— HOOFSTUK 1 —
Marius de Wet fluit ’n vrolike deuntjie onderwyl hy in die lang gras rondsoek. Sedert die vorige week het hy al drie gholfballe oor hierdie draad geslaan, en vanmiddag gaan hy hulle soek. Buitendien was hy lankal nuuskierig om te sien wat aan die anderkant van die lap doringbome is wat die omgewing daar so groen en weelderig laat lyk. Maar tot dusver was daar elke middag beswaarlik tyd vir agt putjies voordat dit begin donker word het.
Vanmiddag het een van sy gereelde gholf-maats nie opgedaag nie, en hy gaan van die kans gebruik maak om die wêreld te ondersoek en na die verlore balletjies te soek. Hy kruip deur die draad en loop net ’n klein entjie voordat hy op iets hards trap. “Hier is die eerste een,” praat hy hardop met homself, “moontlik het ek die ander in dieselfde rigting verder af geslaan.”
Fluit-fluit stap hy tot by die eerste doringboom. Hy buk onder deur die lae takke, en voel die aarde sag en sponsagtig onder sy voete. Nog ’n entjie buk en koes hy vir die doringtakke, dan kom hy skielik op ’n grasbedekte, oop stuk grond. Hy hoor die gekabbel van water oor klippe, en as hy verder af stap, sien hy die waterstroom wat die groenigheid en digte grastapyt daarom verklaar.
Hy gaan staan as hy reëlmatige kloemsgeluide hoor. Hy kyk hoër op en sien ’n arm wat kort-kort van agter ’n groot klip uit beweeg om klippies in die water te gooi. Hy loop stadig nader totdat die gestalte van ’n jong meisie, wat op ’n plat klip skuins agter die groot, uitstaande klip sit, heeltemal sigbaar is.
Sy het ’n verslete donkerblou halfmasbroek en ’n verbleikte bont bloesie aan. Haar hare is swart en kort, maar lyk ongekam en asof dit deur ’n leek gesny is, en op elke lyn van haar mooi profiel kan hy onvergenoegdheid lees. Meteens besef hy dat hy op private eiendom oortree het, maar toe hy stilletjies wil omdraai, draai sy skielik haar kop in sy rigting en gluur hom vyandig aan.
“Middag, Juffrou,” groet hy verleë. “Ek … e … speel hier langsaan gholf en is agter ’n paar verlore balletjies aan … ”
Sy praat nie, en met haar oë nog steeds op hom, gryp sy driftig na ’n klippie, om dit ewe driftig in die water voor haar te gooi.
Dis ’n eienaardige mens, dink hy. Iets in die donkerblou oë tref hom … iets wat ’n rilling van herinnering deur hom stuur, om hom dan weer net so skielik te ontwyk. Snaaks dat hy op hierdie oomblik aan die afgesaagde gesegde van sy vennoot moet dink: “Ja, ek het altyd vir myself gesê sodra my praktyk begin wankel, dan kry ek vir my ’n aantreklike, ongetroude vennoot en my kop is deur, want al wat ’n moeder van ’n hubare dogter, en al wat ’n twintigerjarige is, sal dan ’n kwaal ontwikkel.” Marius het dit self naderhand begin glo, en vandag, ses maande nadat hy op Kroondorp gekom het, moet hy onverwags op ’n twintigerjarige afkom wat hy nog nie gesien het nie. Of is sy al twintig? Sy kan enige ouderdom tussen sestien en ’n paar in die twintig wees. Die parmantige en tog treurige gesiggie lyk soos dié van ’n kind, maar elke lyn van haar lenige liggaam verraai volwasse vroulikheid.
“Wie is jy?” vra sy onverwags onderwyl hy haar takseer.
Hy loop nader en gaan leun teenaan die klip waaragter sy sit. “My naam is Marius de Wet,” antwoord hy eenvoudig. “Wat is joune?”
“Ek is Tita Verster,” antwoord sy uitdagend, “en moenie maak of jy nog nie van my gehoor het nie. Ek weet jy is ’n predikant wat vir my wil kom preek, of ’n onderwyser wat hoop dat ek weer skool toe sal gaan!”
“’n Onderwyser?” Marius lag. “Moet my nie so beledig nie. Ek het die pes aan onderwysers; hulle het my blou geslaan.”
Die leuen het die gewenste uitwerking, want daar kom dadelik belangstelling in die blou oë.
“Het hulle jou ook geslaan? En ek het altyd gedink dat hulle spesiaal op die aarde gesit is net om my te haat.”
“Om jou te haat?” vra hy verbaas. “Ek kan my kwalik voorstel dat iemand so ’n mooi meisie soos jy kan haat.”
Sy lag ’n kort senuweeagtige laggie, dan sê sy verwytend: “Jy spot met my. Ek weet ek is lelik. En omdat jy met my spot, haat ek jou net soos ek al die ander mense haat.”
Sag en kalm antwoord hy: “Dis jammer dat jy my haat, want ek hou van jou, en ek het nie gespot toe ek gesê het dat jy mooi is nie. Want jy is werklik vir my baie mooi.”
Sy spring op, kyk hom reguit in die oë en eis met twee vingers in die lug: “Sweer dit?”
Plegtig, met twee vingers omhoog, sê hy: “Jy is vir my mooi.”
Sy glimlag. Die somberheid verdwyn uit haar oë, en hy kan nie help om haar reëlmatige, wit tande op te merk nie,
“Ek het sommer gejok,” erken sy dan. “Ek haat jou nie, en jy het vir my ’n mooi naam … Marius … Marius,” herhaal sy mymerend. “Ja, Marius is ’n baie mooi naam, en jy is die enigste mens hier op Kroondorp van wie ek hou.”
Marius skud sy kop. “Ek glo jou nie. Daar is baie mense van wie jy hou, maar jy is vanmiddag om een of ander rede sommer omgekrap.” Hy merk die verdriet wat soos grys rook terug in haar oë kruip, en dan vra hy opgewek: “Waar bly julle?”
“Daar … doer op die koppie,” beduie sy met ’n stomp vingernael.
Hy kyk in die rigting van die netjiese opstal, waar hy al dikwels verby gery het. Daardie huis en hierdie meisie hoort nie bymekaar nie. Sy is besig om die waarheid te versin, of anders werk sy daar, want ten spyte van die mooi gelaatstrekke en weëmoedige oë wat hom na iemand laat verlang, het sy die voorkoms van ’n bediende of ’n weeskind.
Hy kyk tersluiks na haar en voel meteens ’n nuwe toegeneentheid teenoor haar. Soos ’n mens teenoor iemand voel wat eensaam is.
“Dis snaaks dat ek jou nog nooit op die dorp gesien het nie?”
“Ek gaan nie meer dorp toe nie.”
“Hoekom nie?”
“Ek hou nie van die mense nie.”
Die kind het ’n kompleks, dink hy. Sy hou van niemand nie, en niemand hou van haar nie. Sy is vyandiggesind teenoor die hele wêreld, en tog het hy met ’n paar taktvolle woorde haar vyandigheid uit die weg geruim. Ander mense se sake het hom nog nooit geïnteresseer nie, maar hierdie meisie wat so naïef soos ’n kind praat, prikkel sy nuuskierigheid.
Nou glimlag sy effens, asof sy aan iets aangenaam dink. “Ek het ’n blikkie vol van daardie wit balletjies,” erken sy sonder om na hom te kyk. “Omtrent elke dag tel ek een op wat die mense deur die draad slaan. As jy hulle graag wil hê, sal ek hulle vir jou bring.”
Hy glimlag. “Baie dankie, ek wil hulle graag hê. Hoeveel vra jy vir hulle?”
“Ek gee hulle vir jou present, want ek speel tog nie daarmee nie.”
“Nou goed dan, dis nou te laat om hulle te gaan haal, maar ek sal môre weer hierheen kom … as dit nie te veel moeite vir jou is nie.”
“Ek kom elke dag,” sê sy.
· · ·
As Marius in die dorp kom, gaan hy by die kafee aan om ’n toebroodjie te koop. Die eienaar verneem vriendelik of hy lekker gholf gespeel het. Hy knik ingedagte.
“Ken jy die Versters wat daar naby die gholfbaan woon?” vra hy.
Basil krap sy kop. “H’m … is nie Verster nie … die Oberholzers bly daar. Maar mevrou Oberholzer was eers Verster … ”
“Is die meisie met die snaakse hare mevrou Oberholzer se dogter?”
Met ’n waai van die hand en ’n suur gesig roep Basil uit: “Daai vieslike kind! Hulle sê sy is, maar ek weet nie waar sy vandaan kom nie, want die ander meisie wat in die Kaap is, is ’n regte lady.”
“Wat doen sy dan, Basil?” vra Marius nuuskierig, “dat jy haar so aaklig vind?”
“Dokter! Wat het daardie kind nog nie aangevang nie? Sy het altyd hier by my kafee verbygeloop en haarself gehelp met die vrugte wat hier voor in die kassies staan, en as ek dan uitgaan, steek sy haar tong vir my uit en hardloop weg.”
“Nee!” Marius skud sy kop ongelowig, en betaal vir die toebroodjie sonder om verder uit te vra.
· · ·
Maar die volgende oggend verneem hy ook by dokter Van Wyk na Tita Verster, en net soos die kafeeman, kry dokter Van Wyk ’n uitdrukking van afkeer op sy gesig toe hy haar naam hoor. “Sy’s ’n onmoontlike mens! Ek moes op ’n keer, nadat sy uit ’n boom geval het, haar arm ondersoek, en toe ek daaraan raak, sal sy my nie sowaar byt dat die bloed loop nie! Cronje, die prinsipaal, het my vertel dat hulle haar ouers gevra het om haar uit die skool te neem, want sy het vir geen onderwyser ontsag gehad nie, en het die kinders geslaan as hulle net na haar kyk.”
“Ek het haar gister daar naby die gholfbaan raakgeloop,” sê Marius peinsend, “en met die eerste oogopslag kon ek sien dat sy anders as ander meisies is. Sy het vir my diep ongelukkig gelyk … aanhoudend klippies in die water gegooi, asof sy oorlog maak met die water. Daar moet tog ’n rede wees vir haar opstandigheid?”
“Miskien. Daar was gerugte dat haar moeder met haar geboorte verlam geraak het. Toe hulle hier gekom het, was die vrou bedlêend, maar later is sy na Londen vir behandeling, en sy het gesond teruggekom. Kort daarna het die weer haar man doodgeslaan, en sy is met Oberholzer getroud. Ek weet nie of dit waar is nie, maar die mense wat daar gewerk het, vertel dat die vrou self gesê het dat sy die kind haat omdat haar koms veroorsaak het dat sy jare aan ’n bed gekluister moes bly. Toe die mense egter die dogtertjie leer ken, kon almal insien waarom selfs haar eie moeder geen geduld met haar het nie.”
Marius luister aandagtig. “Is ’n skuldkompleks nie dalk die oorsaak van haar gedrag nie?”
Dokter Van Wyk glimlag asof die saak hom nie baie aangaan nie. “Al wat ek weet is dat sy ’n probleemkind is, en dat ek bly is dat sy nie my probleem is nie.”
· · ·
Dwarsdeur die dag dink Marius kort-kort aan wat hy van die buitengewone meisie verneem het. Hy is vaag teleurgesteld, maar kan tog nie glo dat sy werklik so afstootlik is as wat almal wil voorgee nie. Dit is duidelik dat sy min aandag ontvang, en ook geen aandag aan haarself bestee, want hy onthou hoe verkreukeld haar klere gelyk het, en hoe stomp en onversorg haar naels was. En tog is daar iets in haar wat hom aantrek. Elke keer as hy aan haar dink dan kry hy weer die gevoel dat hy iemand ken wat soos sy lyk, maar sodra sy verbeelding die beeld van daardie iemand wil vasgryp, dan vervaag dit weer plotseling, soos ’n wysie of ’n naam wat jy gehoor het, maar nie kan onthou nie.
· · ·
Dit was byna half-ses toe Marius die middag uit die spreekkamers kom, maar as hy op die sypaadjie uitstap, onthou hy dadelik sy belofte. Hy voel moeg en warm, maar hy wil vir Tita graag weer sien. Miskien as hy haar lewende beeld weer voor hom sien, sal dit hom te binne skiet aan wie sy hom herinner.
Wanneer hy egter op die plek kom waar hy haar die vorige middag ontmoet het, is sy nie daar nie. Hy loop tot by die groot klip waaragter sy gesit het en sien dat die blikkie met gholfballe op die plat klip staan. Onder die blik is ’n briefie, en as hy dit oopvou, is sy eerste gewaarwording een van verbasing vir die pragtige handskrif.
“Liewe Marius,” lees hy. “Ek het ’n potlood en papier saamgebring, omdat ek sommer geweet het dat jy nie hier sal wees nie. Ek wag al van vroeg af, maar ek is nou moeg en wil eers gaan kyk na die vark wat verlede week kleintjies gekry het. Ek sit jou present hier neer in geval jy kom, maar as jy nie baie haastig is nie, moet jy ’n rukkie hier wag, want ek kom nou-nou terug. Groete, jou vriendin, Tita.”
Hy glimlag en steek die briefie in sy sak. Hy gaan dan op die plat klip sit, maar na vyf minute besluit hy om maar te loop. Net toe hy wil opstaan, sien hy haar deur die bome kom. Sy het nog die verslete halfmasbroek aan, maar haar hare lyk netter, en sy het ’n skoon, geblomde bloesie aan. Sy is duidelik verbaas toe sy hom sien, maar hy kan ook die blye verrassing in haar oë lees.
“Hallo,” groet hy. “Ek is jammer dat ek laat is, maar ek kon nie vroeër wegkom nie.”
Sy glimlag.
Meteens weet hy nie wat om meer te sê nie. Sy is so vreemd stil en ooglopend verbouereerd. Dan val sy oog op die blikkie met die gholfballe. “Baie dankie hiervoor,” sê hy, “en, Tita, het iemand al ooit vir jou gesê dat jy baie mooi skryf?”
Sy gaan plat op die klip sit, trek dan haar skoene sonder seremonie uit en steek haar voete in die water. “Ek weet, ek het die mooiste in ons klas geskryf,” antwoord sy eindelik.
Ongenooid gaan hy agter haar op die gras sit. “Tot watter standerd het jy geleer?” vra hy.
“Standerd nege.”
Hy fluit asof verbaas. “So naby matriek! Hoekom het jy toe nie maar deurgedruk nie?”
Haar gesig word strak. “Ek het ’n pes aan die skool gehad.”
Sy sê dit met soveel drif dat Marius wonder of hy nie nou ’n stap in die verkeerde rigting geneem het nie. “Hoekom?” waag hy dit tog eindelik.
“Sommer.” Haar antwoord is kortaf. Hoe kan sy vir hierdie vreemde man vertel van alles wat sy op skool moes verduur het. Van die vrees daardie eerste dag toe hulle die skoolhekke binnegery het. “Hier sal hulle jou reg slaan, juffroutjie,” het haar ma voorspel. Sy het na die groot, rooi gebou gekyk wat soos ’n dreigende monster voor hulle gestaan het en gewens dat sy moet doodgaan voor hulle haar daarin toesluit. Toe was hulle in ’n klein kamertjie saam met ’n man met ’n rooi gesig en klein blou ogies, wat nie saam met sy lippe gelag het nie toe hy sê dat haar suster ’n soet en gehoorsame kind is. Toe het haar ma vir hom vertel dat sy stout is. “Moet nie die roede spaar nie,” het haar ma gesê. Sy het nie verstaan wat dit beteken nie, maar op die manier wat die man na haar gekyk het, het sy geweet dat sy nog ’n vyand bygekry het. Maar sy sou haar verdedig, want sy het al geleer om haar teen Christine te verdedig. “Kom, moenie so kwaad lyk nie,” het die man gesê. “As jy net vir ons luister … ” Hy het ’n arm na haar uitgesteek, maar voordat hy aan haar kon vat, het sy omgespring en gevlug. In die deur het sy haar teen ’n lywige juffrou vasgeloop. Die juffrou het haar aan die arms vasgehou en teruggedwing, en toe het sy die deur toegemaak. Haar eerste pak slae by die skool het sy daardie heel eerste dag van haar ma in die teenwoordigheid van die prinsipaal gekry. En vanaf daardie oomblik, die eerste dag in ’n onbekende buitewêreld, was almal, net soos by die huis, haar vyand.
Marius wens dat hy die gedagtes agter daardie strak gesig kan lees. “Tita,” sê hy sag, “het jy al ooit probeer om van mense te hou?”
Sy antwoord nie.
“Jy hou van my, nè?”
Sy knik sonder om na hom te kyk.
“En weet jy waarom hou jy van my? Omdat ek van jou hou. ’n Mens kan voel as iemand van jou hou, en daarom sal al die mense van jou hou as jy van hulle hou.”
’n Vreugdelose glimlaggie sprei stadig om haar lippe. “Dink jy so?” vra sy skepties.
Skielik spring hy vinnig op en kom langs haar hurk. “Tita,” versoek hy dringend, “glimlag weer so … so met ’n fronsie.”
“Hoekom?” vra sy verbaas en die uitdrukking op haar gesig verander heeltemal.
Hy gaan plat op die klip langs haar sit. Daardie beeld wat byna vorm aangeneem het, het hom weer ontwyk. “Het jy al ooit gevoel,” vra hy asof hy met iemand met gelyke begripsvermoë praat, “dat jy iemand ken, al weet jy dat dit nie moontlik is dat jy daardie persoon al gesien het nie? Jy assosieer sekere gebare of woorde van die persoon met ’n aangename of onaangename herinnering?”
“Ek weet,” onderbreek sy sy mymergang. “Ek kan dit nie in die woorde sê wat jy dit sê nie, maar ek verstaan wat jy bedoel. As jy met my praat, dan laat dit my ook aan iemand dink; iemand wat miskien ook vir my gesê het dat ek moet probeer om van mense te hou. Ek dink dit moet my eie pa wees. Ek kan nie onthou hoe hy gelyk het nie, maar ek onthou dat iemand al met my mooi gepraat het.”
Onderwyl sy praat het Marius al hoe meer onder die indruk gekom van hoe min simpatie sy in werklikheid ken. Sy kan slegs één persoon onthou wat ooit met haar mooi gepraat het.
“En jy laat my aan iemand dink,” sê hy na ’n rukkie, “en jy kan tog nie my ma gewees het nie.”
Onverwags skater sy dit uit van die lag. “O, nou het jy ’n snaakse ding gesê.” Sy lag so hartlik dat hy moet saam lag. Dan het sy ’n sin vir humor ook, dink Marius, en meteens weet hy dat hy liewer met haar sal wil gesels as met enige ander meisie op Kroondorp.
Sy is naïef, maar sy is intelligent, en hy kan voel dat sy hom vertrou en hom glad nie meer as ’n vreemdeling beskou nie. Impulsief skuif hy nader aan haar en lê sy hand op haar arm. “Tita, vertel my van jouself, enigiets, wat jy bedags doen, en hoe julle huis lyk, en waaraan jy dink as jy alleen is. Maak asof jy alleen is en hardop met jouself praat.”