GROENHEIDE BOEKE

Emma Roux #5: Die Geheim van die Groen Kar

“Emma.”

Emma Roux skrik so groot vir die bekende stem wat skielik agter haar roep, dat sy ’n streep oor haar potloodskets trek. Sy sit gekruisde bene, plat op die gras. Haar rugsak lê langs haar, oop. Haar sketsboek is op haar skoot en sy was besig om die interessante venster van die ou huis wat haar ouers moet verkoop, te skets. Dit lyk nie soos ’n waardevolle venster, soos die by Notre-Dame in Parys, nie. Goed, dáárdie pragtige vensters is dalk nou nie in rand en sent iets werd nie, maar die waarde daarvan in geskiedenis en in die kuns­wêreld, is prysloos. Emma onthou steeds hoe benoud sy was toe die Notre-Dame gebrand het. Sy het vasgenael voor die TV gesit en bid. Die katedraal kon net nie verbrand nie, die vensters moes net nie smelt nie! Sy gaan dit nog eendag besoek! Sy moet. Dit en die opera huis. Sy wil in boks vyf sit en opera kyk. Dit is ’n groot droom van haar.

Die oggendson is warm en welkom in die wind wat deur haar reguit hare speel. Sy doen nie moeite om dit uit haar gesig te hou nie. Emma se hare het ’n wil van hul eie – soos ’n grasbesem. Dit kan nie gestyleer word nie, dus is ’n gemak­like, kort bobsnit die beste opsie. Kort genoeg sodat dit nie aan haar skoolhemp se kraag raak nie, so dit kan ook nie regtig agter haar ore gebêre word nie.

Sy kyk nie op na die stem wat haar naam gesê het nie, sy staar net na die donker streep wat sy oor haar gedetailleerde skets getrek het. Dit was so te sê klaar, die skets. Die venster is langwerpig in lengte en die glas is nie deursigtig nie. Afhangende van hoe die son daarop val, is die kleur groen en oranje. Daar is spinnerakpatrone op met rankblom­metjies in pienk, blou en wit. Die vensterraam is hout. Dit lyk of termiete dit reeds besmet het, want die hout het oral sulke kleinerige gaatjies in.

Behalwe die hout vensterraam, is daar ’n raam om die glas van die venster, in blou. Vreeslike vreemde venster vir die eenvoudige huis. Die huis, een wat haar ouers, as die top eiendomsagente van Brinkstad, sommer in ’n japtrap gaan verkoop.

Die venster pas nie —

“Ek het jou hulp nodig.”

Liam, oftewel die Adonis van Brinkstad-Pos, praat met haar sonder om te wag dat sy na hom kyk. Sy stem is gejaagd, asof hy haar eintlik met een sin probeer laat verstaan hoe desperaat hy is. Sy is al gewoond aan hoe betowerend sy stem is, net nie só gewoond daaraan dat daar nie skoenlappers in haar maag fladder as sy aan die gedagte dink dat daar weer ’n raaisel is wat hulle saam kan oplos nie!

Sy loer op na hom en moet haar oë effens toeknyp teen die son wat agter hom skyn en hom verhelder asof hy ’n engel uit die hemel is. Sy hande hang los langs sy sye.

“My hulp?”

“Ja.” Hy wys na sy kar. “Onthou jy daai plek wat ek jou nou die dag gewys het wat heeltyd lostrek, wat ek moet vasplak?”

Emma loer net vlugtig na Liam se groen kar. Dit is nie ’n gewone Ford Telstar nie. Liam se kar is van voor tot agter oor­getrek met ’n tipe groen pels. Hestine, wie Emma se beste vriendin is, weier om in die motor te ry. Daar is plak­kers van superhelde en musiek­groepe en blomme op die agter­ruit geplak en binne die agterruit, netjies uitgestal op ’n weird manier, is daar beertjies en aksiefigure en nog plastiek­blomme. Glad nie iets wat mens van so ’n asem­rowende, aantreklike jongman verwag nie, en ook die rede hoekom Emma dit geniet as Liam háár help met raaisels en onoplosbare geheime.

“Ja?”

“Dit trek toe nie vanself los nie, ek het iemand gevang dit ooptrek.”

Emma skud haar kop. “Wag, wat?”

Sy maak haar sketsboek toe en druk dit in haar rugsak. Sy moet konsentreer om mooi op te staan, want haar skool­romp is kort.

Liam wag tot sy regop is voor hy weer praat: “Toe ek uit die supermark kom, het daar iemand gebuk gestaan by my kar se deur. Ek het op hom geskree, gedink hy probeer die slot oopbreek, jy weet, dat hy dit wou steel. Hy was so geskok dat hy vir ’n oomblik nie beweeg het nie. Toe ek nader kom, sien ek dat die pels oopgetrek is. Maar voor ek die man kon vasvat, het hy regop gespring en weggehol.”

“Hoekom sal hy so iets doen?”

Liam kyk om hulle rond. “Waar is jou ouers?”

Sy wys met haar kop na die huis. “Besig met die skou, binne.”

Hy wys met sy kop na sy motor. “Kom.”

“Ek kan nie ry nie! My ma sal ’n oorval kry.”

Dan lag Liam sy bomenslike mooi lag en Emma voel haar wange rooi word, maar sy ignoreer dit. Hy knip vir haar oog en dit help nie juis veel om die bloos te laat bedaar nie.

“Ek wil jou net iets wys.”

“O.”

Emma los haar rugsak net daar en stap saam met Liam na sy motor, wat hy voor die erf in die straat parkeer het. Die erf is net toegespan met ’n slap doringdraag wat sorgloos gespan is en lyk asof dit net daar is sodat motors nie op die grasperk parkeer nie. Vreemd hoe sommige goed aan die huis in ’n goeie toestand is en dan ander is asof dit honderd jaar terug so gemaak en laat staan is.

Liam loop om sy kar en buk af by die deur. Emma loer net vinnig terug na die huis, vir ingeval een van haar ouers haar dalk vir een of ander rede kom soek. Hulle het reeds mid­dag­ete geëet, so sy weet eintlik dat sy veilig is tot na die skou.

Sy kyk op haar polshorlosie. Nog vyf-en-veertig minute. Sy gaan haar skets eerder probeer red, as oorteken. Sy wou nog daardie geroeste, yster meisiekind op die swaai wat vanuit die boom hang, ook teken.

Laat sy eers fokus op wat Liam sê.

“Kyk, die ou het die pels die keer geskeur.”

Liam trek die los deel weg en Emma sien dat die kar onder die pels eintlik rooi is. Daar is ’n gelerig gom en stukke van die binnekant van die pels wat aan die motor vaskleef.

“Maar, hoekom?”

Liam staar vir ’n oomblik in haar oë voor hy sy motor met die sleutel oopsluit, in rek en iets uit die paneelkassie haal. Hy kyk vir ’n paar tellings daarna en hou dit dan uit na haar.

“Hierdie was daarbinne, soos in weggesteek onder die pels – of tussen die pels en die motor. Soos ’n pouch.”

Emma neem die wit DL-grootte koevert by Liam en bestudeer dit. Daar is vier seëls opgeplak, maar geen adres voor of agter op die koevert geskryf nie. Emma maak dit oop en Liam sê hardop wat sy sien.

“Leeg.”

Sy kyk na hom.

“Ek weet nie of die man iets daarin wou sit en of hy iets daaruit gehaal het nie.”

Die koevert is nie nuut nie. Daar is stofvlekke op en dit kom voor asof dit al deur baie hande gegaan het. Van die floffies van die pels klou daaraan vas. Emma draai die koevert om en om. Anders as die seëls daarop, is dit net ’n gewone, wit koevert.

“Mag ek dit hou?”

Liam glimlag skram. “Jy kan dit leen, dan skets jy dit en gee dit terug. Ek het dit afgeneem om solank navorsing te doen. Kan jy môre na die Brinkstad-Pos kom, dan brain­storm ons so bietjie en ruil idees uit?”

“Ek dink nie hierdie was die eerste keer — ”

“Miskien, maar dalk het die man nou eers dit reggekry om die koevert in die deur te sit? Dalk word hy nog elke keer gepla?”

Emma Roux antwoord nie vir Liam nie.

Word Liam se motor onwetend gebruik om iets te smok­kel? Iets soos wat? Wat smokkel ’n mens wat in ’n koevert pas?

Sy kyk na hom. Hy trek sy skouers op.

“Bring asseblief vir my die koevert terug, in een stuk. Moet nie die seëls aftrek of dit oopskeur of iets nie … al is die versoeking ook hoe groot. Hierdie keer is dit mý raaisel, Emma.”

Hy knip vir haar oog.

Sy knik. Hy vertrou haar. Sy sal nie weer, soos met die glasbottel waarin ’n oorgroot, geheimsinnige sleutel was, die raaisel self probeer oplos deur die bottel te breek nie. Of die koevert te probeer ontleed nie. Sy sal dit net skets, om dit te hê – want anders as enige ander meisie haar ouderdom, mag sy nie ’n foon besit nie en dus het sy geen ander manier om ’n afskrif te maak nie.

Sy mag ook nie gluten eet of suiker inneem of na ses saans TV kyk nie. Haar ma se reëls is streng en ferm en nou is sy skielik bang dat as sy nie dadelik terugstap tuin toe nie, sy uitgevang gaan word. Haar ma hou nie daarvan dat sy vriende is met iemand wat reeds uit die skool is nie.

Môre is Vrydag. Sy wonder of sy haar ouers sal kan oorreed dat sy by Hestine gaan oorslaap. Daar is geen ander manier vir haar om by die Brinkstad-Pos uit te kom nie.

“Sien jou môre.”

Emma bly staan met die koevert in haar hand. Liam klim in sy motor en draai die venster af.

“Emma.”

Sy kyk na hom.

“Wees maar versigtig.”

Sy glimlag. “Soos altyd. Sien jou môre.”

Emma stap vinnig terug na waar sy haar rugsak gelos het en gaan sit weer op die gras. Sy druk die koevert agter in haar sketsboek en kyk na waar Liam se motor geparkeer was.

Wat smokkel mens wat in so ’n klein koevert kan pas?

· · ·

“Ek het lanklaas oorgeslaap.”

Emma staan met haar hande saamgevou agter haar rug. Karin Roux, Emma se ma, staan met haar hande op die stoel voor haar. Stoom trek uit die aartappel­gereg wat tussen hulle op die tafel staan. ’n Bak biltongslaai en ’n glasvles met vars vrugtesap rond die gedekte tafel perfek af.

“Ek kan nie sien hoekom jy wil oorslaap nie. Julle sien mekaar elke dag én dis loopafstand.”

Emma knik, maar antwoord nie. Haar pa kom ingestap en gaan sit by die tafel, hy kom nie dadelik die atmosfeer in die kombuis agter nie. Emma kou haar onderlip en bestudeer haar pa. Hy skuif reg in sy stoel, trek sy bord nader en wil oorrek om sap in te gooi, maar hou op met beweeg toe Emma sê: “Asseblief?”

Haar ma se oë vernou. Sy loer na haar man wanneer hy vra: “Wat nou?”

Karin rol haar oë, vee oor haar perfekte krulle wat oor haar skouer lê en antwoord haar man. “Emma wil môre na skool na Hestine gaan … én oorslaap.”

Hy knik.

“Wel?”

Hy vee oor sy ken. “Ek het môre ’n buurtwag vergadering, as Emma oor­slaap, kan ons saam braai?”

Karin se oë rek groot en sy kyk na Emma voor sy deur haar tande sê dat hulle sal later daaroor praat. Emma glim­lag, want sy weet haar pa wil bitter graag braai en haar ma verpes die blote gedagte daaraan. Emma trek haar stoel uit en gaan sit. Sy weet sy het reeds gewen.

· · ·

Na ete sit Emma by haar lessenaar in haar kamer. Die wind speel met haar heldergeel gordyne met die wit made­liefies op. Sy wil nie die venster toe­maak nie. Die aand is bedompig. Emma vee oor haar voorkop en maak haar sketsboek oop. Sy blaai na die skets van die dogtertjie op die swaai. Dit is oulik en laat Emma verlang. Sy wonder of die vorige eienaars van die huis dit laat maak het vir hulle kind en of het die kind se pa dit dalk self vir haar gemaak. Dit is al effens geroes, maar dit lyk nie baie oud nie.

Dan trek sy die koevert uit agter die sketsboek en hou dit in haar hande vas. Sy het al opgelees oor deurskynende ink, maar weet dat Liam sal haar nooit vegewe nie as sy ’n vlam naby die koevert bring. Sy draai die koevert om en weer reg. Miskien is dit ’n smokkel … of diefstal, of ’n opdrag vir ’n diefstal wat in stappe plaasvind. Een persoon los ’n geseëlde koevert in die motor. Die volgende persoon bring die opdrag, die brief … of dit wat gesmokkel word wat in ’n koevert kan pas en dan daarna kom die derde persoon en kry die opdrag, of brief … maar … ?

Hoekom Liam se kar?

· · ·