GROENHEIDE BOEKE

Die Swart Luiperd #24: Rooi is die Waters

— HOOFSTUK 1 —

DIE OERWOUD ROEP

’n Uur gelede het ’n sonnige dag oor die oerwoud aangebreek. Die sonstrale skitter op die bewegende water in die breë stroom wat tussen die lower en die woudreuse deurkronkel. Af en toe roep ’n aap luid na sy maat en in die warm son op die klipplaat langs die rivier proes en baljaar die seekoeie. Dromerig waarsku ’n kwêvoël dat die woudbewoners nie hul waaksaamheid moet verslap nie, want in die byna ondeurdringbare oerwoud skuil daar altyd gevaar, al lyk dit soggens so heerlik en so vreedsaam soos nou. Hier sluip die dood soos ’n skaduwee deur die bosse of lê op loer in die diep, helder kuile.

Die groot, wit aap wat aanhoudend na sy maat roep, ken hierdie kruipende dood, daarom sit hy vanoggend hoog in die mik van ’n boom wat half oor die water hang en waag dit nie om na benede te gaan nie. Hy roep aanhoudend ’n aaklige skreegeluid wat soms na die veraf gehuil van ’n baba klink. Maar hy roep vanoggend tevergeefs na sy maat wat laasnag hier in dieselfde boom deur ’n gespikkelde kat aangeval is. Laasnag, toe dit stikdonker was, het die twee wit ape styf teenmekaar aangedruk gesit en met oë vreesbevange na benede geloer. Maar terwyl hulle die dood daar onder verwag het, het die luiperd skuins teen die tak opgeklim en vanmôre is die stem van die wit aap se wyfie stil. Nog twee-drie dae sal die skreeuende aap daar in die boom so roep; hy sal vergeet om te eet en hy sal maer word, maar weldra sal die eensaamheid hom van sy tak af dryf en nuwe lewe sal deur sy are sidder, en vergete sal die oorblyfsels van sy maat langs die stroom lê en bleek word. En by die lig van die maan sal die wolwe snags by die kaalgevrete bene hongerig tjank.

Die Luiperdman sit nou al reeds etlike sekondes na die gehuil van die aap en luister en hy weet goed dat die gespikkelde katte laasnag weer jag gemaak het op die spierwit ape van die oerwoud. Hy besef dat daardie dier dwarsdeur die lang, warm dag sal roep en lank nadat sy mede-boombewoners vannag ineengehurk op die takke van die hoë bome sit, sal hy nog verdwaas roep na iets wat nooit weer sal kan antwoord gee nie.

Die Swart Luiperd, alias die Luiperdman, in die beskawing bekend as Leon Fouché, die kragtige oerwoudman wat die bosse en berge sy tuiste gemaak het, het laasnag hier teen die klipkoppie naby die rivier oornag. Vroeg vanoggend het hy reeds in die diep kuil gaan swem, nog voor die eerste bokke hul dors kom les het, maar nou sit hy al lank weer en luister na die musiek van die oerwoud met sy swart luiperdmasker styf oor sy kop getrek. Soos hy daar sit, lyk hy soos ’n gedrog uit ’n vreemde wêreld. Vir diegene wat nie weet dat daar ’n skoon­geskeerde, aantreklike gesig agter daardie luiperdmasker skuil nie, bly hy die Luiperdman, wat nóg mens nóg dier is, en wie se krag deur al wat boef is, gevrees word. Van sy jeugjare af dool die Swart Luiperd in die bosse rond. Hy het die oerwoude van die wêreld sy tuiste gemaak en soos ’n Simson van die Bybel later geglo het dat sy krag in sy lang hare setel, so glo die Luiperdman dat hy nooit die gevare van die oerwoud die hoof sal kan bied sonder sy luiperdmondering nie. Vir hierdie gestalte van vyfvoet-elfduim, met die gespierde liggaam en die afskrikwekkende gesig, het die mense van die woud die grootste ontsag en selfs die oerwouddiere weet instinktief dat hy nie ’n gewone kreatuur is nie.

Net soos sy twee mak luiperds, Spikkels en Simson, voel die Luiperdman in hierdie môre vol energie en daadkrag. Nog voordat die son opgekom het, het die Luiperdman ’n rooibok­ram platgetrek. Meer as die helfte van die bok het die twee luiperds as ontbyt gekry. Slegs die lewer en ’n groot stuk van die ribbes het Leon Fouché vir hom oor die gloeiende kole gebak en later heerlik daaraan gesit en smul. Behalwe sy twee gespikkelde maats, het die Luiperdman nog ’n derde diere­vriend, naamlik sy gesoute en geharde kameraad, Donker, sy pikswart hings wat reeds tien jaar van lief en leed saam met sy baas deurstaan het, maar steeds so vlugvoetig soos ’n bok op sy pote is.

Donker staan nou daar agter ’n plaat wildekatjiepiering en hy peusel-peusel aan die takke. Hier in die oerwoud het Donker begin voorkeur gee aan sappige blare. Dit smaak vir hom veel lekkerder as die heerlikste gras op die Transvaalse Hoëveld.

Die Swart Luiperd staan op en rek hom heerlik uit. Die vroeë sonnetjie het ’n manier om mens lui te bak as jy te lank op een plek sit. ’n Dassie vlug vinnig tussen die klipskeure in toe hy die Luiperdman skielik in beweging sien kom en ’n bospapegaai wat op ’n dwarstak keelgeluide gesit en maak het, gluur die Luiperdman geamuseerd aan.

Spikkels en Simson kom ook dadelik orent, want hulle weet dat hulle tweebeenmaat nou gereed is om die oerwoud dieper in te gaan.

Die Luiperdman is ’n week gelede uit Nairobi. Hy het sy vrou, die swartkop Sonet, wat die oerwoud net so lief soos hy het, en sy klein seuntjie, Bennie, daar agtergelaat, want Bennie moet volgende jaar skool toe. Toe die oerwoud hierdie keer begin roep het, het die Luiperdman en sy dieremaats alleen gekom.

Hierdie Oos-Afrikaanse bosse ken hy soos die palm van sy hand. Hoeveel keer het hy nie al hierdie oerwoud met sy vlaktes, sy berge en bosryke gedeeltes, met sy gevare en haas onbereikbare vertes, deurkruis nie! Die mense van die streek is oor die algemeen sy vriende. Hulle beskou die Luiperdman as ’n superwese, ’n onsterflike bosgees.

Maar op die uithoek van hierdie uitgestrekte oerwoud, hierdie wilde, ongerepte wêreld, is daar ’n plek wat die Luiperdman al uit die verte betrag het, maar nog nooit besoek het nie. Daardie vertes waar die dynserigheid altyd oor die ylbloutes hang, was nog altyd soos ’n roepstem vir hom. Hy het egter nog nooit die geleentheid gekry om oor daardie berge te trek nie. Selfs die grootwildjagters het hom streng gewaarsku dat geen van hulle nog ooit daardie berge besoek het nie, en as van hulle dit gewaag het, het hulle nog nooit teruggekeer nie. Ja, die Luiperdman het nog nooit met sy twee luiperds en sy perd die barre Serengeti-vlakte aangedurf nie; hy was nog nooit naby die Ngorongoro-krater nie en hy het nog nooit die soet water van die N’garuka-fonteine geproe nie. Die inwoners van die oerwoud se oues van dae het hom ellelange stories vertel van die gedrogtelike diere van die Serengeti-vlakte, die woede van die duiwels in die Ngorongoro-krater en die stille dood wat in die waters van die N’garuka-fonteine skuil. Maar die Luiperdman het dit nog altyd as wolhaarstories beskou, stories wat uit die kleurryke verbeelding van die oumense opkook. En daarom het hy nou eindelik besluit om die Serengati-vlakte aan te durf. Sy plan is om op te trek na die veelbesproke, gevreesde Krater van die Dood, die Ngorongoro. En daarom is die Luiperdman vanoggend hier aan die walle van die breë Sadi-rivier. Die ou onrus wat soms in hom opstu, het die Luiperdman alweer uitgedryf. Hy en Spikkels en Simson en Donker is al weer alleen op safari; hulle is op pad na die Krater van die Dood waar geen lewende skepsel, volgens oorleweringe, nog ooit sy voete gesit het nie.

Toe die distrikskommissaris van Nairobi gehoor het dat die Luiperdman van plan is om die Krater van die Dood te gaan besoek, het hy hom aangemoedig. Hy self het aan Leon gesê dat sover hy weet, nog geen jagter of avonturier die krater bereik het nie. Die kommissaris het die Luiperdman verras toe hy ook meegedeel het dat ene professor Benito Pampanini, ’n bekende geoloog, ’n maand gelede met ’n geselskap in die rigting van die Serengeti-vlakte vertrek het. Benito Pampanini het glo bekend gemaak dat hy ’n Italiaanse natuurkundige instituut verteenwoordig. Sedert Pampanini die bosse in is, het die distrikskommissaris egter nog geen taal of tyding van hom verneem nie. Hy het die Luiperdman toe gevra om te probeer uitvind wat van Pampanini en sy geselskap geword het. Die Luiperdman het hom met verbasing aangestaar toe hy vertel dat Benito Pampanini ook ’n jong vrou saam het.

Die Luiperdman het hartgrondig belowe dat hy alles in sy vermoë sal doen om uit te vind wat van die professor geword het.

Maar terwyl die Luiperdman nou oor die oerwoud heenkyk, is sy gedagtes ver van die professor af. Sy oë rus op die blou berge wat daar dynserig teen die gesigseinder lê en hy wonder watter dinge agter daardie natuurlike skeiding verborge lê. Die begeerte om bo-op daardie berge te kom en aan die anderkant af te kyk, groei sterker in hom. Hy voel die byna onweerstaan­bare drang om dag en nag te trek, totdat hy die yltes van die kraterberge bereik het.

Die wit aap skree nog steeds weemoedig en ’n renoster blaas waarskuwend tussen die ruigtes onderkant die koppie waar die Luiperdman en sy maats hulle bevind.

Die Luiperdman sak weer op sy knieë by ’n groot klip neer en hy swaai sy pylekoker van sy rug af. Een vir een neem hy die pyle uit die koker en dan maak hy hulle ywerig op die klip skerp. Die aanhoudende, krassende geluide van die pylpunte wat skerp gemaak word, laat die aap vir minute swyg, maar dan begin hy eens so hard te roep. As die Luiperdman sy pyle klaar skerp gemaak het, sit hy hulle eenkant neer en dan dam hy sy jagmes by. Minute aaneen word die lem oor die growwe oppervlakte van die klip heen en weer gevryf …

Daarna haal die Luiperdman ’n plat botteltjie te voorskyn. Een vir een word die kort pyle opgestel en hul skerp punte word in die taai, bruin-groen vloeistof in die botteltjie gesteek. Die pylpunte word ’n hele paar sekondes in die vloeistof gehou en dan word hulle vinnig uitgehaal en versigtig op ’n plat klip in die son neergelê. Die Luiperdman gee die son ’n kans om die slanggif aan die pylpunte eers hard te bak en dan laat hy hulle weer behendig in die pylekoker terugglip. ’n Oomblik later is sy pylekoker weer op sy rug en die Luiperdman begin stadig teen die kliprantjie afstap in die rigting van die rivier tussen die ruigtes.

Die wit aap het skielik opgehou met skree en dit kom die Luiperdman vreemd voor. Hy steek vas en luister. Selfs die voëls wat netnou nog lustig gesing het, het eensklaps opgehou. Die hitte broei swaar in die oerwoud en daar heers ineens ’n onnatuurlike stilte. Selfs die kwêvoëls wat gewoonlik altyd tydig en ontydig waarsku, swyg. Die voëls en die ape hou nie sommer op met skree as die Luiperdman in die bosse verskyn nie, want hy is ’n bekende figuur. Dit is dus glad iets anders wat hulle steur, moontlik die nabyheid van ’n jagter of ’n vreemde dier wat vir hulle ’n bedreiging inhou.

Die Luiperdman hoor die gekabbel van die water in die rivier waar dit vlak oor die klippe vloei.

Die twee luiperds besnuif die lug, maar dit is vir die Luiperdman duidelik dat hulle niks verdag bespeur nie. Daar is ’n ligte bries wat ooswaarts uit die rigting van die rivier aangestoot kom.

Die Luiperdman sluip ineens vinnig nader. Hy gaan die digte bosse binne. Sy twee luiperds volg hom versigtiger, sluipend, asof hulle klaar besig is om iets te bekruip.

Donker staan net nog ’n oomblik roerloos agter die katjie­piering­bos en dan kom hy ook agterna. Die saal is op sy rug en die teuels is aan die saalboom vasgewoel.

Die Luiperdman buk vinnig tussen die laaghangende takke deur. Hy slinger tussen die ruigtes in tot vlak langs die rustig vloeiende rivier. Die gras staan hier hoog en as mens nie weet hier vloei ’n rivier verby nie, kan dit maklik gebeur dat jy daar sal intuimel.

Die onnatuurlike stilte duur voort. Die Luiperdman het gaan vassteek tussen die lower langs die breë stroom en hy luister weer ’n paar oomblikke. Eensklaps bars ’n kwêvoël hier naby hom los.

“Kwêê-Kwêêê!”

Die Luiperdman spring vinnig onder ’n woudreus in en begin dan vinnig teen die boom opklim. Dit gaan ongelooflik vinnig. Die takke raas en skud soos hy boontoe beur. ’n Paar oomblikke later het hy tot hoog in die boomtop geklouter. Hy voel die warm gloed van die son op sy gesig en merk dat hy hoog bokant die ander boomtoppe uitgeklim het. Hy gaan staan op ’n dwarstak en staar oor die see van groen bosse heen. Hier en daar is daar ’n opening in die woud, maar so ver die oog kan sien, strek die groen bosse in die oneindigheid weg. Verder op die horison vertoon dit nie meer groen nie, maar dynserig swart.

Die Luiperdman kyk nou op ’n opening af, geen vyftig treë van hom af nie, net waar die rivier ’n boog gooi. Hy kan die water tussen die bosse deur sien. Korterige grasse groei in die opening en verder lê daar twee groot, gladgespoelde klippe. Hy merk egter geen beweging in daardie oop kol nie, maar ’n oomblik later bemerk die arendsoë van die Luiperdman die bruin massa wat bewegingloos tussen daardie twee groot gladde rotse staan. ’n Oomblik gelede het hy daardie donkerbruin gestalte vir ’n miershoop aangesien, maar nou weet hy wat dit is. Hy onderskei die ronding van die rug, die horings en die stert. Dit is ’n buffel en die Luiperdman kan sien dat die dier vanoggend al in modder gerol het. Stukke modder sit vasgekoek en droog op die vel. Die buffel se groot kop is laag op die grond. Dit is kompleet asof die dier iets inwag, iets wat in die bosse voor hom in aantog is. ’n Oomblik later het die Luiperdman vasgestel dat die windjie van die buffel af na hom toe aanbries. As daar dus iets in die bos voor die buffel in aantog is, het die dier hom reeds geruik. Die buffel staan daar met die houding van ’n veglustige. Behalwe vir die stert wat af en toe die steekvlieë op sy rug wegpiets, staan die dier bewegingloos.

Die Luiperdman versit effens op die tak. Hy staan ongemaklik en moet met albei hande vashou.

Skielik is daar ’n geritsel tussen die bosse voor die buffel, geen twintig treë van die dier af nie. Die Luiperdman kyk vinnig in daardie rigting en dan kom twee Nderobo’s uit die bosse te voorskyn. Dit is onmiddellik vir die Luiperdman duidelik dat hulle nie bewus is van die buffel, met sy kop laag daar op die grond, nie. Die twee Nderobo’s kom ook nie langs mekaar uit die bos te voorskyn nie, maar die een abba die ander. In daardie flietende sekonde sien die Luiperman dat die lenige Nderobo ’n tengerige vrou op sy rug het, ’n ou vrou wat blykbaar reeds uitgeput is. Die Luiperdman hoor die gebrom van hul stemme en hy spring skielik omhoog op die dwarstak en skree luid na benede: “Pasop, Nderobo’s! ’n Buffel … ’n buffel!”

Die Luiperdman verwag egter vandag ’n slagting. Hy weet dat daardie dier gaan storm en dit is duidelik dat hulle nie betyds sal kan padgee nie. Die Luiperdman kan sy pyl en boog nie gebruik nie, want hy sit uiters ongemaklik. Hy kan nie eens met een hand los nie, want dan sal hy sekerlik sy ewewig verloor en die hoogte hier aftuimel.

Die Nderebo’s, die vreedsaamste volk van die oerwoud, reageer dadelik op die vreemde stem wat hulle uit die oerwoud toeroep. Hulle besef egter nog nie dat die stem hulle teen ’n moorddadige buffel waarsku nie, maar dit is eerder die stem wat hulle laat skrik. Skielik gee die buffel een snork en dan staan die stof soos hy storm. In ’n oogwenk het die man die vrou van sy rug afgegooi en hy spring vinnig terug, sy lang steekspies die volgende oomblik gereed in sy hand. Maar die buffel is te vinnig. Sy kop is laag op die grond. Die vrou gil luid en bloedstollend en probeer vinnig van die grond af opstaan. Die volgende oomblik skep daardie gevaarlike horings haar en daar is ’n verwoede gebrul. Nog skreeuend, word sy die volgende oomblik die lug ingeslinger. Dit klink aaklig hier in die stil, warmgebakte bos. Die vreesbevange geskree bewe deur die bosse en etlike ape in die woud bars ineens saam los.

Die vrou kan nou nie meer gered word nie. Die Luiperdman skree weer en hierdie keer hoor die man dat die stem hom waarsku om te vlug. Die Nderebo gehoorsaam dadelik, al weet hy nog nie wie dit is wat hom waarsku nie. Die man se bewegings is egter lomp en swak. Intussen het die vrou reeds weer op die grond geval. Haar geskree word ’n rou geroggel toe die buffelhorings haar weer die lug inslinger. Hierdie keer kom sy op die rug van die dier te lande. Met ’n woeste geblaas en gebulk swaai die dier om. Die reeds verminkte liggaam val hier aan sy voete en nou begin die kolos daardie stil figuur te trap.

Tot die Luiperdman se verligting sien hy dat die Nderebo-man die hasepad gekies het. In sy vrees het hy egter die skraalste en kleinste boompie in die opening bygedam en klouter nou daarteen op. Hy het egter ook nie veel tyd gehad om te kies nie, want die buffel het hom reeds ’n oomblik gelede gewaar. Met een rukbeweging van sy pragtige nek het hy die lyk van die vrou met sy horings opgeskep en nou trek die lewelose bondel hoog deur die lug om agter die buffel in die rivier te plons.

Nou storm die buffel op die Nderobo-man af.

Die Luiperdman laat egter nou nie op hom wag nie. Hy het die toppie van die boom reeds verlaat. Hy val deur die takke, terwyl die ape in die nabyheid ’n verskriklike keel begin opsit. ’n Oomblik later vang die Swart Luiperd ’n stuk bobbejaantou vas en swaai sommer dadelik vinnig vorentoe. Rakelings slinger sy liggaam deur die struike en die volgende oomblik is hy weer in die son in die oop kol waar die wrede oerwouddrama nog steeds besig is om hom af te speel.

In ’n oomblik het die Luiperdman sy boog in sy hand en ’n gifpyl lê op die gespanne snaar. Die Nderebo sit in die jong boompie wat gevaarlik begin ombuig, terwyl die buffel hier onder die boom boosaardig en brullend in die grond met sy voorpote grawe en teen die boom stoot. Af en toe ruk hy sy kop omhoog en dan stamp hy sy horings teen die stam van die tengerige boom. Dit lyk kompleet asof hy die man op hierdie manier uit die boom wil skud. Om alles te vererger, begin die Nderebo, wat netnou nog so dapper was, vreesbevange te skree. Dit maak die buffel nog woedender. As hy so met sy horings slaan, slaan hy soms die hakskene van die man raak, iets wat die buffel vandag gaan aanhou totdat die man ook aan sy voete vermorsel lê. Hy is in ’n kwaadaardige bui. In sy rasende vrees het die man ook nog nie vir die Luiperdman daar agter die buffel gewaar nie. Telkens probeer hy benoud skreeuend hoër teen die boom opklim, maar buig daardeur die boomtop net laer. Nou stamp die buffel met sy skof teen die boom en dan gryp hy soos ’n perd met sy tande na die man se hakskene.

Die Luiperdman lig sy boog. Die snaar span styf en ’n oomblik later skiet die pyl uit die boog. Dit trek soos ’n koeël deur die lug met ’n onheilspellende swiepgeluid. Die volgende oomblik dring dit diep agter die kop van die massiewe dier in. Dit is net waar die Luiperdman gemik het, op een van die kwesbare plekke, net waar die nekwerwel die harde kop ontmoet.

Rasend van pyn swaai die buffel om. ’n Oomblik waggel hy op sy pote, swaai sy kop geweldig in ’n poging om die pyl af te skud; dan sien hy die swart figuur van die Luiperdman daar aan die kant van die bosse staan, geen twintig treë van hom af nie.

’n Oomblik lank is die Luiperdman bewus van die rooi, bloedbelope oë van ’n bul wat blind van haat is. Die man se krete styg bo die kortaf brulgeluide van die buffel uit … en dan storm die gewonde dier reg op die Luiperdman af …