― HOOFSTUK 1 ―
‘Is jy seker jy sal regkom op jul eie?’ vra Anneke vir die soveelste keer.
Mildred sug.
‘As jy nie nou inklim nie gaan ek sê nee, en dan moet jy bly,’ dreig sy.
‘Nou ja, as jy seker is.’ Anneke neem haastig haar plek in by Roy en Dommie op die agterste bank van die motor. Tessa sit voor langs haar pa, en Ruan ry saam met die bestuurder van die vragmotor waarin vyf ponies gelaai is met al twintig bene toegewikkel in reisverbande.
Hulle gaan plaas toe!
· · ·
Dit het alles twee weke tevore begin toe Tessa se niggie Carina haar ’n e-pos gestuur het om te vra of sy die vakansie by hulle op die plaas wil kom kuier. Want, het sy geskryf, daar was mos sprake van dat sy Tessa se ponie Sneeuvoet sou kry, maar toe val dit plat en nou het haar pa vir haar ’n ander perd gekoop waarmee sy wil spog. Haha.
‘Sy klink vir my maar bra vermuf,’ was Ruan se oordeel toe Tessa die ander vier lede van die Poniehoewe-Klub daarvan vertel. ‘Hulle bly op ’n plaas en omdat sy nie vir Sneeu kry nie neul sy totdat haar pa vir haar ’n knol by ’n vendusie optel.’
‘Weeg jou woorde, mannetjie,’ het Anneke gedreig, ‘Dapper kom van ’n vendusie af!’
‘Nou ja, ek bedoel nie mens kan nie ’n goeie een ook daar koop nie,’ het Ruan teruggekrabbel, ‘ek bedoel maar net as mens op ’n plaas bly — ’
‘Ek weet in elk geval nie of ek gaan nie,’ het Tessa hom kortgeknip, ‘want ek sal natuurlik nie op haar nuwe perd mag ry nie.’
‘Jy was mos al daar,’ het Dommie gesê, ‘het hulle dan nie nog perde nie?’
‘Ja, die beeswagters s’n en — ’
Sy het nie kans gekry om klaar te praat nie, want Roy — wat eintlik Gerhardus is maar sy naam verander het na dié van sy cowboy-held Roy Rogers — het haar in die rede geval.
‘Ry die beeswagters daar dan op perde? Soos regte cowboys?’
‘Ja, dis mos nie snaaks nie.’
Roy het haar ’n oomblik sprakeloos aangekyk, en toe resoluut gesê, ‘Ek gaan saam.’
‘Saam waarnatoe?’
‘Plaas toe! Ek wil met die cowboys saam beeste aanjaag!’
‘Op Rollie?’ het Ruan spottend gegrinnik. Rollie is Roy se ponie, rond en vet en bont, en die prentjie van hom agter beeste aan was genoeg om ook die ander te laat giggel.
‘Hy kan!’ het Roy gestry. ‘En jy’s die laaste een wat vir ’n ander se perd moet lag, want almal weet Kuifkop sal sy as afskrik as hy ’n bees sien!’
‘Wie sê?’ het Ruan dreigend geantwoord en die twee sou mekaar seker te lyf gegaan het as Anneke nie skielik uitgeroep het nie, ‘Ek het ’n plan!’
En in die skielike stilte wat op haar woorde gevolg het, het sy opgewonde voorgestel, ‘Kom ons gaan almal, al vyf van ons en die ponies ook! Toe, Tes, sal jy vra?’
· · ·
’n Hele paar e-posse, SMS’e en telefoonoproepe later was alles gereël. Die ouers het na baie ge-uhm en ge-ah ingestem op voorwaarde dat hulle geen gevaarlike dinge sal aanvang nie en Anneke se pa het gesê die ponies kan weer in sy toe vragmotor vervoer word. Op die plaas, het Carina se ma hulle verseker, is oorgenoeg plek vir almal.
En nou is hulle op pad, die vyf lede van die Poniehoewe-Klub met hul ponies: Ruan se Kuifkop, Roy se Rollie, Tessa se Sneeuvoet, Dommie se Boontjies en Anneke se Dapper.
Dis ’n ses uur lange rit en daar word ’n paar keer stilgehou om seker te maak dat die perdjies nog rustig is en nie die ongewone windsels om hul bene probeer afrafel het nie. Dis egter duidelik dat hulle min gepla is en net belangstelling het vir die hooinette wat voor hul gesigte hang en met elke stilhouslag weer volgeprop word met heerlike lusern.
Uiteindelik draai die motor by ’n plaaspad in, gevolg deur die vragmotor. Roy wriemel so om by die venster uit te kyk dat Dommie hom ’n klap gee en Anneke sê, ‘Kan jy nie stilsit nie? Jy stamp aan my!’
Roy gaan sit reg, maar rek sy nek om deur die voorruit te kan sien.
‘Wanneer is ons daar?’ vra hy.
Tessa draai half om en wys vorentoe.
‘Daar’s die hek.’
‘Maar dis dan ’n gewone plaashek,’ sê Roy teleurgesteld.
‘Nou wat het jy dan verwag?’
Roy dink ’n oomblik na voordat hy antwoord.
‘’n Boog van pale, met beeshorings bo in die middel en die plaas se naam op ’n stuk hout uitgekerf. Jy’t mos gesê hierdie is soos in die Wilde Weste!’
Tessa trek haar skouers op, en Dommie en Anneke skud eensgesind hul koppe.
Roy waag ’n laaste kans om sy droom te red.
‘Wat is die plaas se naam?’
Dis Tessa se pa wat doodluiters antwoord, ‘Boot Hill.’
‘Jippie!’ juig Roy. ‘Dis nou mos ’n regte cowboy-plaasnaam!’
‘Pa!’ protesteer Tessa. ‘Moenie so jok nie!’
‘Is dit dan nie?’ wil Roy afgehaal weet.
‘Nee, Pa maak net ’n grap.’ Sy kyk haar pa bestraffend aan, want sy weet hoe behep Roy met die Wilde Weste is en sy wil nie sy vakansie bederf nie. Haar stem is dus half-verskonend toe sy byvoeg, ‘Die plaas se naam is Eensaamheid.’
‘O,’ is al wat Roy sê, en praat nie verder nie toe hulle deur die motorhek stamp en op die stofpad aanry tot by die opstal met sy bloekombome. Die motor hou stil en weerskante van hom klim Anneke en Dommie uit, maar hy bly sit dikmond en met sy arms gevou.
‘Kom jy?’ roep Tessa terwyl sy die passasiersdeur toeklap.
Roy antwoord nie en eers toe Tessa se pa begin, ‘Ek is jammer — ’ sê hy, ‘Dis nie nodig om altyd met my te spot nie. Ek het ook gevoelens!’
Ruan het intussen van die vragmotor nadergekom om te verneem wat die krisis is. Tessa vertel hom dat Roy wil hê die plaas se naam moet Boot Hill eerder as Eensaamheid wees en Ruan wil verwonderd weet hoekom.
‘Omdat hý so gesê het!’ wys Roy beskuldigend na Tessa se pa. Dié trek ’n gesig en draf eerder na sy suster wat by die stoeptrappies afkom om te groet, as om verder te verduidelik.
Ruan maak korte mette met die probleem en trek Roy aan sy arm uit die motor.
‘Kom help die ponies aflaai, hulle moet rondgestap word,’ beveel hy.
’n Meisie kom uit die huis gehardloop. Sy lyk ’n bietjie ouer as Tessa, maar mens kan nogal sien hulle is familie, met haar ligbruin hare en groen oë. Sy is lank en maer, kaalvoet en geklee in ’n kortbroek en T-hemp. Haar gesig straal van opwinding. ’n Jonger meisie van omtrent Roy se grootte kom agter haar aan.
‘Hallo, julle! Ek het die hele tyd gewag en toe hoor ek nie eers die motor nie!’ lag sy, en stel haarself sommer voor. ‘Ek is Carina, en dis Alet. Vir Tessa ken ons natuurlik, en ek onthou vir Anneke — ’
‘Dis reg, ons het mos ontmoet toe jy daardie tyd by Tessa-hulle gekuier het,’ beaam Anneke.
Ruan is haastig.
‘Ek is Ruan en dis my sus Dommie en hierdie klakous is Roy. Kan ons nou aflaai, julle?’
Carina loop haastig na die vragmotor toe.
‘Ek kan nie wag om jul perde te sien nie!’
Die vragmotor se bestuurder het uitgeklim en eenkant by die skure ’n stuk grond gesien wat skuins uitgeskraap is met ’n regop kant van houtpale.
‘Kan ons maar soontoe gaan?’ vra hy Carina se pa wat nadergestaan het.
‘Ja, dis waar ons beeste op- en aflaai,’ antwoord dié.
Met die vragmotor se agterkant teen die paalmuurtjie is sy bak gelyk met die grond en binne ’n japtrap is die ponies se hoewe terug op moederaarde. Nuuskierig steek die vyf hul koppe in die lug om rond te kyk, elkeen aan ’n leiband om te verhoed dat hulle die pad vat, die veld in. Kuifkop trappel senuweeagtig rond en snork ’n paar keer vir die vreemde omgewing.
‘Hulle’s pragtig,’ sê Carina, ‘veral daardie bontetjie!’
Roy se gesig helder onmiddellik op, sy bui van nou net vergete.
‘Dis Rollie,’ sê hy trots, en lei die ponie nader om te wys.
Carina streel oor die wit fluweelneus en krap onder die ore sodat Rollie se oë skoon verlep raak van lekkerkry. Daarna is dit die ander ponies se beurt om bekyk te word, Sneeuvoet heel laaste.
‘Jy’t hom nog nie gehad toe ek laas daar by julle was nie,’ sê Carina, ‘maar as ek geweet het hy’s so mooi sou ek jou by jou belofte gehou het om hom vir my te gee!’
‘Ek het niks beloof nie,’ lag Tessa, ‘dit was net omdat ons moes weg by die klub en nie ’n ander plek kon kry nie.’
‘Maar toe kom julle darem reg, nè?’
‘Ja, by die Poniehoewe, tenminste, dis wat ons die plek noem. Waar is jou nuwe perd?’
‘Kom ek wys julle.’ Sy draai na haar pa wat met die vragmotorbestuurder staan en gesels. ‘Ek sal sommer dat hulle die perde in die kalfkamp sit, reg?’
‘Ja, dis eers die beste,’ stem hy saam en nooi die bestuurder huis toe vir koffie en ’n laat middagete.
Carina lei hulle na ’n kampie wat leeg is want, sê sy, die kalwers is almal uit veld toe saam met die koeie. Nadat die beenverbande afgehaal is, word die ponies losgemaak en een na die ander plof hulle neer in die tot snuif getrapte beesmis om te rol.
‘Gelukkig het ons borsels saamgebring,’ sug Dommie.