GROENHEIDE BOEKE

Emma Roux #1: Die Raaisel van die Raam

Emma knip vies haar veiligheidsgordel in. Sy vou haar arms en staar by die kantruit uit. Haar pa verstel sy motor se truspieël en sê: “Dit help nie om jou wange so op te blaas nie, Emma. Jy weet hoe min Hestine haar ouers sien. Sy en haar sussie is net vir twee weke saam met hulle in Botswana. Gun haar dit.”

Emma rol net haar oë en antwoord nie haar pa nie. Hestine is haar beste vriendin. Hulle sien mekaar so te sê elke dag. Hoe kan hulle nou van haar verwag om twee weke sonder haar te oorleef?

Die motor trek weg en dan probeer haar ma ook paai. “Dit is ook nie asof ons net na ’n gewone huis gaan kyk nie. Dit is Kombrink Manor. Die oudste herehuis op die dorp.”

“Dit is meer van ’n kasteel as ’n huis,” las haar pa by.

Emma sê steeds niks nie. Sy sal nie aan haar ouers erken dat sy eintlik na Kombrink Manor wil gaan kyk nie. Sy wou nog altyd. Veral binne! Elke kind in haar skool wil. Party sê dit is ’n spookhuis, party sê dat daar iemand in vermoor is. Daar is selfs vertel dat daar miljoene rande se skatte weggesteek is in die huis.

Dit was tydens kunsperiode toe Brandon dit gesê het. Juffrou Venter het hulle vertel van een van die grootste kunsdiefstalle in die geskiedenis van Suid-Afrika. Sy het vertel dat ’n skatryk hertog en sy jong verloofde Suid-Afrika kom besoek het in die negentiendertigs. Hy het sy waardevolste skatte saamgebring, omdat hy vermoed het dat iemand planne in die mou voer om dit in Frankryk te steel. Onder die skatte was ’n skildery deur Leo Bernard, ’n welbekende skilder uit die laat agtienhonderds.

Die skildery genaamd Chouette Femme – “Uilvrou” in Afrikaans – is toe in Suid-Afrika gesteel. Die enigste wat gesteel is van die skatte wat die hertog saamgebring het.

Emma begin die pad herken wat lei na Kombrink Manor. Sy en Hestine het met Hestine se bromponie tot daar gery die Saterdag nadat Brandon vertel het dat daar miljoene se skatte weggesteek is in die huis. Die huis is misterieus en tamaai groot. Die tuin is onheilspellend droog in vergelyking met die ander huise in die omgewing. Die vensters is donker of vuil en die antieke houtdeur het ’n geelkoper leeukop op met ’n handvatsel wat soos ’n tong uit sy bek hang.

Hestine wou nie van haar bromponie afklim nie. Sy het sommer dadelik gesê: “Nee, dis te creepy. Hier is seker iemand vermoor, wat spook én waak hou oor die miljoene rande se skatte in hierdie huis,” en met haar dramatiese beweging van die hand gewys sy gaan ’n U-draai maak.

Emma wil begin lag en proes in haar hand. Sy sien haar pa in sy truspieël na haar loer. Sy glimlag na hom. Hy lyk sommer dadelik tevrede. Miskien moet sy maar die beste maak van die uitstappie. Dit help seker nie om vies te bly nie. Haar ouers, as mees gesiene eiendomsagente op die dorp, het die voorreg ontvang op alleenreg in die verkoop van Kombrink Manor. Dit is blykbaar die eerste keer in die geskiedenis dat die massiewe herehuis in die mark is. Dit word volgens rekords nog altyd van een geslag na die ander oorgedra. Nou is daar nie meer ’n volgende geslag oor aan wie die huis oorgedra kan word nie. Ou mevrou Kombrink was die enigste kind en het die liefde van haar lewe in ’n fratsongeluk verloor.

“Tot hoe laat dink julle gaan ons daar wees?”

Emma se arms is steeds gevou. As sy nie na Hestine toe kan gaan nie, sou sy eerder alleen by die huis wou bly. Dit is nie asof sy nog nooit alleen by die huis gebly het nie, dus vermoed sy die afspraak gaan lank wees. Anders sou haar ouers haar sekerlik alleen laat bly het.

“Ons moet alles uitvind en bespreek met die prokureur, Emma. Dis onmoontlik om te bepaal.”

Haar ma laat die sonskerm sak om in die spieëltjie seker te maak haar grimering is nog reg. Haar ma is beeldskoon. Haar digte, golwende, donkerbruin hare is in ’n hoë ponie op haar kop vasgemaak. Sy het pêrel-oorbelle aan en ’n rooi toeknoopbloes. Sy lyk altyd stylvol en professioneel. Perfek. Goed genoeg om geskilder te word. Haar lippe is altyd rooi. Vol en rooi en haar vel is sag. Emma kyk weer by die ruit uit. Sy kan maar net hoop om eendag soos haar ma te lyk. Maar sy vermoed sy gaan eerder soos haar pa lyk, want haar hare is roesbruin en so steil soos ’n grasbesem.

· · ·

Hierdie keer is die kasteel van ’n huis se houtdeure wyd oop. Hulle klim uit en stap nader, dan draai haar ma na haar.

“Emma, ons vertrou jou. Jy is welkom om deur die huis te wandel, maar moet asseblief nie onnodig grou nie.”

Haar pa knip vir haar oog en neem sy voulêer by sy vrou. Sy mompel iets aan hom en dan stap hulle na binne asof sy nie daar is nie. Sy staan op die stoep en luister hoe hulle voetstappe sagter raak. Daarna gaan wat na ’n groot deur klink, toe en dan is alles stil.

Emma haal diep asem en draai om. Die tuin is regtig verwaarloos. Dooie rankplante klou nutteloos teen die mure en daar is so te sê niks gras oor nie. Rose is gereduseer tot takkies en die beddings is ongespit en plat. Hoekom het mevrou Kombrink nie iemand gehuur om na haar tuin om te sien nie? Kan iemand regtig so suinig wees? So … bang vir ander mense?

Die huis oorkant die pad is kleiner, maar steeds dubbel die grootte van Emma-hulle s’n, al is hulle huis ’n dubbelverdieping. Die erf oorkant die pad se gras is groen en daar is lieflike kleure blomme oral te siene. Daar ry nie motors in die straat nie. Daar blaf nêrens ’n hond nie. Daar skree ook nie eers ’n kind nie. Sy onthou dat toe sy saam met Hestine hier voor die huis in die straat was, dit ook so ongewoon stil was. Toe was dit ’n Saterdag. Nou is dit skoolvakansie.

Sy draai om en loop die huis binne. Dit is donker en sy merk dat geen ligte aangeskakel is nie. Die ruim voorportaal word net verlig deur die son wat by die klein vensters naby die plafon deurskyn. Sy betrag die reusagtige deur waaragter haar ouers seker verdwyn het aan haar regterkant. Die trappe is in die middel van die vertrek. Sy loer na die deur links en stap nader. Dit lei na die kombuis. Emma loop in en kyk rond. Daar is ’n houtdeur en as Emma deur die venster kyk sien sy dat dit lei na die agterplaas. Sy kan nie mooi sien nie, want die dubbelwasbak staan voor die venster. Dit is oud en groot en daar is baie plek vir ’n afdroograk om te staan, maar daar is nie een nie. Sy staan op haar tone en loer na buite. Die erf agter is net so verwaarloos as voor. Dit is groter as die ander erwe. Sy het haar ouers al hoor praat dat van die ouer erwe in die dorp burgerregerwe is.

Daar is ’n paar opgedroogde vrugtebome wat verlore rondstaan. Die draadheining wat grens aan die parkie is toegerank met onkruid. Al hoe Emma weet dit grens aan die parkie, is omdat die bokant van die klimrame oor die draad uitsteek. Emma vou haar arms en draai om. Daar is baie kaste in die kombuis.

Sy probeer dink of dit oneerbiedig sal wees om te kyk wat in die yskas is. Dit gaan seker wees, maar nuuskierigheid kry die oorhand en sy maak die moderne dubbeldeuryskas oop. Dit is leeg en skoon, asof iemand dit uitgewas het. Sy maak die yskas toe en laat haar oë oor die ruim kombuis gly, dan loop sy uit en sien ook dat daar nog ’n deur is wat half agter die trappe skuil.

Emma stoot die deur versigtig oop. Dit kraak onheilspellend. Sy ruik die boeke voordat sy dit sien. Die mat is rooi en dik onder haar plakkies. Sy glimlag, kyk om haar rond en trek hulle dan uit. Die mat is ongelooflik snoesig onder haar kaal voete. Sy buk af en vryf daaroor. Snoesig! Sy sal darem baie daarvan hou om so ’n mat in haar kamer te hê. Sy sou ure daarop lê en in haar sketsboek teken!

Die boekrakke bedek al die mure, van die snoesige mat af op tot by die plafon. Daar is nie ’n enkele venster in die vertrek nie. Daar hang ’n kristalkroonkandelaar laag vanaf die plafon. Daar staan ook lampe op al die koffietafels langs elke swart leerstoel wat lukraak rondstaan. Sy trek haar skouers op en haar plakkies aan.

Dit voel nie reg om die ligte aan te skakel nie en Emma moet frons om hier en daar ’n rugkant te lees. Daar is ’n wye verskeidenheid boeke. Hierdie biblioteek moet baie werd wees. Daar in ensiklopedieë, biografieë van mense wie sy nie weet wie hulle is nie, en baie geskiedenisboeke. Vervelige boeke. Die tipe boeke wat haar ma sekerlik van sal hou om te lees. Sy lag en laat haar vinger al met die boekrak langs gly soos sy in die rondte om die vertrek loop. Hierdie kolleksie boeke laat die huis net meer geheimsinnig voorkom.

Daar is nog baie huis om te verken.

Die trappe kraak nie. Die vloer bo ook nie. Daar is ’n gang wat lei na links en een na regs en daar is ’n deur reg voor Emma. Daar is ook vensters wat sonstrepe die gange laat volstroom. As Hestine hier was, sou sy weer “Creepy” geuiter het.

Emma maak die deur voor haar oop en snak na haar asem. Sy kan haar oë nie glo nie. Sy vou haar hande saam en loop gretig die vertrek in. Dit was duidelik iemand se kunsateljee. Daar is harde kwaste en droë verf op ’n tafel. Onvoltooide sketse van rankplante en bome. Verfgevlekte lappe lê oral rond, asook ’n paar opgefrommelde papiere.

Emma gaan staan voor dit wat haar asem weggeslaan het. Die son skyn helder deur die breë vensters. Daar is nie gordyne wat daar voor hang nie. Die vertrek lyk byna asof dit nie deel van hierdie huis moet wees nie. Dit is lig en vrolik en … gevul met verlange. Sy sien dit in die oë van die vrou wat op die skildery is wat reg voor haar hang. Die vrou het swart hare wat in ’n bolla skuins agter haar kop vasgemaak is. Sy het ’n rooi Spaanse rok aan. Haar swart oë is lewendig. Lewendig maar hartseer. Emma weet in wie se oë sy kyk. Sy sien dit aan haar dik, donker, aaneenlopende wenkbrou.

Frida. Sy kyk vas in die oë van Frida Kahlo, die Meksikaanse kunstenares wat meestal selfportrette geskilder het.

Emma blaas hard uit deur haar oop mond. Sy het nog nooit só ’n mooi skildery gesien van Frida nie. Sy tel haar bewerige hand op en vat versigtig aan die skildery, streel oor Frida se wang. Sy fluister: “Ek weet. Ek verstaan.”

Sy val half op die grond neer, pluk haar sketsboek uit en begin onmiddellik die pragportret afteken.

· · ·