierdie luiperd wat jou lewe gered het, is hondmak. Ons sal jou geen leed aandoen nie.”

Die Luiperdman se oë bestudeer haar noukeurig en as sy huiwerig in sy gemaskerde gesig opkyk, paai hy weer.

“Sit ’n bietjie op hierdie klip agter jou, dan is jy nou-nou weer perdfris.”

Hy kom nader en sy staan terug tot teen die klip en dan gaan sy sit. Daar is nou nie meer vrees in haar oë nie, maar verbasing, stomme verbasing. Daar is ’n diep frons op haar voorkop. Die Luiperdman buk en tel haar geweer op. Hy sit dit teen die klip langs haar neer. Haar oë kyk nou na die jagmes in die leerskede aan sy sy en dan dwaal dit bang na die boog en pyle­koker oor die Luiperdman se skouer.

”Ontspan, meisiekind, en sê my waaroor jy dit alleen so diep in die woud waag? Ken jy die oerwoud nie? Dit is jou geluk dat ek en Simson vanoggend toevallig hier was, anders sou die Swart Duiwel vanoggend heerlik aan jou bene lê en smul het … ”

Sy staar hom weer verskrik aan, maar sy hoor hom hol agter die masker lag.

“Ekskuus dat ek dit so ru uitdruk, Juffrou, maar dit is presies wat die Swart Duiwel sou gedoen het, het ek en Simson nie toevallig hier aangekom nie.”

Sy lek nou vinnig oor haar droë lippe en dan vra-sê sy met ’n koddige stem: “Jy … jy praat Afrikaans!”

“Ek is bly om te hoor dat jy my verstaan, Juffrou, maar sê my hoe jy alleen hier uitkom?”

Haar oë sak vinnig en sy begin lag, byna ’n histeriese laggie. “Is dit waar wat ek hoor en sien, of het die inboorlinge my getoor, of ly ek aan sonsteek?”

“Wat jy sien, is die werklikheid. Ek is die Luiperdman en ek woon hier in die oerwoud.”

Haar oë rek groot en weer kom die verbasing op haar gesig. Haar oë lag toe sy weer na die Luiperd­man kyk.

“Dit klink soos ’n sprokie. Niemand sal my glo nie.”

Sy tree skielik nader en betas die Luiperdman se masker, dan gryp sy sy hand en kyk daarna.

“Die Luiperdman … die sendeling het ons vertel, maar ek … ek het hom nie geglo nie. O, meneer die Luiperdman, bly jy regtig in die oerwoud?”

“Ek bly in die oerwoud, ja, en voordat jy vra hoekom ek hierdie mondering en masker dra, laat my dit self beantwoord.”

Sy kyk hom sku aan, en hy sien dat sy wag.

“In die eerste instansie omdat ek graag wil en tweedens omdat dit soos in die geval van Simson van die Bybel se hare, die bron van my krag is. Hier in die oerwoud dra ek dit altyd, want sommige van die mense glo dat ek uit die bonatuurlike kom en hulle is so bygelowig dat dit nie veel sal baat om hulle tot die regte insigte te probeer bring nie.”

Sy kyk hom vol verwondering aan.

“Dit is wonderlik … dit is snaaks … dit voel of ek nou nog droom, en jy praat Afrikaans, regte Afrikaans, soos ek!”

“Het julle ’n kamp hier naby?” vra die Luiperdman dan weer agterdogtig.

“Ja, ongeveer twee myl hiervandaan. Ek … ek het uit­gestap om ’n bokkie te gaan skiet.”

“Jou bokkie het jou amper duur te staan gekom. Weet hulle dan nie van beter as om jou alleen die woud te laat inwandel nie?”

“O, maar ek kan goed en gou skiet, Luiperdman … ”

“Dit het jou nie eintlik veel gehelp nie. Was dit nie vir my gespikkelde kat nie, het die Swarte jou gehad … ”

“Dit is verskriklik … ek … ek het nog nooit so ’n groot swart luiperd gesien nie, byna so groot soos ’n leeu. Dit is ’n vreeslike dier … Dankie … vreeslik dankie vir jou en jou Simson!”

Die Luiperdman sien dat dit sommer ’n bloedjong meisie is van skaars twintig, maar hy besluit weer dat sy mooi is en dat haar stem besonder helder is.

“En wees gewaarsku, Juffrou. Die mense vrees daar­die swart luiperd meer as die dood. Hulle glo dat hy ’n bose gees is. Almal is vir hom bang. En hulle noem hom die Swarte of die Swart Duiwel en soms heet hy Ratau. Hy is die skrik van die oerwoud en boer in die klipkoppe op die vlakte. As ek jy is, waar­sku ek die geselskap.”

“Ek … sal,” stotter sy. “Ek … sal,” en sy neem die geweer op. “Ek … ek moet Pappie hiervan vertel. Ek weet hulle sal dit nie glo nie. Wil jy nie saam kamp toe kom dat ek jou kan voorstel nie?”

Die Luiperdman lag vir die naïwiteit van die meisie.

“Nee, ongelukkig nie. Ek en Simson is skugter mense. Belowe teenoor jouself dat jy nie weer alleen sal gaan jag nie en waarsku jou vader om op sy hoede te wees. En pas op vir Ratau, die swart sluiper.”

Sy wil nog praat, maar dit is duidelik dat sy nie weet wat om te sê nie. Sy loop by die Luiperdman verby, vorder so ’n paar tree, steek dan vas en draai weer om.

“Ek … ek is opreg dankbaar teenoor jou en jou gespikkelde kat. Kom … kom verras ons vanaand met ’n besoek by die kampeerplek.”

Die Luiperdman is dadelik nuuskierig om meer uit te vind van die meisie en die geselskap by wie sy is.

“Ek en my luiperd sal liewer saam met jou stap, Juffrou. Die oerwoud lyk so rustig en vreedsaam, maar op sulke oggende soos nou kan hy soms groot gevare inhou. Hier in hierdie woud is nog aggressiewe reikape, gorillas en leeus wat miskien nie jou belang­stelling in die bokke en die natuurskoon sal begryp nie.”

Die Luiperdman loop vinnig en sy val langs hom in. Voordat hulle by die bosse kom, loop sy langs hom, en dadelik vra die Luiperdman: “Hoeveel tel jul gesel­skap?”

“Vier, en natuurlik die gebruiklike klomp gidse en kruiers.”

“Is julle met motors hier?” Maar die Luiperdman weet dat hy maande laas ’n motor hier in die nabyheid van die oerwoud gehoor dreun het.

“Nee … pakesels.”

“Wat is jul doel met hierdie besoek aan die oer­woud?”

“Sien, my vader is ’n antropoloog, en my broer is ’n jagter en avonturier. My vader het hoofsaaklik gekom om ondersoek in te stel na die gewoontes en geaard­hede van die plaaslike mense. Ons het egter gehoor dat hier ’n volk op die vlaktes woon wat hulleself die Egiërs noem. My vader wil hulle graag bestudeer. En dan stel hy in ’n prehistoriese mens belang wat glo in die berge woon … wat word hulle nou weer genoem?”

Hulle is by die rand van die woud en die Luiperdman steek skielik vas.

“Die Banjanie. Hulle woon in die berge, ’n harige soort reus. As ek julle raad verskuldig is, moet julle liewer hier omdraai as julle jul lewens lief het. Die Banjanie is almal vyandiggesind en meer dier as mens,” kom dit vasberade van die Luiperdman.

Sy sê niks, kyk die Luiperdman net stip aan.

“My vader, professor Lehard, word nie maklik van stryk gebring nie, meneer die Luiperdman, en my broer Ewart Lehard nog minder. Hy is ’n goeie skut en dieretemmer van beroep.”

“Hy sal nooit daarin slaag om die Banjanie of die Egiërs te tem nie. Sê hulle dat ek hulle waarsku om maar liewer in hierdie buurt te bly. Dit is reeds gevaarlik genoeg … ”

Die meisie kyk hom verbaas aan, maar volg hom deur die digte oerwoud en heimlik neem sy haar voor dat sy meer van hierdie oerwoudman te wete wil kom.