GROENHEIDE BOEKE

Heideroos Romanse #21: Oor Daniël

— HOOFSTUK 1 —

Sy rits die iris-pers tas versigtig toe en staar te lank daarna. Twyfel knaag aan haar ingewande. Daniël se sak is reeds gepak. Die skool kom oor net bietjie meer as ’n uur uit. Haar tas wil nie laat los nie. Dit is dieselfde tas wat Daniël se pa vir haar gekoop het die dag toe sy haar goed gepak het en saam met hom weg­geloop het.

Sy sug, kyk af en maak dan haar oë toe. Marko gaan woedend wees as hy na werk by die huis kom en sy is nie hier nie, maar dit sal nie meer saakmaak nie. Hy kan maar kwaad word soos hy wil, dit traak haar nie meer nie. Sy is nie meer lief vir hom nie, sy wil nie meer by hom wees nie. Sy het genoeg geld in haar spaarrekening, die rekening waarvan Marko nie weet nie. Sy tel die tas van die bed af op en loop na Daniël se klein kamer. Nooit weer gaan hy hier hoef te slaap nie. Nooit weer sal sy hom hierin hoef toe te sluit nie. Dit is verby, alles is nou verby. Alles het net te vêr gegaan en was eintlik al maande terug verby. Die oomblik wat Marko in haar pa verander het, was dit al verby. Sy tel Daniël se sak van sy bed af op en stap na die kombuis. Sy sit die tasse by die kosmandjie wat sy gepak het neer. Sal sy vir hom ’n nota laat?

Nee.

Sy sal net komberse moet saamvat, vir as dit reën. As dit reën gaan Daniël dalk koud kry, daar is ’n vêr pad wat voorlê. Sy moet twee keer na haar motor toe loop voor alles in is. Dit is nog ’n halfuur voor die skool uitkom. Sy dink sy gaan solank ry en vir haar en Daniël wegneemetes koop, dan kan hulle in die ry uit die dorp uit eet en langer ry voor hul weer vir kos hoef stil te hou. Hoe meer myle tussen hulle en Brits, hoe beter. Dan is die kans ook nog minder dat iemand sal sien in watter rigting hulle gaan en vir Marko sê. Die enigste ding wat haar nog die hele tyd pla vandat die idee in haar kop ingespring het, is wat gaan sy vir Daniël sê? Hy is nou al so rondgegooi in sy lewe, hoe gaan sy aan hom verduidelik dat hulle weggaan en nie weer terugkom nie?

Daar is steeds tien minute oor voor die skool uitkom. Tien kort minute wat soos tien lang jare voel. Sy is verbaas oor hoe kalm sy is. Sy was bang die senuwees eet haar op! Die skuldige huiwering wat knaag … maar sy het baie lank hieroor gedink, gebid, besluit …

Ek sal vir Daniël die waarheid vertel.

Hy is so mooi kind. Sy hou hom dop soos hy aangeloop kom, die swaar tas word half gesleep in die stof, maar vandag sal sy nie met hom daaroor raas nie. As hulle ’n nuwe huis gekry het, sal sy vir hom ’n nuwe skool gaan soek en dan sal sy vir hom ’n nuwe tas gaan koop. Een met wieletjies, soos die ander kinders s’n, sodat hy dit maar kan sleep.

“Hallo, Mammie.” Hy sit die tas by sy voete, trek die deur toe en leun nader vir ’n soen.

“Hallo, my kind. Hoe was jou dag?”

Sy sien hom diep inasem voor hy praat.

“Lekker. Het Ma kos gekoop?”

Die reuk van die wegneemetes hang in die motor. Hy is verbaas. Sy verstaan hoekom hy so geskok klink. Sy skakel die motor aan en praat terwyl sy kyk of daar ander motors in die straat afkom.

“Ja, ek het, Daniël.”

“Ek sal nie vir hom sê nie.”

Sy weet hy praat van Marko en sy glimlag. “Daniël. Jy hoef nooit weer oor hom te worry nie, my kind, Mamma het ’n plan uitgewerk. Ons gaan nie weer huis toe nie.”

Sy sien sy mooi groot waterblou oë na haar staar vol afwagting, maar hy praat nie. “Mamma het vir ons goedjies gepak, ek het al jou karretjies, moet nie worry nie. Mamma gaan vir ons op ’n ander plek ’n huis soek, iewers waar dit net ek en jy gaan wees. Waar niemand ons weer sal seermaak nie.”

Hy vat lank voor hy haar antwoord. “Belowe Mammie?”

Sy sluk voor sy hom antwoord, haar hart is stukkend. “Ek belowe jou, Daniël. Dit gaan net beter word vir ons, jy sal sien. Mamma het ’n oom in die Kaap, dit was jou ouma se boetie. As hy nog lewe … ”

Sy kyk na hom. Dalk hoef sy nie soveel spesifieke besonderhede vir hom te gee nie. “Wat Mamma probeer sê is dat ons baie vêr gaan ry vir ’n paar dae, maar dat ek voorberei het daarvoor.”

Sy stuur die motor na die R512 terwyl sy die onsekerheid wat weer in haar hart opstaan, probeer doodvee. Wat as haar oom nie meer lewe nie? Dan dink sy van daar af verder. “Kry vir jou kos, my skat, soveel soos wat jy wil hê. Dit is agter Mamma se sitplek.”

Sy sien hom uitrek en die bruin papiersak op sy skoot neersit.

“Dit gaan baie lekker wees, Mammie.”

Sy glimlag. Sy doen die regte ding. Sy hoef nie bedenkings te hê nie, as haar oom nie meer lewe nie, dan soek sy net ’n hotel of gastehuis totdat sy werk en permanente woonplek kry. Desember is lank, sy sal regkom. Sy weet net sy moet uit die dorp kom en verdwyn, weg van Marko af. Weg van al die seer. Sy het by die internetkafee die pad wat sy wil ry, gaan met Google Maps opgesoek en uitgedruk. Dit is in haar handsak, sy weet sy moet net vanaand by Kimberley uitkom, dan sal hulle reg wees. Hulle sal daar slaapplek kry vir die nag, dan is dit reguit deur Kaapstad toe met die snelweg. As sy ’n goeie voorsprong kan kry, sal Marko hulle nie opspoor nie. Hy weet nie watter pad sy gaan ry nie, sy het met opset ’n ompad uitgewerk deur Vryburg om, sodat sy en haar tydsberekening glad nie dieselfde is nie. Hy gaan aanneem sy het op die N4 geklim en ry reguit snelweg deur. Sy sal hom uitoorlê. Hy weet al familie wat sy het, is die oom in Kaapstad. Hy gaan weet sy is daarheen, maar as sy net voor hom daar kan uitkom, dan sal haar plan slaag.

Al wat sy nou weet, is dat sy van die snelweg moet af en haar ompad moet ry, sodat niemand haar sien en vir hom kan sê nie.

Sy weet sy moet net sterk bly. Al is dit moeilik.

· · ·

Sy sien die motor se temperatuurmeter styg en weet iets is fout. Sy het nou al ’n paar keer die motor voel spoed verloor en weer regkom, maar nou bly die meter wys die motor word warmer en sy dink nie daar is ’n vulstasie naby nie. Sy dink sy het iewers verkeerd gery.

Die son is naby sak en sy moes tenminste al in Vryburg gewees het.

Daniël het homself trommel dik geëet en slaap nou al amper ’n uur. Haar arme kind. Sy voel die motor weer ruk en onderdruk ’n vloekwoord.

Asseblief, moet dit nie aan my doen nie.

Die stoom wat voor haar opkom, lyk soos rook en dit kom tot by die ventilasie opening die motor in. Sy sal moet aftrek, dit lyk of die motor aan die brand gaan slaan.

Nee, hoekom? Hoekom, hoekom, hoekom!?

Daar is ’n ry bome waaronder sy stilhou en die oomblik wat die wiele op die grond ry en nie meer teer nie, word Daniël wakker en gaan sit dadelik regop.

“Mammie?”

“Dit is OK, Daniël.”

“Brand die kar?”

Dit lyk so.

“Nee, dis net ’n bietjie warm.” Sy skakel die motor af en laat haar hande langs haar sak, kyk na Daniël en sien die verwarring met die vrees in sy oë baklei. “Dit moet net ’n bietjie afkoel, sit jy stil, ek gaan gou kyk wat aangaan.”

Sy maak haar veiligheidsgordel waaksaam los en klim uit die motor. Sy laat haar oë oor die aarde om hulle gly net om seker te maak hulle is alleen en veilig en kyk dan na Daniël terwyl sy na die enjinkap loop. Hy maak sy gordel ook los en klim oor na die bestuurskant. Hy gaan staan op sy knieë op die sitplek en steek sy kop by die venster uit.

“Mammie?”

Sy voel behoedsaam aan die enjinkap, dit is warm, maar hanteerbaar. “Wag net, Daniël.”

Daar kom nog meer stoom uit wanneer die enjinkap oop is en sy tree terug vir suurstof, sy hoor Daniël praat en loop nader.

“Hoor Mammie?”

“Nee.”

Daar ry ’n motor in volle vaart verby haar dat sy die lug aan haar klere voel ruk.

“Ek sê ek dink die motor het ’n gasket geblaas.”

Nee!

“Hoekom sê jy so?” Hoe sal die kind van sulke dinge af weet?

“Want Eugene se pa se bakkie het laasweek ’n gasket geblaas en dit is hoe hy vertel het wat gebeur het.”

As dit waar is …

Sy voel die bloed deur haar are yskoud word met die volgende motor wat verby jaag sonder om eers stadiger te ry. Sy moes dit nie gedoen het nie. Sy moes nie so ’n dom keuse gedoen het nie! As die motor ’n gasket geblaas het, gaan sy vir Marko moet bel …

Nee …

“Dis dalk net ’n bietjie warm. Ons sal nou-nou sien.”

Sy loop terug na die enjin. Die stoom jaag nog dááruit. Sy hoor ’n motor aangery kom, dalk as sy iemand se selfoon kan leen? Sy loop nader aan die pad en wuif met haar hande, maar die motor ry net verby. Sy laat haar hande sak en sluk. Sy het nie eers ’n idee waar hulle is nie.

Nog ’n motor jaag verby en sy sien haar motor ruk van die wind.

“Mammie?”

“Dis OK, Daniël, iemand sal nou stilhou, dan kan ons ’n insleepdiens skakel na die naaste dorp.”

Sy weet hy wil weet of sy vir Marko gaan bel. As die motor nie reggemaak kan word nie, sal sy hom moet bel, al wil sy nie. Dalk moet sy eers net bietjie wag en as die motor heeltemal afgekoel het, weer probeer ry en net die temperatuurmeter dophou en stilhou wanneer dit weer warm word en so ry tot by die naaste vulstasie. Net om eers uit te vind waar hulle is?

Here, asseblief …