GROENHEIDE BOEKE

Die Swart Luiperd #10: Rooi Maskers

— Hoofstuk 1 —

Bloed en Sand

Dit is ’n aaklige geskree en dit klink weer deur die bosse – dit weergalm onheilspellend teen die barre rotse aan, en vervaag dan soos die laaste noodkrete van ’n sterwende. Dit is ’n byna menslike kreet, maar daar was iets soos vrees, vermeng met woede in daardie geskree wat byna soos die trompetgeskal van ’n olifant geklink het.

Die Swart Luiperd staan roerloos agter ’n groot sandsteenrots. Sy swart perd, Donker, spits sy ore en sy neusgate staan wyd soos hy in die lug ruik; die oë is wild. Leon Fouché, alias die Swart Luiperd, luister aandagtig en hy kyk ’n oomblik lank vlugtig om na die twee gespikkelde makkers wat vlak agter Donker agter ’n eienaardige abbaboom lê.

Aan die houding van sy drie diermaats kan Leon sien dat hulle half verward is – hulle kan nie uitmaak watter dier of ding daardie bloedstollende geluid geuiter het nie.

’n Drukkende stilte het skielik op bos en dal neergesak. Die sand onder die Swart Luiperd se voete is nog warm gebak deur die versengende tropeson wat vandag fel op die aarde neergeskroei het. Maar nou is dit koel; die son het al tot ’n diep oranje verkleur en lê ’n paar treë van die tafelbergagtige rante in die weste.

Daar is nou werklik nie eens die gekras van die sonbesies wat vandag so ’n oorverdowende lawaai gemaak het nie – dit is of die hele natuur hier in die onherbergsame Kaokoveld wag dat daardie kreet van vrees-woede weer moet opklink.

Soos Leon daar agter die rotsblok ademloos wag, lyk hy afskrikwekkend, vreesinboesemend – die inwoners van die gebied het vandag al voor hierdie snaakse wese op die perd uitgevlug. So ’n ding het hulle nog nooit hier in die buurt van die Kunene-rivier aan die grens van Angola gesien nie, en hulle bygelowige harte het bang en vreesbevange geword en hulle het die digter dele van die gebied binnegevlug.

Die luiperdmasker pas nou om sy kop. Sy blou oë, waarin die vertes van die onbekende weerspieël is, kyk deur twee netjiese gate in die luiperdvel, waar die vurige oë van ’n mensvreter ’n paar maande gelede uitgegluur het. Leon het die kopvel van die luiperd swart geverf – en daar staan hy nou met sy luiperdmasker agter die skurwe rots en luister – ’n tweebenige luiperd! Indien Leon net daardie kop-masker van hom om die boom moet wys, sal enige jagter hom aansien vir ’n swart luiperd, die gevaarlike roofdier wat mens in die oerwoude van Indië en ander wêrelddele aantref. Leon Fouché het verder ’n swart hemp aan en ’n donker broek van ’n ligte koel materiaal – sy arms is ontbloot en soos hy daar met sy regterhand op die skurwe rots druk, kan die spiere duidelik op sy voorarm gesien word, staalspiere wat al menige moordenaar, roofdier en skurk vermorsel het.

Die Swart Luiperd se gespanne houding verslap. Daardie vreesaanjagende geluid klink nie weer op nie en ’n paar katlagters in ’n swartbasboom begin senuweeagtig en aanhoudend te kwetter.

Leon Fouché draai stadig om en gaan na ’n klein stroompie water digby. Hy buk voor die stroompie en die volgende oomblik haal hy sy masker van sy gesig af.

Nou is sy fynbesneë gelaatstrekke duidelik te bespeur. Sy mond is ferm. Sy blou oë is diep en skerp soos dié van ’n arend. Daar is iets van die blou vêrtes in sy oë te bespeur – dit kyk wakker om hom rond soos die van die diere hier in die wildernis wat elke uur, elke minuut van die dag op hul hoede moet wees. Die stryd hier in die natuur, ongerep in sy skoonheid en sy wreedheid, het Leon se sintuie deur al die jare geskerp.

Die Swart Luiperd buk vooroor en skep water uit die spruit met sy twee hande wat hy bak en teenaan mekaar hou. Hy slurp die water gulsig op en Donker, sy perd, uiter ’n bly, gedempte runnikgeluid en, gevolg deur Spikkels en Simson, die twee tiers, stap hy ook nader na die water toe.

‘Ja,’ praat Leon met sy diere, ‘so ’n geluid het ek nog nie vantevore gehoor nie – en ons was dwarsdeur Afrika en op eilande waar ons voorhistoriese gedrogte gesien het en duiwelse geluide gehoor het, maar hierdie geskree – nee, my makkers, dit is bokant my vuurmaakplek,’ gesels hy goedig en Simson, wat naby hom staan en suip, grom asof hy wil sê, ‘Ja-nee, ek lewe al ses jaar saam met jou, Luiperdman, maar daardie geluid, aikôna!’

Leon sit sy masker weer op en kyk na die son. Die strale doop die enkele wolke aan die horison tot ’n diep karmosyn-rooi. Die punte van die rooi sandsteenberge kry ’n snaakse somber kleur, byna iets soos vaal-rooi en eensklaps weergalm die droë woud en die rante van veelsoortige geluide.

Die Swart Luiperd probeer onwillekeurig vasstel watter geluide hy kan uitken. Daar is die klaende gehuil-lag van ’n gestreepte hiëna; die geblaf van wilde honde; die diep gegrom van ’n honger leeu; die binnensbuikse geluid van ’n tier of ’n bergleeu.

Plotseling val die Swart Luiperd plat in die langerige gras langs die stroom, en instinktief soek die twee gespikkelde katte skuiling agter ’n klomp struikgewasse. Donker runnik gedemp en senuweeagtig beur hy sy gespierde gestalte agter ’n rots in.

Daardie byna menslike kreet het weer hier vlak by hulle opgeklink – dit weergalm onaards en die ander woudgeluide hou skielik op.

Weer en weer kom die skreegeluid. Dit dring deur murg en been en laat die wildsbokke vinnig uit die woud vlug en by Leon verby dawer. Dit is nou baie duidelik vir die ervare Swart Luiperd dat die ding of dier wat daardie geluid uiter, oorloop van woede – die woede-instink het van die dier wat hier naby hulle skree, heeltemal beheer geneem. Dit klink amper soos die uitdagende geskree van ’n gewonde aap, maar daar is ’n toon van menslikheid in.

Dit klink nou so digby in die bosse dat die paar blou-apies wat vreedsaam en nuuskierig bo uit die boom die bewegings van die Luiperdman en sy maats gevolg het, senuweeagtig sketter en uit die boom val en terug-loerend oor die rotse verdwyn om êrens in die baie klipskeure skuiling te soek.

Die Swart Luiperd lig hom effens op sy elmboë en loer oor die gras. Dan trek hy sy asem diep in en agter sy masker rek sy oë groot: ’n Tamaai bruin aap, half-aap, half-mens, kom die opening voor hom binne gewaggel. Die lang, harige arms sleep amper op die grond – die groot kop is vol bloed, bloed wat nog nie gestol het nie. Die geel-wit slagtande is ontbloot en die oë is rooi en groot van woede en ingehoue vrees.

Die groot mensaap grom binnensbuiks en hy kyk byna soos ’n mens wat na iets soek – na die spoor van ’n dier of so iets – in die omgewing rond. Dan bal die dier sy vuiste en sy bors swel en hy kreet dit weer uit – ’n uitdaging aan almal wat leef hier in die Kaokoveld, ’n kreet van onbeteuelbare woede. In sy onmag raap die dier ’n groot droë stomp op, stoot dit bokant sy kop uit, swaai dit in die rondte en slinger dit teen die rotse aan dat die splinters so spat.

Hy slaan weer op sy bors, en dan gebeur daar iets wat mense-oë selde aanskou: Met ’n vreesaanjagende geskree, storm die mensaap op iets af. En nou sien die Swart Luiperd eers wat dit is.

’n Groot maanhaarleeu het uit die bosse te voorskyn gekom en in sy bek byt hy ’n klein mensapie vas. Die dingetjie is reeds dood en dit is ineens vir die Swart Luiperd duidelik waarom die mensaap so te kere gaan. Die leeu het natuurlik een van sy kleintjies gevang.

Die mensaap storm verwoed vorentoe en sy oorverdowende geskree tuit in die Luiperdman se ore. Die leeu laat egter nie op hom wag nie – Leon sien net hoe die geel gedaante die mensapie neergooi en vorentoe pyl. Die groot voorpote kap na die logge liggaam hier voor hom, maar rats vir daardie lompe lyf wat waggel-waggel beweeg, gee die mensaap een kant toe pad en gryp die leeu se agterpoot. Hy kry dit met sy groot hand beet en met ’n verwoede getier pluk hy dit na hom toe.

Die leeu brul van pyn, maar die volgende oomblik begin die mensaap die leeu in die rondte te swaai en laat dan skielik ’n oomblik los. Soos ’n vrot vel trek die koning van die oerwoud deur die lug en plof swaar teen die grond neer, slegs ’n paar tree van waar Leon in die lang gras lê.

Die leeu brul van woede en pyn en kom orent. Die mensaap storm egter al weer nader, waggelend, tande ontbloot, met oë wat vurig vlam. Die leeu storm ook en die volgende oomblik spring albei. Hierdie keer is die geel gedaante bo en Leon sien hoe daardie gevaarlike kloue en naels aan die breë bors van die mensaap skeur. Die bek gaan oop, en die leeu byt die mensaap aan die skouerbeen. Daar is duidelike vrees op die pynvertrekte gesig van die mensaap te lees. Die geluid wat hy uitstuur, is aaklig en laat koue rillings langs Leon se ruggraat afgly.

Maar nou sien die Swart Luiperd dat die mensaap sy kake in die nekvel van die leeu vasgeslaan het. Daar volg ’n verwoede gestoei en die bosbewoners luister en kyk in ademlose spanning toe. In die ‘arena’ van die onbekende, barbaarse Kaokoveld, is die twee reuse in ’n verbete kragmeting gewikkel – ’n aloue stryd in die oerwoud en die woestyn tussen die leeu en die mensaap.

Uit pure opgewondenheid staan Leon op – daar is iets van die wreedheid van die bosse, van die roue barbaarsheid, van die ou-ou wet van die natuur, wat in hierdie kragmeting weerspieël word.

Die Swart Luiperd trek sy asem diep in.

Skielik sien hy hoe die mensaap weer die oorhand begin kry. Hy het die swaar, geel liggaam van hom afgegooi, en binne enkele oomblikke is hy weer op daardie lomp pote van hom. Die leeu is ook dadelik op sy pote, maar hy waggel, en die bloed stroom uit sy keel. Dit lyk nie of hy weer wil storm nie.

Die mensaap skud sy kop en die bloed spat in alle rigtings; soos ’n mens vee hy met die agterkant van sy hand oor sy voorkop waar die bloed as’t ware saamgekoek is. En dan tree hy weer nader; sy dierlike wraaklus nog nie gekoel nie.

Die leeu retireer effens en hy grom onseker en bang.

Die mensaap spring nader en gryp na die leeu; die leeu spring swak agteruit en probeer dan aanval, maar die mensaap se regterarm skiet vorentoe en hy vang die leeu aan die maanhare. In ’n ommesientjie het hy die kragtige roofdier plat gedruk en hy stuur ’n triomf kreet uit.

Skaars het die kreet weggesterf of twee geel gedaantes bars uit die bosse – nog ’n maanhaar en ’n wyfie!

Die mensaap sien die nuwe aanvallers en hy rig hom orent in sy volle lengte – hy waggel op sy voete en hy staar na die twee nuwe aankomelinge wat ook eensklaps vasgesteek het. Hul sterte kwispel senuweeagtig en daar is vuur in hul oë.

Dit is skielik vir Leon asof daardie roofdier-oë wat net aanval om bloedlus te koel, hul honger te stil, ook iets soos wraaklus weerspieël; dit is of hulle hul gereed maak om hul kameraad se bloed te wreek.

Daar is nie meer woede in die mensaap se houding te bespeur nie. Daar is nou alleen vrees – dit is of hy weet dat sy kragte uitgeput is.

Agter hom staan die gewonde leeu op en storm swak op die mensaap af. Dit is die teken vir die ander twee om ook aan te val.

Wanhopig draai die mensaap hom om en gryp na die gewonde leeu, maar die ander twee is by en swaar val die mensaap se liggaam teen die grond – hy uiter ’n kreet om hulp en Leon spring impulsief vorentoe.

In die skraal lig van die ondergaande son flits Leon se jagmes. Twee lang spronge en ook hy is in die ‘arena’.

Rats spring hy op die leeumannetjie af, wat die ongelukkige mensaap met sy twee yslike voorpote teen die grond vaspen. Die roofdier wou net sy tande in die nek van die mensaap wegslaan, toe Leon se mes diep in die dier se linkerblad invreet. Met ’n gebrul van pyn kantel die dier om en Leon gryp aan sy stert en ruk hom weg van die mensaap af.

Die dier hap na die Swart Luiperd, maar veerkragtig spring die Luiperdman opsy en dan woer sy mes deur die lug en sny die volgende oomblik diep in die leeu se gorrel weg. Die maanhaar trag om die skerp mes met sy tande beet te kry, maar hy is byna magteloos van woede.

Weer spring die Swart Luiperd vorentoe, ontduik ’n kaphou van die maanhaar, en land die volgende oomblik op die dier se rug. Met sy linkerhand gryp hy die maanhare vas, en sy regterhand slaan in ’n greep om die dier se gespierde nek. Hy gryp die mes uit die leeu se keel uit en met vinnige swaaie plant hy die mes weer tweekeer in die gorrel weg. Dan spring hy opsy. Die dier waggel, kap in die lug na ’n vyand wat hy glad nie sien nie, kantel om, beur orent, maar val dan weer neer.

Die mensaap lê op die leeu wat hy netnou byna vankant gemaak het voordat daar hulp opgedaag het, en die leeuwyfie is intussen besig om haar tande nog dieper in die skouerbeen van die mensaap te laat wegsink.

Weer is Leon by. Die leeubloed drup van die punt van sy jagmes af. Hierdie keer mik hy en steek die leeuwyfie agter die kop, net waar die rugstring teen die kopbeen vasgroei.

Die leeu spring agteroor, val op die naat van haar rug; en skaars het sy grond gevat of die Luiperdman ontwyk die kaphoue en steek die mes drie keer tot aan die hef in die dier se linkerblad weg.

Die leeu grom binnensbuiks, haar pote skop styf, en die bloed borrel by haar bek uit. Die messteke het haar hart deurboor.

Leon staan terug. Hy ken die natuur en die oerwoud en sy talryke bewoners en hy weet dat die mensaap dom genoeg kan wees om sy weldoener aan te val, maar hierdie een doen dit tot sy verbasing nie.

Leon sien hoe die swaar liggaam, van meer as 500 pond, orent kom; ’n oomblik staar hy deur bloedbelope oë na die vreemdsoortige tweebenige hier voor hom – daar is nie woede in die dier se oë nie, net pyn.

Die leeu waarmee die mensaap netnou geveg het, waggel weg, val neer langs die waterstroompie en lek sy wonde. Dit is egter vir die Swart Luiperd duidelik dat die arme dier tog sal sterwe. Die mensaap het hom lelik karnuffel. Die mensaap self lyk uitgeput en swak van bloedverlies, maar hy staan op sy agterpote – kyk na die leeu, en asof hy instinktief weet dat sy teenstander tog sal vrek, draai hy om en stap waggelend en kreunend, byna soos ’n groot man wat huil, na die vormlose bondeltjie.

Die regterarm van die mensaap hang slap langs die logge liggaam. Hy buk by die baba-mensapie, en stoot sy groot linkerhand onder die slap liggaampie in, dan tel hy dit op; druk dit teen sy bors en loop met skommelende gang geen drie treë van Leon af verby nie.

By die punt van die bosse gaan die groot dier stil staan en kyk weer terug – reg in die oë van die Swart Luiperd. Hy maak sy bek oop en daar kom ’n roggelende geluid uit sy keel, en hy swaai met sy beseerde regterhand. Dit lyk byna soos die gebare en die geluide wat deur ’n stom persoon geuiter word – ’n stom man wat ongeduldig sy dank aan sy weldoener met gebare te kenne wil gee.

‘Toemaar, ou kêrel,’ lag Leon en staar die verdwynende gestalte agterna, ‘jy het meer moed as ’n mens!’

Onder die indruk van die magtige drama wat nou hier voor hom afgespeel het, draai die Swart Luiperd om na sy diermaats, maar skaars is hy by Donker agter ’n rotsblok, of daar weerklink luid deur die naderende nag die geklap van geweerkoeëls – en weer een! Die eggo’s van drie skote weergalm teen die kranse aan.

’n Paar honderd treë van die Swart Luiperd af, in ’n diep kloof, gil iemand luid – ’n mens. Dit weergalm oor die bosvlaktes tot daar waar die vaal, dooie sand en lawaklippe van die Namibwoestyn begin.

Skaars het die donker mooi tussen die geboomtes toegesak, en die wêreld in ’n swart kleed toegewikkel of die maan kom rond en groot agter die berge in die binneland te voorskyn. Dit doop die omgewing in ’n helder, rustige lig.

Iemand skree daar by die kloof en ’n muil balk benoud. En dan skree iemand weer – benoud, vreesbevange, soos ’n persoon wat deur die afgryslikste moordwapens gemartel word!