― Hoofstuk 1 ―
Die skouterrein waar die perdrykamp gehou gaan word, is al die ene bedrywigheid toe die vragmotor met die Poniehoewe-ponies daar aankom. Sleepstalle staan die wêreld vol en orals loop kinders met saals op die arm en tooms oor die skouer, skynbaar onseker van waarheen hulle op pad is.
“Ek sal maar daar by die stalle parkeer,” sê Anneke se pa, wat die vragmotor bestuur, vir Ruan wat saam met hom ry. “Iemand sal wel weet wat aangaan.”
Agter hulle hou die Samuelse se motor stil en drie ander lede van die Poniehoewe-Klub, Tessa, Anneke en Dommie, klim uit. Roy, die vyfde en jongste lid van die klub, het nie saamgekom nie, want, het hy gesê, die kamp is vir skouspring en dressuur en dis nie oor Rollie dit nie kan doen nie, maar hy wat Roy is hou nie daarvan nie. Hy wil trouens bly sodat hy kan rodeo leer by ’n Amerikaanse vriend van sy pa, wat die langnaweek kom kuier.
Die soektog na iemand wat weet wat aangaan is pure verniet en op die ou end stop hulle die ponies in vier stalle langs mekaar in een van die rye wat gewoonlik die skoudiere huisves. Iemand wys hulle een ’n entjie verder met ’n vol deur wat kan toesluit, en daarin pak hulle perdekos, lusernbale, saals en tooms, en hul tasse met klere. Ook hul matrasse en slaapsakke word tydelik daar gebêre. Anneke se pa gee sommer vir hulle die hangslot van die vragmotor se gereedskapkis, sodat alles darem veilig is.
Nadat die twee pa’s gery het en hulle op hul eie is, gaan soek hulle blyplek. Daar is twee groot sale vir tentoonstellings en daarin word die ruiters gehuisves, seuns in die een en meisies in die ander. Hulle stap soontoe om te gaan verken, maar voordat hulle daar is, word hul aandag getrek deur ’n nuwe aankomeling.
Al vier staan stil en kyk na die donkergroen motor met ’n blinkwit sleepstal op tou, wat by die stallekompleks parkeer. Ruan se mond hang oop.
“Dís nou ’n SUV!” prewel hy met ontsag.
“’n SNV,” help Tessa hom reg. “Sportnutsvoertuig.” Tessa se ma is ’n Afrikaans-onnie en daarom weet sy sulke goed.
“Selfde ding,” verseker Ruan haar. “’n Range Rover Evoque … mense, dis klás daardie.”
“En ons lyk asof ons niks gewoond is nie,” sê Dommie, maar is self nuuskierig om te sien wat uit so ’n duur motor kom.
Die bestuurder klim uit en loop vinnig om die motor na die agterste sitplek se deur. Hy het ’n swart uniform aan en ’n plat pet op.
“’n Sjofer!” giggel Dommie.
Toe die bestuurder die deur oopgemaak het, klim ’n meisie uit en kyk om haar. Sy het ’n spierwit rybroek aan, ’n ligblou hemp en suède kamaste met blinkertjies op. Sy lyk soos ’n advertensie vir gesonde buitelewe, as dit nie was vir …
“Sy’s vet!” sê Ruan.
“Plomp,” sê Anneke.
“Mollig,” sê Dommie.
“Goedbedek,” sê Tessa, wat nog laas Asterix en Obelix gelees het.
“Ek wonder hoe lyk haar perd, moet seker ’n Shire of iets wees,” reken Anneke.
“Moenie katterig wees nie,” betig Tessa haar.
Die bestuurder en nog iemand wat uit die sleepstal se voorste deurtjie klim – “Tot ’n stalkneg,” lewer Ruan kommentaar – stap na die agterkant van die wa en laat die loopplank neer. Die kneg klim in en na ’n paar oomblikke word ’n perd se agterstewe sigbaar wat in trurat na buite kom. Toe die hele perd op die grond staan, vasgehou deur die stalkneg, tel die bestuurder die loopplank op en maak toe. Daarna haal hy bagasie uit die motor en pak dit op ’n hoop.
“Twee koffers en drie tasse,” tel Dommie. Niemand luister nie, want hulle bekyk die perd wat uit die sleepstal gekom het. Veel is daar nie te sien van hom nie, so toegedraai is hy in ’n kombers en beenverbande en selfs sy kop en nek is toe in ’n mus met ore.
“Hy lyk nie baie groot nie,” sê Anneke. “Omtrent soos Dapper.”
Die ander stem saam.
“Sy’s self nie juis groter as ons nie,” stel Tessa vas, en voeg by, “net breër.”
Die bestuurder lyk opgeskeep met die bagasie en kyk na die meisie wat haar egter nie aan hom steur nie. Sy staan nog waar sy uitgeklim het. Niemand anders is meer naby nie, almal is al na die groot sale toe.
Tessa stamp aan Ruan.
“Toe, gaan sê hom waar om te gaan.”
Met Ruan se hulp dra die bestuurder die tasse na die slaapplekke, gevolg deur die meisie. Toe hy terugkom, help Ruan hom die sleepstal afhaak. Die perdekneg, verduidelik die bestuurder, slaap in die woonkompartement, en hy wys hulle die kompakte kamertjie voor in die voertuig. Daar is ’n bed en tot ’n kombuisie en ’n stort, netjies ingepas.
“Nou ja, dankie vir die hulp,” sê hy terwyl hy in die motor klim. Hy wuif terwyl hy wegry, sigbaar verlig om weg te kom.
“Hy hou nie van perde nie,” verduidelik Ruan.
Hulle besluit om ook eers hul slaapplekke reg te kry voordat daar na die ponies omgesien word. Ruan stap alleen na die seunsaal toe.
“Uiteindelik rus en vrede!” spot hy.
Dit lyk nogal asof hy reg is, want toe hy daar kom, is daar net drie ander seuns in die saal. Hulle het klaar hul beddegoed langs mekaar in ’n hoek gesit en nooi Ruan luidrugtig om by hulle aan te sluit. Hul stemme eggo hol in die groot ruimte.
· · ·
In die meisiesaal gaan dit baie vroliker daaraan toe. Maklik twintig meisies van verskillende ouderdomme het hulle al tuisgemaak en tasse, beddegoed en saals lê rond en bont terwyl die eienaars opgeruimd met mekaar kennis maak of ou bekendes groet. Tessa, Anneke en Dommie herken ’n paar gesigte wat hulle al by skoue gesien het en waai geesdriftig oor die geroesemoes heen.
“Hier’s nog plek!” roep iemand.
“Dankie, hou dit vir ons, ons gaan net gou ons goed kry!” beduie Tessa.
Buite wag Ruan al vir hulle.
“Reggekom?” vra Dommie.
“Ja, maar ek wag vir An om oop te sluit.”
“O ja, ek het die sleutel,” onthou Anneke en vis dit uit haar sak.
By die stalle gaan kyk hulle eers of die ponies nog gelukkig is. Hul hooinette is leeg en die wateremmers ook.
“Sal ons hulle nou kos gee of dink julle ons gaan eers ry?” wonder Tessa.
“Ons sal seker eers vanmiddag ry, kom ons gee hulle nog ’n net lusern,” besluit Ruan.
Hulle haak die leë nette af en Anneke sluit die stal oop waarin hulle goed is.
Terwyl hulle besig is om die lusern uit te pluis en in die nette te stop, sê Dommie skielik, “Haai sjuut, luister!”
Die ander spits hul ore en hoor dit nou ook. Iemand huil lang, droewige snikke en dis sommer naby.
“Dis hier agter,” fluister Anneke. “Moet ons gaan kyk?”
“Seker iemand wat huis toe verlang,” sê Ruan sag. “Los liewer.”
Maar Tessa is klaar by die deur uit.
“Kom, julle,” sê sy.
Hulle stap om na die stalle se agterkant en gewaar iemand wat ineengekrimp teen die muur staan.
“Dis die ryk meisie van die SUV,” sê Anneke verbaas. “Wat het sý om oor te huil?”
Tessa is al by haar en sit haar hand op die skokkende skouer.
“Wat’s verkeerd?”
Die meisie skrik op en stop verward die helfte van ’n sjokoladestafie in haar mond. Tessa sien nou dat die grond rondom haar voete besaai is met papieromhulsels van alle kleure en geure, en die meisie se mond en wange bruin gesmeer is van die sjokolade. Voordat sy nog klaar gekou en gesluk het, sê sy, “Gee pad. Los my,” en probeer Tessa se hand afskud.
Die ander drie is nou ook by en die meisie soek uitkomkans.
“Los my uit,” sê sy weer.
“Hoekom huil jy?” vra Anneke. “Voel jy siek?”
“Sal my nie verbaas nie,” mompel Ruan onderlangs en kyk veelseggend na die sjokoladefest se oorblyfsels op die grond.
“Nee, ek is nie siek nie. Gaan net weg, asseblief!”
“Nie voordat jy ons gesê het wat verkeerd is nie,” hou Anneke aan.
Die meisie gee nog ’n paar na-snikke en sê dan, “Ek wil nie op hierdie mislike kamp wees nie, goed? Is jy nou tevrede?”
Dis nie ’n antwoord wat hulle verwag het nie.
“Hoekom nie?” wil Tessa weet.
“Sommer nie.”
“Ag, moenie kinderagtig wees nie. Natuurlik is daar ’n rede en miskien kan ons help.”
Die meisie aarsel, weeg blykbaar die betroubaarheid van die vier maats op, en neem ’n besluit.
“Ek kan nie perdry nie,” sê sy.
“Maar hierdie is vir gevorderde ruiters, het jy nie geweet nie?”
Die meisie knik miserabel haar kop.
“Ja, en dis wat ek veronderstel is om te wees. Net, ek is nie.”
“Is dit dan nie jou perd wat julle afgelaai het nie?” vra Tessa.
“Ja, maar ek kan hom nie ry nie. Ek is doodbang vir hom.”
“Ek dink ons moet iewers gaan sit, dan vertel jy vir ons die hele storie,” sê Anneke, en gehoorsaam laat die meisie haar na die toesluitstal van die Poniehoewers lei. Ruan bly eers agter om die papiere op te tel.