— Hoofstuk 1 —
Gapende Afgronde
Helder skyn die son op die hoë spitsberge en geboomtes in die klowe neer. Dit skitter op die vetgesmeerde vel van die half-naakte Monga-kryger, onderwyl hy rats heen en weer beweeg en slag na slag sy dodelike dolk in die lug swaai en na die Swart Luiperd steekkap. Dit lyk of die Monga vinniger as die Luiperdman beweeg, of hy tans die botoon oor Leon voer. Die verbete geveg duur nou reeds langer as ’n half-uur.
Sonet en Venter hou die kragmeting met ingehoue asems dop. Die twee bevind hulle in ’n diep, nou kloof met steil kranse. Die twee vegters stoei en worstel feitlik reg bokant hulle – ’n skouspelagtige prentjie. Net een mistrap en een van die vegtendes kan die afgrond afstort en feitlik aan die voete van die meisie en Venter te lande kom!
Dit is duidelik dat die Swart Luiperd uitgeput is, dat die Monga-soldaat varser as hy is. Die Swart Luiperd se lang tog oor die bergreekse, die land van die wrede Monga’s, het hom die meeste van sy energie ontneem.
Die Luiperdman se mes en die Monga se dolk blink in die stekende sonlig. Die swart soldaat uiter af en toe ’n bloeddorstige kreet, uittartend, asof hierdie geveg hom die grootste genot verskaf. Dit is of Leon se luiperdmasker die barbaar nie meer afskrik nie, hom nie met die minste vrees vervul nie. Telkens storm die reus, steek met die dolk na die hart van die Luiperdman, maar elke keer slaag Leon daarin om die dodelike wapen te ontduik. Die Swart Luiperd staan nou met sy rug na die afgrond toe. Enkele treë agteruit en hy sal oor die rand van die afgrond na sy dood toe stort.
In die nou kloof onderkant die vegtendes het Venter sy rewolwer in gereedheid, en Sonet het ’n geweer in die hand. Maar die twee durf nie skiet nie, want dan sal die ander Monga-wreedaards wat hoog bokant hulle agter die rotse verskuil lê en net soos hulle die verbete geveg dophou, op Leon toeslaan. Met ’n beklemmende gevoel om haar hart hou Sonet die twee rats-bewegende figure dop.
Die Luiperdman het nog geen enkele geleentheid gekry om na sy teenstander te steek nie. Die barbaar is steeds op die aanval. Die Monga se dolk het, daarenteen, al ’n hele paar keer gevaarlik naby Leon se keel verby geblink.
Opeens sien die twee toeskouers onder in die nou kloof drie Monga-gesigte agter die rotse uitloer; dan kom hulle die volgende oomblik te voorskyn. Hulle gaan op ’n rotsplaat digby die twee vegtendes staan en leun op hul gevaarlike strydbyle. Hulle volg die kragmeting met behae, asof hulle telkens verwag dat hulle kameraad daardie gemaskerde man sal oorrompel en hy oor die afgrond sal stort. Die uitdrukking op hul gesigte maak Sonet bang. Dit is duidelik dat die barbare nie twyfel oor die uitslag van hierdie geveg nie. Dit is een van hul uithaler-vegters wat daar handgemeen is met hierdie vreemde maskerdraer wat hul land wederregtelik binnegekom het, en reeds etlike van hul soldate om die lewe gebring het.
Opeens is daar ’n luide toejuiging van die kant van die Monga’s af. Die Swart Luiperd het agteruit gespring om weer een van daardie dodelike dolksteke te ontduik, maar hy het half gestruikel. Sonet gil luid. Die Swart Luiperd kan enige oomblik oor die afgrond stort. Sy druk haar oë toe. In ’n vinnige flits van haar verbeelding kan sy al sien hoe die onoorwinlike Leon hom hier voor hul voete te pletter val.
Maar rats het die Luiperdman die volgende oomblik weer sy ewewig herwin. Die Monga-vegter is egter weer met ’n kreet by en die dolk skiet vorentoe. Die Luiperdman gee egter eenkant toe pad. Hy gryp die man se gewrig met sy linkerhand vas en du dit van hom af weg. Leon probeer die dolk uit sy hand wring, maar dit is of hy ’n stuk yster beet het. Leon voel die warm, jagende asem van die barbaar in sy gesig en kry die soet-vrot geur van die oliebesmeerde en halfnaakte liggaam. Die wit tande gryns hom toe.
‘Stoot die bose gees van die kranse af,’ skree die drie Monga-toeskouers hulle vegter toe. ‘Hy sal nooit weer ons heilige berge betree nie!’
Sonet kyk weer omhoog en sy merk hoe een van die Monga’s met sy strydbyl dreigend na hulle wys en beduie, ‘Nou-nou kom julle beurt – ’
Die Swart Luiperd moet beur en terugstoot so al wat hy werd is, want sy teenstander ruk en stamp in ’n poging om hom oor die afgrond te laat tuimel. Dit gee die Luiperdman nie eintlik steekkans nie. Die Swart Luiperd is maar ongeveer twee treë van die rand van die afgrond af, en dit voel vir hom asof hy nie meer lank sal kan aanhou nie.
Opeens buk Leon effens en swaai die Monga na die een kant toe. Die swart soldaat struikel en ’n oomblik lank lyk dit of die bordjies verhang is. Hy slaag egter terselfdertyd daarin om sy gewrig uit Leon se skroef-greep los te kry. Die Swart Luiperd spring vorentoe om hom ’n messteek toe te dien, maar met verbasende ratsheid ontduik die soldaat daardie hou.
Nou staan die twee manne weer teenoor mekaar. ’n Oomblik lank lyk dit of albei ’n bietjie asem skep; blaaskans nodig het. Die mes en die dolk skitter-blink in die sonlig.
‘Ek kan dit nie langer verduur nie, Venter,’ roep Sonet angsbevange uit. ‘Skiet, in hemelsnaam, skiet!’
‘Ek durf dit nie doen nie, Sonet. As ek een skoot afvuur, pak daardie ander boosaards ook vir Leon,’ fluister Venter hees terug.
‘Hulle sal Leon buitendien almal pak indien hy daarin slaag om daardie kryger te bemeester.’
Venter besef terdeë dat die meisie die waarheid praat, maar hy aarsel nog. Maar die volgende oomblik word Venter yskoud en sy hart sak in sy skoene. Agter die Swart Luiperd, op ’n klipplaat, nie baie ver van die ander barbaarse toeskouers af nie, ontpop nog vier van daardie duiwels met hul dodelike strydbyle en spiese!
Die briesend-vegtende Monga-soldaat sien hulle dadelik uit die hoek van sy oog en dit is of hul teenwoordigheid hom nog meer moed inboesem. Soos ’n warrelwind spring die dolkvegter weer na Leon toe. ’n Kreet van bloedlus ontsnap sy lippe. Dit is of hy nou vasberade is om met hierdie maskerman klaar te speel.
Maar die swart soldaat se oorhaastigheid het hom duur te staan gekom. Dit is net waarvoor Leon gewag het. Die dolk van sy teenstander sny lug en die volgende oomblik kom die Swart Luiperd vinnig vorentoe en vir die eerste keer kry hy geleentheid om die mes te gebruik. Die lem van Leon se jagmes byt diep in die swart reus se borskas in.
Die Monga-vegter gil – ’n onaardse, vreesaanjagend gil. Hy gryp na die wond. Leon het die lem reeds weer uitgepluk en nog ’n hou na die ribbekas gemik. Die soldaat kantel egter reeds; sy gesig verwronge. Die dolk kletter op die rots neer. Sydelings val hy na die kant van die afgrond toe, onderwyl kreet op kreet die klowe en berge deurklief. Vermeng met hierdie vreeslike angsgeroep, kom daar ’n uitdagende bevel-geroep van die sewe Monga’s wat tot dusver nog net staan en toekyk het.
Nog voordat Sonet en Venter onder in die nou kloofgang kan besef wat presies gebeur het, sien hulle hoe die swart liggaam, met die wydgespreide voëlvere op die kop, oor die kant van die hoë kranse stort. Wanhopig gryp die kryger nog na die uitstaande rotsstukkies en die plante wat uit die wande groei, maar hy slaag nie daarin om sy vaart te stuit nie. ’n Oomblik lank lyk dit vir Sonet en Venter of die liggaam op hulle gaan neerstort. Haastig vlug die twee onder ’n oorhangende krans. in. Binne enkele sekondes plof die swaar gestalte hier vlak voor hul voete teen die harde grond neer.
Sonet sien hoe die bloed uit die twee wonde aan die man se liggaam uitspuit en enkele klippe bevlek. Sy draai haar kop vinnig weg. Sy besef egter dat daar nou baie vinnig opgetree sal moet word. Die geraas en gejouel van die Monga’s daar bo van die kranse af is ’n duidelike waarskuwing dat die Luiperdman se lewe nou in ’n nog groter gevaar verkeer. Sonet wanhoop daaraan of hy hom ooit uit hierdie doodsgevaar sal loswring. Sy het hom in sy swerftogte en avonture al in baie moeilike strikke verstrengeld gesien, maar nog nie so iets nie. Hoe sal hy dit kan regkry om sewe Monga’s te oorrompel, waar een hom so amper oorweldig het. En sy weet hy is doodmoeg. Sy bewonder weer sy bo-natuurlike uithouvermoë, sy superkrag.
Venter sien hoedat die sewe Monga’s oor die klippe spring en so vinnig moontlik op die gemaskerde figuur van Leon afstorm. Een van hulle gooi sy spies na die Swart Luiperd. Dit kletter gevaarlik naby die Luiperdman teen die rots neer.
Die Swart Luiperd se pyl is egter reeds in sy boog en die volgende oomblik fluit daardie skerp pyl deur die lug. Die voorste van die Monga’s, wat sy byl met ’n kreet uitdagend en moorddadig swaai, stort vooroor in ’n klipskeur en bly roerloos lê.
’n Vlietende oomblik lyk dit ook vir die Swart Luiperd of dit nou klaarpraat met hom is. Indien hy sy rug op die duiwels durf draai en vlug, sal hy gewis en seker ’n spies in sy blaaie kry.
Hulle spits hul aandag net op die gemaskerde Leon toe. Daar is net een ding in hul moordlus-oë te lees, en dit is om die gemaskerde eers van kant te maak en dan vir Sonet en Venter by te dam.
Vir ’n sekonde wonder die Swart Luiperd wat van sy oorblywende vier Pigmee-krygers geword het. Hy kan hulle nêrens sien nie. Het hul moed hulle dalk begewe?
Die volgende oomblik moet die Swart Luiperd vinnig platval, want nog ’n spies word na hom geslinger. Dit is nou heeltemal duidelik dat daar maar baie weinig hoop vir die Swart Luiperd is om die woedende ses Monga’s wat nou baie digby is, te stuit.
En Sonet aarsel nie meer nie. Sy kniel en vat korrel. Byna gelyktydig met die knal van haar geweer, stuur Venter ook ’n rewolwerkoeël omhoog. Een van die twee moes egter misgeskiet het, want net een Monga se liggaam ruk skielik agteroor. Hy vou ineen en rol dan teen die skuinste af tot gevaarlik naby die kant van die afgrond.
Twee wreedaards is egter reeds op die klipplaat waar Leon hom bevind. Die Luiperdman se mes gly egter deur die lug en tref een in die keel waar dit bly steek. Die gewonde Monga se strydbyl wat hy reeds deur die lug geswaai het, val op die klipplaat neer en hy waggel vooroor met bloed wat uit sy keel stroom. Die Swart Luiperd het geen wapen meer wat hy kan gebruik nie; sy pyl is nou nutteloos. Die ander Monga mis Leon se hoof op ’n haarbreedte na met sy gevaarlike strydbyl.
Leon moes so vinnig vir hierdie hou koets dat hy sy ewewig effens verloor en op die grond te lande kom. Hoog bokant sy kop lig die Monga sy strydbyl om die Luiperdman se hele liggaam waar hy daar op die grond lê, in twee te kloof. Leon rol egter haastig weg en agter ’n hardehoutbos in. Vuurvonke spat soos die lem van die strydbyl met die graniet kennis maak. Dit is of hierdie harde slag die soldaat se hele liggaam laat sidder.
Dit gee die Swart Luiperd die geleentheid om vinnig orent te kom, en die volgende oomblik gryp hy die Monga aan die keel nog voordat hy die byl weer omhoog kan hef. Dit is of die Luiperdman nuwe krag gekry het. Hy stoot die kryger vinnig agteruit en ’n oomblik daarna klief daar weer ’n aaklige vreesgeskree deur die lug. Die kryger stort oor die afgrond en val byna op die Monga wat reeds aan Venter en Sonet se voete lê.
Die Swart Luiperd ruk hom reg om die volgende aanstormende die hoof te bied, maar daar is nêrens ’n enkele lewende Monga te sien nie. Venter en Sonet het nog twee omgevel en die oorblywende een is nou besig om die aftog te blaas, kronkelend tussen die klippe deur, en telkens terugloerend om te sien of hy nie agtervolg word nie.
Die Luiperdman is egter nie van plan om hom onnodig moeg te maak nie. Hy staar die voortvlugtende agterna en wil net omdraai, toe hy skielik sien hoe vier swart gestaltetjies, sy Pigmee-helpers, voor die vlugtende opdoem.
Die Monga steek ’n oomblik vas, maar dan gons daar reeds twee van die gevaarlike Pigmee-pyle deur die lug en tref hom in die bors. Sonder ’n kreet stort die laaste van die Monga-aanvallers teen die rotse neer.
’n Oomblik lank staan die Swart Luiperd na sy asem en hyg. As daar nou nog ’n aanval moet kom, sal hy hom moet verlaat op die Pigmeë, Venter en Sonet, want hy is doodmoeg.
Sekondes lank troon die Swart Luiperd daar hoog bokant Sonet en Venter – voorwaar ’n indrukwekkende figuur met sy swart luiperdmasker. Sonet ken die gemaskerde gestalte al lankal, maar tog kom dit nog vreemd vir haar voor, gesag-inboesemend, ’n toonbeeld van atletiese krag. Leon Fouché, haar neef, sonder masker, is nie Leon nie. Dit is nog altyd of daardie masker ’n magiese krag in sigself inhou, en dit is vir haar asof ook Leon so dink en glo. Vandaar sy naam, die Swart Luiperd, die trotseerder van gevare en avontuur, die Luiperdman wat die skrik van elke skurk en boef is.
Die Swart Luiperd loer na die nou, kronkelende kloof. Ongeveer honderd voet onderkant hom sien hy Sonet en Venter langs mekaar staan. Hy sien die twee lyke van die Monga’s wat oor die afgrond gestort het voor die twee lê. Hy wenk vir hulle met sy hand en skree, ‘Is julle nog perdfris?’
‘Ja,’ kom die antwoord van Sonet en Venter en die weerklank van hul stemme rol geheimsinnig teen die kranse aan.
Agter hom hoor die Luiperdman ’n onderdrukte gromgeluidjie en Spikkels, die mak luiperdwyfie, skuur haar groot kop teen haar mense-maat se arm aan.
’n Endjie van haar af loer Simson by ’n klipskeur uit.
Leon se gelag klink hol agter sy masker, ‘Julle twee karnallies het my vandag in die steek gelaat, verbrande katte.’
Simson kom uit die skeur te voorskyn en kwispel sy stert, onderwyl sy kop laag teen die grond gehou word, asof hy skaam is vir sy gedrag. Maar hierdie Monga’s met die stinkende reuk van die vet wat hulle aan hul liggame smeer, is nou een te veel vir die tiers. En dit kos aanpor om hulle soveel moed bymekaar te laat samel om te help met so ’n slagting soos wat pas verby is.
Die vier getroue Pigmeë kom ook nou nader. Daar lê ’n breë glimlag om elkeen se mondhoeke. Vandat die Swart Luiperd hierdie onbekende berg- en boom-wêreld van die Monga’s binnegetrek het, het hierdie swart dwergies hom getrou bygestaan.
Die Swart Luiperd tuur oor die landskap heen. Dit is ’n wêreld vol majestueuse skoonheid – bergspitse wat die hemel introon, bome en bosse in die klowe. Van hier af lyk dit soos ’n see van berge; vou na vou lê dit voor die Luiperdman uitgestrek. Dit is die land van die Monga, een van die wreedste rasse in Afrika.
Die Swart Luiperd kyk weer af na sy twee makkers daar in die nou en kronkelende kloof onder hom. Wat het hom weer hierdie wilde wêreld ingejaag; is dit maar die polsing van die natuur binne hom, die soek na avontuur, of die verskoning wat hy aan sy oom gemaak het, dat hy besorgd is oor Sonet?
Sonet, ’n vriendin van haar, en ander, het onder leiding van doktor De Villiers hierdie onherbergsaamheid binnegegaan voor hom. Hy het op hul spore gevolg, deur die land van die Pigmeë – wat nou sy vriende is en deur dik en dun, deur doodsgevare by hom sal staan en val. Hy het met Donker en Simson en Spikkels tot aan die grens van die gebied van die Monga’s getrek waar hy Sonet en Venter aangetref het. Hulle is deur die Monga’s gevange geneem, maar deur ’n sendeling bevry.1
En die vraag is nou: Waar is die res van die geselskap wat op soek is na die vreemdsoortige ras van die woestyn agter hierdie bergrondings? Die Luiperdman wonder of hulle nie dalk almal deur die Monga’s of ander stamme uitgemoor is nie. Hy gaan egter nie tou opgooi voordat hy nie weet wat van hulle geword het nie.
Die Swart Luiperd ruk uit sy mymeringe wakker toe Sonet van die kloof af skree, ‘Leon, kom tog, jong! Hierdie plek laat my hare rys.’
Die Swart Luiperd glimlag agter sy masker en begin stadig, met behulp van neerhangende bobbejaantou, na benede klouter. Sy luiperds, met die Pigmeë kort op hul hakke, soek weer ’n skuinste verder vorentoe op en gaan ook versigtig daarlangs na die kloof toe.
Voor die skermutseling met die agt Monga’s het Leon en sy tiers en die Pigmeë hierdie steiltes uitgegaan om die wêreld te bespied. Toe het hulle hulle teen die Monga-wreedaards vasgeloop wat hulle al dae lank agtervolg.
Binne enkele minute staan die Swart Luiperd langs Venter en Sonet.
‘Dit was ’n taai een daardie,’ laat Leon agter sy masker hoor. ‘Ek dag ek is bokveld toe.’
Daar is vrees in Venter en Sonet se oë te lees.
‘Sal ons nie maar omdraai nie?’ wil Venter weet.
‘Agter ons is nou net soveel gevare soos voor,’ merk Leon tereg op.
Die aandskaduwees is aan die daal en hier in die nou kloof waai ’n koel luggie. Opeens hoor die Swart Luiperd hoe Donker verder op in die nou kloof, waar daar darem ’n bietjie grassies groei, aan die runnik gaan. Dit klink na ’n hees geroep na sy baas. Leon ken sy diere goed en hy weet dat Donker iets gewaar het.
Die Swart Luiperd ruk sy jagmes vinnig uit die liggaam van die Monga op die grond en storm vorentoe, gevolg deur die ander.
Daar kom dit weer! Dit word gevolg deur die gekras van die swart hings se hoewe. Nou twyfel die Swart Luiperd nie meer nie. Met lang hale hou sy katte aan weerskante van hom.
’n Endjie voor hulle groei ’n klompie riete en hoë gras. Van ver af lyk dit soos ’n moerasagtige omgewing.
Skielik doem die perd voor hulle op. Hy skeur deur die riete, asof hy deur die duiwel agtervolg word.
Sien PYLE VAN VUUR. [terug]