GROENHEIDE BOEKE

Die Swart Luiperd #21: Bloedfees van die Ape

— HOOFSTUK 1 —

DIE OERWOUD ROEP

Dit is asof ’n magtige monster in die dieptes van die oerwoud in beroering gekom het. Die aarde sidder en die takke ruk en raas. Oral tussen die woudreuse slaan daar stof omhoog. Dit is asof ’n groot reus wat lank hier tussen die lower gesluimer het, skielik ontwaak en al wat oerwoudbewoner is, in beweging gebring het.

Soms is dit net die takke wat beweeg en die aarde wat onder jou tril, maar partykeer klink daardie geluid ook op – ’n oergeluid wat die bosse met vrees en siddering vervul. Dit is ’n trompetgeskal wat klaend deur die bosse bewe. Gewoonlik spring die ape dan vinniger van boom tot boom en sketter angsbevange. Af en toe druk ’n vuil-blou liggaam hier tussen die geboomtes deur, skuur sy lyf tussen die stamme van die woudreuse deur en saag dan weswaarts. Agter bondel daar nog van hierdie logge blou liggame deur die bosse en hul trompetgeskal word ’n bitter verwyt teen die natuur.

Nog net die hoogste toppe van die woudreuse het ’n groenig­heidjie. Die struikgewasse wat altyd so welig en suiwer groen tussen die stamme van die bome gegroei het, is nou verkrummelde blare wat saam met die stof op die grond meng.

Al wat dier is, is op trek … op trek na die weste waar die Berge van die Draak yl-blou aan die verste gesigs­einder verrys. Al wat oerwoudbewoner is, vlug na die berge toe, want daar is nog hoop op voedsel, op water. Die selfbehoudsdrang dryf hulle weswaarts, dieselfde rigting wat hulle voorouers tydens die eeue wat dof en grys agter hulle lê, gevolg het.

Dit is nou al dae dat die oerwoud so in beroering is. Die skurwe liggame van die olifante waggel in ’n einde­lose stroom by die droë pan verby, waar ’n paar wildebeeste met voorpote grawend op die warm­gebakte kors, nog hoop om ’n bietjie lafenis teë te kom.

Dit gebeur baie selde dat die oerwoud so ’n droogte beleef, miskien vier keer in die bestek van ’n eeu. En dan moet mens en dier hul lang trek na die berge begin, dan moet hulle voortvlug na die Berge van die Draak, die berge waaruit weinig van die vlugtelinge terug­keer sodra die reën weer oor die oerwoud uit­gesak het.

Die Swart Luiperd sit in die mik van ’n woudreus, net oorkant die droë pan, waar die kwaggas en die wilde­beeste patetiese pogings aanwend om hul ergste brandende dors te les. Hy sit reeds meer as ’n uur daar, met ’n soort pyn in sy hart. Net die Luiperdman weet hoe groot die diere se lyding op hierdie oomblik is. Leon Fouché, bekend in die oerwoude van die wêreld as die Swart Luiperd, het nog nooit so ’n groot­skaalse trek beleef nie, maar hy weet dat dit byna elke vyf-en-twintig jaar gebeur. Dan val daar maande lank geen reën nie. Die water in die panne en riviere droog op, die woudreuse raak kaalgestroop en die aasvoëls kras en sirkel in klompe voor die son verby. Diere sterf op hope en dié wat nie sterf nie, vlug met lang hale en vreesbevange na die berge toe. Dit is asof hulle instinktief weet dat die berge hulle beskerming sal bied, asof hulle weet dat daar water en kos sal wees.

Die Swart Luiperd wens hy weet hoe om hierdie eindelose trek van die diere uit die oerwoud te stuit, maar daar is geen manier om hulle voor te keer nie. Op hierdie oomblik is dit water wat hulle nodig het – water en kos. Dit was nog altyd vir die Luiperdman snaaks dat daar sommer instinktief geweet word dat die berge water het, maar dat hulle ook tog nie terselfdertyd weet dat hul dood daar in die berge op hulle wag nie. Die Luiperdman weet dat die meeste olifante wat so skrikbevange deur die bosse na die berge vlug, nooit weer na die oerwoud sal terugkeer nie. Daar tussen die Berge van die Draak wag die dood op hulle – te midde van volop water en kos, sterf hulle op hope.

Agter sy masker sug die Luiperdman swaar. 'n Week gelede het hy vir Sonet, sy vrou, en Bennie, hul klein seuntjie, uit die oerwoud na die beskawing terug­geneem. Hy het alleen teruggekeer om die lyding van die diere gade te slaan. Dit is asof hy nie kan glo dat hy hulle werklik nie kan help nie – maar nou weet hy dat hy maar hulpeloos sal moet toekyk hoedat die olifante – veral die olifante – na hul dood toe vlug. Snaaks, hulle vlug vir die ongenadige son, vir die siddering van sy skerp strale, hulle vlug vir die knellende droogte wat met warm, naakte vingers die lewe uit hulle wil pars, maar dan vlug hulle in die arms van ’n ander dood, die dood wat in die Berge van die Draak wag.

Die Swart Luiperd probeer die swartgallige gedagtes van hom afskud. Hy tuur oor die boomtoppe heen, staar oor die skurwe, gebarste pan. ’n Oomblik hoor hy nie die hees trompetgeskal van die olifante nie, hoor hy nie die moeë geproes van die kwaggas hier op die gebarste kors van die pan nie. Sy gedagtes is nou by die Berge van die Draak. Sy oë kyk onwille­keurig na die weste toe. Op ’n helder skoon dag kan mens die yl omlyning van die bergtoppe in die weste sien, maar vandag kan mens hulle nie sien nie, want in die weste lê dik stofwolke wat opstyg van die aarde af, stofwolke wat verraai waar die voorpunt van vlugtende diere tussen die naakte stamme van die woudreuse beweeg.

Die Swart Luiperd was nog nooit in daardie berge nie. Hy het nog nooit lus gevoel om soontoe te gaan nie, nie solank Sonet en Bennie hier by hom was nie, maar nou is dit of daardie berge hom lok, of hulle hom roep. Dit is asof die Berge van die Draak ’n onweer­staanbare aantrekkingskrag op hom uitoefen, net soos op die diere.

Daar kom ’n glimlag om sy mondhoeke agter die luiperdmasker toe hy aan die woorde van die ou Masai-herder dink: “O Luiperdman, die Berge van die Draak roep weer. Wanneer die reën uit die hemel nie val nie en die gras gaan dood, dan roep die Berge van die Draak en dan vlug die diere na die plek waar die son wegraak. Pasop vir die roepstem van die berge, o Luiperdman! Dit is ’n stem wat sterk in jou ore klink, maar jy moet hom nie hoor nie, jy moet nie saam met die bokke trek nie. Ons Masai sterf liewer hier op die vlaktes voordat ons saam met die olifante gehoor gee aan die roepstem van die berge.”

En dit is presies wat die Masai en ander stamme op hierdie sentrale punt van Afrika doen. Hulle sterf liewer van dors en honger hier in die woude voordat hulle op die spoor van die olifante volg. Die Masai glo vas dat die droogte hier in die woud net een betekenis het: dit is die Berge van die Draak wat roep, wat die lewe uit die oerwoud lok. Leon weet ook dat daar nog geen man agter daardie berge was nie. Hulle sou liewer verkies om die dood hier in die oerwoud te sterf as om agter daardie berge te gaan inloer. Menige grootwild­jagter moes al aan die voet van die berge omdraai, omdat sy gidse en kruiers weier om tussen die berge in te trek. So ver die Luiperdman kon vasstel, was daar nog geen lewende mens agter daardie berge nie. Die diere gaan tussen die berge in, maar die legendes lui dat weinig van hulle terugkom, want die drake in die berge verslind hulle almal.

Soms voel die Luiperdman lus om agter die diere aan te trek – hy met sy perd en sy twee luiperds. Die afgelope paar dae het ook hy en sy diere die mee­doën­loosheid van die droogte gesmaak. Soos hy hier in die mik sit, het hy ruim twee dae laas ’n druppeltjie water oor sy lippe gehad. Maar af en toe kry die Luiperdman tog water. Die Pigmeë het hul geheime watergate, waartoe die wild natuurlik nie toegang kan verkry nie, en hulle voorsien met graagte die Luiperd­man met die kosbare vog. As daar nie watergate is nie, dan leef die Swart Luiperd en sy diere van die sappige tropiese vrugte wat bo in die toppe van sommige bome groei. Maar nou het die bobbejane en ape ook reeds uitgevind dat daardie suur vog in die vrug hul dors les, daarom word die vrugte nie meer so maklik raakgeloop nie.

Die Swart Luiperd kyk terug na die klipkoppie waar hy Donker, sy getroue swart ryperd, en Spikkels en Simson, sy twee luiperds, agtergelaat het. Die twee luiperds was aan ’n kwagga besig.

Leon Fouché begin wonder of hy die vlugtende diere nie agterna moet sit nie. Hy brand van nuus­kierig­heid om daar tussen die berge te gaan inloer. Is daar werklik drake in daardie berge? As daar nie drake is nie, wat is daar dan? Dit is seker dat talle olifante wat eenmaal in vyf-en-twintig jaar soontoe vlug, nie weer na die oerwoud terugkeer nie. Selfs ervare grootwildjagters glo dit. Die Luiperdman moet dit ook glo, want in die afgelope aantal jare is die olifanttroppe aan die verdwyn. Waar daar met die draai van die eeu der duisende van hierdie logge gestaltes was, is daar in hierdie einste jaar veel minder te sien. Jagters loop hulle skaars meer op die lyf. Leon weet ook dat dit nie die jagters is wat hulle binne die bestek van twintig-dertig jaar so uitgeroei het nie.

Die roepstem van die berge kom nou hewiger. Die Luiperdman staar uit oor die dorre vlaktes, oor die kaal­gestroopte reuse, na die westerkim waar die stof­wolke die dynserige bloutes instyg. Die Luiperdman se hart klop vinniger. Sal hy die geheim van die verdwynende olifante vir eens en vir altyd gaan oplos? Sal hy gaan vasstel of die stories van die oues van dae in verband met die Berge van die Draak, waarheid of verdigsel is? Leon weet dat menige grootwildjagter al gaan vertel het dat die olifante daar in die berge op hope sterf en dat hul kosbare tande daar agterbly. Menige avonturier het al gedroom van ’n skat aan ivoor wat tussen die berge lê. Ja, daar is fortuin­soekers wat al probeer deurdring het na die berge toe om na die Begraafplaas van die Olifante te gaan soek, maar menigeen het aan die rand van die berge hulle dood teëgekom.

Die begeerte groei binne-in die Luiperdman om na die weste te trek, om sy nuuskierigheid te gaan bevredig. Leon self het reeds etlike safaris voorgekeer wat op pad was na die berge, omdat die regering van Kenia dit ontmoedig. Maar hier sit hy nou in die boom met dieselfde begeerte om berge toe te reis. Hy en Donker, Spikkels en Simson. Dit is nie dat hy wil gaan kyk of die ivoorskatte daar is nie, maar om die spore van die vlugtende diere te volg, om te sien wat daar in die berge is wat hulle tydens die groot droogtes soontoe lok.

Ineens skrik Leon uit sy mymering wakker. ’n Ander beweging het sy oog hier onder hom in die droë pan gevang. Hy staar vinnig af na die gebarste oppervlak van die meer. Die kwaggas en wildebeeste het ook hul ore gespits en ruik nou met wye neusgate in die lug. Die Luiperdman het egter reeds die stoornis gewaar wat hulle nog nie geruik het nie …

Tussen die droë bosse deur hardloop ’n mens, ’n Pigmee, vinnig in die rigting van die meer. Hy het ’n lang spies in sy hand en met sy ander hand druk hy die takke voor hom weg.

Die Swart Luiperd hou hom stip dop. Die man is blykbaar baie haastig, want hy gee nie juis om hoeveel geraas hy maak nie. ’n Oomblik het die Luiperdman die lokkende berge vergeet. Hy hou nou elke beweging van die kryger dop.

Skielik sien hy dat daar ’n stukkie papier voor aan die spies vasgesteek is.

Dadelik weet die Luiperdman wat daardie stukkie papier beteken. Die man hier onder hom dra ’n bood­skap, maar die vraag is aan wie? Die Masai wat hier digby die pan gewoon het, het hul hutte reeds verlaat en getrek, nugter weet waarheen.

Die boodskapper bars die volgende oomblik tussen die struike uit en as sy voete op die harde grond om die pan klap, snork die kwaggas angsbevange, maal in die rondte en skiet dan weswaarts. Die wildebeeste gee ook snorkgeluide en pyl agter die kwaggas aan. Hulle hardloop dat hulle kloutjies so op die harde aarde dreun. Die stof wat hulle opskop, dwarrel die lug in en bereik weldra die Luiperdman se neusgate.

Die Pigmee-kryger maak egter of hy die troppe wild nie eens sien nie. Hy hardloop oor die pan, maar hy hardloop kruppel. Dit lyk asof sy linkerbeen beseer is.

Die Luiperdman twyfel nie nou meer daaraan dat hierdie boodskapper belangrike en dringende nuus dra nie. Hy begin dadelik teen die boom afklim. Vlak by die boom is die pan deur ’n hoë rotsrant van die res van die veld afgesluit. Die boom waarin die Luiperd­man hom bevind, staan reg op daardie rots­rant. Die pan loop dus as’t ware teen die rotsrant dood. Toe die meer nog water gehad het, was die rots­rant die plek waarteen die Masai die bokke vas­gejaag het, om dan massamoord onder die vlug­voetiges te bewerkstellig.

Die Swart Luiperd bevind hom nou op die rotsrant en hy staar na die man wat nog steeds kruppel-kruppel aangesnel kom. Die Swart Luiperd sien dat die kryger regs swenk om aan die lae kant van die rant op te hardloop. Binne enkele oomblikke sal hy dus uit die pan teen die steiltes van die rotsrant op hardloop en hier, geen vyftig tree van die Swart Luiperd af nie, verby hardloop.

Maar skielik verskyn ’n groot maanhaarleeu hier reg in die pad van die boodskapper. Gelukkig sien die man die maan­haar dadelik en vinnig swaai hy effens links. Die maanhaar steek vas en knor hom agterna.

Die Swart Luiperd kan sien dat die man uitgeput is. Hy sien hoedat die sweet op sy voorhoof uitpêrel. Dit lyk nou ook asof sy een been hom baie moeilikheid gee.

Enige oomblik nou sal hy teen die regaf kranse te staan kom en dan sal hy heeltemal links moet swaai en al langs die rotssteiltes hardloop om eindelik, ’n honderd tree verder, teen die rotse te kan opkom.

Die Luiperdman is op die punt om na die man te roep, toe hy skielik vassteek, met sy rug na die steil rotse gekeer en angsbevange na die bosse, ’n paar treë van hom af, staar.

Moedig hef die kryger sy spies omhoog. Leon kan sien dat sy hele liggaam bewe. Daar is ’n gekraak uit die bosse skuins regs van die Pigmee. ’n Waarsku­wende geblaas volg.

Die Luiperdman hoor daardie geluid en dadelik weet hy wat dit is.

’n Swaar liggaam druk tussen die takke deur en die volgende oomblik verskyn die horings van ’n buffel. Die buffel laat sak sy kop dadelik en met rooi oë staar hy na die mensfiguur, geen vyf-en-twintig tree van hom af nie. Die buffel blaas weer en krap ongeduldig met sy voorpote in die sanderige grond. Dit is asof die kryger skielik lam word. Hy swaai vinnig om, maar bevind hom teen die steil rotse. Dadelik besef die Luiperdman dat die man vasgekeer is. Probeer hy links hardloop, hardloop hy hom teen die leeu vas, en agter hom is die steil rotse. Op hierdie oomblik sal dit ook nie juis veel baat om op die vlug te slaan nie, want as ’n Afrikaanse buffel storm, help weghardloop glad nie.

Dit is ook baie duidelik dat daardie buffel woedend is. Die knellende dors het hom tot raserny gedryf. Hy het ’n paar lelike skraapwonde aan sy vel soos die jonger buffels hom bygedam en van die trop verjaag het. So ’n alleenlopende buffel is altyd nors, weet die Luiperdman. Hy het heel waarskynlik hier tussen die bosse naby die rotse kom staan om na ’n krieseltjie groenigheid te soek, of na ’n lawende voggie, maar toe hy dit nie kry nie, het die woede in hom opgelaai. Die buffel wil hom wreek teen die wrede natuur, teen die meedoënlose droogte. Op hierdie oomblik hou hy die mens hier voor hom verantwoordelik vir die honger wat in sy pens grom, vir die dors wat sy tong laat opswel … en die Luiperdman weet dat hy die arme Pigmee te pletter sal loop, in die aarde sal intrap. Enige oomblik kan hy nou storm. Hy laat sak sy kop laag. Maar die man bly versteen staan.

Die Swart Luiperd besef dat hy die man te hulp moet snel, maar dit help nie om gou ’n pyl na die buffel af te skiet nie. Die buffel staan só dat die Luiperdman, van waar hy staan, net die groot kop of die rug sal kan raak, en ’n pyl teen die kop sal wegskram en een in die rug sal sy vaart nie onmiddellik stuit nie. Daar is ’n kans om ’n kwesbaarder deel te tref as hy reg voor die buffel te staan kan kom.

Die Luiperdman aarsel dus geen oomblik langer nie. Die krans voor hom is dertig voet hoog. Hy raap hom egter op en met ’n skreeugeluid spring hy oor die rand van die steilte. Hierdie geskreeu laat die buffel effens huiwer. Hy ruk sy swaar kop omhoog.

Met ’n plofgeluid kom die Luiperdman op sy voete neer. Die sand is hier los en sag.

Die Pigmee kan sy oë byna nie glo nie., Dit lyk kompleet vir hom asof die Luiperdman uit die lug geval het. Hier staan die gemaskerde Luiperdman geen twee tree van hom af nie. Die Pigmee-kryger gil dit van blydskap uit.

Dit is asof die buffel net op daardie gil gewag het. Met ’n woeste gesnork storm hy nader, met sy kop laag op die grond. Die Luiperdman het sy boog vinnig van sy rug af geruk en die pyl is reeds netjies ingepas. Maar nou merk hy in ’n oogwenk dat die buffel sy kop so laag hou, dat hy onmoontlik ’n pyl in die bors sal kan dryf. Net ’n sekonde weifel die Luiperdman, dan span sy boog styf en hy mik na een van daardie rooi oë. Dit was nog nooit nodig dat hy so sekuur moes skiet nie. Hy durf nie misskiet nie. Die pyl moet by daardie wild-starende oog insny. As die Luiperdman mis, sal die buffel hulle albei binne enkele sekondes platloop.

Die pyl sing weg en die volgende oomblik steek die buffel vas dat die stof so staan. Die pylpunt het sy teiken getref. Dit het diep in die oog ingedring. Die buffel uiter iets soos ’n brulgeluid, skud sy kop in ’n poging om die ding in sy oog af te skud, maar dan skreeu die Pigmee en die verwoede dier val weer aan. Met die pyl in sy oog, storm hy reg op die Luiperdman af. Daar lê egter alweer ’n pyl in die Luiperdman se boog. Weer sing die pyl weg en hierdie keer dring dit diep in die ander oog van die buffel.

Weer steek die buffel vas, en swaai sy kop. Die weglê-horings klap teen die pylstele. Die Pigmee skree triomfantelik en maak hom gereed om sy spies na die dier te gooi. Voordat hy dit egter kan doen, brul die buffel weer en spring nader. Hy is geen tien tree van die Pigmee af nie.

Die Luiperdman spring vinnig eenkant toe en skree op die Pigmee om dieselfde te doen. Die man gehoor­saam, maar toe hy omdraai, struikel hy oor ’n ou boomwortel en val op die los sand neer.

Dit is nou slegs ’n kwessie van sekondes voordat daardie gulsige horings die boodskapper sal deur­boor. Die Luiperdman besef die gevaar. Hy raap hom dus op en spring. In ’n oogwenk het hy gebuk, die spies van die Pigmee wat op die grond geval het, opgeraap en die volgende oomblik dring dit die linker­blad van die buffel diep binne.

Met ’n hees gebrul val die buffel op sy knieë. Sy horings is enkele duime van die liggaam van die Pigmee af.

Net toe die Luiperdman buk om die man op te help, bars die verwoede gebrul van ’n leeu hier voor hulle los. Vinnig kyk die Luiperdman op.

Die leeu wat die Pigmee netnou voorgekeer het, het die verbete geveg tussen die buffel en die twee mense gade geslaan. Dit is asof hy ná ’n oomblik besluit het dat hy lus voel om die wenner uit te daag.

Met lang hale storm hy nou op die Pigmee af wat nog steeds op sy sy lê.