GROENHEIDE BOEKE

Heideroos Romanse #15: Verkeerdeveer Liefde

— HOOFSTUK 1 —

Die roomkleurige kat se lang stert swiep-swiep oor die gladde vloer terwyl sy goudgeel oë stip na die draadhokkie op Marilise se skoot staar.

Marilise maak haar been reguit en probeer die kat wegskuif, maar trek dan vinnig haar voet weg as hy sy ore plat trek en sissend blaas. Die voëltjie in die koutjie fladder verskrik van sy stokkie af. Die kat se eienaar sit eenkant, ’n koerant in sy hande, maar sy oë staar nikssiende voor hom uit. Lang hare hang laag oor sy voorkop, slordig asof hy nou net uit die bed geklim het, en hy kort ’n skeer – maar watter man kort nie deesdae een nie? ’n Sensuele mond onder ’n welgevormde, reguit neus. Jonk genoeg om kleintjies te kry as enigiemand bo vyf hom met “Oom” sou aanspreek.

“Meneer!” eis Marilise hard sy aandag. Sy oë kyk vervaard op. Smeulend, bruin, in kontras met die ligte hare. Digte kort wimpers. “Kan u nie u kat in ’n mandjie sit of iets nie? Hy is lastig.”

Die koerant gly op die vloer. Die man byt sy lip.

“Nee. Hy skree as hy toegemaak word.” Sy gesigsuitdrukking word sag as hy byvoeg: “Hy’s baie sensitief.”

Marilise stik amper terwyl sy probeer om die hokkie met ’n snesie toe te maak. Die kat grom hees.

“En wat gaan u maak as iemand hier aankom met ’n rottweiler of so?”

Die man kyk haar verdwaas aan. Liewe land, is hy op dwelms of iets? Tog verskyn daar ’n sweem van ’n siniese trek op sy gesig toe hy stadig sê: “Wel, dan is dit die rottweiler of so se geluk dat hy reeds by die veearts is.” Met blykbare moeite fokus hy en sien die hokkie op haar skoot raak. “Wat het daardie voël oorgekom?”

Hy staan op en kom sit langs haar om beter te kan sien. Die kat spring op sy skoot en begin vol verwagting luidrugtig te spin. Die geel voëltjie met die deurmekaar veredos word skepties betrag. “Lyk asof hy in ’n kragdraad vasgevlieg het.”

“Dis ’n opregte Frill,” sit Marilise hom op sy plek. “’n Verkeerdeveerkanarie, hy moet so lyk.”

“Nè.” Hy skud meewarig sy kop.

Voordat Marilise hom iets kan toesnou, kom ’n vrou met ’n hondjie in haar arms uit die ondersoekkamer en Bets, die ontvangsdame, sê dat meneer Du Toit nou maar kan ingaan. Skielik lyk hy paniekbevange toe hy regop kom, en sonder om hom verder aan Marilise en haar kanarie te steur vou hy sy lang lenige vingers teer om die kat se pens en tel hom op. Hy druk die dier teen sy breë bors en toe hy sy gesig ’n oomblik lank in die geel pels druk, lyk dit kompleet asof sy skouers ruk. Vinnig verdwyn hy na die spreekkamer.

“Is die kat siek?” vra Marilise. Die man is sigbaar ontsteld en haar sagte hart kan nie help om hom jammer te kry nie al is hy onbeskof en het sy kat haar kosbare Twiet as peuselhappie begeer.

Bets kyk op van haar rekenaar.

“Wie?”

“Daardie meneer Du Toit se kat.”

“O dié? Nee, hy’s nie siek nie.”

“Maar die man lyk so … so …

Op dieselfde oomblik word die deur van die ondersoekkamer oopgeruk en die kat se eienaar kom uitgestorm. Sy hand is voor sy mond gedruk en hy kyk nie links of regs nie, maar Marilise sien dat sy oë lek.

“Meneer Du Toit … !” wil Bets nog keer terwyl sy ’n papier in sy rigting hou, maar hy waai sy ander hand afwerend en verdwyn na buite. ’n Oomblik later hoor hulle ’n motor met ’n woeste vaart wegtrek.

“Hy moet nou net nie staan en ’n ongeluk maak nie,’ sê Bets bekommerd.

“Moet die kat … jy weet … ” begin Marilise aarselend, self amper in trane oor die stomme dier wat tog ook nie kan help dat sy onhebbelike baas hom nie ordentlik gesosialiseer het nie.

“Uitgesit word? Haha, nee, inteendeel! Ou Poerewiet is hier vir sy snipsnip, en hoog tyd ook! Glad te hans begin raak, dié kater.”

Marilise se winkbroue skiet onder haar kuif in.

“Maar dis mos ’n klein operasie? My ma laat doen altyd al ons katte. En honde.”

“Maar ek wed jou jou oupa vat hulle nie veearts toe nie,’ knipoog die ander, en na ’n oomblik se nadink sê Marilise: “Jy’s reg, weet jy. Dis altyd ek of my ma. Hoekom?” Dan begin sy giggel. “O.”

“Presies,” beaam Bets en staan op. “Jy kan nou-nou ingaan, ek gaan help dokter net gou om die kat in ’n hok in te kry.” Sy verdwyn haastig in die ondersoekkamer en deur die toe deur hoor Marilise ’n oorverdowende gekrys, ’n pynkreet en ’n paar woorde wat haar laat bloos.

’n Paar minute later kom Bets terug. Met haar een hand trek sy haar wit jas reg, haal die ander hand se middelvinger uit haar mond, kyk of dit nog bloei en sê terwyl sy handig ’n pleister opplak: “So ja, jy kan nou maar ingaan.” Sy tuit veelseggend haar lippe en voeg by: “Hoekom doen jy dit nie sommer self nie, of het jy ’n ogie op die dokter?”

Marilise was nog nie by die veearts wat dokter Serfontein se praktyk oorgeneem nie, en haar ma het met ’n knipoog gesê hy’s jonk en ongetroud en dat sulkes skaars is in die dorp. Maar “Ag, toe!” is al wat sy op Bets se insinuasie antwoord. Sy’s klaar met mans, maak sy haarself wys.

Sy dra Twiet in sy koutjie die ondersoekkamer in. Die hospitaalhokke is direk aan die agterkant en selfs deur die muur is die geel kat se dreigende gegrom duidelik hoorbaar. Sensitief? Ja, reg. So sensitief soos ’n jags leeumannetjie. Tersluiks probeer sy vasstel of die man in die blou jas enige skade opgedoen het, maar daar is darem geen sigbare bloedstrepe nie. Sy skouers gaan net ’n bietjie vinniger as gewoonlik op en af soos hy asemhaal, maar daar is geen teken van bewing in die hand wat hy na haar uitsteek nie.

“Goeiemore, ek is Marius Vermaak. Ons het nog nie ontmoet nie.”

“Ja, ek het gehoor dat Oudok afgetree het. Marilise Oosthuizen, aangename kennis.” Sy skud sy hand, ’n ferm druk sonder die machoïsme wat sy verpes.

“Hoe kan ek help?”

“Sy naels moet geknip word, Dokter.” Gedagtig aan Bets se woorde van nou net sê sy: “Ek behoort dit seker self te doen, maar ek is bang ek maak hom seer.”

“Jy’s reg, dis maar beter om hom in te bring,” bevestig hy sorgsaam. “Kanaries hou nie daarvan om gehanteer te word nie en dit vat oefening om dit reg te doen.”

Hy haal Twiet behoedsaam uit die koutjie en laat hom omgedraai in sy hand lê met die koppie tussen die duim en voorvinger, sodat die voetjies in die lug steek.

“Ja-nee, dis beslis tyd,” sê hy. “Net knip? Geen verdere klagtes?” Terwyl hy praat, begin hy die omgekrulde naeltjies met sy spesiale apparaatjie knip totdat al ses binne ’n ommesientjie weer netjies kort is, en Twiet terug in sy koutjie vies sy deurmekaar veredos probeer regskud. “Pragtig van sy soort,” sê hy waarderend.

“En kerngesond, dankie, Dokter,” beantwoord Marilise sy vraag. “Tot volgende keer dan maar.”

“Totsiens.”

Toe sy by die deur omkyk, is hy reeds besig om haar besoek in die rekenaar te tik. Onbewus lek sy haar lippe af. Die nabyheid van die aantreklike jong veearts het onverwags die verlange na ’n man se arms om haar laat opleef. ’n Dwingende mond op hare. Nadat John Powell verdwyn het was daar nog niemand in sy plek nie, en sy mis hulle, al het sy gesweer sy wil nooit weer ’n man in haar lewe hê nie. Miskien moet sy Marius Vermaak beter leer ken. Sy wonder of daardie etiese kode wat dokters verbied om ’n verhouding met pasiënte aan te knoop ook vir veeartse geld, wat betref die eienaars van pasiënte. Sekerlik nie? Sy wil nie vir Bets vra nie, dan kry dié net hout op haar vuur, maar miskien sal Google help.

Bets kry die bedrag wat sy moet betaal op haar rekenaar en trek haar wenkbroue op.

“Ek sien jy kry afslag, dokter vra jou net vir die konsultasie.”

“Is jy seker?”

“Ja, kyk maar self.” Sy skuif weg sodat Marilise die skerm kan sien. Inderdaad is daar net een bedrag op, en dis minder as die vorige een toe haar ma die voëltjie ingebring het.

“Dis snaaks, hy’t seker ’n fout gemaak. Sit dit by, dan betaal ek sommer alles gelyk.”

Bets skud haar kop. “Nee, dit kan ek nie doen nie, dan maak dit my rekenaar en syne deurmekaar. Aanvaar dit maar as ’n vriendskapstakie.” Sy is besig om die transaksie op haar skerm te voltooi, sodat sy nie ook Marilise se wenkbroue sien opskiet nie. Het die jong dokter dan ook dalk vriendskap in gedagte? Of meer? Sweerlik nie met ’n eerste ontmoeting nie! Hoewel John … haastig stoot sy die naam en die man weg, terug na die verlede waar hulle kan verrot so ver dit haar betref.

Nadat Marilise haar kaart gebêre het en die hokkie met Twiet optel, vra Bets: “Het jy toe die werk gekry?”

Marilise moet ’n oomblik dink, maar kan nie onthou watter werk Bets bedoel nie; daar was so baie aansoeke die afgelope tyd. Een ding is seker, daardie spesifieke een het sy nie gekry nie, want sy is nog steeds werkloos.

“Nee,” antwoord sy, “maar ek gaan vanmiddag vir ’n onderhoud wat baie belowend lyk. Hou seblief duimvas.”

Bets sê sy sal, maar haar oë vernou toe sy Marilise agternakyk by die deur uit. Hulle ken mekaar al van skooldae af en daar het Liesie in haar slaai gekrap. Sy soek nie ’n herhaling nie.