GROENHEIDE BOEKE

GSSR #4: Die Reeksdigter

— HOOFSTUK 1 —

DIE EERSTE MOORD

Emma Miller

Vir die afgelope drie dae voel dit vir Emma Miller of iemand haar agtervolg. Daar het gereeld angsaanjaende rillings al met haar ruggraat af gekriewel. Soms het sy ’n figuur in die donker gesien, maar wanneer sy ondersoek instel, was daar niks. Daar was vreemde geluide, by die huis en by die werk. In haar motor, op die stoepe van die woonstelblok waar sy woon. Skrikwekkende geluide.

Die geraas by die voordeur laat vrees deur haar hart skiet. Iemand probeer die deur oopmaak. Emma skakel die leefarea se lig af. Haar woonstel is altyd donker, selfs deur die dag. Daar hang swaar gordyne voor die vensters in die leefarea en in haar slaapkamer. Die badkamer het nie vensters nie. Die kombuis het klein vensters met blindings voor. Haar hart slaan teen haar borskas vas. Sy kyk vreesbevange om haar rond. Waarmee gaan sy haarself verdedig? Sy hardloop na die kombuis en ruk ’n laai oop. Sy grou daarin en haal die grootste mes wat sy besit, uit. Haar linkerhand klem daarom. Waar sal sy gaan wegkruip? Die geraas by die deur hou aan. Wie ook al probeer inkom, is nie bekommerd dat iemand gaan hoor nie. Emma begin op haar selfoon na iemand wat sy kan skakel, se nommer soek. Daar is net een persoon aan wie sy nou kan dink. Haar hande bewe so dat sy sukkel om haar foon se raakskerm te beheer met een hand. Sy hardloop na die badkamer en druk die deur agter haar toe. Sy sluit dit en klim in die bad. Die lig is nie aangeskakel nie. Die selfoon se skerm verlig haar gesig. Sy kan niks hoor nie. Net haar eie hartklop en haar tande wat van vrees opmekaar knars.

Juandre.

Dit is al wie sy aan kan dink om te help. Sy klem die mes stywer vas soos sy die foon teen haar oor hou. Dit lui, maar daar is geen antwoord nie.

Asseblief antwoord. Asseblief!

Sy fluister: “Juandre, hier is iemand wat by my voordeur probeer inkom. Help my!”

Wat is die polisie se nommer? ‘Een klein mannetjie, een met ’n boep.’ So is sy as kind geleer. Bestaan die nommer nog? ‘Drie klein mannetjies, dis die polisie se roep.’

Daar is ’n harde slag wat vanuit die leefarea kom. Emma raak benoud. Sy neem kort, vinnige asemhalings. Haar neus brand. Sy hoor voetstappe. Haar liggaam ruk wanneer sy iets hoor val. Sy haal hoorbaar asem. Dit maak nie saak hoe hard sy probeer nie, sy kry nie gekalmeer nie. Angs laat haar bors toetrek. Haar kieste brand. Sy laat die selfoon val en hou die mes met albei haar hande vas. Sy hoor hoe die persoon die badkamerdeur probeer oop­maak. Dit is stikdonker. Sy kan niks sien nie. Daar is net ’n dun gleufie flou lig wat onderdeur die deur skyn. Sy sien ’n skaduwee daar voor beweeg. Dit is koud. Die hele vertrek is koud. Sy trek haarself terug teen die bad se rand. Die persoon begin aan die deur ruk. Harder en harder. Emma druk haar ore toe. Dit voel of sy wil skree, maar haar keel is toegeswel.

Die deur bars oop met ’n slag. Emma verstar. Die donker figuur staan lank bewegingloos. Dalk sien hy haar nie? Sy hou die mes se lem weg van haar, teen haar bors vas. Haar liggaam is al seer van die bewe. Emma kan nie enige karaktereienskappe van die figuur uitmaak nie. Sy kan nie sien wat hy aan het nie. Sy kan nie sien of dit ’n man of vrou is nie. Sy sien net ’n donker figuur, ’n vorm wat donkerder is as die nag se donker. ’n Skaduwee in die vorm van ’n mens. Die skaduwee gee ’n tree nader. Emma trek haar asem hoorbaar in. Die skaduwee gee nog ’n tree nader. Sy wil opstaan. Sy wil die figuur voor haar aanval met die mes wat haar hande seermaak. Sy wil. Sy wil, maar sy kry nie beweeg nie. Sy is te bang. Wat gaan gebeur?

Die skaduwee storm op haar af en Emma skree geluidloos.

· · ·

Alles is donker. Alles is stil. Emma Miller is vasgemaak op haar bed. Haar arms en bene is oopgestrek. Die toue is sterk. Sy kan nie haar bene toemaak nie. Sy kan nie by haar mond uitkom om die band wat daaroor is, af te trek nie. Haar kop is seer. Dit is steeds koud. Ysig koud. Winter koud. Haar kort satynnagrok is opgetrek tot onder haar borste. Haar broekie sigbaar. Haar asemhaling versnel. Wat is besig om te gebeur? Dit voel of sy vasgevang is in ’n nare film. Sy probeer skree, maar die band oor haar mond smoor haar. Sy huil so hard soos wat sy kan, maar hou dadelik op wanneer sy die figuur by haar kamervenster sien staan. Dit was nie ’n paar sekondes gelede daar nie? Sy hoor die voetstappe naderkom. Sy knyp haar oë toe.

Asseblief. Nee!

Die figuur is die vorm van ’n man. Sy houding en skouers gee dit weg. Sy kan nie ’n gesig sien nie. Sy kan nie hare sien nie. Dit lyk of die man ’n baadjie aan het wat te groot is vir hom. Die kappie moet sy gesig bedek, want sy kan dit nie sien nie! Hy klim op die bed en gaan sit wydsbeen bo-op haar. Sy gewig is swaar. Emma huil.

Sy mompel: “Wie is jy?”

Die man praat nie.

Dit lyk nie of die man asemhaal nie. Sy hoor niks.

Die man bring die mes waaraan sy vasgeklou het, te voorskyn. Hy beweeg dit stadig van links na regs voor haar gesig. Sy volg dit met haar oë. Dit is skaars sigbaar in die donker. Hy laat die mes sak en druk dit sag maar voelbaar teen die sensitiewe kuiltjie van Emma se nek. Hy hou dit teen haar vel en trek dit af tot by die kant van haar nagrok. Met ’n vinnige beweging sny hy haar rok stukkend. Emma probeer sluk, maar dit voel of sy gaan wurg. Sy skud haar kop nee. As sy net die man se oë kon sien, kon sy hom smeek om op te hou.

Growwe, koue hande gly onder die nagrok in en vou oor haar borste. Hy druk dit styf. Seer. Hy gooi die nagrok oop en tel weer die mes op. Hy begin weer bo, by die kuiltjie van haar nek en trek die mes af tussen haar borste. Hy laat dit afgly tot by haar broekie. Sy hou haar asem op.

Asseblief, moenie …

Hy klim van haar af. Sy blaas haar asem hard by haar neus uit. Die koue laat haar nippels verstyf. Hoendervleis slaan uit oor haar hele liggaam. Sy soek rond in die vertrek. Sy sien niemand nie. Waar is hy heen? Die streep soos hy die mes oor haar liggaam getrek het, brand. Sy weet nie of hy haar gesny het nie. Dit voel nie of sy bloei nie. Sy probeer tevergeefs weer om los te kom. Die toue sny in haar polse in.

Sy wag. Sy luister. Die nag is stil. Sy hoor niks.

Waar is haar foon?

Het Juandre steeds nie haar boodskap gekry nie?

Dit voel soos ure wat verbykruip. Sy ruk van die koue. Haar neus loop. Sy moet snuif. Die snuif is al wat sy hoor in die wrede donkerte. Waar is hy heen? Gaan hy haar net so los?

Daar is geen manier om te sien hoeveel tyd verby gegaan het voor die figuur skielik aan die voetenent van die bed verskyn nie.

Sy mompel-skree: “Wat wil jy hê?”

Hy loop om die bed en klim stadig daarop. Met haar oë teen hierdie tyd meer gewoond aan die donker, kan sy die mes duidelik sien. Maar sy kan steeds geen besonderhede van die man sien nie. Hy gaan sit weer bo-op haar. Met die agterkant van sy hand vryf hy oor haar klein, stywe bors. Sy hand bewe. Dit huiwer ’n oomblik voor hy dit om haar keel vou. Hy druk dit nie toe nie. Hy bring die mes tot by haar linkeroog. Die greep om haar keel word skielik stywer. Haar oë traan. Sonder dat Emma dit besef, sny die man haar een pols terwyl hy haar wurg. Wanneer sy amper flou word, verslap hy die greep om haar nek en gaan sit regop. Emma voel nie die bloed wat by haar arm afloop nie. Sy sukkel om haar bewussyn te hou. Hy huiwer weer oor haar borste met die mes en sy vry hand. Wanneer Emma kan sien wat gebeur, sny die man haar ander pols oop en skree sy van die pyn. Hy sit die mes tussen haar borste neer en laat sy hande net bo haar liggaam talm. Hy sit lank so voor hy sy hande na haar polse beweeg en dit om die snye vou. Hy druk dit hard. Sy gaan dit nie oorleef nie. Sy weet. Hierdie is hoe sy gaan sterf. In die hande van ’n donker figuur. So, sonder rede. Sonder verduideliking.

Wanneer hy die greep om haar polse verslap voel sy lammigheid oorneem. Sy voel die bloed teen haar arms afloop. Hy vryf met sy vingers oor haar plat maag. Sy verstaan nie wat hy doen nie. Niks maak sin nie.

Hoekom?

Haar asemhaling raak rustig. Haar hartklop stadig. Haar oë word swaar. Die figuur bly bo-op haar sit. Hy raak dowwer. Sy gaan oorgee aan die donkerte. Dit is warmer daar.