GROENHEIDE BOEKE

Temmers van die Woestyn #6: Vlamme teen die Horison

— Hoofstuk 1 —

Die Vertes Roep

Mari Hugo vee ’n lastige swart krul uit haar oë. Die wind uit die noorde veeg-veeg telkens tergerig oor haar hare en laat dan ’n krul weerbarstig oor haar voorhoof val. In die ooste het die son so pas agter die kalkbulte en kameeldoringbome opgekom, en die eerste strale maak haar hare glansend sag soos fluweel. Die noordeluggie waai die soet geur van die rosyntjiebosse na haar toe aan. Sy is nie bewus van die haastige vlug van kelkiewyne bokant haar nie; sy hoor nie hulle opgewekte môre-roep nie. Dit is selfs nie asof die helder gerunnik van die merries in die perdekamp tot haar deurdring nie. Sy hoor die geproes en hees gerunnik maar halfbewus. Daar is iets anders wat Mari se gedagtes vanoggend in beslag neem, terwyl sy teen die skurwe stam van ’n wilde seringboom aanleun –

Sy hou hom nou al etlike minute lank dop. Met sy elmboë druk hy op die houtrelings waarmee die perdekraal toegekamp is. Hy staar die baljarende diere met bewondering in sy oë aan. Die sierlike bewegings van gespierde nekke van die puik perde is ’n lus vir sy oë. Daar is byna verlange in sy oë wanneer dit vir die soveelste keer wegdwaal van die uitbundige merries en op die lewendige gestalte van ’n donkerrooi perd wat daar eenkant in ’n klein kraaltjie van houtrelings vasgekeer staan. Dit is ’n hings, en van waar hy oor die houtrelings leun, kan hy die spogperd se neusvleuels sien beef. Die ore staan gespits en telkens laat hy net so ’n ingehoue roggelende gerunnik hoor, terwyl hy met vurige oë op die merries afgluur.

Daar kom ’n glimlag om Mari se mondhoeke. Sy staan van die skurwe stam af weg en loop stadig na die jongman toe. Sy gaan vlak agter hom staan en nog sien hy haar nie raak nie.

‘Alfred!’ verbreek sy skielik die reeks ketting­gedagtes waarmee die man besig was. ‘Wat droom jy vanoggend weer so? Dit is nou byna presies ’n halfuur dat jy die gebaljaar van die vetgevrete goed gadeslaan. Die Bybel sê: “Jy sal nie begeer nie.”’

Alfred Greyling rig hom in sy volle lengte op en draai dan stadig om. ’n Breë glimlag speel om sy mondhoeke en ook sy groot ligte bruin oë lag. Dit lyk vir Mari asof die kuiltjie in sy ken vanoggend meer prominent is as ander dae.

‘Mari, ek kan nie help om daardie hings in die klein kampie te bewonder nie. Hy sien daar so statig uit, so ’n toonbeeld van lewenslus en krag. Ek wed as hy maar net wil, breek hy uit daardie ou houtkampie uit weg dat die paaltjies soos vuur­houtjies voor hom uitspat. Soveel spierkrag en lewenslus het ek nog in lange jare nie gesien nie. En ek ken perde, ou sussie.’

Hy kyk af na haar en haar oë lag diep en innig in syne. Daar lê ’n ligte blos op haar wange. Die uitdrukking van vreugde en geluk is duidelik in haar gelaat te lees, straal uit haar hele houding.

‘Ek skat jy sou enige ding gee om daardie hings in die hande te kry, Alfred, veral nou dat joune wat jou soveel jare gedien het, dood is.’

‘As ek net een kan kry wat by benadering soos daardie vurige ros is, Mari, dan sal ek net so bly wees. Ben het gesê dat ek vir my ’n ryperd uit hierdie klomp kan kies: pragtige merries; die reune daar in die ander kamp; daardie swart Arabiese pragstuk met sy sierlike maanhare hier tussen die trop – Maar nie een van hulle is daardie vuurrooi dier se moses nie, Mari.’

Mari lag vir die naïewe wyse waarop Alfred praat – nog skoon soos ’n kind, soos ’n jong seun! ‘En ongelukkig kan jy nie vir Vuurslag kry nie, Alfred. Ou Vuurslag is Ben se oogappel. Hy ry hom self nie eens baie nie. So af en toe as hy Kuruman toe ry wanneer die vrederegter hom wil spreek – jy weet, Vuurslag is net hier vir spesiale geleenthede en sendings – ’

‘Ja,’ laat Alfred ingedagte hoor. ‘Dit is Ben se perd en ek begeer hom. Snaaks, alles wat ek dolgraag sal wil hê, is my tweelingbroer s’n, Ben s’n. Ou Vuurslag – en al die ander dinge.’

Vuurslag se gerunnik klink helder in die oggendlug op – in die kraal dawer die hoefslae skielik soos die merries uitgelate al in die rondte maal. En bokant die geproes en gerunnik kom die krakende geluide van die berghane bo van die kranse af, wat hier ongeveer honderd treë voor hulle lê.

Mari knip-knip haar oë ondeund. ‘Ag nee, toe nou, mamma se seuntjie. Watter ander mooi goed het jou tweelingboetie wat jy nie het nie?’

Alfred laat sy hande op die meisie se skouers rus, en weer soek hy met sy oë in hare asof daar iets in haar blou kykers skuil wat hy probeer snap, probeer kleinkry. ‘Daar is nog jy, byvoorbeeld, Mari. En dit is twee mooi dinge. Vuurslag – en jy!’

Sy maak ’n beweging met haar liggaam en stoot Alfred se hande van haar skouers af weg. Sy is vir ’n oomblik uit die veld geslaan. Sy kyk vinnig af na die klipperige grond waarop sy staan. Sy sien die punte van haar skoene onder by haar rok uitsteek. Die bries uit die noorde waai haar rok styf teen haar aan en ’n oomblik lank is die rondings van haar heupe duideliker. Dan kyk sy weer op na hom en sy glimlag, net effens met haar klammerige lippe, wat vir Alfred tergend aanloklik lyk. Dan klink haar lag helder, soos klokkespel. ‘Alfred, jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, nog sy os, nog sy esel. Jy doen erger dinge. Jy begeer al hierdie dinge nie van jou naaste nie, maar van jou tweelingbroer.’

Alfred lag nie. Dit is nou vir Mari of daar ’n skaduwee in sy anders helder bruin oë gekom het. ‘Ekskuus, Mari – Jy is heeltemal reg. Ek mag nie begeer nie, en veral nie van Ben nie, wat vir my tot dusver baie goed was. Maar in elk geval – jy is nog nie sy vrou nie. Dus begeer ek maar net sy verloofde, nie sy vrou nie – Ja, enne, dan verder daardie pragtige esel van hom – maar ek sal dit nie weer doen nie.’ Hy draai om en kyk weer na die menigte perde wat daar in die omheinde ruimte rondbaljaar.

Ineens kruip daar ’n gevoel van byna-vrees in Mari op. Sy staar weer na die figuur van Alfred wat nou so eensaam daar teen die houtheining lyk. Alfred Greyling het drie maande gelede uit die dood uit teruggekom. Mens kan nie eens sê uit die dood teruggekom nie. Liewer uit die dood gekom, want vantevore was Alfred nooit hier nie. Vierstrome, die plaas van die Greylings, ken hom nou maar hierdie afgelope drie maande.

Opeens is Mari nie meer bewus van haar omgewing nie. Sy sien hoe ’n klein miskruiertjie naarstiglik swoeg om ’n misbal, ongeveer vier keer so groot soos hy, uit ’n holte uit te rol. Maar Mari is nie bewus van wat sy sien nie. Haar gedagtes, haar hele gees as ’t ware, sweef in die dae van gister rond, van maande gelede toe sy vir Alfred Greyling die eerste keer gesien het daar waar hy op die naat van sy rug bewusteloos in die woestyn gelê het.1 Mari sug, en toe sy haar voet naby die miskruiertjie oor die gruis skuur, gaan die diertjie botstil staan, gereed om dood te speel as sy aan hom durf raak.

Terwyl sy na die krom, geboë gestalte van Alfred daar by die houtreling kyk, dink Mari weer aan die wonderwerk. Hulle het Alfred ontdek, in ’n vertwyfelde geveg teen boosdoeners wat hom wou beroof van sy vryheid, sy lewe, wat naarstiglik gesoek het na die geheim van die goudstof tussen die Korannaberge, die oorsaak reeds van soveel menselyding en bloedvergieting. Alfred was vasberade om die kaart wat die ligging van die waterbronne aandui waarin die goudstof voorkom, nie in swendelaars se hande te laat val nie. Hy het besef dat die geel stof nie aan een indiwidu behoort nie, maar aan die landsowerheid van die Kolonie. Alfred het eiehandig opgetree teen die woestyn­misdadigers wat bloed en goud gesoek het. En eers nadat Mari en Ben die broer uit die dood teengekom het, het hulle sy vreemde verhaal gehoor.

Mari kyk in die verte. Voor hulle verrys die rooi granietreeks wat die woestynkenners die Rooiberge gedoop het. En verderaan is die Korannaberge en die Langeberge ’n streep onegalige blou, soos ’n stuk donderwolk wat agter die horison opreik. Daarvan­daan kom Alfred Greyling, wat tot ’n paar maande gelede nie geweet het wat sy regte van is nie. Hy het grootgeword in die klowe en voue van die Korannaberge saam met ’n goudgierige, met name Koen Neethling. Eers ten tye van Koen se dood en nadat hy reeds oor een-en-twintigjaar oud was, het hy verneem dat hy nie Neethling is nie. Die sterwende Koen het self aan hom die belydenis gedoen dat hy, Koen, nie Alfred se vader is nie. Koen het vertel hoedat hy en sy makkers Alfred se vader, wat die geheim van die goudbronne geken het, vermoor en sy moeder en haar twee jong seuntjies gevangene gehou het; hoedat sy met die een kind in die woestyn ingevlug het en hy, Koen, die ander een as sy eie seun grootgemaak het.

Maar nou is alles anders. Alfred het sy moeder ontmoet. Sy moeder het vir hulle die geboortevlek op sy regterskouer gewys. Alfred is deur sy moeder ontvang as haar verlore seun. Tant Greyling se vreugde was groot en Alfred se wens om eendag in staat te wees om sy eie beesplaas te hê, is nou nader aan verwesenliking.

Dit het warmer geword. Teen die mikaklippe aan die hange van die Rooiberge sidder die lug­spieëlings. Mari weet dat dit vandag ondraaglik warm gaan word. Alfred staan onder ’n kameel­doringboom, maar die skaduweetjie wat dit werp is maar bra skraal. Hy kyk egter nie nou meer na die perde nie. Sy blik is gerig op die kloof. Dit is feitlik net op daardie plek in die Rooiberge dat ’n wye kloof die reeks in twee sny. Deur hierdie kloof kan die oog ver sien. Eindeloos ver is die verdwergde doringbome wat op die sandvlaktes van die Kalahari groei. Daar anderkant daardie plat doringveld is die ylbloue Korannaberge.

Dit is op die Korannaberge dat Alfred se blik nou gerig is. ’n Snaakse soort hunkering het in Alfred opgekom. Hy het die eerste dag toe hy hier aangekom het, nooit kon dink dat hy sou terug verlang na die Korannaberge nie — die voue in die berge waar die houthuisie staan waar hy al die jare van sy jeug in die ongerepte natuur deurgebring het nie. Alfred het nou wel sy mense ontmoet. Hy het nou bewys dat hy ’n Greyling is. Hy het bewys dat sy moeder en sy broer nog leef en hy het by hulle kom aansluit, maar hy voel soos ’n vreemde tussen hulle. Net soos ’n Rip van Winkel wat twintig jaar geslaap het, toe wakker geskrik het en hom in ’n vreemde, ander wêreld bevind het. ’n Wêreld waarby hy hom moeilik kan aanpas. Hier is manne wat die groot boerdery behartig saam met sy broer. Alfred het niks in gemeen met hulle nie. Gister was hy nog in die woestyn, ’n kind van die onherberg­same, wat sy pleegouer, Koen Neethling, gehoor­saam moes wees. Gister nog het hy met sy perd oor die warm sand deurgestoei om goudstof aan die Duitsers af te lewer – Koen se goudstof. Die geld vir hierdie stof het in die bank op Koen se naam te lande gekom. As gevolg van Alfred se optrede is hierdie smokkelbedrywigheid die kop ingeslaan. En van al die geld wat Koen gemaak het, het Alfred geen pennie weg nie, en hy wou daardie bloedgeld, daardie geld wat Koen onwettig gemaak het, hoegenaamd nie hê nie.

Dit is nie dat Alfred hom vanoggend selfbejammer nie. Dit is net dat hy ’n vreemde klopping in hom ontwaar. Hy wil weg van hierdie plaas waaraan hy tog geen deel het nie. Hy besef hy kan hom ná soveel jare in die woestyn moeilik aanpas. Om hierdie rede het hy by Ben aangehou om aan hom ’n perd te verkoop, nadat sy eie, Sieraad, dood is. Hy wil daarmee Kimberley se wêreld toe, waar hy graag by een van die ryk beesmagnate wil gaan werk. Desnoods kry hy ook ’n pos as polisie-agent soos sy broer Ben. Alfred weet vanoggend dat hy nie werkloos hier kan sit nie. In die drie maande wat verby is, was hy voortdurend in Mari se geselskap en Mari is sy broer se verloofde. En sy is mooi. Dit is die eerste vrou wat hy aanskou ná soveel jare van alleenwees in die dorre woestyn. Sy is vir hom wonderlik, ’n toonbeeld van alles wat skoon is, rein. In die afgelope tyd het hy hom betrap dat hy gedurig aan haar dink: van haar droom en gedurig­deur haar teenwoordigheid opsoek. En netnou het hy sy mond verbygepraat. Hy het haar laat verstaan dat hy haar, Mari Hugo, sy broer Ben se verloofde, met sy hele hart begeer. Maar dit is nie net dat hy haar begeer nie! Daar is die ander gevoel vir haar binne-in hom. En hy vrees om gedagtes aan daardie gevoel te skenk. Hy verwens hom selfs nou dat hy so-iets aan haar gesê het –

Ineens weet Alfred weer dat Mari hier vlak agter hom in die yl skaduwees staan. Sy raak sy arm saggies aan.

Dit is asof sy skaam is om haar weer in die oë te sien. Sag vra sy, ‘Dit lyk my jy is glad nie meer gelukkig hier op Vierstrome nie. Alfred?’ Die vraag kom skielik asof die meisie sy gedagtes gelees het. ‘As jy daardie woestyn-kyk in jou oë kry, laat jy my rillings kry,’ probeer sy dan weer skerts, maar sy ken vir Alfred al. Sy weet dat hy vanoggend weer vol hunkeringe is.

‘Dit is nie ’n kwessie van geluk of ongeluk nie, Mari. So kan ek nie heeldag hier op die aarde rond­staan nie. Daarvoor is my gees te aktief. In my are bruis daar ook, soos in Ben s’n, die avontuurlus. Hy leef dit uit in sy polisiewerk, en nou vandat ek van die woestyn af weg is, voel ek ’n leemte, voel ek ontwrig soos ’n vis wat op dorre aarde gegooi is. Ek verlang na aksie, na lewe, Mari.’

‘Ek begryp jou volkome, Alfred. Party dae voel ek ook so, daarom dat ek baie keer saam met Ben op sy sendings gaan. Maar as jy so na die weste kyk, verbeel ek my dat jy terug verlang na die smokkel­lewe op Rietfontein en die Korannaberge. Dan lyk dit vir my asof jy Vierstrome vaarwel wil sê, en dan kry ek koue rillings.’

Alfred sien dat sy nie in ’n skertsende stemming is nie. Dit is werklik asof sy vrees dat hy die plaas van die Greyling-familie sal verlaat.

‘Soms roep die vertes, Mari. Soms is die verlange om te trek sommer baie hewig – Ek het nou gestaan en dink of ek nie vir Ben maar sal smeek om daardie perd aan my te verkoop nie. En as hy dit doen, wil ek weer ’n bietjie beweeg.’

Van die huis se kant af kom daar skielik die gesellige geklink van melkemmers. Teen hierdie tyd in die môre is die koeie reeds klaar gemelk.

Alfred neem die meisie se hand en druk dit. ‘Daar is baie redes waarom ek maar liewer moet skoert. Ek wil uitwyk in die rigting van Kimberley. Ek wil selfstandig wees.’

‘Jy sal jou moeder net versigtig moet hanteer, Alfred. Maar ek het ’n ander plan. Ek sal vandag nog met Ben praat dat jy meer verantwoordelikheid kry met die beesboerdery. Hy sal jou ’n kans gee om jou eie trop hier aan te hou. Ek dink so,’ kom die voorstel van Mari, maar dit is vir Alfred duidelik dat selfs sy maar ’n skrale hoop het dat Ben so-iets sal toestaan.

Alfred lag, ‘Jy pleit vir my asof jy nie juis wil hê dat ek hier moet weggaan nie, Mari,’ en hy gee haar ’n ligte drukkie. Haar liggaam is nou teenaan syne. Hulle gesigte is naby mekaar en Alfred kyk diep in die helder blou oë wat fonkel van lewe, van gevoel.

‘Natuurlik wil ek nie hê jy moet weggaan nie, Alfred.’

Hy druk haar ken effens omhoog, ‘Hoekom nie, Mari? Hoekom nie?’

Hy wil graag hê dat sy moet sê dat sy van hom hou, dat sy hom sal mis, want vanoggend bruis die emosies in hom soos nooit vantevore nie. Hy streel haar sag oor haar wange: dit is warm onder sy aanraking.

‘Omdat ek jou sal mis – omdat jy hier hoort, Alfred.’

Hy buk vinnig en hy soen haar, lank, innig, vol hartstog. Sy druk hom nie weg nie, maar hy kan voel hoe sy haar oorgee. Haar lippe is warm.

Dan is dit asof dit hom skielik byval dat dit nie veroorloof is nie. Hy kom vinnig orent, druk haar teer van hom af weg en beskou haar. Haar oë is effens neergeslaan.

‘Mari!’ klink ’n stem skielik ’n paar tree van hulle af. Alfred ruk soos hy skrik. Op die rug van ’n sweetvos sit Ben Greyling. Perd en ruiter is geen twintig treë van hulle af nie. Hulle was vir ’n oomblik so afgeslote in ’n eie wêreld dat hulle hom nie hoor aankom het nie. Daar is ook so ’n lawaai van die perdekamp af dat Ben se ryperd ongemerk kon nader kom.

Ben kyk van die een na die ander. ’n Oomblik lank rus sy oë op Alfred. ‘Lyk my jy het nie werk vir jou pote nie!’ kom dit skor.

Mari trek haar asem diep in. Sy kyk op na Ben se gesig en sien die frons op sy voorhoof en die donker­bruin oë wat nou soos kole vuur op haar brand. Sy kan nie ’n woord uitkry nie. Sy het Ben nie daar verwag nie. Hierdie omhelsing was so skielik, so onverwags.

Ineens is dit asof die meisie haar verloofde vrees. Toe sy ’n oomblik toegelaat het dat Alfred haar soen, was haar gedagtes nie by Ben nie. Sy het hom heeltemal vergeet – vergeet dat sy haar aan hom verloof het. Sy het nie gedink dat sy Ben daardeur ontrou was nie. Sy het net vir daardie moment gelewe. Maar nou weet sy dat Ben dit in ’n ernstige lig beskou. Sy weet dat hy, soos hy nou daar op die perd sit, kook van jaloesie.

Behendig spring Ben van sy perd af. Hy staan vir ’n oomblik langs die dier. Sy bors swel. Net vir een enkele oomblik is Mari bewus van die frisgeboude gestalte wat so sprekend op Alfred langs haar lyk. Alfred en Ben is byna in elke opsig een mens. Alfred se hare is net ligter, sy oë effens ligter. Sy skouers is nie so breed nie, en Ben is seker so ’n duim langer as hy. Alfred het ’n diep kuiltjie in sy breë ken. Ben het nie daardie kuiltjie nie.

Hy kom nou nader. Sy oë skiet vuur. Hy het die karwats in sy regterhand. Hy slaan daarmee aanhoudend teen sy broek.

Alfred beweeg nie. Ben staan voor hulle. Hy kyk hulle beurtelings aan, ‘Hoe lank gaan hierdie ding al agter my rug aan?’ Die vraag kom bars, skielik en onverwags.

‘Dit is nie so erg nie, Ben,’ kom dit beleefd van Alfred.

‘Nie so erg nie!’ roep Ben smalend uit. ‘Julle was verlore in mekaar se arms. Besef jy dat Mari feitlik my vrou is? Hoe – hoe durf jy nadat ek jou uit die asse opgerig het, nadat ek vir jou voorspraak by die gereg was. Smokkelaar!’ Ben sê dit hard en hy kners op sy tande. Dit lyk asof hy enige oomblik die karwats in sy hand op Alfred se rug gaan meebring.

Alfred word wit. Ben se woorde maak seer. Dit is die eerste keer in die afgelope drie maande dat sy broer hom so beledig.

‘Stadig, Ben. Ek is geen misdadiger nie. Ek het nie geweet dat dit verkeerd is om Koen se opdragte uit te voer nie. Ek het die goudstof self voor die vrede­regter oorhandig – ’

‘Jou lae vark! Dit gaan seker al weke so aan. Jy met my aanstaande vrou in jou arms.’

So ’n woede-uitbarsting het Mari nie verwag nie. Haar lang rok ritsel as sy tussen die twee mans intree. ‘Ben, dink wat jy sê. Moenie beledigend wees nie. Dit was heel onskuldig bedoel en dit was die eerste keer. Moenie jou eie broer beskuldig dat hy ’n smokkelaar is nie. Dit is verskriklik. Jy weet dat dit deur sy optrede is dat jy die boosdoeners kon aankeer.’

Ben stotter. Hy is buite homself van woede. Hy gee nie meer om wat hy sê nie. Hy voel verneder, felle emosies woed binne-in hom. Hy moet alle beheer oor hom uitoefen om te verhoed dat sy hand opskiet en ’n vuishou op Alfred se ken plant.

‘Woestynwurm!’ braak Ben dit skielik uit en die volgende oomblik ruk hy vir Mari nader na hom toe en stoot haar ru vorentoe. ‘Huis toe, Mari! Ons sal later hieroor praat.’

  1. Sien Gif vir die Hart. [terug]