GROENHEIDE BOEKE

Die Swart Luiperd #1: Gemaskerde Moordenaars

— HOOFSTUK 2 —

DIE GROTMANNE

Leon hik soos hy op die grond neerval. Hy kom met sy rug op ’n klip te lande. Terselfdertyd hoor hy iemand skaterlag, asof dit ’n groot grap is. Die seun kyk van die grond af op. Onder ’n oorhangende rots, ongeveer drie voet bokant hom, sit ‘n man op ’n perd. En — dan skrik die seun: Die man se gesig is met ’n swart masker bedek. Hy het ’n lang baard wat effens gelerig om die mond vertoon. Sy snor lê onder ’n groot neus aan weerskante weg. Hy het ’n breërandhoed op sy kop.

Skielik is Leon nie meer bang nie. Hierdie man sal hom tog niks doen nie — dit was maar seker ’n grappie. Hy begin saamlag en staan van die grond af op. Hy wil hom uit die tou loswikkel.

‘A nee, wag, jongman,’ en die tou word vaster om hom getrek. ‘Dit sal nie so maklik gaan nie. Verduidelik eers waar jy vandaan kom.’

Dan is dit of iets hom byval en hy sê, ‘Toe maar, moenie nou probeer verduidelik nie; kom maar eers saam met my.’

Sonder seremonie word Leon met die tou omhoog getrek. Die tou sny seer om sy lyf en hande maar hy hou uit. Met een laaste pluk sit hy in die saal voor die gemaskerde man.

Die toom word effens in die mond van die perd geruk, en dan swaai die dier kopspelend om en trippel langs die rotse verby, die digter bosse binne. Hulle klim voortdurend, met ’n dof-uitgetrapte bergpaadjie langs, maar die bosse groei so geil en teen mekaar dat hulle telkens laag moet buk.

Leon se hart klop in sy keel. Telkens wil hy praat, maar hy is stom van verbasing. Hy kon nooit dink dat hier witmense in die omgewing is nie. Die mense langs die pad het aan sy vader beduie dat hy ’n onherbergsame oord binnegaan. Hier in die digte ruigtes langs die Limpopo, waar die kreupelhout, mopanie, kameeldoring en ander woudreuse welig groei, is maar min blankes. Hulle, sy vader, Lettie en hy, kampeer nou al byna twee weke hier en hulle het drie weke laaste blankes te sien gekry. En nou — ? Leon kan sy eie oë nie glo nie.

‘Waarheen neem jy my, e — Oom?’ vra Leon eindelik, nadat hulle lank swyend voortgery het. Die skemer sak reeds koud en grys toe tussen die bosse waardeur hulle kronkel, en die nagdiere begin hulle stemme verhef.

Die groot gestalte agter hom antwoord nie. Hulle gaan nou ’n hoë rotsstuk tegemoet. Die perd beur ’n laaste steilte uit en gaan deur die opening van ’n grot, of natuurlike tonnel. Leon sien lig aan die anderkant, maar in die middel van die tonnel trippel die perd rond, en die man lig hom netjies uit die saal. Leon kyk weer vinnig na die man. Hy staan seker ses voet hoog. Hy het ’n kakiehemp, kamaste en rybroek aan en sy swart oë, so lyk dit vir Leon, flikker agter sy masker. Dit lyk of daar nou ’n glimlag rus op sy bedaarde gesig.

‘Klim af, jong!’ snou die man hom toe.

Leon aarsel ’n oomblik, dan spring hy rats van die perd af.

‘Maar waar die drommel gaan ons heen, Oom?’ vra hy vriendelik maar beteuterd, met tekens van vrees in sy stem.

‘Jy gaan ons eers vertel waar jy vandaan kom. Hier was nog nooit witmense in die omgewing nie. Ons wil hulle nie hier hê nie.’

Die bonkige man met die weglê-snor leun oor die rotsblok voor hom en skree hard na binne.

‘Sarel! Oopmaak, ou kêrel! Oopmaak!’

’n Hol stem gee antwoord. Dit gee Leon byna die bewerasie, maar hy is nog meer verbaas as enigiets anders.

Daar kom ’n kraak van agter die rotsblok en stadig rol die swaar klip eenkant toe. Leon kan die punt van ’n stinkhoutpaal sien uitsteek. Hy weet dat die persoon daar agter die rots, met die paal as hefboom, die tamaai klip wegskuif. Geleidelik gaan ’n grotopening voor hom oop, groot genoeg om ’n man na binne te laat, sonder dat hy baie laag hoef te buk.

Andermaal kyk Leon in die gelaat van ’n man met ’n masker oor die oë. Hy het ’n kleinerige gestalte. In hierdie warm, tropiese klimaat en die bedompigheid van die lug wat klam tussen die bome deurkruip, staan die man in ’n lang reënjas. Hy het ’n bos onversorgde baard. Hy lag en Leon sien ’n ry vergeelde tande. Hy praat met ’n kraakstem, heserig, soos dié van ’n makou. Ook praat hy met ’n snaakse, vreemde aksent. Dit is selfs vir die agtienjarige duidelik.

Daar kom die skor lag weer van die grotopening af.

‘Aha, Bart, dan het jy die jong jagter gevang! Laat hom binne. Laat hom binne!’ kekkel die stem, en hy maak ’n buiging en wenk met sy groot vereelte hande.

Leon staan onwillekeurig tru. Hierdie snaakse man met die lang, vuil, toiingrige baard maak hom bang. Hy mik na die opening waardeur hulle pas gery het. Die volgende oomblik buk hy onder die perd se pote deur en laat spaander. Hy is by die opening. Dit is al so donker dat hy die paadjie voor hom nie behoorlik beken nie. Hy swenk. Agter hom hoor hy die gekekkellag van die grotman met die reënjas. Iets swiep agter hom aan en die volgende oomblik lê hy weer plat op sy rug, met die tou om sy lyf.

‘Kom terug! My tou is baie lank.’

Die tou word getrek en pyne skiet deur die liggaam van die seun soos hy oor die harde aarde aangekatrol word. By die grotopening word hy ru orent gelig.

Die ander man half binne-in die grot staan nou met ’n fakkel in die hand. Die flikkerende lig openbaar die seun se gelaatstrekke. Daar is nou duidelike tekens van vrees in sy gesig.

‘Laat my staan! Wat wil julle met my doen?’

‘Ons laat jou nie gaan nie, Meneertjie! Jy het ongelukkig klaar te veel gesien.’

Vinnige perdepote klap weer deur dieselfde opening waar Leon so pas probeer ontsnap het, en drie ruiters kom met skuimbekkende perde voor hulle tot stilstand.

Die swart, gespierde diere proes en blaas asof hulle in die grootste haas hierheen gejaag het.

Die voorste man lig hom uit die saal. Weer kyk Leon vas teen ’n gemaskerde gesig. Die man lyk plomp. Sy hare groei laag oor sy voorkop en sy lang bos hare het maande lank geen skêr gesien nie. Sy moue is opgerol en die harige arms byna gebreklik van die spiere. Leon gaap hom aan.

‘Sarel!’ skree die gespierde man onnodig hard aan die persoon wat Leon met die tou gevang het. Maar hy swyg skielik en kyk wantrouig na die kaalvoet-seun met sy halfmas-broek.

‘En dié, Sarel? Wat soek dit hier en wie is dit?’

Sy oë flikker wantrouig agter die masker en die vraag kom ru en bars. Die man wat aangespreek is as Sarel, huiwer, en antwoord dan eerbiedig, ‘Sulg, hierdie jongman loop al ’n paar dae hier rond en — ’

Die gespierde reus val hom in die rede.

‘En wat die drommel gaan hy jou aan?’ en hy wys met die horssweep na Leon. ‘Het hy ons skuiling ontdek?’

Die bonkige hand vat die sweep vaster en met die agterkant van die stok druk hy Leon onsag op die bors. Leon staan ’n endjie terug.

‘Nee, Sulg, dit is nie so nie. Ek het hom hierheen gebring — ’ antwoord die man wat Leon gevang het.

Sulg word al kwaaier. Dit kan Leon duidelik sien. Hy gee Sarel nie kans om klaar te praat nie.

‘Jy hom hierheen gebring? En waarom doen jy dit? Is jy kranksinnig? Wat gaan ons nou met hom maak?’

‘Stadig, Meester,’ kom dit huiwerig van die ander. ‘Ek sal alles verduidelik. Die seun het aan hierdie kant van die rivier geloop. Ek het hom die hele tyd sit en dophou. Hy het die beespad ontdek en daarlangs gestap — ’

Die persoon, aangespreek as Sulg, gee ’n tree vorentoe en sy ronde bakkies word rooi.

‘Wat sê jy! Het die paadjie raakgeloop — ?’

Die man kners magteloos op sy tande.

‘Ja, Sulg, en ek het gemeen hy sou ander waarskynlik gaan vertel van die pad, en miskien sou hy nog self hier uitgekom het!’

Verwoed tree die gemaskerde figuur nader. Hy het ook ’n baard, maar dit is getop en netjies versorg, en op sy bolip pryk geen snor soos in die geval van die ander nie. Die ander twee wat flussies saam met Sulg gekom het, het nie baard nie.

Die swaar gestalte is vlak voor Leon.

‘So!’ en die oë agter die masker kyk hom deurvorsend aan. ‘So, nè,’ en dan wend hy hom na die ander. ‘Laat ons na binne gaan, mense. Daar wag baie werk vannag. ’n Vet vangs soos julle oë nog nooit gesien het nie. Wat ons met hierdie seun gaan aanvang, hang van homself af. Hy kan by ons geledere aansluit. So nie, nou ja, ek gaan ons nie onnodig in gevaar stel nie, of hoe?’

Die ander mompel instemmend en gebukkend gaan een na die ander binne. Die man met die kraakstem loop voor, nog steeds met sy lang verslete reënjas aan. Leon se gesig is wasbleek. Die gespierde man loop vlak langs hom.

‘Meneer, ek wil asseblief huis toe gaan! My pa sal my kom soek.’

Die man verstyf in sy spore.

‘Wil jy vir my sê jou pa weet jy is hier? Weet hy ook van hierdie plek?’

‘Nee, maar hy sal my kaalvoetspore tot hier volg, en dan — ’

‘O, ek sien; maar toe maar, dan sal ons met hom afreken.’

Leon hoor tot sy ontsteltenis dat die klip voor die opening met ’n geknars weer toe gehefboom word. Die grot waarin hulle loop, is ruim. ’n Paar wit vetkerse is hier en daar teen die wande aangesteek. Hulle is in ’n groot ruimte waarin ’n krakerige tafel met twee banke staan. In die hoek brand ’n vuur helder en êrens, asof dit diep uit die aarde opklink, hoor Leon die gebulk van beeste, hol en onwerklik. Hy luister stip.

Die gespierde man gaan sit aan die hoof van die tafel. Met ’n geskuifel en ’n geknars van die twee lendelam banke langs die tafel neem die ander vier ook plaas. Daar is ’n afgryslike grynslag om die mondhoeke van die bebaarde man met die reënjas. Hy kyk stip na Leon.

‘Wat is jou naam, seun?’ breek Sulg los.

‘Leon Fouché, en asseblief, Meneer, ek moet huis toe gaan. Ek het julle niks kwaad gedoen nie. Waarom bring julle my hierheen?’

‘Dit sal jy weldra uitvind, Meneertjie. Dit is die noodlot wat jou hier gebring het, en die werking van die noodlot wat jou hier sal hou. Nou, sê my eers: waar kom jy vandaan?’

‘Ons het drie weke gelede hier aangeland. Ons kom van die Vrystaat. My pa wil in hierdie wêreld ’n plaas koop. Ons is trekboere en hy het gehoor grond is hier goedkoop, en volop. Ons tente en wa staan oorkant die rivier opgeslaan.’

Die man met die naam Sulg se plomp gelaat vertoon ’n soort glimlag. Hy vryf met sy sterk hand oor sy netjiese baard.

‘Aha, en het pappa baie beeste?’

‘Nie baie nie, omtrent driehonderd.’

Die vyf mans kyk veelbetekenend na mekaar en Sulg knik.

‘En wat het jou besiel om aan hierdie kant van die rivier te kom rondsnuffel?’

Die man leun vooroor en kyk die seun diep in sy oë.

‘Ek het gevlug vir ’n luiperd en wou die rivier laer af probeer oorsteek en toe — toe vang hierdie meneer my met sy tou.’ Leon wys na die baardman wat hom met sy vangtou verras het.

‘Dit is tragies, ou seun, maar nou dat jy hier uitgekom het, moet jy maar hier bly. Ons kan jou nie laat loop nie.’

‘Asseblief, laat my asseblief gaan — ’

Leon breek af. Die gebulk van beeste klink nou asof dit onder uit die grond kom, asof dit uit die vloer van die grot opklink.

‘O, jy hoor dit?’ lag Sulg. ‘Dit is ons besies. Daar is duisende van hulle. Niemand weet van hierdie grotte in die berge oorkant die rivier nie. Niemand nie. Ons keer die beeste maar aan. Hierdie wêreld het baie — ’

Skielik is alles vir die trekboerseun duidelik. Hy aarsel voordat hy praat.

‘Julle meen julle steel die beeste — ’

Sulg lig hom in sy volle lengte op.

‘Nee, ons jaag hulle aan hierheen, ons jaag hulle maar net aan hierheen, en bêre hulle ’n dag of wat totdat hulle ons brandmerk op het en dan verkoop ons hulle; ’n klompie hier en ’n klompie daar. Ons maak almal baie geld. Jy kan by ons aansluit as jy wil, maar jy sal hard moet werk.’

Leon laat sy kop sak. Die vrees het hom opnuut beetgepak.

‘En, ou seun, vanaand is jou pa se beeste ook aan die beurt.’