— HOOFSTUK 1 —
DUIWELS MET KNUPPELS
In die groot, groen woud beweeg skaduweegestaltes stil oor die nat aarde. Gister het die stortreëns oor die oerwoud uitgesak en die aarde is nog deurweek. Selfs die stekende strale van die son wat vandag fel op die groen bosse neergeskyn het, kon sommige van die druppels op die breë blare nie bykom om dit te verskroei nie. Telkens as ’n aap in die hoogtste bome effens versit, stort die druppels huppelend na benede.
Die woud is vandag onheilspellend stil. Dit is net die groot rivier se water wat ná die stortreëns nog oor die rotse raas. Dit is byna soos die gromgeluide van ’n oerdier.
Maar origens is dit doodstil. Dit is of die wouddiere almal slaap, en dié wat nie slaap nie, is te bang om te beweeg, te bang om ’n geluid te uiter. Dit is asof hulle die bewegende skaduwees grootogig dophou. Die reuse uil bo in die boom, wat netnou op soek was na die muisgesin tussen die struike, loer skuins af na die swart skimme wat onder tussen die bosse beweeg, geluidloos, asof hulle tussen die takke deursweef, soos die geeste van die gestorwenes.
Die maan sit bo in die hemelruim, maar hy kan nie tussen die bosse inloer nie. Die blaregordyn is dig en ondeurdringbaar. Net nader aan die rivier is die bosse minder en daar val die maanligkolle spookagtig tussen die takke deur.
Die ou uil het al lankal opgemerk dat dit tweebeen-goeters is wat soos swart vlekke deur die bosse beweeg. Sy oë sien mos in die duisternis waar die oë van die ander oerwoudbewoners nie kan sien nie. Die uil weet dat as hierdie tweebeen-gestaltes so stilweg beweeg, dit net onheil en bloed voorspel. In sy alwysheid het die uil lankal hier in die oerwoud besluit dat daar geen dier is wat bloeddorstiger is as die tweebeen-diere nie.
Die nag is warm en bedompig, en toe die bewegende skimme die maanligkolle bereik, sien die uil die rooi liggame wat glad is van die sweet. Dit is half-naakte figure wat deur die ligkolle beweeg en weer in die duisternis van die woud verdwyn.
Ja, die tweebeen-diere is op soek na bloed, en wanneer hulle op jag na bloed is, dan swyg die ganse oerwoud; tot die jaguar met sy skerp tande kruip diep in hol boomstamme weg, want wanneer wreedheid op die spel is kan hy nie meer kers vashou vir die tweebenige gediertes van die oerwoud nie
Die skaduwees beweeg in die rigting van ’n smeulende vuurtjie in die opening tussen die bosse, ’n honderd tree van die breedvloeiende rivier.
Hulle is nou nie meer baie ver van daardie smeulende vuurtjie nie. Dit is nog feitlik net die kole wat gloei, en af en toe ’n blou vlammetjie wat opsukkel om weer ’n bietjie lewe te bring.
Die naakte figure drom saam onder die diep skaduwees van die oerwoudreuse. As hulle laag buk en tussen die stamme deurloer, kan hulle die gloeiende kole sien. Dit is asof die naakte gestaltes in die skaduwees eers beraadslaag. Net twee-drie se lywe word beskyn deur nuuskierige strale van die maan. Af en toe is daar ’n flits van die groep naaktes afkomstig, wanneer die strale die knuppelkoppe vang.
’n Hol stem fluister in ’n vreemde taal: “Dit is ons laaste kans om die Swart Luiperd te probeer vang, maar ons mag hom nie seermaak nie. Onthou dit is ’n bevel van die Wit Heks van Paititi. Die Swart Luiperd mag nie seergemaak word nie. Ons moet hom heel en lewend na haar toe bring. Ons mag nie toelaat dat hy wegkom nie. Eers het sy haar Jaguarmanne gestuur om die Swart Luiperd vas te trek, toe die Inkas, later die Groot Ape, maar hulle kon nie daarin slaag om die Swart Luiperd gevange te neem nie. Daarom is ons opdrag gegee om die Swart Luiperd te vang en na haar toe te bring. Ons is twaalf, die twaalf bestes. Ons is vir hierdie taak gekies omdat almal weet dat ons vyande voor ons verkrummel. Hulle is nie bestand teen ons durf en dapperheid nie. Laat ons die Swart Luiperd vannag ’n les leer – ’n les wat die Duiwelmanne hom alleen kan leer!”
As die spreker vorentoe kom, vlug ’n apie haastig hoër teen die wit boomstam op. Wat hy gesien het, vervul hom met vrees. Die liggaam van die spreker is rooi. Vet en sweet blink in die maanlig daarop, maar oor sy gesig is ’n swart, rooi en wit masker. Horings staan skuinsweg van sy kop af.
Die apie kom op ’n dun takkie tot stilstand en met groot ogies loer hy terug na die duiwelgesig.
Die skaduwees beweeg almal uit die donkerte te voorskyn. Hulle skaar hulle om hulle leier en daar word weer gefluister. Elkeen van die afskuwelike duiwelgesigte se bolywe is kaal, maar hulle onderlyf is bedek met ’n noupassende, swart kuitbroek, met ’n lang mes en kleiner gooimesse wat aan die gordel hang.
“Kom, Duiwelmanne, en moet nie julle knuppels of messe gebruik nie. Maak hom net skrik daarmee!”
“Hy sal nie skrik nie,” praat een grof teen. “Ek het gehoor dat die Swart Luiperd ’n woesteling is. Hy het die krag van ses sumo-stoeiers!”
“Ja,” dra ’n ander Duiwelman sy mening by. “Die manne sê dat hy magiese krag besit en dat hy bloeddorstig is. Dit is daaroor dat die Amarari’s en die Oekapi’s hom aanbid. Hulle het ook eers teen die Swart Luiperd opgestaan, maar hulle het gou voor hom neergeval en hom aanbid.”
“Word julle bang? Onthou ons is Duiwelmanne en ons het spierkrag. Daar vloei nie die bloed van lafaards in ons are nie. Ons en ons voorvaders was keiserlike soldate!”
“Ja, maar ons is nie meer in ons eie land waar daardie feit genoeg is om respek af te dwing nie!”
“Stilte!” roep die forsgeboude Duiwelman en sy swart oë gluur uit die skrefies in sy duiwelmasker. “As hy eerste begin doodmaak, kan ons ook slaan, anders nie. Luister nou! Hier is my plan: die Swart Luiperd slaap gewoonlik in ’n boom. Hy het twee luiperds en ’n perd. Ons moet dié eers verwilder, en ons moet hom pak wanneer hy nog slaap. Julle het die toue. Ons bind hom dan vas, en môre as die son oor die berge opkom, het ons hom in Paititi. Hierdie Swart Luiperd moet skadeloos gestel word, want hy probeer om die Wit Heks te onttroon en ons meesterplan in die wiele te ry. Ses van julle moet sy diere verwilder. Ek en vyf ander sal die Swart Luiperd storm.”
Daar volg bromstemme – en dan eensklaps stilte, ’n drukkende stilte. Net die rivier wat grom soos ’n slapende reus.
Twaalf skaduwees sluip nader na die smeulende vuur.
· · ·
Tussen ’n klompie struikgewas roer Donker, die Swart Luiperd se perd, sy kop. Hy spits sy ore. Dit is asof hy skaduwees in die nag gewaar het. ’n Paar muskiete takel hom ook boonop toe en hy trippel rond. Donker se bewegings laat die struike ritsel en hoog bokant hom in ’n mik gluur Spikkels, die luiperdwyfie, gesteurd af. Sy weet goed dat dit Donker is wat nie sy staan kan kry nie en sy laat ’n verergde gegrom hoor.
Dit wek weer vir Simson, die luiperdmannetjie, wat tussen twee rotse naby die smeulende vuur lê. Hy lig sy groot kop op en sien die gestalte van sy wederhelf teen die maanlig. Met dromerige oë staar hy haar aan, byna asof hy wil sê: “Kan die Eva-geslag nou werklik selfs in die nag geen rus vir hulle siele kry nie?”
Dan trek hy sy voorpote effens in en rol oor op sy ander sy. Maar ineens wip hy regop tussen die rotse. Sy ore is platgetrek en sy oë gluur soos kole vuur voor hom uit.
’n Takkie het daar êrens in die diep skaduwees van die woudreuse gekraak. Simson staar nou in daardie rigting, maar dit is net die nag voor hom. Simson neem een tree vorentoe en loer dan om die rots. Sy liggaam gee ’n vinnige ruk en hy mik om plat te val. Daar was dit weer – ’n tak het nou weer links van hom af gekraak. Hy tuur in die donkerte en besnuif die lug.
Skielik skud takke agter hom, en die gespikkelde wip om. Hy staar vas in die gesig van ’n afgryslike monster, maar dit is een wat hy ken.
Die duiwel druk die takke weg en dit kry skielik ’n lyf, ’n lyf met twee bene, soos ’n mens. Simson se liggaam bewe, maar hy is nou nie meer bang nie. Hy het ’n walglike reuk gekry, ’n mensreuk. Hier in die oerwoude van Brasilië, in Suid-Amerika, het hy al baie daardie reuk ervaar – die reuk van ’n stinkmuishond van die Transvaalse vlaktes kom nie naby hierdie galserige reuk nie.
Simson gee onmiddellik ’n waarskuwende gegrom en spring tussen die rotse uit. Op daardie oomblik gil die duiwelding voor hom en slaan vinnig met ’n knuppel na Simson. Die luiperd het dit nie verwag nie en moet haastig wegspring om nie verbrysel te word nie.
Toe peul daar oral van hierdie duiwelagtige goed uit agter hom, langs hom. Hy gee ’n waarskuwende gebrul. Spikkels val feitlik uit die boom uit byna op die rug van Donker. Dit is of die donker skaduwees om hulle begin lewe het.
In die mik van die boom, net langs ’n reuse voëlnes, spring die Luiperdman orent. Hy sien die bewegende gestaltes onder hom. Hulle hardloop heen en weer, maar uiter geen woord nie. Dit is net Simson wat aanhou brul. Spikkels bly doodstil in die struikgewas lê. Sy roer nie. Ses van die gemaskerde aanvallers omsingel vir Simson. Hy kan nie vooruit spring nie, want dan sal hy sekerlik teen die skerp penne van die knuppels vasspring.
Daar heers ’n bietjie verwarring onder sommige van die gestaltes, dit lyk asof hulle na iemand soek. Daar ontstaan nou ’n gemompel onder hulle. Die Swart Luiperd weet dadelik waaroor daardie verwarring ontstaan het. Hulle soek werklik na iemand. Hulle het nie verwag dat hy so hoog in die boom sal wegkruip nie. In die afgelope tyd het dit al herhaaldelik gebeur dat soldate van die Wit Heks pogings aanwend om vir Leon Fouché te vang of dood te maak.
Hierdie nagtelike sluipers is sekerlik weer agter sy bloed aan. Die Swart Luiperd sien ook sommer dadelik dat hy gou sal moet speel, want die sirkel trek nouer om arme Simson wat nou skoon verbouereerd raak omdat hy geen ondersteuning van die luiperdwyfie en van sy tweebeen-maat ontvang nie. Die luiperd spring egter so rats rond dat die duiwels nie kans kry om op hom toe te sak nie. Vir ’n oomblik bewonder die Luiperdman ook die durf, moed en doodtartende dapperheid van hierdie sluipers. Daar is nie sommer mense te vind wat in die nag op ’n luiperd sal afstorm nie.
Ineens skree die Swart Luiperd en onmiddellik kyk duiwelgesigte op na hom. In die kolle-kolle lig van die maan sien hy die rooi maskers op sommige van die aanvallers. Dadelik weet hy wie sy besoekers is. Hy het al op ’n vorige geleentheid kennisgemaak met die Duiwelmanne vanuit Japan, wat op een of ander manier verbonde is aan die Wit Heks van Paititi.1
Vir ’n oomblik is die Duiwelmanne uit die veld geslaan. Hulle het die Luiperdman nie daar bo so hoog in die boom verwag nie. Ook die groepie om die luiperdmannetjie het die kat vir ’n oomblik vergeet, en kyk omhoog waar die swart gestalte van die Luiperdman op hulle afkyk. Die luiperdmannetjie maak vinnig gebruik van die situasie. Hy spring reg op die kortste van die aanvallers af. Die Duiwelman val agteroor en Simson storm oor hom en verdwyn in ’n oogwenk in die swart skaduwees. Hy vlug onder oorhangende takke in en gluur dan weer terug om te sien of hy agtervolg word.
Hy sien hoedat ’n paar van die tweebeen-gedrogte teen die boom opklim waarin die Luiperdman hom bevind, en hy weet dat daar ’n warm en benoude tydjie op sy tweebeen-maat wag.
Die Swart Luiperd beweeg egter glad nie. Hy hou die drie dop wat teen die stam opklim. Leon weet klaar wat hy gaan doen. Hy wil nie in hierdie stadium gebruik maak van sy mes of sy pyl en boog nie. Die manne is blykbaar hier om hom lewend te kom vang, anders sou hulle lankal met hulle knuppels na hom geslaan het.
Die drie Duiwelmanne begin stadiger teen die boom op beweeg toe hulle merk dat die Luiperdman geen aanstaltes maak om weg te spring of aan te val nie. Hy staan nou so werklik waar met sy hande in sy sye, terwyl hy spraakloos elke beweging van hulle dophou.
Toe die drie ’n tree onder hom op ’n tak saambondel, gryp hy skielik die tak net bokant hom vas, gee een ruk en skeur die tak van die boom af.
Met afgryslike gesigte, duiwelgesigte, tuur die drie op na die Luiperdman. Die strale van die maan beskyn hulle sataniese bakkies.
Die Swart Luiperd tel die tak hoog bokant sy skouers op en slinger dit dan na hulle toe. Die dik kant van die tak tref een op die kop, en hy los met ’n gil. ’n Tweede een verloor ook sy houvas en tuimel na benede, kop eerste. Die derde een bly klou aan die tak en hy slaan met sy knuppel na die Luiperdman se voete. Die Swart Luiperd spring egter rats opsy, en dan spring hy rakelings aan die aanvaller in die boom verby. Hy val reg op die struikgewasse af waarin Donker vreesbevange skuil, met Spikkels hier tussen sy bene. Leon kom met albei sy voete op die perd se rug te lande en die dier gee een benoude snork en spring tussen die bosse uit op die skreeuende duiwelgedrogte af. Leon slaag daarin om wydsbeen oor die perd te gly en dan aan die maanhare vas te klou.
Dit lyk nou kompleet asof die bos geboorte gegee het aan ’n swart perd en ’n ruiter met ’n luiperdmasker, en nog boonop ’n gespikkelde kat wat grommend, feitlik tussen die pote van die perd deur storm.
Gooimesse flits in die maanlig en twee woer oor die Luiperdman se kop. Donker storm tussen die Duiwelmanne in en hulle gee haastig pad, terwyl sommiges platval. Toe die perd ’n pad deur hulle storm, buk die Luiperdman vinnig en laag en sy sterk arm slurp om die middel van die aanvoerder. Krete skeur deur die lug en ’n knuppel val kletterend op die grond, maar Donker verdwyn in die bosse met die Luiperdman en die aanvoerder op sy rug.
Leon knyp die verskrikte duiwel onder sy arm vas. Maar ’n verskriklike stank slaan in sy neusgate op. Toe die perd tussen die bosse deurskuur, gooi die Luiperdman die vetterige liggaam van hom af weg. Dit klap soos die Duiwelman met sy kop teen ’n rots te lande kom. ’n Enkele, onderdrukte kreun ontsnap die Duiwelman en dan lê hy roerloos.
Donker bedaar effens en die Swart Luiperd bring hom tot stilstand. Die perd besef nou eintlik eers dat dit sy tweebeen-maat is wat op sy rug sit en hy bedaar dadelik.
Agter die Luiperdman skree dit deurmekaar en hy hoor hoe sy twee luiperds dreigend en benoud brulgeluide los. Hy laat Donker weer terugsnel.
Tot sy verbasing is daar nou eers verwarring onder die gedrogte. Hulle kyk om hulle rond asof hulle iets verloor het. Nie een van hulle het opgemerk dat die Luiperdman hulle leier tussen hulle opgeskep het nie, en die feit dat hy soos mis verdwyn het, vervul hulle met angs.
Spikkels en Simson staan langs ’n groot rots in die maanlig en wys hulle tande. Hulle nekhare staan orent. By die smeulende vuurtjie probeer die oorblywende Duiwelmanne herorganiseer.
Die Duiwelman in die boom is besig om voetjie vir voetjie af te klim, byna asof hy dit traag doen en maar liewer tussen die veiligheid van die takke wil bly. Twee gemaskerde manne lê op die grond bewusteloos of dood. Hulle het goed ongeveer twintig-dertig voet hoog geval. Die een begin op die grond roer toe die Swart Luiperd weer tussen die bome te voorskyn kom.
Nege Duiwelmanne sien hom onmiddellik raak en swaai rats om, maar hulle storm nie op hom af nie. Dit is asof hulle moed hulle nou begewe het. Die Luiperdman se stem kraak skielik tussen die bome.
“Waarom kom steur julle my, Duiwelmanne?”
Die een kyk na die ander.
“Waar is ons makker?” waag een dit om in Engels te vra.
“Die aarde het hom ingesluk,” lag die Swart Luiperd. “Wat soek julle, Duiwelmanne van Japan?”
Daar is ’n rukkie stilte en dan antwoord een: “Ons soek jou, Swart Luiperd. Ons is namens die Wit Heks gestuur om jou te kom haal. Haar Hoogheid wil jou lewend in Paititi hê!”
Leon se gelag kom hol agter sy masker uit.
“Die Wit Heks stel baie belang in my, maar ek stel nie belang in haar nie. Hoekom laat sy my nie met rus nie?” jok hy om hul woede te voed. “Julle kan gerus daardie gedrogtelike maskers afhaal. Ek is nie so bygelowig soos die inboorlinge nie!”
“Ons heet die Duiwelmanne, Swart Luiperd. En ons het gekom om jou te kom haal, dood of lewendig!”
Sonder waarskuwing storm tien Duiwelmanne gelyk op die Swart Luiperd af.
Sien Waar die Dooies Leef. [terug]