— HOOFSTUK 1 —
’n Spook in ’n koringland op ’n plaas tussen êrens en nêrens. Hoe cliché.
Heidi sit op die ou houtstoel wat kraak soos sy asemhaal. Daar is ’n ligte briesie wat om die hoek van die huis waai. Sy sien die koring sag dans op die ritme van die wind. Sy voel die koue op haar wange speel. Sy trek haar hand deur haar blonde hare en krap dit meer deurmekaar. Hoe het sy hier beland? Sy hoor haar ma en ouma gesels in die kombuis. Sy weet hulle bespreek haar. Sy wil nie weet wat hulle sê nie. Sy het nie hiervoor gevra nie.
Net ’n maand gelede was sy gelukkig én getroud.
Nou? Nou sit sy met ongekamde hare en byt haar naels op die stoep van die huis waar sy haarself belowe het sy nooit weer haar voete sal sit nie.
Werner … o liewe, liefdevolle Werner. Die laaste man van wie sy dit verwag het.
“Jammer, liefie. Ek het ons bankrot gedobbel.”
Gedobbel! Aande en aande se alleen lê vir wat? Dobbel?
Hy het gesê hy werk. Gelukkig is daar nie kinders nie. Sy moes na haar ma se enigste preek geluister het die oggend van die troue. “Wil jy nie maar ’n huwelikskontrak opstel nie?”
Nou sit sy sentloos op ’n plaas met ’n spook en twee ou tannies wat baklei oor haar.
“Heidi, jou ma sê jy moet gaan bad.”
Ouma Helga. Haar lang vlegsel lê soos altyd oor haar skouer. Dik en grys. Sy is sterk en stewig. Bang vir niks.
Heidi bly sit. Besef hulle sy is al agt-en-twintig? Sy weet sy moet na haarself kyk, maar sy is nie nou lus om dit te doen nie. Sy wil net sit. Sy wil net staar. Sy wil eintlik nie dink nie, maar die dink bly nie weg nie.
“Hoor jy my?”
Heidi beweeg steeds nie. Haar ouma moet seker weet wie die man is wat so in die koring rondloop. Dit is ’n ou man met ’n hoed en ’n graaf. Hy spit die heelnag deur. Spit spit spit. Soek soek soek. Tot die haan kraai en dan is hy weg. Net na twaalf verskyn hy weer, elke aand. Elke liewe aand. Hoe moet sy slaap met die spit spit spit?
“Heidi!”
Sy weet haar ouma raak ongeduldig. Sy was nog altyd ongeduldig.
“Ja, Ouma.”
“Jou ma sê jy moet gaan bad.”
“Kom hier kuiermense?”
“Liewe genade! Ingrid! Kom praat jy met jou kind! Ek het nie tyd vir haar kinderagtigheid nie!”
Heidi laat haar oë weer oor die koringlande sweef.
Werner. Hoekom?
Hoekom was sy so dom om binne gemeenskap van goedere te trou? Hy was tog welaf. Sy het nie geweet hy dobbel nie. Nou het sy niks. Net die klere wat in haar tas kon pas. Die skuldeisers het alles gevat. Net so. Sy het nie eers geld vir ’n egskeiding nie. Uit haar eie huis geskop soos ’n sleg hond. Werner het nie eers moeite gedoen om seker te maak sy het slaapplek nie. Sy was te geskok om aan enige iets anders te dink as om net hierheen te kom. Hier, al plek wat sy het. Hier.
Werner is seker nie by sy ouers nie. Hy is seker by Hanlu. Hanlu en Chantelle. Hulle was sy vriende, lank voordat sý hom ontmoet het.
“Heidi?”
Haar ma se stem is sag. Dit was nog altyd sag teen haar ouma s’n. Ouma Helga. Streng en Duits!
“Jy kan nie so … jy sal beter voel na ’n lang bad.”
“Ek is net moeg, Ma.”
“Jy het dan tot byna elf geslaap?”
“Ek weet.”
Hierdie is ’n anderste moeg. Dit is nie ’n fisiese moeg wees nie. Dit is emosioneel. Dit grens aan gatvol. Dit grens aan opgee. Elke dag se laatslaap kan nie hierdie moeg uit haar dryf nie. Sy is spyt sy het voor haar ouma aan haar ma vertel presies wat gebeur het. Dit voel steeds onwerklik.
“Ons het oom Jan-hulle genooi vir ’n braai, kind.”
“O.”
Hoekom haar ma nooit weer getrou het na haar pa se dood sal sy nie verstaan nie. Die ooms het rye gestaan hier voor die hek om haar uit te neem, maar sy wou nie. Sy het net al hoe meer en meer in haarself geklim. Sy wat Heidi is, is hier weg ’n dag na die skool gesluit het in matriek. Eintlik net op vakansie. Sy het ’n werk gekry in Margate en haar ma geskakel en gesê sy kom nie terug plaas toe nie. Sy wou nooit weer plaas toe kom nie. Sy het Werner aan die einde van die volgende winter in Margate ontmoet en is saam met hom Pretoria toe. Sy was twintig toe hulle getrou het. Ouma Helga was nie op haar troue nie. Haar ma was. Sy het nie gereeld by haar kom kuier in Pretoria nie. As sy het, het sy niks gesê oor die plaas nie. Niks gevra nie.
Nou sit sy hier op die stoep van die huis wat sy gedink het sy gaan nooit weer sien nie.
Sy sug en staan op. Kyk nie na haar ma nie. Sy kyk nie in die kombuis in waar sy weet haar ouma na haar staar nie. Sy maak die badkamer se deur sag agter haar toe en rus haar kop daarteen. Sy asem diep in en blaas stadig uit. Dit sal beter raak, sy weet. Niks is permanent nie. Sy sal ’n werk op die dorp kry en spaar vir ’n prokureur.
Stap een: skei.
Stap twee: begin oor.
· · ·
Die water is warm en brand haar vel.
Werner.
Sy sak onder die water in. Hoekom, hoekom, hoekom? Alles was so perfek. Die huis. Haar vriende. Alles was soos sy as kind gedroom het dit moet wees. Werner was ’n goeie man. Hy was. Tot sy die waarheid geleer het.
Sy blaas haar lang blonde hare droog. Sy sit genoeg grimering aan. Sy trek netjiese klere aan. Sy sal nie dat iemand skaam kry vir haar nie! Al weet almal op die dorp reeds wat gebeur het. Sy sal niemand nog ’n rede gee om te skinder nie.
Dit is drie weke sedert sy hier aangekom het. Die skok op haar ouma se gesig het haar hart laat omdraai en terughardloop Pretoria toe. Maar haar voete het bly staan op die stoep. Heidi het haar laaste geld gebruik om ’n buskaartjie te koop tot op Louis Trichardt. Dit is die naaste bushalte aan Rietpanslaagte. Die busrit was lank en ongemaklik. Die verwarmer was aan en het onaangename reuke lewe gegee, al was die bus byna leeg. Sy het nie vooruitgedink nie. Daar was niks om aan te dink nie. Sy moes iewers heen en huis toe is al waarheen sy gehad het om te kom. Al is dit die moeilikste plek om heen te kom.
Op Louis Trichardt het sy begin rondvra. Sy het gebid. Sy het haar ore oopgehou en toe sy naby aan opgee was, het sy gehoor van iemand wat ’n aflewering moes kom doen in Rietpanslaagte. Die bestuurder het aanwysings gevra by ’n petroljoggie. Sy het hom haar situasie verduidelik. Hy het om verskoning gevra, want dit is teen die maatskappy se reëls om rylopers op te tel. Die trane in haar oë moes hom van plan laat verander het, want hy het net die deur vir haar oopgemaak en sy kop geskud.
Haar ma het nie gevra hoe sy hier aangekom het nie. Heidi is nie seker of hulle omgee nie. Sy glo nie so nie.
· · ·
Die sterre in die lug is meer op die plaas as in die dorp. Asof jy net jou hand kan oplig en daaraan raak. Dit is al laat. Sy vou haar arms om haar lyf. Die lug is koel. Sy hoor die mense op die voorstoep gesels. Oom Jan en tant Bessie Janse van Rensburg. Haar ma en ouma en Ben. Sy het al vergeet van oom Jan se seun. Sy het nie geweet hy boer nou vir hulle op die plaas nie. Dit lyk nie of hulle van plan is om gou huis toe te gaan nie.
Sy staan en wag vir die oom met die hoed en die spit. As sy hom sien, sal sy gaan slaap. Sy hoop hulle ry voor hy verskyn.
“Die sterre is mooi.”
Sy skrik. Haar hand instinktief op haar hart. Sy sê niks. Kyk net na hom. In die donker is hy aantreklik. Hy lyk nie soos sy hom onthou nie. Hy was maer en stil. Nou is hy ’n goedgeboude man met ’n breë borskas en groot hande. Hy het reguit, donker hare wat goed versorg is, en donker wenkbroue wat die blou van sy oë beklemtoon. Hy is vriendelik en gesels maklik. Sy draai terug na die koringland en kyk op. Dalk moes sy vir Werner plaas toe gebring het?
Ben gaan staan langs haar. Hy kyk ook op na die sterre. Sy hoor hom asemhaal.
“Glo jy in spoke?” Sy weet nie hoekom sy dit vra nie.
“Spoke?”
Sy bly na die sterre staar. “Ja. Spoke.”
Hy lag. “Ek weet nie.”
Sy kyk na hom. Haar asemhaling styg. Die nag lê in sy oë.
“Heidi, ek — ”
“Hier is ’n oom in die land.”
Sy kyk na die groen koring en vryf oor haar arms.
“’n Oom?”
“Ja. Ek sien hom elke aand. Hoor hom. Spit spit spit. Heelnag lank.”
“Jy moenie dat jou ouma jou so hoor praat nie.” Sy kyk na hom. “Ek sê net, hulle is reeds bekommerd oor jou.”
“Dink ek is mal?”
“Naby aan mal word.”
“En jy?”
Hy kyk na die koring. “’n Oom. Het hy ’n hoed op?”
Heidi voel die hoendervleis oor haar arms uitslaan.
“Hoe lank was jy weg?”
“Tien jaar.”
“Ja, dan sal jy nie weet van oom Daan nie.”
“Oom Daan?”
“Oom Daan Dinges. Die Krugermiljoene gesoek. Altyd met ’n spitgraaf rondgeloop. Altyd gemompel die Krugermiljoene lê iewers tussen jou ouma se plaas en die einde van die dorp. Niemand het geweet wat sy van is nie. Niemand het geweet waar hy vandaan kom nie.” Hy kyk terug uit oor die land. “Niemand weet ook waar hy heen is nie.”
· · ·
Die wind waai streng vandag. Koue wind. Sy trek die moue van haar swart trui oor haar fyn, wit hande. Haar kaal voete opgetrek buite op die bank. Sy laat die wind haar los hare waai soos dit wil. Sy het weer geslaap tot … byna elfuur. Dit is seker die laatste wat haar ouma haar sal toelaat om te slaap. As hulle net ook oom Daan Dinges kon hoor spit sou hulle verstaan!
Sy rus haar ken op haar knieë. Iewers moet sy moed vandaan kry om by die winkels in die hoofstraat om te gaan. Iewers moet daar vir haar werk wees. Sy het nie ’n groot salaris nodig nie. Sy moet net haar persoonlike goed kan koop en spaar. Sy moet net kan spaar vir die prokureur.
Werner het haar nog glad nie gebel nie. Sy hou haar selfoon heeltyd by haar. Sy gaan nie antwoord as hy bel nie, maar hy kon tenminste probeer. Dit is al amper twee maande. Is ’n huwelik van agt jaar so min werd?
“Hallo, Heidi.”
Sy skrik. Ben. Hy staan onder by die stoeptrappe met ’n hoed in sy hande. Dit is duidelik dat hy gewerk het. Sy klere is vol stof. Sy hare deurmekaar. Hy moes geloop het.
“Ek het jou nie hoor aankom nie.”
“Was lus vir stap.”
“My ouma is in die kombuis.”
“Ek is nie hier vir jou ouma nie.”
Heidi roer nie. Hy loop stadig op met die trappe. Sy oë in hare. Sy voel vreeslik selfbewus oor hoe sy moet lyk. Sy haat dit as haar ouma reg is! Dit is hoekom mens elke dag jou hare kam. Sy hoor haar ouma se stem in haar hart vir haar preek.
Ben gaan rus teen die stoeppilaar. Sy hande voor hom saam op die hoed.
“Ek het nie kuiermense verwag nie.”
“Ek het nie kom kuier nie.”
Sy beweeg steeds nie. Die wind speel met sy hare. Sy hoor voetstappe in die huis. Geen stemme nie. Sy wag vir die stoepdeur om te kraak. Die stilte is oorverdowend.
“Ben.”
Hy glimlag. Hy het ’n kuiltjie diep in sy regterwang. “Ek het kom hoor of jy nie dalk vanaand saam met my iets wil gaan eet nie. Jou ouma – ek meen, dalk sal dit jou goed doen om uit te kom?”
“My ouma?”
“Ek wil jou uitneem.”
“Jy hoef my nie jammer te kry nie, Ben.” Sy laat haar bene sak. “Ek weet ek lyk dalk pateties en soos … soos asof ek op die rand van ineenstorting is, maar ek kan jou belowe – ” sy staan op “ – ek is sterk. Ek kry myself nie jammer nie en jy hoef ook nie.”
“Ek kry jou nie jammer nie.”
“Dankie, maar nee dankie. Verskoon my.” Sy kyk nie weer terug na hom nie. Haar ouma staan in die gang met ’n blik vol haat na haar en staar. “Hier is iemand hier buite vir Ouma.”
Heidi slaan die kamerdeur met opset hard toe. Hoe durf haar ouma haar agteraf met iemand bespreek! Veral met hóm! G’n wonder hy het haar kom uitvra die aand toe sy alleen voor die koringlande gestaan het nie.
Wie se koring is op daardie lande?
Sy gaan lê op haar maag op die bed. Haar hande in haar hare. Sy sal seker meer na haarself moet begin omsien. Sy skree met haar mond in die kussing en rol op haar rug.
Werner!
Miskien moet sy hom bel. Dalk weet hy net nie hoe om kontak te maak nie. Dalk voel hy skuldig. Nee! Sy sal nie. Daar is niks oor om oor te praat nie. Al verlang sy na hom. Sy verlang eintlik na hoe dit was. Voor sy geweet het wat hy werklik is. Voor hy met dooie oë alles aan haar bely het.
· · ·
Die badwater is soos altyd, warm. Sy hoor voetstappe in die huis. Haar ma is al die afgelope drie dae in haar kamer. Wonder wat nou weer pla. Sy gaan nie lank hier kan woon nie. Miskien as sy ’n goeie werk kan kry, kan sy eerder op die dorp iewers ’n kamer huur. Dit sal dom wees. Sy moet nou elke sent wat sy kry spaar. Prokureurs is duur.
Haar hare word drooggeblaas. Noukeurig kies sy haar grimering. Sy trek gemaklike, tog netjiese skoene aan. Die dorp is binne loopafstand. Sy staar in haar eie oë. Die bruin daarin verlig deur die pienk oogskadu. Die pienk wat by haar klere pas. Sy asem diep in en blaas uit met die opstaan. Sy sal haar nie aan ouma Helga se opmerkings steur nie. Sy gee nie om wat die mense in die dorp verder van haar dink nie. Sy gaan nie op die grond bly lê en wag vir ’n oproep wat nooit gaan kom nie.
Dit is net ouma Helga in die kombuis. Sy sit en lees. Sy kyk op met ’n frons na Heidi. “En nou?”
“Ek gaan dorp toe.”
“Om wat te koop?”
Sy rol haar oë.
“Ek weet nie vir wat was jy so ongeskik gewees met Ben toe hy nou die dag hier was nie.”
“Ek het niemand nodig om my jammer te kry nie, Ouma.”
Sy daag haar ouma uit met haar blik. Haar ouma swig nie. Sy skud haar kop en Heidi voel lus om nader te loop en die boek uit haar hande te gryp. Sy klem haar hande saam.
“Ek sal dit waardeer as Ouma my nie verder met hom bespreek nie.”
Ouma Helga lag. Heidi vervies haar, draai om en stap na die voordeur. Sy bly staan met haar hand op die handvatsel. Waar is haar ma?
Dit voel of sy kan skree. Tien jaar is lank. Sy is nie meer gewoond aan hierdie koue huis met die ongemaklike atmosfeer nie. In haar en Werner se huis was dit altyd warm. Vriende was altyd welkom. Sy het die meubels gekies om gesellig te vertoon. So anders as waarmee sy grootgeword het.
Sy stap haastig by die deur uit en slaan dit met opset hard agter haar toe. Sy stap vinnig deur die tuinhekkie. Nog vinniger met die pad langs in die rigting van die dorp. Die wind is koud en wanneer haar asemhaling verhoog en haar longe brand, gaan staan sy stil. Sy sluit haar oë. Hierdie is regtig ’n ongewenste situasie waarin sy haarself bevind. Sy het met soveel trots aan haarself beloof dat sy nooit weer sal terugkeer na hierdie godverlate dorp nie. As sy nie so gesukkel het om wat Werner aan haar gesê het te verwerk nie, sou sy sweerlik gesê het dit was die vernederendste ding wat sy moes deurgaan. Die terugkruip. Die erken sy was verkeerd. Die vraag wat sy eers aan haar ma en later aan haar ouma moes vra: “Mag ek by julle kom woon?”
Werner het haar verneder.
Sy maak haar oë oop en laat dit oor die groen koring gly. Die lande is sonder end. Dit strek tot by die koppies. Wie se koring is dit? Sy weet dit is haar ouma se enigste inkomste. Die huurinkomste van die lande. Haar ma ontvang rente op haar pa se polis. Wat die twee ouvrouens verder doen deur die dag, anders as om op mekaar se geduld te werk, weet sy nie. Sy gee ook nie om nie. Sy sal ’n werk kry sodat sy so min as moontlik by die huis hoef te wees.
Dit is tog vreemd dat hulle haar kamer net so gehou het. Asof hulle altyd geweet het sy sal terugkom. Sy lag hardop. Dit is seker vir haar ouma vreeslik lekker. Die oorwinning. Die wete dat sy, weereens, reg was.
Sy stap rustiger aan. Die lande is breed. Daar is ’n hoë heining wat haar ouma se plaas van oom Jan-hulle s’n skei. Oom Jan se plaas is byna twee keer so groot soos die van haar ouma. Dit is nie heel omhein nie. Die heining skei net die eiendomme van mekaar. Daarna is dit ’n oop stuk veld aan die ander grens van oom Jan se land, en dan is dit die dorp. Die teerpad begin net na oom Jan-hulle se lande ophou. Hulle huis is naby die koppies. Die grondpad wat tot daar loop, is lank. Dit kronkel tussen die lande deur. Daar is bome geplant al met die pad langs. Bome wat klein was toe sy hier weg is.
Die dorp het nie een verkeerslig nie. Die strate is goed versorg. Sy trap hard op die teer om die stof van haar skoene af te skud. Sy kyk om haar rond. Alles lyk net soos dit was. Daar is net ’n nuwe restaurant met ’n kroeg by aangebou. Die klerewinkels, bakkery, kafee – alles net soos dit was. Daar het ’n klein supermark oopgemaak langs die enigste petrolstasie wat op die pad die dorp uit is. Sy asem diep in en hard uit en loop na die eerste winkel voor haar. Dit is tannie Elsabe se winkel en die naaste wat hierdie dorp aan ’n Boutique sal kom.
Die winkel is mooi uitgelê. Daar is moderne klere wat aan die regterkant van die winkel vertoon word. Tannie Elsabe se handgemaakte klere hang dig teenmekaar links. Tannie Elsabe staan met ’n glimlag agter die toonbank. Asof sy gewag het dat Heidi sal binnekom. Heidi kyk oor haar skouer en sien dat sy haar van ver kon sien aankom.
“Hallo, Heidi. Magtig, maar jy het mooi geword.”
Sy kyk na die tannie en glimlag terug. “Hallo, Tannie. Gaan dit goed?”
“Baie goed, dankie, kind. Jou ouma het gesê jy is terug. Tog jammer wat die man van jou gedoen het. Maar ons hier is mos goeie mense, ons oordeel nie.”
Sy wil eintlik skater van die lag, maar klem net weer haar hande saam. Die tannie vervolg: “Nicolaas het ook net gister hier aangekom. Hy is op verlof. Hy woon in Johannesburg. Die stomme kind het nog nie getrou nie. Hy spot altyd en sê die stadsmeisies is te wild vir hom. Ek sal hom bietjie vra om jou te gaan oplaai, hartjie, dat julle bietjie gesels.”
“Dit sal regtig nie nodig wees nie, Tannie.”
Tannie Elsabe se glimlag verdof.
“Ek het eintlik net kom hoor of Tannie nie dalk hulp hier in die winkel nodig het nie. Enige iets. Ek hoef nie ’n groot salaris te kry nie.”
Tannie Elsabe vou haar hand voor haar bors saam. “Ai tog, kind. Dat die man van jou nou dit veroorsaak het. Nou moet jy kom staan en vra vir werk. Hoe vernederend. Waar is hy?”
“Ek weet nie. Het Tannie werk of nie?”
Tannie Elsabe verstyf. Heidi skud haar kop.
“Tannie moet ’n mooi dag verder hê.”
Sy hoor haar verbaas inasem, maar sy steur haar nie daaraan nie. Sy slaan die Boutique se deur harder toe as wat nodig is. Nicolaas?
As sy reg onthou was hy saam met Ben op skool. Hulle albei twee jaar ouer as sy. As Ben so verander het, weet sy nie hoe hý moet lyk nie. Hy was altyd groot gebou. Rugby gespeel. Blonde hare. Elke meisie se droom. Sy rol haar oë wanneer sy gaan stilstaan voor die volgende winkel se deur. Werner was haar uitkoms. Haar ontvlugting van die cliché-dorp. Nou is Werner die rede hoekom sy terug is.
Die tannie agter die toonbank is onbekend aan haar. Heidi tel haar ken op en groet. Die tannie groet terug.
“My naam is Heidi, ek — ”
“Helga se kleindogter, ja. Ek weet. Sy het gesê jy is terug. Hoe gaan dit met jou?”
Sy sluk. “Dit gaan goed met my, Tannie. Ek wil vra — ”
“Darem ’n vreeslike ding wat jou man gedoen het. Ek sê vir Helga, daardie is die duiwel se speletjies. Groot sonde.”
Heidi veg teen die drang om te skree. “Dit is mos wat ons stadsmense doen, Tannie. Die een sonde op die ander sonde.”
Die tannie gryp na haar keel. Heidi lag in haar binneste vir die skok op haar gesig.
“Ek wou weet of Tannie nie dalk hulp in die winkel nodig het nie?”
Die tannie begin haar kop liggies heen-en-weer skud.
“Dan loop ek maar.”
“Stuur tog groete vir jou ouma, sê vir haar ek bid vir jou.”
Heidi draai vies om op haar hakke en slaan die winkel se deur toe. Sy gaan nie regkom nie. Sy is in elk geval nou te kwaad. Sy sal haarself nie kan gedra nie. Sy wil nie iemand nog rede gee om oor haar te praat nie. Sy stap verby tannie Elsabe se winkel sonder om in te kyk. Sy vou haar arms. Die wind waai koud teen haar vas. Sy wens eintlik sy kon toe-oë loop. Sê vir jou ouma ek bid vir jou – asof sy die een is wat die ‘groot sonde’ gepleeg het!
Laat sy maar eerder eers gaan rustig raak. Sy sal môre weer kom probeer. Sy gaan nie laat lê nie, iemand iewers sal vir haar werk gee. Sy moet net genoeg verdien om te skei van Werner.
Werner. Hoekom het jy dit aan my gedoen!
Sal hy ooit besef dat hy haar deur hierdie hel laat gaan?
Op die grondpad kom ’n wit bakkie van voor af aangejaag. In die verbyry herken sy die bestuurder. Dit is Ben Janse van Rensburg. Hulle buurman. Sy kyk terug na die bakkie wat ’n stofwolk agterlaat. Sy sal almal wys sy het niemand nodig nie. Sy sal nie haar ouma weer ’n rede gee om hóm te vra om tyd saam met haar te spandeer nie. Sy het nie sy bejammerende, vals-kommer nodig nie.
· · ·
Sy spandeer die res van die dag in haar kamer. Sy kyk kort-kort op haar foon of iemand haar nie al probeer kontak het nie. Sy veg teen die drang om op te gee met die mense in die dorp. Sy dink aan iets om met haar ma oor te gesels. Sy verlang na Werner. Sy verlang na haar huis. Sy raak aan die slaap en skrik wanneer sy geroep word vir aandete. Die atmosfeer is koud. So koud soos die nag buite wanneer die son vroeg ondergaan. Die wind waai. Dit bring die koue nader aan haar hart. Sy sal vroeg môreoggend weer instap dorp toe. Sy sal oor begin. Sy sal vriendeliker wees. Sy sal beter aantrek. Sy sal voorbereid wees op die vreeslike koue wat besig is om in haar in te trek.
· · ·
Heidi weet ouma Helga het haar uitoorlê. Sy moes reeds haar vriendinne gevra het hoe om op te tree, sou die gedagte ooit in Heidi se kop kom om aansoek te doen vir werk op die dorp. Heidi veg teen die moedeloosheid en skraap haar laaste moed bymekaar. Na sy by al die winkels dieselfde, oordeelgevulde ontvangs as gister ontvang het, wil sy eintlik net omdraai en terug huis toe hardloop.
By die bakkery stap sy eers rustig deur die winkel voordat sy na tannie Ansie toe gaan. Sy probeer kalmeer. Dit werk nie. Tannie Ansie se oë volg haar deur die winkel. Sy rol weer haar oë. Daar is nie klante in die winkel nie.
“Ek weet dis ’n skande, Tannie.”
Tannie Ansie lyk verbaas.
Heidi loop tot by die toonbank. “Vreeslike ding, is dit nie? Julle is nie gewoond hieraan nie. Groot sonde wat gepleeg is.”
Heidi maak haar oë groot. Sy weet sy is onbeskof teenoor tannie Ansie vir geen rede nie.
“Tannie gaan seker ook ongelukkig nie werk vir my hê nie, nè? Ek weet nie hoekom ek my tyd so mors nie. My ouma het seker lankal met julle almal gepraat.”
Tannie Ansie praat nie.
Heidi skud haar kop. “Sy gaan nie wen nie. Ek sal haar wys.”
Sy ruk om en loop vinnig by die deur uit. ’n Brandgevoel skiet in haar neus en sy vryf vies daaroor. Sy sal nie huil nie. Nie oor haar ouma nie. Sy loop oor die straat na die hardewarewinkel. Sy kan nie die oom se naam onthou wat dit besit nie. Al wat sy kan onthou is dat hy en ouma Helga nie om dieselfde vuur gesit het nie.
Sy loop vasberade die winkel binne, reg in stywe, warm arms vas. Die hand wat op haar rug is voel groot en sterk. Sy tree vinnig agteruit en wanneer sy opkyk, sak haar moed tot in haar skoene.
Ben.
Sy hande bly vir ’n paar tellings op haar elmboë voor hy hulle laat sak en ’n tree terug gee. Hy kyk haar skaamteloos op en af en vou sy arms oor sy bors. Sy grou vir iets om te sê, maar die manier hoe hy haar aanstaar laat die blos op haar wange slaan. Sy vat instinktief daaraan. Sy sien die glimlag om sy mondhoeke huiwer en vervies haar dadelik vir hom. Sy tel haar ken op en breek uit sy blik. Sy stap om hom sonder om weer terug te kyk. Sy loop na die eerste persoon wat sy sien en vra dadelik of die eienaar beskikbaar is. Die onbekende vrou sê vir haar om net te wag, sy sal vir oom Herklaas gaan roep.
Dit verg alles in haar om nie om te kyk sodat sy kan sien of Ben nog daar staan en of hy weggestap het nie. As sy net dink aan hoe emosieloos sy gesig was toe hy haar kom uitvra het. Hy was seker baie verlig toe sy hom verlos het van die ongemaklike las wat haar ouma op sy skouers geplaas het. Haar bloed begin van vooraf kook. Ouma Helga is regtig die weerbarstigste persoon onder die son!
Die vrou kom aangeloop en Heidi asem so ongemerk moontlik diep in en uit.
“Oom Herklaas vra jy moet na sy kantoor toe gaan. Dit is net deur daardie deur, links.”
Heidi knik en die vrou neem haar plek in agter een van die enigste twee kasregisters wat daar is. Die ander vrou wat met groot oë na haar staar, lyk vaagweg bekend. As sy moet skat, is hulle albei haar ma se ouderdom. Nie soos die ander tannies by die ander winkels haar ouma se maats nie.
Oom Herklaas het grys hare en ’n grys, netjiese baard. Hy het ligte blou oë wat haar sag aankyk. Die lessenaar waaragter hy sit is deurmekaar. Daar is ’n telefoon en asbakkie links van hom. Die asbakkie is nie onlangs uitgegooi nie. Hy het ’n warm, bruin trui aan.
“Juffrou, wat het ek gedoen dat so ’n mooi jong dame van my tyd wil hê?”
Sy glimlag. Hoekom kon ouma Helga nog nooit een goeie woord oor die oom sê nie?
“My naam is Heidi Ehlers, Oom. Ehlers is my getroude van. My nooiensvan is Höfler.”
Oom Herklaas gaan sit terug in sy stoel. Hy vryf oor sy baard terwyl hy duidelik hard terugdink en sê dan: “Helga se kleindogter?”
Sy knik ja. Hy kyk versigtig na haar.
“My ouma weet nie ek is hier nie.”
“Hoekom is jy hier, Juffrou?”
“Oom moet my asseblief Heidi noem.”
Hy antwoord haar nie.
Sy loop nader en gaan sit ongenooid op die stoel wat voor sy lessenaar staan. “My man het ons bankrot gedobbel en ek moes terugtrek hierheen, na tien jaar. Ek moet onder een dak saam met ouma Helga lewe.” Sy sien die glimlag om sy ou mond speel. “Ek wil hom skei, Oom, maar ek het nie geld nie. Hy het alles uitgedobbel.”
“Dus soek jy werk?”
“Ja, en ek vermoed my ouma het aan al die orige tannies gevra om nee te sê.”
Die glimlag is nou duidelik om sy mond. “Jou ouma en ek … ” Hy bestudeer haar lank en dan gaan sit hy regop. “Wat kan jy doen?”
“Enige iets.”
“Meer spesifiek.”
“Ek is goed met somme, Oom.”
Hy gaan sit weer terug. “Sal jy hierdie tafel van my kan uitsorteer?”
“Ja, Oom.”
Hy vryf weer oor sy baard. “Dit gaan nie ’n groot salaris kan wees nie.”
“Enige iets is beter as niks, Oom.”
“Kom hoor Maandag. Laat ek dink. Ons maak nege-uur oop.”
“Dankie, Oom.”
“Ek stel voor jy sê ook maar eers niks vir jou ouma nie. Sy was nog nooit in my winkel nie. Ek sal dit nie graag wil verander nie.”
Sy lag. “Ek sal dit stilhou, Oom. Dankie!”
· · ·
Heidi loop met ’n glimlag rustig terug. Sy hou van oom Herklaas. Daar is iets aan hom wat dinge binne-in haar laat ontspan. Sy het nooit haar oupa geken nie. Sy vermoed dat as sy ’n oupa gehad het, hy met haar sou praat soos oom Herklaas nou het. Sy sal Maandagoggend vroeg daar wees. Sy sal hom wys dat sy nie bang is vir werk nie. Ouma Helga hoef nie te weet nie. Sy sal vir hulle sê sy gaan weer in om verder werk te soek. Sy sal oom Herklaas se tafel uitsorteer en dan sal hy nie ’n keuse hê anders as om haar aan te stel nie. Wanneer sy aangestel is, kan haar ouma maar kla soos sy wil. Sy gaan nie om haar onthalwe by die huis sit nie. Sy weet sy sal nie Dinsdagoggend weer by die winkel ingaan sonder dat iemand sien nie. Iemand gaan uitpraat en dit sal by ouma Helga uitkom. Dit sal nie moontlik wees om dit vir langer as Maandag weg te steek nie.
Heidi hoor ’n voertuig aangery kom van agter haar en tree uit die pad die bossies in. Die wit Hilux-bakkie rem ’n paar tree verby haar. Sy wag. Dit ry agteruit tot by haar. Die rooi stof hang in die lug. Die venster aan die passasierskant gaan oop en Heidi tree nader. Tot haar spyt kyk sy in ’n paar pragtige blou oë vas. Ben se oë. Sy een hand hang oor die stuurwiel. Sy kyk terug dorp toe en dan die pad wat sy nog moet stap.
“Dis nie ver nie.”
“Klim in.”
“Dis nie nodig nie.”
“Stop jou weerbarstigheid en klim in.”
Weerbarstigheid?
Hy is onbeskof! Sy maak haar mond oop om te stry, maar besluit daarteen. Sy gehoorsaam. Wanneer sy in die bakkie is maak hy die venster toe. Sy bly daardeur kyk en kruis haar arms. Ben trek vinnig weg, maar Heidi hou haar gesig weg van hom gedraai.
Voor die tuinhekkie rem hy. Heidi kyk nie na hom nie. Sy klim uit die bakkie, maak die deur toe en stap weg sonder om ’n woord te sê. Ben draai die bakkie om en trek weer net so vinnig weg as toe hy haar opgelaai het. Sy bly in die stof staan. Simpel mansmens. Sy het mos vir hom gesê dit is nie nodig om haar te kom aflaai nie!
Ouma Helga is op die stoep. Haar oë boor in Heidi s’n. Dit ook nog.
“Jy is bederf.”
“Ja, Ouma.”
Heidi loop stadig op met die trappe tot by haar ouma.
“Jy sal van jou hoogmoedigheid moet laat staan.”
Hoogmoedigheid?
“Ouma en Ben kom seker baie goed oor die weg?”
Sy gee haar nie kans om te antwoord nie. Sy stap verby haar reguit na haar kamer en slaan weer die deur toe. Sy het skaars op die bed gaan sit of die deur gaan oop. Ouma Helga staan met haar hande in haar sye. Haar oë twee gloeiende vlamme gevul met waarskuwing.
“Meisiekind. Hierdie is my huis, en as jy hier wil woon stel ek voor jy respekteer dit. Slaat jy nou een keer nog ’n deur toe, dan sien jy waar slaap jy.”
Heidi laat sak haar oë.
Ouma Helga wag nie vir ’n antwoord nie. Sy los die deur oop agter haar. Heidi gaan lê op haar rug op die bed.
Werner Ehlers! Ek haat jou. Hierdie is alles jou skuld!
· · ·
Laat Saterdagoggend sluip sy verby die kombuis na die stoep. Niemand het haar kom wakkermaak nie. Sy trek haar swart trui se moue weer oor haar hande. Die dag is koud en die lug is flou. Winter was eintlik nog altyd die mooiste seisoen hier op die plaas. Die groen van die koring om hulle huis skep ’n asemrowende prentjie. Oorkant die pad is daar ook landerye. Sy weet nie aan wie dit behoort nie. Heidi gaap en vryf deur haar ongekamde hare.
“Jy moet gaan bad.”
Hierdie keer is dit haar ma wat agter haar praat.
“Ek sal later, Ma.”
“Ons gaan na die kerk-konsert toe.”
“Ek gaan bly.”
“Nee, jy gaan nie. Jy sit en vergaan. Kyk hoe lyk jy. Jy eet skaars, jy bad skaars. ’n Man is ook nou nie dit alles werd nie.”
Sy kyk na haar ma. “Ek sal eet as ek honger is.”
“Jou klere hang soos sakke aan jou.”
“Ma.”
Sy gaan sit langs haar op ’n stoel. “Heidi. Ek het dit ook nie van Werner verwag nie. Ek het gehoop hy sal mooi na jou kyk.”
“Hy het mooi na my gekyk, Ma.”
Sy antwoord nie.
“Ek is vreeslik kwaad vir hom. Ek haat hom! Maar ek mis hom.”
Ingrid knik haar kop, ja. “Ek verstaan dit kind. Dit is normaal.”
“Ek sal saamkom vanaand. Laat ek net wakker word, dan kom ek in.”
“Ek sit solank koffie op die stoof.”
Heidi bêre haar gesig in haar hande. Sy hoor haar ma na binne loop. Dit is net tot Maandag. Van Maandag af sal sy beter na die uiterlike omsien. Dit is moeilik om aandag te gee aan hoe sy lyk. By haar huis was dit nie moeite nie. Sy het dit geniet om altyd op haar beste te lyk. Sy kon altyd deur ’n ring getrek word. Haar vriendinne het haar gekomplimenteer oor haar styl. Die vriendinne wat haar steeds nie gekontak het sedert dit wat Werner gedoen het, bekend geraak het nie. Dit is net moeilik om nou moeite te doen met haar uiterlike, want sy is regtig baie moeg. Sy is moeg verlang en sy is moeg teen trane geveg. Sy wil nie huil nie. Werner verdien dit nie om oor gehuil te word nie.
Werner. Wat haar ook nog glad nie probeer kontak het nie. Miskien moet sy maar vir Chantelle ’n boodskap stuur. Sy tel haar gesig uit haar hande en voel haar hart ’n slag mis wanneer sy weer in Ben se mooi blou oë vaskyk. Sy het hom nie hoor aankom nie. Hy staan teen die stoeppilaar. Sy arms oor sy bors gevou. Hy het werksklere aan. Sy donker wenkbroue in ’n frons. Dankbaar dat sy nie gehuil het nie, laat sak Heidi haar bene en tel haar ken effens op.
“Ben.”
“Hallo, Heidi.”
Ouma Helga is reg. Sy sal maar haar hare moet kam wanneer sy opstaan. Sy vryf daardeur en maak haar keel skoon.
“Iets waarmee ek kan help?”
Sy frons verminder met sy woorde. “Ek het kom hoor of jy nie dalk vandag iets saam met my wil gaan eet nie?”
“Ons gaan na die kerk-konsert toe.” Heidi vryf selfbewus oor haar trui. Sy is dankbaar vir die verskoning wat haar ma aan haar gegee het om te gebruik. “Jy hoef regtig nie weer te kom vra nie. Ek het vir my ouma gesê om jou in vrede te laat.”
Hy lag en skud sy kop. “Sien jou dan daar. Totsiens, Heidi.”
Hy draai om en stap weg sonder om weer na haar te kyk. Sy hou hom dop soos hy deur die tuinhekkie stap. Sy hou hom dop tot hy verdwyn agter die koring in met die pad langs. Sy voel die woede weer opstaan binne haar. Sy vlieg op en stap na die kombuis. Ouma Helga is besig met groente skil. Sy weet nie waar haar ma is nie.
“Ben was hier.”
“O.” Ouma Helga hou nie op skil nie.
“Ek het vir hom gesê hy hoef nie weer te kom nie, Ouma sal hom nie weer vra om my uit te neem nie.”
Sy lag vir Heidi. “Meisiekind, jy het nog baie om te leer.”
Sy oorweeg dit om ’n deur toe te gaan slaan. “Ek sal saamgaan vanaand, Ouma. Los my net uit.”
Ouma Helga reageer nie.
Sy skree sag deur haar tande en stap vinnig na haar kamer. Sy maak die deur sag toe en slaan met haar plat hand teen die muur.
Ek haat jou, Werner Ehlers! Ek wil nie hier wees nie!