GROENHEIDE BOEKE

Emma Roux #4: Die Leidraad in die Hoed

2m. NGK. Bessieboom.

NGK?

NG Kerk.

Nederduitse Gereformeerde Kerk.

Emma staan op en pluk haar kas oop. Sy sak af op haar knieë en haal haar geheimboks uit. Sy vryf oor al die verskillende prente van Frida Kahlo wat sy self op die houtboks gedécou­page het.

Sy moes so rukkie terug die houtboks in kunsklas maak. Sy het nie toe geweet hoe handig dit nog gaan wees nie. Sy staan op en sit dit op haar lessenaar neer. Die boks is net groter as ’n A4-papier, maar lekker diep. Sy staar vir ’n oomblik nikssiende na die glinsterende reëndruppels teen haar venster voor sy die boks oopmaak. Sy haal ’n paar los sketse uit wat bo-op die bruin voulêer lê. Sy gaan sit en maak die lêer oop. Sy weet dat Liam vir haar ’n artikel gegee het oor die opening van ’n nuwe kerkgebou iewers toe die Kombrinks van Kombrink Manor nog donasies gemaak het aan die gemeenskap van Brinkstad.

Sy soek deur die artikels tot sy die regte een vind en staan skoon op van opgewondenheid toe sy lees dat sy reg onthou het. Dit wás die opening van die nuwe NG Kerk-gebou. Daar is egter slegs een foto by die artikel en dit is onmoontlik om deur die swak gehalte te sien of daar ’n bessieboom by die kerk is. Daar staan wel ’n man wat lyk soos ’n predikant en seker sy vrou voor die gebou. Langs die vrou staan ’n jonger dame wat net soos ’n jonger weergawe van haar ma lyk.

Môre is Sondag, die ideale dag om sonder om suspisie te wek, rond te snuffel by ’n kerk!

Emma los alles net so en hardloop by haar kamer uit af met die trappe. Haar ouers sit soos altyd voor hul skootrekenaars in hul kantoor.

“Kan ons môre kerk toe gaan?”

Albei kyk na haar, maar nie een reageer nie.

“Na die NG Kerk.”

Karin Roux, Emma se ma, bind haar lang krullerige hare hoog op haar kop vas terwyl sy na haar man draai asof dit totaal sy besluit is. Emma ondersteun haar ma se gebaar en fokus haar aandag dus net op haar pa.

“Ek was nog nooit daarbinne nie. Connor Doyle het vir my en Hestine soveel vertel van die geskiedenis van sy plaas en Brinkstad, dat ek nogal wil sien hoe die kerk lyk.”

Wihan Roux se een wenkbrou lig agterdogtig. “Was die Doyles dan nie Katoliek nie?”

Ouma Hester, Hestine (Emma se BFF) se ouma, het haar onlangs vertel van ’n verlore liefde tussen ’n Katolieke seun, ’n Protestante meisie en ’n rare borsspeld. ’n Pragtige rooi een.

“Juis!” Sy weet dit maak nie sin nie en hoop dat haar ouers die verwarring sal wil afskud met toegewing.

Haar ma sak haar kop terug na die skoot­rekenaar se skerm nadat sy sê: “Ek gaan my voete laat vryf by die salon. Siabon het spesiaal gereël vir Sondag.”

Haar pa gaan sit terug in sy stoel. “Ons kan jou gaan aflaai, sal dit reg wees?”

Dit gaan perfek wees!

“Ek glo so.”

Emma draai om en drafstap op met die trappe terug na haar kamer voor haar ouers enige verdere vrae kan vra. As sy alleen is, sal sy haar tyd kan neem en die omgewing en die bessie­bome deeglik bekyk.

Sy gaan sit weer by haar lessenaar en lees die artikel oor die kerkgebou nog ’n keer deur. Die eerste dominee, Johannes Baker, was ’n Engelse dominee. Baker? Hoekom klink dié van vir haar so bekend?

Hy en sy vrou en dogter het hierheen verhuis en het eers uit hul huis, wat toe later die pastorie geword het, dienste gehou. Die kerk­gebou is geopen in 1960.

Emma draai om en kyk na haar pers klokkie­hoed waarin sy die stukkie papier ontdek het. Sy het opgemerk dat die binnekant van die hoed los is en het die nota met ‘2m. NGK. Bessieboom.’ daarin gekry. Die hoed hang oor die kant van haar Frida-skildery.

Sy ontmoet Frida se blik. “Was die cloche-hoedjies populêr in die negentien-twintigs of sestigs?”

Sy kyk weer na die artikel. Moet sy dalk vir Liam gaan vra om vir haar meer inligting te kry oor die NG Kerk? Sy maak die voulêer toe en glimlag. Liam, die jong verslaggewer van Brinkstad-Pos. Die mooiste grieksegod waarop haar oë nog geval het. Sy hoop net sy is reg oor die ‘NGK’. Waarvoor kan dit anders staan?

As Emma ’n foon gehad het, kon sy nou self dit opgesoek het, maar haar ouers (en met ouers bedoel sy eintlik haar ma) het besluit dat skermtyd en gluten baie sleg is vir ’n groeiende brein, so sy mag eers na haar sestiende verjaarsdag ’n selfoon kry. Of sy hoop so. Deesdae raas haar ma meer met haar as wat hulle gesels.

· · ·

Emma haal die klokkiehoed van haar kop af, kyk daarna en sit dit weer terug op haar kop. Sy wonder of mag sy ’n hoed opsit kerk toe? Dit is deftig en sy het haar klere noukeurig gesoek om daarby te pas. Sy het selfs een van haar eie goedkoop borsspelde netjies vasgesteek vir ’n tikseltjie blieng. Sy het ’n pers hoogsnit-denim aan wat styf om haar enkels sit. Sy dra dit byna nooit nie. Met sandale wat opryg oor die nou broekspype en ’n swart bloes ingesteek maar uitgetrek sodat dit pof om haar lyf, pas die hoed perfek by haar uitrusting. Sy trek haar skouers op. Eintlik gee sy nie om hoe sy lyk nie, sy wil net nie te veel uitstaan nie.

“Emma!”

Sy druk die stukkie papier haastig in haar broeksak en draf na onder waar haar ma reeds staan en op haar polshorlosie kyk. Haar pa knik en Emma loop om hulle om die voordeur oop te sluit.

“As jy voor ons klaar is, kan jy maar net staan en wag. Jou ma se afspraak is veertig minute, so ek dink as die verkeer saamspeel, sal jy nie lank wag nie.”

Emma glimlag net. Hulle stap na die Corolla wat haar pa reeds uit die motorhuis getrek het. Sy wens sy kon haar rugsak saamneem, maar dit sal wragtig mos nie by haar uitrusting pas nie. Miskien moet sy vir haar ma vra vir ’n handsak? Net vir tye soos dié dat sy ten minste een potlood en een vel papier kan saamneem.

· · ·

Soos Emma uit die motor klim, hoor sy die kerkklok slaan en as sy opkyk na die toring, sien sy dat dit nou op die kop nege-uur is. Sy maak die motordeur toe en waai halfhartig na haar ouers. Sy volg ’n familie wat voor haar stap om te sien waar die ingang van die kerkgebou is, maar sy gaan nie in nie. Sy bly buite staan. Sy kyk om haar rond en wanneer die klok ophou tong, is dit net die orrel, binne, wat sy hoor.

Emma vou haar arms om haarself en loop stadig terug na die hek waar sy ingekom het, maar steek vas wanneer sy sien iemand is besig om dit toe te maak. Daar is ’n ketting in sy hand. Sy wil nie in die kerk ingaan nie en is dankbaar wanneer sy ’n groen bordjie met ’n wit pyltjie sien wat wys watter rigting is die toilette. Sy stap vinnig daarheen en is verbaas om te sien hoe mooi dit opgemaak is binne.

Sy glimlag vir haarself in die spieël. Sy hou van hoe sy lyk met hierdie hoed op. Dit voel so tuis, asof dit nog altyd bedoel was om hare te wees. Sy haal die stukkie papier uit haar broek­sak en lees dit weer, dan druk sy dit terug en loop na buite. Sy kyk om haar rond, maar sien niemand nie. Sy hoor mense sing in die kerk.

Bessieboom. Sy byt haar onderlip soos sy na die bome rondom die kerk en in die parkeer­terrein kyk. Die eerste boom wat sy herken is ’n jakarandaboom, maar sy dink dit dra eerder peule as bessies?

Wat as dit ’n boom is wat net ’n sekere tyd van die jaar bessies dra, hoe gaan sy dan weet watter boom is die een waarna verwys word? Sy sug en loop verder na die parkeerarea. Dit moet seker ’n groot boom wees, nie een wat onlangs geplant is nie. Sy rol haar oë vir haar­self, want byna al die bome is groot. Sy loop oor die klam grond en wanneer sy by die duiwels­vurkheining kom, draai sy om sodat haar oogpunt van die kerk voor haar byna is soos wat dit was op die foto in die artikel.

Dan glimlag sy.

Asof vasgevang in ’n trans loop sy nader aan die agterkant van die kerkgebou, maar skrik haar flou wanneer ’n growwe stem agter haar praat.

“Hoort jy nie in die kinderkerk nie, meisie­kind?”

Sy draai om en staar grootoog op na ’n man met ’n baard net so grof soos sy stem. “Nee, Oom, um, ek wag vir my ma.”

Hy kyk oor sy skouer in die rigting van die toilette, dan terug na haar.

“Ek het net kom kyk na die standbeeld?”

Hy volg haar oë na die beeld van ’n kind wat op sy knieë staan en bid voor ’n boom.

“Weet Oom watter boom is dit dié?”

Die man vryf oor sy baard en kyk eers weer terug na die toilette asof hy verwag ‘haar ma’ gaan enige oomblik daaruit gestap kom en met hom baklei omdat hy met haar dogter staan en praat.

“Wildevy. Kom in die kerk, meisiekind.”

Dan draai hy grof weg en stap na ’n deur waar­op daar ’n goue plaatjie is wat sê KERKRAAD. Voor hy ingaan, maak hy eers sy skoene skoon. Emma kyk af en sien dat waar hy gestaan het, lê klein ronde bessies. Wildevy bessies?

Sy buk af by die standbeeld om te sien of die seuntjie se oë oop of toe is, maar skrik so groot wanneer iemand die hoed van haar kop afruk, dat sy vooroor op die grond val. Sy kry gekeer dat haar gesig nie aan die grond raak nie en gaan sit om haar balans terug te kry. Sy kyk om haar rond net betyds om iemand te sien weghardloop met háár hoed in sy hand. Sy staan op en sonder om haarself af te skud, hardloop sy agter die man aan wat haar hoed gesteel het.

Hoekom sal iemand, by ’n kerk, haar hoed steel?

Sy hardloop regom die kerk, maar sien niemand nie. Sy gaan soek in die toilette (die mans s’n) en loer tot in die saal en dié se kombuis wat ’n buitedeur het. Niemand.

Wie het haar hoed gesteel?

Sy pers haar lippe saam en knip haar oë. Sy sal nie huil nie, maar sy voel nou baie lus om sommer ’n vreeslike groot vloermoer net hier te gooi! Sy vou haar arms en snuif haar neus. Enigste plek waar sy nie gekyk het nie, is binne die kerk. Sy is seker dit was ’n man wat sy gesien weghardloop het, so as hy in die kerk is met haar hoed, sal sy hom vinnig kan sien. Sy kyk op haar polshorlosie en loop dan na die naaste ingang.

Sy gaan sit op die heel agterste houtbank en ’n paar mense kyk om wanneer die bank ongemaklik kraak. Sy glimlag verskonend en maak dan asof sy belang­stellend luister na wat die predikant verkondig. Sy probeer die modderige grond van haar afskud wat daar nog is van die val en wanneer sy seker is niemand kyk meer na haar nie, begin sy die mense fynkam. As daar iemand sit met ’n hoed op hul skoot, voor in die kerk, sal sy dit nie kan sien nie!

Wanneer die mense almal opstaan om die laaste loflied van die diens te sing, besluit Emma om solank nader aan die deur te beweeg, sodat sy ’n beter uitsig het oor die gemeente wanneer hulle omdraai om uit te stap. Daar is ’n kantdeur, maar sy gaan staan so dat sy dit ook kan sien. Die man wat van haar af weggehardloop het, het mank gehardloop. Sy is wel nie seker of hy mank sal loop nie.

Die mense gaan sit weer en Emma tree agteruit sodat die predikant haar nie kan sien nie, maar val dan amper oor iets. Sy kyk af en is geskok om haar hoed te sien lê in ’n groot krat. Daar lê ook ’n paar komberse en sakke met kruideniersware in onder haar hoed. Sy tel dit op, dankbaar om dit terug te hê, maar ook spyt, want sy weet dat sy nou nooit sal weet wie het dit so ongevoelig van haar kop afgeruk nie.

Net voor sy dit terug op haar kop wil sit, sien sy dat die binnekant van die hoed heeltemal oopgeskeur is. Sy keer haarself net betyds om nie hardop te gil nie. Sy kyk vies op, sommer na die predikant, asof dit sy skuld is. Asof hy dit moes gekeer het.

Sy loop die kerk uit en gaan staan by die geslote hek. Die stukkende hoed is op haar kop en haar arms word grommig oor haar bors gevou. Sy ruik iets stink en sien van die bessies klou aan haar skoene vas. Sy sleep haar voete tot dit skoon is en klap haar tong vies.

Sy gaan uitvind wie dit was wat haar hoed gevat het. Sy het ’n gevoel sy weet hoekom. Instinktief druk sy haar hand in haar broeksak en is verlig dat die papiertjie nog veilig daar is. Iemand het daarvan geweet. Sy dink dat aan wie haar hoed behoort het, is nou net so belangrik as wat dit is wat onder daardie bessieboom staan!

· · ·