— HOOFSTUK 1 —
DIE SLUIPENDE SKADUWEE
’n Skaduwee beweeg vinnig oor die maanligkol. Só vinnig het dit beweeg dat die Monga-wag ’n end van die kampvuur af dit nouliks opgemerk het. Met groot oë staar hy nou tussen die bosse in waar hy die skaduwee sien beweeg het. Die sweet op sy voorhoof maak sy vel blink.
Daar lê baie skaduwees om hom, maar daar is nie een wat beweeg nie. Onder die bome en tussen die bosse lê die geheimsinnige duisternis diep en onbeweeglik. Hier voor hom was nou egter ’n beroering – dit was byna soos die beweging van ’n wolkskaduwee wat oor die maanligkol tussen die bosse geglip het.
Sy brein probeer vasstel hoe daardie skaduwee veroorsaak is. Maar hy kan dit nie kleinkry nie. Sy jarelange ervaring van die oerwoud en sy geluide, sy gestaltes, vertel hom ook nie wat dit was nie. Daar is geen luggie wat trek nie. Dit kon dus nie die beweging van ’n tak gewees het wat ’n roerende skaduwee oor die maanligkol geteken het nie. Daar is ook geen enkele wolkie in die lug nie. ’n Roofdier dan? Maar die vuur – die vuur wat hier agter hom so majestueus en gesaginboesemend brand sal enige roofdier afskrik. Hulle sal dit nooit so naby waag nie.
Miskien word hy vaak. Ja, miskien is hy vaak. Hy loer oor sy skouer na die gestaltes om die knetterende kampvuur waarvan die vlamme hoog opskiet die lug in en ’n wye ligkring in die bosse om die kamp gooi. Die Monga-wag wonder wanneer die grootwildjagters wat vir hom en sy makkers gehuur het, van plan is om te gaan slaap. Daar sit vyf van hulle om die vuur en hulle sit nou al drie ure daar en beraadslaag. Van waar die wag staan, kan hy die glinstering in die hare van die vrou by die vuur sien. Sy is heeldag saam met die vier mans en dit lyk vir hom asof sy blykbaar die meeste te sê het. Hy het al besluit dat sy die baas moet wees van hierdie groep, en daarom spreek hy en sy makkers haar aan as ‘Bibi’.
’n End van die tamaai vuur af in ’n oop ruimte, staan drie tente. Die een tent is die slaapruimte van die vrou met die blonde hare en die ander een bevat die voorraadkiste van hierdie jaggeselskap. Die derde is die slaapplek van die vier mans, die ‘mabwana’.
Die Monga-wag het alreeds die skaduwee oor die maanligkol hier voor hom vergeet. Hy luister nou na die gebrul van die maanhaarleeu wat in die ysterhok ’n end van die tente af, gevange gehou word. Dit is ’n pragdier wat die jaggeselskap ’n dag of twee gelede met behulp van ’n vanggat en net gebuit het. Die wag hoor nie nou meer die gegrom van die twee luiperds in die ander hok nie, twee gespikkeldes wat hulle vanoggend in hulle strikke gevang het. Die seekoeitjie maak ook nie vanaand juis veel geraas nie. Dit is asof die outjie al gewoond raak aan sy droë omgewing en sy ballingskap.
Die Monga-wag is nou al ongeduldig. Hy behoort nou afgelos te word, maar dit lyk of niemand aanstaltes maak om hom hier, waar die donkerte wat uitstoot van die bosse en bome se kant af die dansende lig van die vure ontmoet, hier op die grens tussen lig en skaduwee, te kom aflos nie.
Vir ’n oomblik kyk hy af na sy gevaarlike haakmes, wat krom na die punt van die lem toe loop, en tuur dan weer terug na daardie bedrieglike maanligkol.
Êrens voor hom kraak nou ’n takkie – dit is asof ’n ligte roofdiertred daardie droë takkie laat breek het. Die Monga is dadelik wakker. Hy staar weer met sy wit oë tussen die bosse in, spits sy ore om vas te stel uit watter rigting daardie gekraak gekom het. Maar onmiddellik ná hierdie geluidjie is die oerwoud weer stil. Dit is net die stemme van die vyf om die vuur wat gedemp tot hom kom, en af en toe die gegrom van die leeu en luiperds in hulle stewige ysterhokke.
Die Monga waag dit om ’n tree nader na die donkerte toe te gee, met sy haakmes gereed in sy regterhand, waarmee hy die hart van ’n mens met een behendige swaai kan uitslag.
Die wag sien egter nie die gestalte wat geen tien tree van hom af, vasgedruk agter ’n boomstam, staan nie. Die gestalte vloei in die stikdonkerte ineen met die swart, onbeweeglike stam van die boom. Die kop van die persoon lyk kompleet soos ’n knoets wat agter die swart stam uitstaan.
Toe die Monga weer wegkyk, vuur se kant toe, beweeg die gestalte agter die boom uit. Dit is ’n blitssnelle beweging. Die gedaante verdwyn ’n oomblik later geruisloos onder die takke van laaggroeiende bome in. ’n Ruk lank hurk die stuk skaduwee neer en nou word die gestalte saam met die boomskadu’s een swart massa. Netnou, agter die boom, kon mens nog die vorm van ’n kop uitmaak, maar nou, hier in die donker skaduwee onder die bosse, lyk dit soos ’n vlek, ’n vormlose stuk swartheid.
Vir etlike oomblikke bly die skaduwee ’n beweginglose kol onder die bome. Dit is asof die skaduwee wag dat die wag weer sy waaksaamheid moet verslap. Toe die wag omdraai en ’n ent in die rigting van die vuur stap, leef die skaduwee weer en ’n oomblik later ontvou dit in ’n menslike gestalte wat vorentoe beweeg, byna asof dit sweef. En hierdie keer gaan val die gestalte plat agter ’n struikgewas ’n dertig tree van die brandende vuur af. Die lig van die vlamme speel om en oor die bos waaragter die gestalte skuil, maar dit beskyn geen enkele liggaamsdeel van hom nie, want sy gestalte het andermaal een geword met die skaduvlek wat agter die bos vorm.
“Wie glo aan spookstories?” praat ’n man hard by die kampvuur. “Hierdie bogtery van ’n mens-dier of dier-mens wat hier in die oerwoud skuil en wat as die beskermer van die wild, roofdiere en Pigmeë optree – vertel dit vir oues wat pas uit die groendakkies terug is.”
Die spreker is ’n frisgeboude man. Sy moue is hoog opgerol en toe hy opstaan om ’n stukkie hout in die vlamme te gooi, troon sy postuur sesvoet-vierduim hoog. Hy maak keel skoon en spuug ’n geel streep tussen die gloeiende kole in.
“Goed, Eroll, jy glo nie aan so ’n wese nie, maar die Pigmeë glo. Toe ek die laaste keer in hierdie oerwoud was, was daar selfs sprake dat hierdie dier-mens, die Luiperdman, hulle koning is … dat hy van tyd tot tyd heeltemal verdwyn, maar wanneer die Pigmeë in moeilikheid verval en gevaar bedreig hulle, dan kom hy terug,” antwoord grootwildjagter Johann van Niekerk.
Die vrou teenoor Van Niekerk glimlag net. Die vlammelig speel oor haar gelaat en verleen ’n glans aan haar blonde hare. Sy is gekleed in ’n geel bloese en het ’n noupassende rybroek aan.
“Dit is bepaald ’n legende, Johann. Op die oomblik sal ek bly wees as jy my liewer kan sê waar ons die olifante sal kry. Vier dae in die hart van die woesterny, waar, volgens jou, die spore van die witman selde val, een keer in jare, en nog geen spoor van olifante nie. Ek het hoofsaaklik gekom om ten minste so tienduisend pond in ivoor saam terug te bring, behalwe al die ander dinge.”
’n Skraal mannetjie wat vlak by haar sit, mompel iets soos: “Irma, sê hom dit is nie slimpraatjies wat ons wil hoor nie.”
’n Persoon wat tot dusver geen woord gerep het nie, staan nou op en rek hom lekker ongeskik uit.
“Johann het onderneem om ons na die olifante se begraafplaas toe te neem. As dit waar is dat olifante na ’n bepaalde plek toe gaan om te sterf, kan ons veel meer as tienduisend pond se ivoor terugbring.”
Van Niekerk lag.
“As daar so ’n plek is, Majoor Chatwind, en ons vind dit, sal julle almal ryk teruggaan. Ek glo dat daar so ’n plek is, maar dit is slegs die Pigmeë wat weet waar daardie plek is. Ek het hulle al verskeie kere daaroor hoor praat, maar hulle praat met ontsag van die plek, met bewing, kan mens maar sê, maar hulle het nog vir geen witman na die plek geneem nie.”
“Al weer ’n spookstorie,” laat die frisgeboude Eroll hoor.
“Weet jy nie waar hierdie plek min of meer is nie, Van Niekerk?” vra Irma Waite.
“Min of meer! Hier in die oerwoud weet mens nie ’n ding min of meer nie. Jy weet definitief dat ’n ding bestaan en waar hy presies gekry kan word, of jy weet definitief glad nie waar ’n ding is nie. As jy vaagweg weet, of dink jy weet, moet jy dit nooit probeer vind nie. Die oerwoud is ’n uitgestrekte, wilde wêreld. Ek is oortuig daarvan dat hier plekke is wat ’n witman nog nooit betree het nie, baie plekke. Soos byvoorbeeld anderkant daardie spitsvormige gebergtes in die weste, wat lyk asof hulle kruine gedurig met die wolke gesels.”
Skielik kyk al vier hom stip aan. Dit is die maer mannetjie langs Irma wat eerste begin praat.
“Jy het ’n belofte gemaak dat jy ons soontoe sal lei.”
“A nee a, Maurice. Ek het nie belowe dat ek julle daarheen sal lei nie. Ek het gesê ek sal probeer. Ons het hierheen gekom met die doel om dierespesies lewendig te vang vir Chatwind se sirkus en bloot as bygedagte het ek onderneem om pogings aan te wend om uit te vind waar die begraafplaas van die olifante is.”
“Jy verdraai jou woorde!” roep Eroll en Maurice tegelyk.
“O, nee, hy doen dit nie,” tree Chatwind vir hom in die bresse.
Irma staan op en loop vinnig na haar tent toe, maar as sy ’n end weg is, draai sy om en spreek Van Niekerk toe: “Jy het nog nie probeer uitvind nie, Van Niekerk, het jy?”
“Natuurlik nie. Wag dat ons by die Pigmeë uitkom. Ek wil daardie plek net so graag kry as julle. En noudat ons ’n groot safari is, is ons kanse beter. Die Monga’s beweer egter dat daar ’n moontlikheid bestaan dat die olifante op enkele troppe na in hulle duisende getrek het.”
“Waarheen en hoekom?” vra Eroll.
“Omdat die riviere vanjaar bra droog is. Die vermoede bestaan dat hulle periodiek na ’n plek anderkant die Blouberge trek, waaroor definitief nog nooit ’n enkele mens dit gewaag het nie. Hulle glo dat die grond anderkant die berge die heilige grond van die bosgode is.”
“Jou legendes klink interessant, maar ongelukkig stel ek meer belang in olifante,” laat die maer Maurice hoor.
Irma loop met swaaibewegings na haar tent toe en ’n oomblik later sien die mans hoe sy haar tentflap opslaan en in die tent verdwyn.
Johann van Niekerk staan ook op. Hy tuur in die gloeiende kole en dansende vlamme en laat hoor: “Die oerwoud leer mens geduld. Sodra ons by die Pigmeë kom, sal ek die ervare jagters probeer omkoop met die blink goedjies wat ons gebring het. As ons ’n gids of twee onder hulle kan kry, vertrek ons na die Blouberge om dalk die eerste witmense te wees wat die begraafplaas van die olifante bereik.”
“Hoekom dalk?” vra Eroll. “Vrees jy dan dat ander blankes reeds die begraafplaas ontdek het?”
“Nooit nie,” antwoord Van Niekerk sonder om te aarsel. “Ek sê dalk, omdat ons die ander kant van die majestueuse berge miskien nooit sal bereik nie, nie lewend nie. ”
“Jy is vol vrese, Van Niekerk,” konstateer Maurice.
“Ek ken die oerwoud en ek sal weldra kan uitvind hoe dapper jy is, Maurice.”
Maurice stamel. Hy beskou Van Niekerk se woorde as ’n belediging. Dit was sarkastiese woorde, maar voordat hy in opstand teen Van Niekerk kan kom, praat Chatwind.
“Ek stem saam met Van Niekerk. Julle is te haastig. Ons moet vertroue in Van Niekerk hê. Hy het ons tot dusver goeie leiding gegee. Sover was ons sending gelukkig en vrugbaar. Ek het reeds vier diere vir my sirkus en presies die soort wat ek graag wou gehad het. Veral die twee luiperds, Van Niekerk. Hulle is groot en sowaar al byna geleerd.”
Dit is weer Maurice wat sy griewe lug.
“Ek het oerwoud toe gekom om ryk te word. Eerstens wil ek ivoor hê. As ons die begraafplaas nie kry nie, dan moet ons van die dierasies kry om te skiet en as ons nie van die dierasies kry nie, onthou dan ’n ander moontlike kontrak … Pigmeë-vroue wat die Arabiere teen maklik drie-honderd pond stuk aankoop!”
Van Niekerk gooi die sigaretstompie wat hy hanteer het, weg en kyk Maurice stip aan.
“Natuurlik. Ek sal julle help met die olifante, alhoewel dit teen die wet is dat julle groot hoeveelhede skiet, maar die wegvoer van Pigmeë-vroue uit die oerwoud … daarvoor is ek nie te vinde nie, mense. Ek kom eendag terug na die oerwoud toe – julle nie.”
Maurice en Eroll lag tegelyk.
“Bring jy ons by die begraafplaas of olifanttrop en die Pigmeë is nie nodig nie, Van Niekerk,” meen Eroll.
Chatwind kyk op sy polshorlosie.
“Ek gaan inkruip, kêrels. Miskien weet julle nie dat dit al twaalfuur is nie. Miskien het julle verwag dat die twaalfuur-klokkespel van Westminster dit sal aankondig,” en hy lag vir sy eie droë grap, draai om en stap na die manstent toe.
Vir ’n ruk lank heers daar ’n intense stilte.
Die gestalte van ’n mens, onsigbaar van die vuur se kant af, lê nog steeds roerloos agter die bos. Hy beskou die figure om die vuur intens en hy het na elke woord lê en luister. Sy blik dwaal telkens na die hok van die twee luiperds – onrustige luiperds wat heen en weer langs die tralies stap en met hunkering na die bosse en die swart skaduwees staar.
Die nagwag beweeg telkens tot hier vlak by die bossie waaragter hy lê en dan hou hy sy asem op, ’n jagmes in sy regterhand vasgeklem. Die krom lem van die haakmes in die hand van die Monga lyk gevaarlik in die blonde strale van die maan.
“Van Niekerk, sê nou eerlik. Dink jy daar bestaan ’n olifant-begraafplaas, ’n plek waarheen al die olifante van hierdie oerwoud heen verkas wanneer hulle voel dat hulle sterwensuur naby is en dan daar die gees gee?” vra Eroll nou in ’n ander stemming.
“Ek glo dit en baie ander jagters glo dit. Buitendien, die Pigmeë, die klein mensies van hierdie bosse, glo dit ook.”
“Dink jy dat jy die begraafplaas sal kan opspoor?”
“Dit moet eendag ontdek word. Ons kanse is honderd as ons ’n Pigmee-gids kan kry wat nie bang is om die bergwêreld binne te gaan nie.”
“En weet jy nie, weet jy nie eers vaagweg waar dit is nie, Van Niekerk?”
“Ek weet vaagweg, ja. Dit is anderkant die Blouberge waar die Pigmeë glo die bosgode bly. Julle sal die berge teen môre-aand kan sien uitsteek agter die boomtoppe.”
“Dit klink beter, Van Niekerk. Hoeveel dink julle sal ons kan saamneem – tande, bedoel ek?” vra Maurice weer.
“As ons net draers kan kry, kan elkeen van ons ryk teruggaan. Julle boot, of liewer Chatwind s’n, lê naby Gomi aan die ooskus. Ons laai die boot wat seker ’n twee-duisend ton kan dra, vol.”
“Maklik!” antwoord Eroll.
“Van daar vaar ons na die Arabiere van Marokko,” gaan Van Niekerk voort. “Ivoor en vroue is hulle swakheid. En ek het goeie kontakte tussen hulle.”
“So, jy ken hulle ook!” lag Maurice. “Daardie Arabiese magnate het geld. Miskien weet jy dit nie, Van Niekerk, maar behalwe Chatwind se boot wag daar ’n vragskip wat ek onmiddellik te huur sal kry, sodra ons met die ivoor … en miskien Pigmee-vroue daar by die kus aanland.”
Van Niekerk vererg hom vir die maer mannetjie wat altyd so baasspelerig is.
“As ek jy is, stel ek die Pigmee-slavinne uit my kop, Maurice. Hierdie klein mensies van die bosse kan gevaarlik word.”
“Jy vergeet dat ons twee masjiengeweers ook het. Ek weet dat die Pigmeë baie bygelowig is. Net ’n paar sarsies en jy sal hulle die doodse vrees op die lyf jaag.”
Van Niekerk draai om en stap na die slapende Monga’s toe. Hy maak een wakker en beveel: “Jou beurt om wag te staan, Monga. Gaan los jou makker af!”
Die Monga gehoorsaam dadelik en met ’n spies sowel as ’n haakmes gewapen, hardloop hy na die wag daar aan die rand van die bosse toe.
“Alles nog in orde?” vra die nuwe wag in die taal van die Monga’s.
“Netnou ’n skaduwee gesien, maar nou is daar niks nie.”
“Jy is vaak … as mens vaak is sien jy baie dinge.”
Agter die bos sien die gestalte hoe die ou wag na die vuur toe stap. Anderkant die vuur gaan lê hy tussen die ander slapendes.
Daar is ’n beroering agter die bossie. Stadig, baie stadig, loer ’n swart gesig om die bossie. Flou, dansende ligte speel om ’n swart kop. Twee ore is sigbaar, plat oortjies, en eers as ’n mens lank na die ding staar, sien mens dat dit die kop van ’n luiperd is – ja, ’n luiperd!
Die kop beweeg stadig opwaarts totdat dit bo-oor die bossie loer in die rigting van die hok met die twee luiperds wat steeds rusteloos op en af agter die tralies stap.
“Goeienag, mense! Ek gaan slaap,” kondig Van Niekerk aan en stryk aan na die tent toe waarin Chatwind alreeds verdwyn het.
Maurice en Eroll staan nog ’n paar oomblikke stil by die vuur en Maurice merk dan op: “Bosgode agter die Blouberge; ’n dier-mens wat verskyn en verdwyn en wat soms die koning van die Pigmeë genoem word. Kan jy so iets glo?”
“Natuurlik nie. Daardie goed kom voort uit die verbeelding van alle primitiewe volke. Hulle moet aan iets glo hier in die oerwoud en daarom glo hulle aan ’n dier-mens.”
Op daardie oomblik het die swart luiperdkop heeltemal agter die bossie uitgesteek. Die vars Monga het niksvermoedend tot vlak voor die bossie beweeg sonder om die kop op te merk.
Dit was of die gestalte agter die bos nie meer kon gewag het nie, of hy ongeduldig begin word het.
Toe die wag skuins aan hom verbykom, geen vyf tree van die bossie af nie, spring die gedaante eers hoog in die lug op en as hy afkom, sak hy op die wag toe. Iets blits twee keer in die gestalte se hand en ’n gedempte kreun van die wag volg. ’n Oomblik later sink hy stadig neer met ’n blink mes wat skuins in sy linkerblad in weggedruk is.
Die gestalte val saam met die sterwende Monga wat sy haakmes krampagtig in sy hand vasklem.
“Het jy iets gehoor?” vra Eroll skielik.
“Ja … iets … iets wat hier by ons neergeval het, soos … soos ’n swaar klip,” antwoord Maurice.
Albei staan met hulle rugge na die vuur toe. Hulle staar na die bosse, na die plek waar hulle die wag netnou sien beweeg het. Skielik kom Eroll se stem in fluistertone, hees, met ’n effense trilling daarin.
“Maurice, Maurice, hier is iets nie pluis nie. Waar … waar is die wag?”
Vier oë soek die wag en dan skielik sien Eroll hom daar by die bossie lê, plat op sy maag.
“Die vervlakste wag, Maurice. Kyk, daar lê hy en slaap.”
Maurice buk vinnig en tel ’n sweep op wat langs ’n stomp hout gelê het. Hy stap vinnig in die rigting van die roerlose figuur. Hy sien nie die gedaante wat plat agter die wag lê nie. Eroll volg kort op Maurice se hakke. In hulle oorywer om ’n slapende wag uit te looi, het hulle vergeet om hulle wapens saam te dra.
Skielik steek Eroll vas en gryp Maurice aan sy arm.
“Pasop! Hy slaap nie. Hy lê te onnatuurlik!”
Voordat die maer Maurice kan antwoord, groei daar ’n skaduwee uit die grond. ’n Gestalte kom vinnig agter die wag orent en die volgende oomblik staan hy daar in sy volle mondering … in sy volle atletiese lengte, die vlymskerp jagmes in sy regterhand, en met luiperd-oë staar hy hulle aan, sy twee bene stewig uitmekaar geplant.
Maurice vloek. Eroll verstyf.
Daar staan die dier-mens voor hulle. Hulle sien self die luiperdkop, die menshande en -voete, slank bene, ’n toonbeeld van krag.
“Hy’t … die ding het die wag doodgemaak!” stotter Maurice en dan gil hy skielik luid.