— HOOFSTUK 1 —
“Onthou julle vir Ward en Bennie?” Roy, die jongste lid van die Poniehoewe-Klub, het duidelik iets op die hart terwyl hy en sy vier maats met hul fietse op pad is na die hoewe waar hul perde aangehou word.
“Die tweeling,” sê Anneke.
“Jou nefies,” hyg Dommie teen die opdraand uit.
“Van Skimmelkrans,” sê Ruan.
“Wat van hulle?” vra Tessa.
Roy wag tot hulle die bult op en weer by die gelykte is voordat hy antwoord: “Bennie sê daar word ’n western — ” Verder kom hy nie, want Ruan roep: “Kom ons kyk wie’s eerste by die hek!” en begin trap dat die wiele eintlik tol.
Roy ry woordeloos saam, vies omdat niemand blykbaar belangstel nie, maar ’n hele ruk later, nadat hulle die ponies opgesaal het, begin hy weer.
“Wil julle nie gaan kyk hoe maak hulle ’n fliek nie?”
Die ander kyk hom verwonderd aan.
“Waarvan praat jy? Watter fliek?” vra Anneke.
“Die fliek op Skimmelkrans, natuurlik!”
“Ernstig?” wil Tessa weet. “Ek dog jy maak ’n grap.”
“Haha,” mompel Ruan terwyl hy op sy perd Kuifkop klim. “Kom julle?”
“Nee, wag,” keer Anneke, “ek wil weet. Klink na ’n lekker storie vir die Gaset.” Anneke skryf gereeld artikels vir die plaaslike koerantjie en is altyd op die uitkyk vir nuus waarvan meneer Dirkse, die redakteur, dalk nie weet nie.
“Ja, toe, laat ons hoor,” stem Dommie saam.
Ruan sug en gaan sit agteroor in die saal, sy arms oor sy bors gevou. Amper verloor hy sy balans toe Kuifkop ’n verraderlike systappie gee, en net betyds vat Ruan die teuels vaster. Vinnig kyk hy of die ander gesien het, maar gelukkig is almal se aandag by Roy, dus sit hy nou ook maar reg en luister wat dié te vertel het.
“Nee, sien, gisteraand bel Bennie my van die koshuis af en hy sê toe hulle gaan die langnaweek huis toe en of ek nie wil saamkom nie, want daar is mense wat ’n fliek maak daar by hulle in die veld. ’n Regte western — ”
“Kan nie ’n western wees nie,” sê Ruan beterweterig. “Ons weste is by die see, ons noem dit die Weskus.”
“Reg, dan is dit ’n veltern.” Roy begin kriewelrig raak omdat daar so min geesdrif getoon word, maar stoot nietemin aan: “Hoekom gaan ons nie almal nie? Netnou kan ons ook nog daarin speel, ons kan mos perdry!”
“Ek is vrek lus … ” sê Anneke ingedagte, en dan: “Wat dink julle, sal ek my pa vra om die ponies te bring? Dis mos nie so ver nie, of hoe, Roy?”
“So twee ure se ry, miskien ’n bietjie langer met die lorrie,” antwoord hy, “maar as ons Vrydagmiddag laai het ons drie dae. Wat sê julle?”
“Ek het niks beters om te doen nie,” sê Dommie, waarop Ruan byvoeg: “As jy gaan sal ek ook moet, want Ma wil mos altyd hê dat ek jou oppas.”
“Gmf!” snork Dommie, maar sy weet dis waar. Ruan word by alles wat hulle doen aangesê om na sy sussie te kyk.
“Ek dink dit sal lekker wees,” stem Tessa, sodat Anneke sê: “Dan’s dit akkoord, ek vra vanaand my pa en laat julle weet sodat ons kan reël. Dit sal net tot laat Maandagmiddag wees.”
“Tensy die kroeks ons vang,” sê Ruan met ’n gemene trek op sy gesig, en lag hol: “Hohoho … !”
“Siestog, hoe snaaks,” brom Roy meewarig.
“Sal jy vir tannie Jolene vra of ons maar mag kom?” sê Tessa.
Roy belowe hy gaan sommer vanaand nog bel.
· · ·
Vrydagmiddag net na skool val die vragmotor met die vyf ponies in die pad. Ruan ry voor in die kajuit saam met die bestuurder, terwyl die ander vier in die motor agternakom saam met Roy se pa.
Op die plaas wag die familie al vir hulle. Roy se pa word hartlik gegroet deur sy broer oom Eddie, en tannie Jolene. Die tweeling Ward en Bennie klim onmiddellik in die vragmotor om Ruan en Roy te help die ponies aflaai, terwyl Elise en Petro by Tessa-hulle inhaak en solank huis toe vat. Klein Mariska drentel agterna. Hulle ken mekaar, want hulle was al ’n slag op die Poniehoewe en het baie om oor te gesels.
“Die seuns kan na die perde kyk,” sê Elise toe Anneke bly staan. “Kom, ek wys julle waar almal slaap.”
“Roy sê Bennie het gesê hulle maak ’n fliek hierso. Is dit regtig waar?” vra Tessa.
Elise knik haar kop, maar voordat sy nog haar mond kan oopmaak, wil Mariska weet: “Wie’s Roy?”
“Dis Gerhardus. Hy noem homself Roy, soos in Roy Rogers,” verduidelik Anneke.
“Wie’s dit?”
“Een of ander rolprentcowboy wat kamma sy held is.”
“Wel, ek dink dis ouliker as Gerhardus, ek gaan hom ook so noem,” besluit Mariska.
“Ons kan netsowel almal, anders raak ons net deurmekaar,” sê Petro. “Snaaks hy’t nooit vir ons gesê nie.”
“Julle’s familie,” antwoord Dommie. “Familie noem mens op jou volle naam, soos ek is Dominique, nie Dommie nie.”
“Ek is bly my naam is nie Dommie nie,” sê Mariska, waarop Dommie haar maats beskuldigend aankyk.
“Sien julle nou? Uit die mond van die suigeling!”
“Wat’s dit?” vra Mariska.
“Sommer niks,” stel Elise haar vinnig gerus.
“Ek kan jou van nou af Niekie noem,” stel Petro voor.
Dommie oorweeg dit, maar skud dan haar kop. “Naaah … Dommie is eintlik oraait, dan is mense verbaas as hulle sien hoe slim ek regtig is.”
“Is waar,” stem Anneke saam, “Dommie is glad nie dom nie.”
“Beslis nie,” sê Tessa, en Dommie waarsku: “Moenie oordryf nie.”
Toe kan Tessa nie help om te lag nie en sy voeg by: “Maar pas op, want sy’s kort van draad.”
“Wat’s dit?” vra Mariska.
“Dat sy vinnig kwaad word,” antwoord Tessa geduldig. Sy het self ’n vyfjarige boetie wat altyd die naatjie van die kous wil weet.
“Ag, issie,” protesteer Dommie. “Julle’s sommer aspris!”
Voordat daar egter ’n debat hieroor kan ontstaan is hulle al by die huis. Dis ’n groot outydse opstal en toe hulle ingaan, is hulle sommer in die eetkamer. Verskeie deure staan oop na ander vertrekke toe.
“Kom,” sê Elise. Sy lei hulle deur ’n doolhof van gangetjies en slaapkamers en badkamers tot in die kombuis met sy volgepakte spens langsaan, en lag toe sy die verdwaasde gesigte sien.
“Ek kon nie help om julle deurmekaar te maak nie,” sê sy, “maar julle sal gou genoeg jul pad vind. Sien, hierdie is die oorspronklike opstal, maar dit was aanvanklik net een kamer waarin die voorouers van hoe ver terug dit ook al gaan in die agtienhonderd-en-soveels, geleef en geslaap het. Die kombuis was eers net ’n skuiling teenaan een van die mure, maar is later aangebou, en soos die familie uitgebrei het, het die kamers ook bygekom. Dis hoekom dit so ’n kriskras-huis is, maar ons wil dit nie anders hê nie. Kom, hier is die spaarkamer waar julle slaap, die seuns gaan sommer saam met die tweeling in.” Sy maak ’n deur oop.
Dis ’n groot kamer, gesellig ingerig met ’n dubbelbed en ’n enkelbed wat opgemaak is met helderkleurige duvets en klompe kussings.
“Dit lyk pragtig,” sê Tessa, “ek is sommer lus en kruip in.”
“Ek sou nie as ek jy is nie,” raai Elise haar aan. “Die hele filmspan kom eet gewoonlik saans hier en nou dat oom Tertius ook oorslaap is daar ’n braai beplan vir vanaand én vir môreaand. Jy sal dit nie wil misloop nie.”