— HOOFSTUK 1 —
STILTE VAN DIE DOOD
Dit is of majoor Clive Butler in ’n dooie wêreld aangeland het, ’n wêreld sonder enige vorm van lewe. Geen voëlsoort fladder in die boomreuse bokant hom nie, geen insek verraai sy teenwoordigheid nie. Dit is vir hom of alle lewe skielik hier opgehou het om te bestaan, of hulle aan die einde van alle lewende dinge gekom het. Hy het netnou al opgemerk, toe hulle deur die diep poort gekom het, dat dit so stil is, so onnatuurlik stil. Dit is ’n onheilspellende stilte, ’n stilte met oë wat elke beweging van hulle dophou. Dit is asof die diere hierlangs nie gewoond aan mense is nie, aan tweebenige skepsels nie, en asof hulle nou almal uit hul hole na die geselskap staar. Selfs nie die stilste uur van die nag in die oerwoude, wat Clive Butler ken, was al so stil soos hierdie uur nie. Daar is nie eens ’n luggie wat trek nie, geen blaartjie wat roer nie, geen aasvoël wat hoog in die lug rondsirkel nie. Die lug lê bedompig en bewegingloos om hulle.
Die sweet staan op Clive se voorkop. Hy vee dit nie meer af nie, want dit help nie. Sy twee maats sit op ’n rots tussen die bosse. Hulle staar met beswete en vuil gesigte voor hulle op die grond, asof hulle te bang is om te praat, om ’n geluid te maak, asof hulle ontsag het vir hierdie dooie, onheilige stilte. Hulle oë is bloedbelope en hulle is honger. Hulle sit nou reeds etlike minute so stil. Die vier kruiers lê onder die bosse uitgestrek. Dit lyk of hulle klaar dood is, want Clive kan hulle nie sien asemhaal nie. Hulle lê net daar in die bedompige koeltes van die woudreuse. Hul liggame blink van die sweet, maar dit lyk asof hulle die hitte en die doodse stilte nie voel nie.
Dae aaneen trek hulle nou al rus-rus deur die oerwoud. Gister was dit nog uitgestrekte grasvlaktes, afgewissel deur donkergroen, bedompige bosse. Wild was volop. Elke dag het hulle die tonele aanskou: ’n leeu wat haastig deur die grasveld vlug, ’n gorilla wat hulle bo van ’n boom af uitkoggel, of die wildebeeste en die kwaggas wat donderend voor hulle uitvlug. Die lewe was om hulle.
Maar van vanoggend af het die wêreld eensklaps verander, hier waar die spoor van die mense selde getrap word. Vroeg vanoggend is hulle deur die majestueuse berge. Hulle is by ’n nou poort deur en later het daardie poort ’n tonnel geword, want die stewige rotse lê bo teen mekaar om ’n dak te vorm. Nou is hulle omring deur hierdie groot berge en die stilte, die bedompige, onnatuurlike stilte. Na watter rigting Butler ook al kyk, hy sien net hoë rotse, blou berge wat die hoogtes insteier.
“Hierdie lug laat my verstik,” sug Attie van Heerden, ’n grootwildjagter.
Clive Butler antwoord hom nie. Hy kyk op na die hoë kranse en sy oë soek na ’n teken van lewe.
“Het jy gemerk dat ons die afgelope twee uur nog geen dier teëgekom het nie?” merk Bruno Broli, die derde avonturier, op. “Het julle dit opgemerk? Die wêreld is dood-dood. Dit is selfs sonder geluid.”
Hy sê dit asof hy Clive daarvoor blameer.
“Ek het dit gemerk, ja,” antwoord Clive ongeërg. “Is dit nie eienaardig nie? Ek sien nie eers ’n spoor van ’n dier nie.”
Attie vlieg op en hy loop tussen die bosse uit, gaan hurk in die son en staar na die grond.
“Wat doen jy nou, Attie?” vra Clive.
“Ek kyk of ek ’n mier sien. As ek net ’n mier kan sien, sal ek bly wees. Hierdie stilte werk op my senuwees. Dit kom my voor asof ons op ’n dooie wêreld is, êrens op die maan waar daar nie genoeg suurstof is nie.”
“Dit is presies wat ek al gedink het. Clive, laat ons verder gaan,” sê Bruno.
“Die draers moet nog net ’n bietjie rus, Bruno. Jy moet geduld beoefen.”
Bruno kyk na die vier draers. Die mans slaap. Hulle lê soos dooies in die bedompige koeltes en rus.
Clive begin onrustig word. Hy kry die gevoel asof iets hulle bekruip en beloer. Dit is snaaks. Hy kan sien dat hierdie stilte op sy twee maats inwerk, maar dit lyk nie asof die kruiers juis onrustig is nie. Dit lyk nie eens of hulle bewus is daarvan dat die bos, hier omring deur die berge, in ’n ewige stilte gehul is nie.
Clive dink na oor hierdie vreemde tog van hulle.
’n Week gelede het ’n bende die Scheepersplaas aan die rand van die oerwoud aangeval, die huis geplunder en die huismense uitgemoor. Daarna het hulle die huis afgebrand. By die sendingstasie het Clive Butler van hierdie moord te hore gekom. Almal het begin praat dat die gevreesde terroristiese bende, die Nuba-Nuba, weer hulle koppe uitgesteek het. Clive is ’n ervare soldaat en grootwildjagter wat hierdie geweste van Kenia lief het. Saam met sy twee maats, Attie van Heerden en die Italianer, Bruno Broli, het hulle die bosse ingetrek om ondersoek te gaan instel. Hulle het op die uitgemoorde huisgesin en afgebrande huis afgekom. Vyf lyke het hulle daar aangetref. Op ’n afstand het die mense van ’n naburige stat hulle gadegeslaan, maar nie dieselfde tekens van vrees en walging as hulle getoon nie. Hulle het gelag asof hulle besig was om met die dooies te spot.
Attie het dit die eerste opgemerk en toe briesend op hulle geskree: “Wat staan julle daar en grinnik? As dit van julle is wat hierdie gruwelike moord gepleeg het, sal julle swaar gestraf word, en daarna met die dood.”
Tot hul verbasing het ’n jong kryger na vore getree en gesê: “Dit is nie ons wat die plaasmense vermoor het nie, Bwana, maar dit is die Nuba-Nuba’s wat getoor is met die krag van die groot M’wani, die gees van die bosse, wat nie sal rus voordat die vyande van die Kikuyu in die see gejaag is nie.”
Attie het hom vererg: “Dit lyk my julle is bly dat die M’wani die mense gedood het?”
“Ons is nie bly nie,” het die jong kryger trots geantwoord, “maar ons kan die M’wani nie keer nie. Hy is groot en sterk, hierdie gees van die bosse, en hy is aan ons kant. Hy weet dat dit ons land hierdie is en dat julle indringers hier moet trap.”
Attie wou die kryger te lyf gaan, maar Clive het hom gekeer.
“Wie is hierdie gees van die bosse,” het Clive gevra.
Die kryger het gelag en met sy lang spies in die rigting van ’n sandspruit gewys.
“Kom kyk, Bwana. Ek sal julle wys.”
Nuuskierig het hulle hom gevolg, deur die lang gras en deur die bosse tot by die sandspruit. Die kryger het op die wal gaan staan en toe die vreemdste spoor aan hulle getoon.
“Dit is die spoor wat die M’wani trap, Bwana … dit is die spoor van iemand wat nooit kan doodgaan nie. Die spoor van iemand wat sterk is. Ons Kikuyu’s vrees die M’wani, maar ons het hom ook lief, want hy gaan vir ons ons land weer teruggee. Hy gaan ons vyande in die see jaag.”
Clive Butler was te verstom om iets te sê, maar Attie het uitgeroep: “Grote genugtig, Clive, dit is ’n reusagtige kaalvoetspoor.”
Met kloppende hart het Clive by daardie kaalvoetspoor gebuk en die opvoubare duimstok uit sy sak gehaal en gemeet.
“Dit is sestien duim lank, Attie,” het hy aangekondig, “maar die tone is perfek gevorm en die afdrukke van die tone in die sand is soos die afdrukke wat iemand s’n maak wat nooit stewels dra nie.”
Bruno het in Italiaans gevloek. “Hoe op aarde kan daar so ’n mens bestaan? Dit moet ’n reus van ver oor die sewe voet wees.”
“Presies. Volgens die spoor moet hierdie kreatuur naby agt voet reik,” het Clive gesê.
Die kryger het breed gelag, asof hy trots was op die man wat daardie spoor nagelaat het.
Attie het dit gesien en opgemerk: “Die kryger lag asof dit sý spoor is, Clive. Maar ek weier om te glo dat daar so ’n reus bestaan.”
“Maar hier sien jy sy spoor. Dit gaan ál hier in die sandspruit af en oral langs die groot spoor lê kleiner kaalvoetspore.”
Die Kikuyu-kryger het hulle verder ingelig: “Dit is die spore van die Nuba-Nuba’s wat hom getrou bystaan.”
Clive het orent gekom en toe diep in bepeinsing na die berge in die verte gekyk. Hy ken die mense van hierdie geweste. Hulle ken hom en hulle was hom nog altyd goedgesind. Dit is om hierdie rede dat die dominee hom in hierdie ekspedisie gesteun het. Hy het jare gelede gehoor van die legende onder die Kikuyu’s dat daar ’n bosgees tussen die berge woon wat die beskermheer van die Kikuyu’s is, maar hy het dit maar altyd net as ’n legende beskou. Maar hier het hierdie Kikuyu nou weer van ’n bosgees gepraat, van die M’wani.
Attie van Heerden was die man wat hulle begin aanpor het.
“As dit die reus met die kaalvoetspoor is wat verantwoordelik is vir die slagting hier, is dit haas tyd dat hy afgemaak moet word. Ek sal persoonlik graag ’n koeël deur sy harspan wil stuur. Kom ons volg die spoor, Clive. Ek sal nie rus voordat hy behoorlik dood lê nie. Ons kan sy vel en bene aan die museum skenk.”
Clive was egter nog ingedagte.
“Wie sal ooit glo as ons hulle moet vertel dat ons ’n spoor met hierdie onmoontlike afmetings gesien het?”
Clive het hom andermaal na die kryger gewend.
“Hoe weet jy dat die mense deur hierdie M’wani vermoor is?”
“Ek weet … die hele stat weet. Ons het die M’wani al ’n paar dae lank hoor grom. Ons het geweet dat hy gaan uitkom om te moor en te plunder, maar hy sal óns nooit moor nie, want hy veg vir ons,” het dit weer alte trots van die voorbarige kryger gekom.
Attie het vorentoe getree en voordat enige een hom kon keer, het hy die jong kryger ’n taai klap gegee. Die man het teruggesteier en sy tande gewys, net soos ’n roofdier wat wil storm. Hy het egter nie genoeg moed gehad om dit te doen nie.
“Bwana klap my. Ek staan egter stil, want die M’wani het besluit om met al die mabwana af te reken. Ek sê julle nou dat dit nie die laaste moord gaan wees nie. Die indringers in die land van die Kikuyu moet liewer vlug, want die toorn van die M’wani het ontbrand en met sy Nuba-Nuba gaan hy almal in die see jaag. Ek sien daar is bloed in die son. Dit sal beter wees as julle hardloop. Die toorn van die M’wani is vreeslik.” Bewend van woede het die kryger omgedraai en tussen die bosse ingehardloop.
“Jy het daardie dreigemente gehoor, Clive,” het Attie opgemerk. “Ons moet die Kikuyu’s wys dat ons nie bang is nie. Laat ons hierdie M’wani opspoor. Hier lê sy spore baie duidelik in die sand. Ons kan dit miskien myle ver volg.”
Eindelik het Clive opdrag gegee: “Ja, ons moet spoorsny. As dit ’n reus is, moet hy nie ongehinderd gelaat word nie. Ek is ook nuuskierig om te sien waarheen hierdie spore lei. As julle nie bang is nie, kêrels, kom ons begin dadelik.”
Bruno het ingestem. “Ons het hierheen gekom om die moordenaars van die Scheepersgesin op te spoor, Clive, ons gaan nie nou stilsit nie,” was sy kommentaar.
Die vier kruiers was gewillig om saam te gaan. Trouens, hulle het geen tekens van vrees of onwil getoon nie. Clive het hulle gevra: “Julle is nie bang vir die ding wat hierdie spoor trap nie?”
“Nee, Bwana. Dit is die spoor van die M’wani. Hy vang nie ons Kikuyu’s nie.”
Daarmee was dit uit en gedaan. Hulle het ál met die sandspruit op getrek. Die spore van die reus en die ander kaalvoetspore was plek-plek duidelik in die sand. Hulle het dit tot by die poort in die berge gevolg, duidelik gesien hoedat dit deur die poort gaan … maar ’n paar honderd treë anderkant die poort was daar skielik geen spore meer nie. Die bosse is te dig en die gras groei ook plek-plek te welig. Maar dit was duidelik dat die M’wani en sy Nuba-Nuba-moordenaars in hierdie kom, omring met berge, ingevlug het, hierdie stil kom, waar daar geen teken van lewe is nie – hier waar Clive en sy maats hulle nou bevind.
Attie staan van die grond af op.
“Weet jy dat hierdie stilte op my senuwees werk?” skree hy dit byna uit.
“Dit is onnatuurlik,” is Bruno se bydrae, “daar kan nie so ’n stilte bestaan nie, nie eers in ’n kerkhof nie. ’n Mens hoor nie eers een enkele voël nie.”
“Miskien is dit ’n kwessie dat die wild hier baie wild is, dat hulle selde ’n mens sien en maar liewer besluit om weg te kruip,” probeer Clive die toestand verduidelik.
“Ons het nog nie eers een enkele bokkie opgejaag nie. Hier is nie eers een enkele mier nie,” gaan Attie voort.
“Of meen jy die miere is so skugter dat hulle in hulle gate teruggekruip het? Hier is ook nie skoenlappers nie.”
Clive stoot ’n laggie uit: “Kalmer wees, Attie. Dit is ervaring hierdie. Ons kan die ander gaan vertel dat ons ’n dooie wêreld betree het.”
“Dit is presies wat dit is, Clive, ’n dooie wêreld. Maar dit werk op my senuwees. Ek kry die gevoel dat iets op ons wag, dat iets ons dophou.”
Clive skrik effens vir daardie woorde. Dit is presies soos hy voel.
Bruno begin lag.
“Kom ons maak lawaai. Miskien kruip die diere dan uit hul doppe.”
Hy kom dadelik orent en skree soos ’n besetene. Toe hy stilbly, koggel sy eie stem hom daar van die rotsige berge af uit. Hy skree weer en sy stem rol aardig ver deur die ruimtes, roep terug na hom toe, in ’n ander, vreemde stem.
“Daar is dit,” sê hy. “Die wêreld is nie so dood nie. Dit gooi darem jou eggo’s terug. Ek het gelees dat daar geen eggo’s op die maan is nie.”
Hulle wag al drie, maar daar kom geen ander geluide tot hulle nie, geen bobbejaan wat waarskuwend daar van die kranse af blaf nie, geen kwêvoël wat verskrik koggel nie en geen gesnork van ’n renoster wat êrens onder die bome die hittige dag staan en om droom nie.
“Nou is dit nog stiller,” meen Attie.
Hy tel sy hawersak op en swaai sy geweer oor sy skouer.
“Kom ons hou aan stap, dat ons uit hierdie dooie wêreld kan kom,” doen hy aan die hand.
Bruno volg sy voorbeeld en Clive dink ook dat dit die beste is. Dit kos moeite om die draers wakker te kry. Hulle lyk onwillig om nou voort te gaan, maar hulle neem hul pakke op en tou agter die drie avonturiers aan. Clive Butler loop voor, Bruno Broli in die middel en Attie van Heerden net voor die draers. Attie hou sy geweer gereed. Hy wantrou hierdie stilte, maar Clive loop daar voor asof daar geen gevaar is nie.
Hulle gaan kronkelend deur die bosse en dit is vir Attie of die stilte toeneem. Hy lek oor sy droë lippe en vra oor sy skouer aan die voorste draer: “Kry julle ook warm?”
“Bwana, ja … die son bak, maar hier in die berge bak dit altyd. Dit is die tuiste van die M’wani hierdie.”
“Hoe weet jy dit is die tuiste van die M’wani?”
“My oupa en my oupa se oupa weet dit, Bwana. Hoe sal ek dit dan nie weet nie?”
“Was jy al vantevore hier in die kom?”
“Nee, dit is die plek van die M’wani hierdie. Ons kom nie hier nie.”
“En nou is jy hier … hoekom is jy nie bang nie?”
“Hoekom moet ek bang wees vir die M’wani? Hy weet dat die mabwana my beveel het. Die M’wani sal geen Kikuyu kwaad doen nie, maar al is ons nie bang vir hom nie, kom ons nooit in die kom nie. Ons voorvadergeeste is boos as ons dit doen. Nee, net die spore van die M’wani en sy Nuba-Nuba’s lê in hierdie bos, Bwana. Dit is beter dat ons omdraai en teruggaan. Dalk word die M’wani uit sy slaap wakker en dan sal daar vandag mensebloed vloei, die bloed van die mabwana.”
Attie steek vas. Hy kyk stip in die oë van die draer. “Jy praat asof jy meen wat jy sê.”
“Bwana, ek het saamgekom omdat julle my geld betaal, maar ek weet dit is nie die regte ding vir julle om hier in te kom nie. Maar ek is net ’n draer. Ek kan nie vir die mabwana sê stap hiernatoe of stap daarnatoe nie.”
Attie mompel iets en stap vinniger, want die ander twee het al om ’n draai agter ’n bos verdwyn.
Een teken is verblydend en dit is dat hier ’n paadjie tussen die grasse en bosse deurkronkel.
“As hier nooit Kikuyu’s kom nie,” vra Attie weer, “hoe kom hierdie paadjie hier?”
“Die Nuba-Nuba trap die paadjie, Bwana.”
“Is hier diere in die bos?”
“Diere? My oupagrootjie het vertel dat die diere wat ons ken, nie hier bly nie, net die M’wani se diere, diere wat ons nie ken nie.”
Bruno vererg hom skielik vir hierdie uitvraery van Attie en roep oor sy skouer: “Basta met jou simpel vrae, Attie. Jy jaag net spoke op en daardie draer vertel die stories met soveel verbeelding dat my hare rys.”
“En die stilte van hierdie plek is spookagtig genoeg,” voeg Attie daarby en dan volg daar ’n doodse stilte.
Clive loop vinniger. Dit lyk skielik asof die bosse minder word en asof die paadjie hierlangs dieper uitgetrap is. Die kruiers steun agter die drie avonturiers aan.
Attie se vrees en sy waaksaamheid verminder en verslap. Hy het sy geweer nie meer gereed nie.
Skielik roep Clive halt. Attie en Bruno kom langs hom staan.
Die diep, uitgetrapte voetpaadjie waarin hulle staan, loop teen ’n groot granietrots dood, ’n granietrots wat skuins na bo loop. As ’n mens gomlastiekskoene aan het, behoort ’n mens daar te kan uitklouter.
“Wat nou?” vra Attie.
Clive dink na en kyk in die omgewing rond. Hy haal sy verkyker uit en kyk teen die kranse op. Skielik gee hy ’n uitroep van verbasing.
Attie is agter hom. “Wat is dit?”
“Daar is iets op daai rotslys, Attie. Kyk!”
Attie vat die verkyker by hom en sit dit voor sy oë.
“Net by daardie wit rots, Attie.”
Attie se spiere word lam. Hy voel duidelik hoe sy hare op sy kop orent gaan staan.
“Grote griet … dit is ’n krokodil.”
Bruno gryp die verkyker by hom en kyk ook. Hy begin gebedjies in Italiaans opsê. “Krokodil … wat sal ’n krokodil op ’n rotslys maak? Dit is … dit is ’n soort draak daardie … ’n skurwe draak!” skree hy skielik. “Daar beweeg die ding! Mamma mia, dit is ’n skurwe ding … met ’n lang tong!”