GROENHEIDE BOEKE

Heideroos Romanse #2: Hemelsblou & Seegroen

― Hoofstuk 1 ―

“Ek wens ek was jy.” Mia trek ’n toppie uit die hoop klere op Tanya se bed en hou dit voor haar bors. “Twee weke by die see, opper salig!”

“Jy bedoel twee weke in ’n simpel woonwa saam met Altus!” Tanya spoeg haar jonger broer se naam uit soos ’n suur lekker wat per ongeluk in haar mond beland het. Sy vat die toppie uit Mia se hande, “Gee hier, dit moet saam,” en prop dit in ’n swart sak.

“Hierdie ook?” Mia hou ’n stukkie bikini in die lug op. “Dis mos laas jaar s’n, ek sweer jy peul uit. Jy’t dikker geword.”

“Dan moet ek maar peul.”

Die gesprek haper, maar lank kan Mia die stilte nie verduur nie.

“Is iets verkeerd? Jy’s so grommig soos ’n brombeer met vlooie, is dit oor julle see toe gaan? Julle gaan mos altyd elke Desember.”

“Presies. Elke jaar dieselle-ouselle vervelige staanplek in ’n vervelige karavaanpark vol vervelige oumense wat heeldag sit en bier suip en vleis braai. Waar ons gaan was laas nie eers Wi-Fi nie!”

“Dis stukkend,” gee Mia toe, “maar eintlik gaan mens mos see toe om op die strand te lê en die oulike ouens uit te kyk, dan nie?”

“Watter oulike ouens? Ek moet hulle nog sien.”

Mia skud ongelowig haar kop.

“Dis doodgewoon onnatuurlik, jy’t nog nie een keer ’n vakansieromanse gehad nie, en ek weet ek het dit al voorheen gesê maar ek sê dit weer, dis hoog tyd dat jy ’n slag op my skouer kom huil oor ’n ou. Was jy nou regtig nog nooit ooit verlief nie?”

“Seker maar nie. Die ouens wat ons ken is almal so kinderagtig.”

“Is daar niemand van wie jy hou nie?”

“Wel, ek is mal oor prins Harry,” erken Tanya, maar dit, sê Mia, geld nie want almal is mal oor prins Harry.

’n Rukkie is al twee besig met hul eie gedagtes terwyl Tanya werktuiglik klere in die swart sak stop en Mia ’n groot pienk teddiebeer knuffel. Skielik gooi Tanya die sak op die vloer en plak haar langs Mia op die bed neer. Sy kan nie meer stilbly nie, sy móét deel.

“Dis nie die ellendige vakansie nie, dis net dat ek nie meer weet wát om te dink nie. Alles is so anders – ” Haar stem skiet uit en haar gesig trek op ’n huilplooi.

Verskrik laat val Mia die teddiebeer en sit haar arm om Tanya se skouers.

“Wat gaan aan? Kan ek help? Toe, vertel vir Mamma Mia,” sus sy.

Tanya hik en snuif die dreigende nattigheid weg voordat sy antwoord.

“My ma’le steek iets vir my weg. Toe ek laas week kla oor die alewige woonwavakansies sê Pa vir my ek beter dit geniet want dit sal die laaste een wees maar hy wou nie sê hoekom nie. En hulle stry, en ek kan nie agterkom waaroor nie.”

“Luister jy dan nie af nie?”

“Kan nie, hulle hou op as ek naby kom.” Tanya vee oor haar neus en gryp Mia se hand vas. “Ek is so bang, Mie, sê nou maar hulle gaan skei of iets? Almal se ma’les skei deesdae.”

“Ag nee, man, dis seker nie so erg nie. Dalk gaan jou pa net sy werk verloor – of,” bedink Mia skielik met groot oë, “miskien beplan hulle om te emigreer Australië toe. Dink net, dan kan jy weer met Suzi maats wees!”

“Nee, ek glo nie.”

“Nou wat dan? ’n Dodelike siekte? Jy weet daardie boek wat my ouma my nou die dag gegee het? Dit het gegaan oor iemand wie se pa besig is om aan kanker dood te gaan, ek kon dit nie eers klaar lees nie so aaklig was dit. Ek dog nog ewe Ouma gee dit om my voor te berei, jy weet, op die ergste, maar gelukkig was dit net oor sy gedink het dis opvoedkundig. Ek kry nou nog koue rillings as ek daaraan dink!”

“Hou op!” Tanya maak haar ore met haar hande toe.

Mia gee Tanya se skouers ’n drukkie.

“Volgens daai boek is die kinders altyd die laaste om te weet.”

Tanya laat sak haar hande en staar voor haar uit.

“Hulle gaan skei, en dis my skuld.”

“Hoe kan jy so sê?” Mia trek ’n snesie uit die boks op Tanya se bedkassie en gee dit vir haar.

Tanya blaas haar neus.

“Dit is. Ek sweer Pa wil my nie meer hê nie, hy dink ek is onhebbelik en nou gaan hy van Ma skei om van my ontslae te wees.”

Mia se oë rek amper so groot soos pierings.

“Waar kom jy daaraan?”

“Jy weet mos hoe hy altyd kla oor my klere en my hare en naellak en alles, nou ja, gister toe ek ’n tat op my enkel gehad het raak hy skoon ballisties. En hoe meer ek sê dis nie ’n regte een nie, net so ’n plakdingetjie uit die krispieboks, hoe meer gaan hy tekere en wil niks hoor nie. Al my sondes is opgehaal, tot by my punte vir skeinat laas eksamen, my sogenaamde onverdraagsaamheid teenoor Altus, my laat-uitblyery van die ander aand – ”

“Jy’t mos goed gedoen in skeinat.”

“Ja, maar afgesien nou daarvan. Op die ou end sê hy vir Ma sy moet haar kind, dis nou ek, ’n slag vasvat en regkry – ” Tanya byt op haar lip.

Mia wag, want dis duidelik nie al nie, maar toe dit te lank duur, vra sy, “En wat sê jou ma toe?”

“My ma sê toe, wel dis jou kind ook, en toe – ” Sy hik en tussen ’n paar nat snikke deur stamel sy, “En toe – toe snork hy – en sê net – hy sê net ‘Ha!’”

“‘Ha!’? Dis al, en toe loop hy?”

Tanya knik haar kop. Sy sug dat haar onderlip eintlik bewe en sluk haar trane weg.

“Jy weet wat dit beteken, nè?”

Mia se mondhoeke trek af en haar wenkbroue lig op terwyl sy dink.

“Nee,” sê sy na ’n rukkie. “Wat beteken dit?”

“Dit kan net een ding beteken.” Tanya is duidelik baie ontsteld. “Ek is nie my pa se kind nie.”

Dit vat ’n oomblik om in te sink, dan, “Jy reken jy’s aangeneem?”

“Nee, sot, dis nie wat ek bedoel nie. Ek bedoel dat Ma – ” Maar Tanya kan nie die woorde verder uitkry nie en sy laat haar kop sak. Mia vryf oor Tanya se hare en haar vingers raak verstrengel in die lang slierte.

“Eina!”

“Jy moet ’n slag jou boskasie borsel,” maan Mia.

“Jy klink nou nes my pa. Ek bedoel – ”

“Jy bedoel die man wat jy nog altyd gedink het is jou pa.” Mia het gesnap wat Tanya vermoed. “Jy reken jou ma het ’n affair gehad en jou pa – ek bedoel haar man, het uitgevind?”

“Wat anders? En ek was die gevolg daarvan, en nou wil hy skei want hy is moeg vir my. Hy sal seker vir Altus saamvat, dié is mos sy eie ou witbroodjie,” voeg sy bitter by. “Kan nooit iets verkeerds doen nie, ek kry altyd skuld vir alles.”

Mia kyk haar onseker aan.

“Dit klink na ‘n drama in drie bedrywe. Vier.”

“Jy sou nie so sê as jy daardie ‘Ha!’ gehoor het nie.”

Mia gryp weer die pienk teddiebeer en druk dit teen haar bors vas. Tanya hou haar dop.

“Ek dink ek moet maar wegloop.”

“Waarnatoe?”

“Weet nog nie. Miskien Australië, ek is seker tannie Elise sal nie omgee om my te hê nie.”

“En dan?”

“Dan niks. Dan is ek uit my pa – ek bedoel, uit sy pad uit en hoef hulle nie te skei nie.”

“Is jy ernstig?”

“Wat anders?”

“Gee kans laat ek dink.” En terwyl Tanya verwoed klere in die swart sak stop, sit Mia in gepeins versonke. Na ’n ruk sê sy stadig, “We-el, hier’s ’n idee – ”