DIE EKSTRA SLEUTEL
Annelize staan in haar donker sitkamer en uitstaar deur die oop gordyne na buite. Die benoude donkerte buite laat haar hardop na asem snak. Sy maak haar oë toe vir ’n oomblik en kyk dan af na haar foon. Sy ontsluit dit, maar daar is geen kennisgewings nie. Sy trek die nutsbalk af, druk op die data-opsie, skakel dit af en tel tot tien. Miskien het haar foon nie opvangs nie.
Hy sou gebel het …
Sy druk op die data-opsie en wag vir die foon om weer voldoende opvangs te kry. Geen boodskappe kom deur nie. Sy loop terug na die kombuis en staar na die muurhorlosie. Kwart-oor-tien. Francois het gesê hy is sewe-uur hier. Francois is stiptelik, hy is nooit laat nie en as iets voorval, laat weet hy vroegtydig. Dit was nog nooit nodig om agter hom aan te bel nie. Die selfoon is warm in haar hande en sy laat dit sorgeloos op die tafel val. Annelize twyfel al vir byna ’n uur of sy moet skakel. Francois sal omgekrap wees as sy hom onnodig lastig val. Sy staar na die leë beker in haar hande. Sy sug en stap na die ketel om haar derde beker koffie te maak.
Onnodig?
Wat as iets met hom gebeur het? Sy probeer haar gedagtes beheer. Daar kon iets voorgeval het. Enige iets. ’n Ongeluk op die snelweg. ’n Pap wiel.
Hy sou gebel het …
Sy maak koffie. Vanoggend het sy met hierdie aaklige gevoel opgestaan. Die laaste keer wat sy so gevoel het … Nee, sy moet nie daaraan dink nie. Sy vou haar hande om die warm beker en neem ’n groot sluk van die soet koffie. Dit is nie dieselfde nie. Dit is nie. Sy maak haar oë toe. Sy sal hom moet skakel. Sy sit die beker langs haar selfoon neer en tel die selfoon op. Sy selekteer sy naam op haar foon en hou dit teen haar oor. Francois se foon lui … en lui en lui …
“Hallo, dis Francois. Laat jou naam en — ”
Sy druk die foon dood. Voicemail.
Sy gooi die foon terug op die tafel en loop vir die hoeveelste maal na die voordeur. Sy maak dit oop en vou haar arms om haarself. ’n Yswind waai deur haar hare. Sy asem diep in, haar longe pyn. Sy is nie seker of dit van die koue lug of die vrees binne haar is nie. Sy slaan die deur toe en loop terug na die kombuis. Sy drink van haar koffie. Sy loop terug na die sitkamer en loer deur die venster. Sy loop terug kombuis toe. Sy drink haar koffie klaar, spoel die beker uit en keer dit om op die afdroograk. Sy sug en tel haar foon op en gaan deur haar foonboek. Sy het Smithy se nommer. Francois het dit nog op haar foon gestoor. Dalk is hy nog dáár.
“Hallo, Annelize?”
“Ja, hoe het jy geweet … um, hallo, Smithy, ek het gewonder of … um, Francois dalk nog daar is?”
In die stilte wat volg hoor sy haar eie hart in verwagting klop.
“Is hy dan nog nie by jou nie?”
Hy klink bekommerd.
“Nee. Hoe laat het hy by jou gery?”
Weer ’n paar tellings van stilte voor hy antwoord.
“Halfses of so. Annelize?”
“Dis seker niks nie. Hy het seker ’n pap wiel gekry en sy sel iewers neergesit.”
Weer stilte.
“Het hy jou gesê waarheen hy gaan?”
Hierdie keer antwoord Smithy dadelik. “Na jou toe. Hy’t gesê hy moet sewe-uur by jou wees. Annelize, moet ek — ”
“Dis seker niks nie, Smithy. Laat ek eers nog ’n paar mense bel.”
Haar hande bewe. Naarheid stoot op in haar maag. Sy sluk dit terug. Sy moet rustig bly.
“Annelize, bel die mense. Ek gaan solank die pad na jou toe volg. Ek was mos al daar saam met Francois.”
“Dankie, maar ek is seker dit is niks nie.”
“Steeds. Laat weet asseblief as jy iets gehoor het.”
“Dankie.”
Sy skakel dan vir Francois se ma en sy suster, Karla, en sy skakel sy woonstelmaat, maar al wat sy regkry is om meer mense op hol te jaag. Sy vryf haar hande deur haar hare. Moet sy net wag? Moet sy weer bel? Moet sy by die deur uithardloop straat-af en hom gaan soek?
Sy onderdruk ’n skree, laat sak haar hande en vou dit saam onder haar ken. Die koue is besig om haar binne te dring. Sy maak nog ’n beker koffie en gaan sit by die kombuistafel.
Waar is die naaste hospitaal?
Nee! Sy moet nie so dink nie. Nie nou al nie. Daar moet ’n goeie rede wees waarom hy nog nie hier is nie.
Annelize skrik vir die klop aan die voordeur en mors van haar koffie. Haar liggaam is al seer van die bewe. Sy sit die beker op die tafel neer en moet haarself inhou om nie na die deur toe te hardloop nie.
“Smithy?”
Die lang, blonde man met sy grysblou oë wat voor haar staan, lyk bleek onder die stoeplig.
“Wat is dit?” Haar hand klem om die deur.
“Niks.” Hy trek sy skouers op en vryf oor sy nek. “Ek weet nie waar hy kan wees nie.”
Sy dwing haar hand los van die deur en tree terug. “Is dit nie goeie nuus nie?”
Hy kyk haar ’n paar sekondes in haar oë, voor hy sy blik laat sak en die huis binne tree. Hy loop ’n paar tree verby haar, voor hy gaan stilstaan en na haar draai. “Het niemand hom gesien nie?”
Annelize sien dieselfde bekommernis wat in haar is, in Smithy se oë. Sy skud haar kop liggies. Sy het nog nie die deur toegemaak nie. Die wind is koud.
“Annelize, ek dink ons moet … ons sal die hospitale moet begin bel. Hy het ’n mediese fonds en — ”
Sy wil dit nie hoor nie en keer vinnig: “Nee! Ek … ek’s seker hy sal nou enige tyd hier wees.”
Hy tree nader en rus albei sy hande op haar skouers. Dit voel swaar en warm.
“Annelize.” Sy stem is kalm en gevul met omgee. “Dit is al na elf, ek weet jy wil nie daaraan dink nie, maar ons moet begin aanvaar dat daar dalk — ”
“Nee!”
Sy ruk los van hom en loop tot op die stoep. Sy weet hy het haar gevolg, maar sy kyk nie na hom nie.
Sy fluister: “Nee.”
Sy knyp haar oë toe.
Asseblief nie …
Sy asem in, ruik hom en wanneer sy haar oë oopmaak, staan Smithy voor haar. Sy hande in sy bruin jas se sakke en sy gesig is bleek.
“Annelize, kom ons gaan in uit die koue. Ek sal bel.”
Hy haal sy hand stadig uit sy sak en hou dit na haar. Sy pers haar lippe saam om die wantroue te onderdruk. Sy wil nie aanvaar dat iets met Francois kon gebeur het nie.
Wanneer dit vir hom duidelik is dat sy nie sy hand gaan vat nie, vou hy dit om haar elmboog en stoot haar die huis in. Hy maak die deur agter hulle toe en help haar om by die kombuistafel te sit.
“Het jy ’n foonboek?”
Sy skud haar kop terwyl sy pleitend na hom kyk.
“Dis OK, ek google gou.”
· · ·
Na Smithy die derde hospitaal geskakel het, staan Annelize woordeloos op en begin om vir hom koffie te maak. Hy praat eers met haar wanneer sy dit voor hom neersit. Onrus duidelik in sy stem.
“Ek ken hom al sewentien jaar. Ek was dertien, hy was twaalf jaar oud toe my ouboet met Karla begin uitgaan het. Toe hy hoërskool toe gekom het, het ons mekaar reeds geken en ons het mekaar verstaan, is sedert dan al beste vriende.”
“Hy sal nou hier wees, Smithy. Jy sal sien.”
“Dis twaalfuur, Annelize. Vyf ure. Ken jy hom so?”
Sy antwoord nie. Haar ken bewe.
“Ons sal môre-oggend polisiestasie toe moet gaan. Sal jy reg wees hier, of moet ek jou iewers heen neem?”
Sy kyk lank na hom. Sy wil nie alleen wees nie. Sy sal nie die gedagtes kan keer nie. Die woorde gly vanself uit haar mond.
“Hy … ons wou verloof raak. Hy’t my laasnaweek gevra.”
“Annelize.”
“Daar kan nie iets met hom gebeur het nie. Ek … wat sal ek sonder hom doen?”
Hy staan op en loop tot by haar.
“As hy nie in die hospitaal is nie, waar is hy dan?”
“Annelize, ek wil jou nie alleen los nie. Wie kan ek bel?”
Sy voel die trane nadersluip en draai weg van hom. Francois is haar lewe. Haar ouma het haar grootgemaak. Sy is drie jaar gelede oorlede. Sy het niemand oor nie. Sy het Francois ’n jaar gelede ontmoet en hy het haar wêreld weer aanmekaar begin bou.
“Annelize?”
Sy sluk en draai na hom. “Ek sal reg wees. Moenie oor my bekommerd wees nie.”
“Is jy seker?”
Sy knik. Sy weet haar stem sal weggee dat sy eintlik los wil breek in trane.
“Goed. Ek kry jou môre-oggend halfagt, dan gaan ons saam polisiestasie toe. Laat weet as iets opduik voor dan.”
Sy kyk op na hom. Sy voel genoodsaak om aan hom vas te klou. Sy wil nie alleen wees nie.
“Smithy.”
Sy hande is in sy sakke. Daar is ’n frons op sy voorkop. Sy sal moet sterk bly.
“Dankie, ek loop gou saam na buite.”
· · ·
By die polisiekantoor klou Annelize aan Francois se ma vas. Sy is nie seker wie hou vir wie regop nie. Sy loer onderlangs na tannie Elanie, wie meer na ’n wrak lyk as wat Annelize voel. Tannie Elanie het nog nie ’n woord gesê nie. Karla klou aan haar man se arm, wie saam met Smithy al die praatwerk doen. Die konstabel wat die verklaring afneem, lyk nie geïnteresseerd in wat hulle sê nie. Annelize weet nie wat hulle sê nie. Sy knik net wanneer Smithy na haar kyk en sy knik ook net omdat Smithy effens met sy kop knik. Die konstabel verdwyn en kom na lank terug met ’n geskeurde papiertjie in sy hande waarop ’n nommer gekrap is. Smithy neem dit, staar daarna en hou dit dan na Karla uit.
Annelize kyk op haar polshorlosie. Twaalfuur. Sy sukkel om te begryp waar die dag heen is. Francois se ma en Karla was al voor sewe by haar. Sy was toe lank reeds op. Sy kon nie slaap nie. As sy wel aan die slaap geraak het, het sy vreeslike nagmerries gehad.
Twaalfuur.
Waar is Francois?
Die drukkie waarmee tannie Elanie vir Annelize groet, is meningloos en Annelize weet nie van wie se kant af die gebrek aan emosie is nie. Sonder dat sy besef, vou Smithy se hand weer besorg om haar bo-arm en trek hy haar sag agter hom aan na sy motor. Sy klim in en vou haar hande saam op haar skoot. Smithy praat nie met haar nie. Sy sou in elk geval nie besef het as hy het nie, want dit voel asof hulle eintlik besig is om ’n dag te mors. Moet hulle nie vir Francois gaan soek nie?
Waar sal hulle hom soek?
Sy skrik toe Smithy vir haar die deur oopmaak. Hy hou sy hand uit na haar en sy neem dit sonder twyfel. Hy het haar nog heeldag woordeloos ondersteun, met onrus in sy oë. Sy sluk swaar en staar op na hom. Sy onthou dat Francois hom vertrou het en probeer glimlag wanneer hy vra: “Is alles reg, Annelize?”
Die dag is warmer, maar die wind is besig om weer op te kom. In die son is sy hare die kleur van heuning met ligter strepe. Sy oë is blouer, soos die trui wat hy aan het.
“Ja, dankie.”
Maar alles is nie reg nie. Dit voel asof iets om haar hart gaan sit het en dit stadig, bietjie vir bietjie toedruk. Elke keer wat haar hart klop, voel dit moeiliker.
“Gaan jy inkom vir koffie?”
“Sal lekker wees, dankie.”
Hy los nie haar hand soos hy sy motor sluit en hulle saam tot op die stoep stap nie. Sy trek haar hand uit syne voor die deur.
“Ons sal hom kry, Annelize. Hy kan nie net verdwyn het nie.”
Sy wonder of haar gesig die bekommernis wat in haar woed, weggee. Dit is asof hy weet hy moet haar heeltyd daaraan herinner dat Francois reg sal wees. Elke keer as sy net wil begin wegsak in haar vrees, trek hy haar weer regop.
Sy draai na die deur en haal haar sleutels uit haar handsak. Sy probeer glimlag, maar daar verskyn ’n ligte frons tussen haar oë in stede. Sy hou haar sleutels in haar hande en haar oë staar daarna. Sy hoor Smithy haar naam noem, maar reageer nie.
Aan haar sleutelbos is ’n ekstra sleutel.
Sy tel die sleutels. Een vir die veiligheidshek. Een vir die voordeur. Een vir die kombuisdeur. Sy tel die ekstra sleutel op sodat die ander na onder hang en draai dan na Smithy.
“Wat is fout?”
Sy skud haar kop liggies. Sy kan nie onthou dat sy die sleutel aan die bos gesit het nie. Sy kan nie onthou dat sy al ooit die sleutel gesien het nie! Sy staan steeds met die sleutel in haar hand.
Smithy tree nader. “Annelize?”
“Die sleutel.”
Hy frons. Hy haal sy hande uit sy sakke en neem die sleutels by haar. “Wat van die sleutels?”
Hy hou dit oop in sy hand.
“Nee, dié sleutel.” Sy tel dit uit sy hand aan die ekstra sleutel. “Ek weet nie waar dit vandaan kom nie. Ek … ek het dit nie aan die bos gesit nie.”
Hy vat dit weer by haar en draai na die son. Sy loop om hom. Hy bestudeer die sleutel asof hy vir iets soek.
“Is jy seker, Annelize?”
Sy knik. Sy het nog nooit vantevore die sleutel gesien nie.
“Dit lyk soos ’n sleutel van ’n slot … of ’n kissie.”
Sy vat dit terug by hom.
Wie sou dit aan my sleutelbos gesit het?
Francois!
Maar hoekom?
Wanneer?
“Annelize?”
“Iets voel nie reg nie. Ek weet nie wat nie, maar iets voel nie vir my reg nie.”
Hy staan vir lank na haar en staar. Hy staar asof die vrae in haar kop deur sy gedagtes ook hardloop. Hy vryf oor sy nek en gesig.
“Kom ons gaan in. Dit help nie om hier te staan en wonder nie.”