— Hoofstuk 1 —
Die Berg Skeur
Daar teen die hang van die berg, waar die sonstrale verblindend neerskroei, beweeg iets!
Dit is die tweede keer dat Danie de Wet daardie beweging bo teen die rotsagtige hange van die Rooiberge gewaar. Dit is asof die son op iets wits skyn. Nou sien hy daardie wit ding – net langs daardie rooi granietrots wat omring is van groen doringbosse. Dit lyk nou kompleet soos ’n ribbok wat om die rotspunt loer. Skielik raak daardie voorwerp weg, en ’n oomblik later weet hy dat dit nie ’n ribbok is nie.
Danie trek sy oë op skrefies en tuur stip na die stuk rots en die groen bome. Hy is nou byna seker daarvan dat die wit ding wat hy so flussies daar sien roer het, die gesig van ’n man was – ’n man met ’n groot wit helmhoed op sy kop.
Die verblindende lugspieëlings, wat aanhoudend en trillend tussen die granietklippe teen die hang speel, maak sy oë seer. Danie voel teleurgesteld – pleks dat dit nou ’n vet ribbok was! Dan sou hy sy skimmel dadelik teen die opdraand uitgestuur het om die bokkie onder skoot te kry. ’n Ribbok sou nou, na vier dae se vleishonger, heerlik gesmaak het. Maar nou is dit ’n mens!
Skielik dring dit tot hom deur dat daardie persoon wat daar hoog teen die berg agter die rots ingekoes het, nie gesien wil word nie. Danie hou sy beswete perd in, draai hom half om in die saal en tuur weer in die rigting van die berg waar klip en bos versengend in die son lê en bak.
Dit is ’n eensame wêreld waardeur hy en sy skimmelperd nou ry. Die naaste dorp, Kuruman, is twintig myl agter hulle; en in die noorde, nog sowat twintig myl verder aan, lê Ga-Mopedi, waar Danie nog voor sononder wil wees.
Het sy oë hom bedrieg of skuil daar werklik ’n man agter daardie tamaai rotsstuk? Dit is gewis nie ’n Boesman nie. Hulle dra tog immers nie hoede nie.
Danie begin nuuskierig word. Hy ken hierdie wêreld nie baie goed nie. Trouens, hy was in die winter van 1885 laas hier. En nou is dit reeds die begin van 1890. In vyf jaar kan daar baie veranderinge kom, selfs in hierdie ver afgeleë woestyngebied. Toe hy as knaap van twintig hierdie wêreld met sy perd besoek het, was hier geen plaas in die nabyheid nie.
Hy stuur vir Dwarrel onder die koel skaduwee van ’n kameeldoringboom in terwyl hy nog steeds tuur na die rots waar daardie wit helmhoed ’n paar oomblikke gelede verskyn het. Nou is daar egter geen beweging of geluid daar bo teen die berg nie. Dit lyk asof die velddiere besig is met hul middagslapie. Daar is selfs geen luggie wat trek nie. Dwarrel haal hard asem en die dier se skimmelvel is nat van die sweet.
Danie haal sy hoed af en mompel, ‘Dwarrel, ek het so ’n voorgevoel dat iemand ons dophou – iemand wat alles wil sien, maar nie self gesien wil word nie.’
Hy klop die dier teen die beswete nek terwyl hy die woorde mompelend uiter. Van kindsbeen af het Danie die gewoonte om met sy diere te praat. Hy stoot sy ligbruin hare met sy regterhand agteroor. Sy handpalm is nou nat van die sweet. Hierdie woestynwêreld kan warm word!
Danie spring uit die saal, sy oë nog op die plaat bosse en die hoë rots gevestig. Hy het gehoop dat die eienaar van daardie wit helmhoed weer te voorskyn sou kom, maar tot dusver is daar nog geen beweging nie.
Hy staan in die koelte langs sy getroue ryperd en trek sy natgeswete klere reg. Sy helderblou oë traan effens vanweë die verblindende effek van die lugspieëlings teen die klippe. Hy rol sy moue stadig op en sy gespierde, bruingebrande arms voel nou koel hier in die skaduwee van die kameeldoring.
‘Bly jy gerus hier, Dwarrel. Ek gaan kyk wie spioeneer daar op ons.’
Hy klop teen die bruin holster aan sy regterheup waarin sy Mauser ‘Zig-Zag’ rewolwer weggebêre lê. Sy Martini-Henry geweer hang oor sy skouer, maar hy pluk dit haastig oor sy kop en steek dit in die varkleerskede wat spesiaal daarvoor teen die saal aangebring is. Dan beweeg hy vinnig en rats na die naaste boom ’n entjie teen die berg op.
’n Oomblik talm hy agter die ghwarriebos met sy weelderige blare, ongeveer twintig treë skuins bokant sy perd. ’n Paar treë links van hom bespeur hy ’n dieperige sloot. Wanneer dit so een keer in ’n honderd jaar hier stortreën, kom die water met bulderende geweld teen die hang af en vreet diep gate in die aarde. Danie is dankbaar dat die natuur dit so beskik, anders sou hierdie donga nie nou hier gewees het nie en dan sou hy nooit ongesiens tot by daardie rots kon beweeg het nie.
Danie merk dat die diep sloot kort duskant die groot rots loop. Hy sal dus maklik in die sloot op kan beweeg sonder dat daardie geheimsinnige skepsel met die wit helmhoed hom sal raaksien. Vir oulaas kyk Danie vinnig om hom heen, dan buk hy weg en sluip teen die opdraand op, al in die sloot langs.
Af en toe staan hy stil om te luister, maar daar is geen verdagte geluidjie wat tot hom deurdring nie. Hy is nou al ver bokant Dwarrel, wat lastige vlieë met sy stert staan en wegpiets. Indien daardie persoon met die wit helmhoed nog hier agter die rots sit, kry hy dit besonder goed reg om geen geluid te maak nie. Dit is moontlik dat hy Danie al gesien het en hom selfs nou inwag!
Ineens voel Danie soos ’n gek. Hier sluip hy op iemand af wat hom niks ter wêreld aangedoen het nie, maar hy, Danie, tree reeds op asof hy ’n vyand is. Danie gaan staan penorent in die sloot en wil die volgende oomblik sommer openlik verder stap na die groot rots toe; hy wil boonop ’n geraas maak sodat die man hom behoorlik kan hoor. Maar plotseling bedink hy hom en buk weer vinnig. Dit is of ’n sesde sintuig hom waarsku.
Hy buk nou weer laag en gaan voetjie vir voetjie verder. Hy is nou geen tien treë van die plek af waar hy vroeër die wit voorwerp gesien het nie. Daar is nie nou meer eintlik iets waaragter hy kan skuil nie; hier waar hy staan, is daar geen sloot meer nie.
Hy klouter oor ’n rots en beweeg dan versigtig onder ’n boom in. Etlike oomblikke staan hy roerloos en haal effens hard asem. Die steil opdraand het hom bra moeg gemaak.
Danie beweeg nog effens hoër teen die steiltes op. Binne enkele oomblikke sal hy agter die rots kan sien. Versigtig gaan dit en dan duik hy vinnig vorentoe en gaan sit agter ’n alleenstaande rosyntjiebos. Daar is niemand agter die kliprots nie!
Hy bespied die omgewing nog so ’n rukkie en staan dan agter die bossie op. Dit is tog snaaks! Hy het die persoon ongetwyfeld daar van onder af agter dié rots sien uitloer. En sedertdien het hy niemand agter die skuiling sien uitkom nie!
Danie stap nader. Hy vertoef ’n oomblik agter die rots en hurk effens neer om na spore te soek. Hy bespeur niks nie en stap dan stadig na die anderkant van die granietstuk.
Skielik gewaar hy iets op die grond, half tussen die stoppelgras. Hy sien dadelik wat dit is. Voor hom lê ’n stuk dinamiet, nagenoeg sewe duim lank en redelik dik, met ’n stuk lont vooraan!
Daar vaar ’n ligte skok deur Danie. Wat soek hierdie gevaarlike ontploffingstof hier in die veld teen die Rooiberge, ver van die naaste dorp af? Hier is tog nie myntjies in die omgewing nie. En tog moet hierdie stuk dinamiet met ’n bepaalde doel hierheen gebring gewees het.
Danie word skielik onrustig. Hy buk, tel die dinamiet vinnig op en steek dit in sy hempsak. Dan beweeg hy na die rots toe; klouter daarteen op, totdat hy bo-oor kan loer. Sy blik val op die vaal paadjie wat tussen die bosse aan die voet van die berg kronkel. Dit is die pad waarmee hy so pas gekom het. Dit is duidelik dat die pad baie gebruik word.
Hy kyk in die pad af, maar daar is niemand daarop te bespeur nie. Dan laat hy sy blik rus op die brug oor die breë rivier waaroor hy en Dwarrel ook so flussies gery het. Dit is ’n diep rivier, en breed daarby. Daar lê selfs enkele plasse water daarin. Die walle is hoog en rotsagtig. Dit is ’n rivier daardie waarin die water met geweld afbulder wanneer dit selfs net ’n bietjie hier teen die berghange reën. Danie weet dat daardie brug ongeveer vyf jaar tevore deur die boere gebou is toe dit daardie jaar vier maande lank byna elke dag effens gereën het. Toe het die omgewing anders gelyk! Die dorre streek het van gedaante verander. In daardie jaar het twee kakebeenwaens in die drif omgeslaan en met osse en al in die malende waters verdwyn. Toe het die boere van Ga-Mopedi en Bogo-Gobo groot geskrik en gesamentlik hierdie groot brug laat hou – en dit is ’n stewige stuk werk. ’n Ou Italianer wat beweer het dat hy ’n ingenieur is, het dit met die hulp van Griekwas en een messelaar gebou. Oënskynlik het hy nie gelieg toe hy gesê het dat hy ’n ingenieur is nie, want die brug is goed. Vandag is die brug onontbeerlik, want hoewel hierdie rivier die Rivier-Sonder-Water genoem word, bruis daar iedere jaar sterk waterstrome in sy bedding af, gewelddadige strome wat sy walle wegkolwe en wyer en dieper vreet. En al is die Rivier-Sonder-Water vir die grootste deel van die jaar droog, is daardie brug waarop Danie se blik nou rus, broodnodig. Daagliks word voorrade per ossewaens langs hierdie roete heen en weer tussen Kuruman en Ga-Mopedi vervoer. Poskarre maak ook van hierdie rowwe pad en die lewensbelangrike brug gebruik. Die walle van die rivier is aan weerskante so diep en regaf dat selfs ’n perd nie daar sal kan uitklouter nie. Was die brug nie daar nie, sou perderuiters met ’n ompad moes gery het, óf al teen die hang van die berg langs, óf deur die klein driffie ongeveer tien myl dieper die woestyn in.
Van die brug af beweeg Danie se blik weer in die dowwe pad op tot op ’n hoogtetjie sowat ’n myl anderkant die brug oor die Rivier-Sonder-Water. Weldra moet vier kakebeenwaens oor daardie bult te voorskyn kom. Dit is die waens van gesinne wat van Barkley en Daniëlskuil se wêreld of uit die dorsland trek om hulle as nedersetters in die omgewing van Ga‑Mopedi, langs die Kurumanrivier, te vestig.
Terwyl Danie stip na die bult kyk, sien hy eensklaps die eerste wa se wit tent. Nou kan hy ook die geskreeu van die drywers en die geklap van swepe hoor!
Danie het op hierdie oomblik die geheimsinnige man met die wit helmhoed skoon vergeet. Sy gedagtes is nou by die waens. Een na die ander kruie hulle nou oor die heuwel. Die Afrikaner-osse stap moeg teen die steiltes af na die rivier toe. Binne enkele minute sal hulle oor die smal bruggie dreun.
Van hier af kan Danie iemand hoor sing. Sy stem weerklink in die klowe op. Daar kom ’n glimlag om Danie se mondhoeke. Hy kan die eienaar van daardie baritonstem duidelik op sy perd sien. Hy ry heel voor op sy spoggerige bruin perd en hy sing uit volle bors –
Rol maar aan, ossewaens, rol maar aan.
Rol maar aan, ossewaens, rol maar aan.
Sing jul lied, ossewaens, soos jul gaan.
Dorpsnooiens sê hul’s mooi,
Maar vir my die boerenooi –
Danie se glimlag word nog breër. Dié Henning Retief is maar altyd dieselfde! Hy is gelukkig as hy kan sing – veral as hy hom in die ongerepte natuur bevind.
Danie sug. Vanaand sal hulle kan uitspan langs die waters van die Kurumanrivier, wat by Ga-Mopedi met die dun stroompie van die Sandrivier saamvloei, om etlike myle verder hul skrale waterrykdom in die Molopo te stort.
Byna die hele strook grond langs die rivier, ses myl van Ga-Mopedi, het ’n paar maande gelede nog aan Petrus de Wet, Danie se vader, behoort. Drie weke gelede is oom Petrus egter dood en sy laaste wens word met hierdie trek uitgevoer. ’n Paar gesinne van Barkley en Daniëlskuil, wat aan die rand van ondergang gestaan het, het oom Petrus se plaas, Belofte, geërf. Geleë in die vrugbare stroomgebied van die Kuruman, is dit ’n ware oase in hierdie woestyngebied!
Danie het hierdie reis meegemaak omdat hy ’n bevel van sy vader uitvoer, naamlik om die grond aan die onderskeie gesinne toe te ken, self daar te bly en toesig te hou.
Die voorste wa is nou honderd treë van die brug af. Henning Retief sing nog steeds uit volle bors en sy perd trippel ver voor die voorste wa.
Danie begin skielik onrustig voel. Hy haal die dinamiet uit sy hempsak. Iets maak hom bang. Hy voel skielik lus om vinnig teen die helling af te hardloop en terug te jaag na Henning toe. Maar wat sal hy aan Henning sê? Danie het self voorgestel dat hy vooruit sal ry om die laaste paar dingetjies in orde te bring; hy moet nog eers in verbinding tree met ene Fred Human, ’n soort regsadviseur van sy oorlede vader.
Plotseling wip Danie soos hy skrik. Daar onder by die brug het hy ’n beweging waargeneem. Ja, iemand beweeg stadig teen daardie steil walle van die rivier op. Hy het skielik agter een van die dik pilare van die brug te voorskyn getree. Dit is duidelik dat die man haastig is. Die persoon het ’n blou geruite hemp en ’n donker broek aan en het ’n groot, swart hoed op sy kop.
Danie trek sy asem diep in. Ineens het daardie geheimsinnige persoon agter ’n ronde rots teen die wal ingeduik. Danie spring vinnig vorentoe. Hy hardloop om die rots. Daar is net een gedagte by hom: Hy moet vir Henning waarsku! Danie het sommer ineens geweet dat alles nie pluis is nie, dat daar gevaar dreig.
Hy kom die volgende oomblik agter die rots te voorskyn, maak sy hande bak voor sy mond en skree, ‘Henning! Henning! Haai, pasop!’
Op daardie oomblik kras die klippe agter Danie. Hy swaai skielik om, maar toe tref die agterkant van ’n rewolwer hom reeds teen sy agterkop en slaan iemand hom ongenadiglik met die vuis in sy nek. Hy sien sy aanvaller toe hy grond toe stort, maar asof deur ’n waas heen. Hy sien die grinnikende gesig asof hy deur bewegende water daarna kyk. ’n Oomblik is hy slegs bewus van die man se buitengewone lengte, sy groot kop en swaaiende arms, en van die houe wat teen sy kop neerreën. Dit word donker voor hom toe sy liggaam grond raak, en asof die stem uit ’n leë put kom, hoor hy die woorde, ‘Die luise! Dit sal hulle gou terugjaag – moenie – moenie doodmaak nie – ’ Dan word daar ’n naam genoem, ’n naam wat Danie later nie kon onthou nie.
Daarna was daar ’n skeurende ontploffing en Danie se laaste onsamehangende gedagte was dat die rotse op die bergkruine losgebreek het en nou op hom aftuimel. Vir hom was dit asof die berg skeur.