GROENHEIDE BOEKE

Heideroos Romanse #18: Groen Skoene

GROEN SKOENE

Die houtskoolkleurige SUV wat voor haar ry, irriteer haar nou al vir kilometers aaneen. ’n Mercedes-Benz EQC400. Wat van ’n kar is dit? Sekerlik meer werd as vyf jaar se salaris! Die ruite is verdonker. Aan die agterruit vasgeplak is van daai plakkerfamilies. ’n Man wat met ’n golfstok in sy hand staan asof hy pas die US Open gewen het. Langs hom is ’n vrou geplak wat ’n tennisrakket vashou. Die plakkervroutjie se romp is so kort dit krap vir Marlene net verder om. Seker een van daai ‘suburban’ huisvroue met ’n perfekte lyf en perfekte man en perfekte kinders wat nooit die bure se vensters met ’n klip sal uitgooi nie.

Die Mercedes SUV rem onverwags en sy moet haarself keer om nie op die toeter te lê nie. Dan trek die motor weer voor haar uit en terwyl haar bloed kook skakel sy haar Toyota Etios se radio af. Miskien is dit ook goed dat sy so gedwing word om op te let op die pad voor haar. Sy het stilgehou op Harrismith, maar sy het nog driehonderd kilometer om te gaan voor sy by haar bestemming kom en sy is reeds weer uitgeput.

Marlene bestudeer die plakkers verder wanneer sy geforseer word om by die spoedgrens te hou agter die Mercedes. Drie kinders. Nes sy vermoed het. Vroulief is dalk swanger met die vierde? Twee seuns en ’n dogter. Die oudste seun hou ’n kettie vas. Die dogtertjie lees en die kleuter bou blokkies. Genade, dan is daar ’n hond, ’n kat, ’n papegaai in ’n hok en ’n vis in ’n bak. Propvol familie. Soos dit seker veronderstel is om te wees.

Sy sug en skakel maar weer haar radio aan. Sy trap op die spesiale plekkie wat daar is langs die pedale onder vir ’n voet om op te rus en skuif haarself reg in haar sitplek. Dit is swaar om so vêr pad alleen te ry. Sy stel die radio harder om te luister na Fleetwood Mac en probeer vergeet van haar gebroke hart wat al vir byna ses maande sukkel om te klop.

Hoe is dit moontlik om te oorleef as elke asemteug seer is? Hoekom wil mens dan steeds asemhaal? Kan jou brein nie vir jou liggaam net sê “HOU OP!” nie? Dit is seer. As iets seer is, is daar fout. Dit moet reggemaak word.

Haar ma sê die see sal help om dit reg te maak. Alles sommer so namens haar gereël. Nie eers gevra of het sy die finansies nie. Wel, seker kan daar aangeneem word dat die finansies daar is aangesien sy dwangbeveel is om pakket te neem. Sy rol haar kop in die rondte om haar nekspiere te rek. Die SUV hier voor haar begin alweer stadiger ry. Junior het altyd stadig gery. Elke vergadering waarnatoe sy hom moes vergesel, elke geleentheid, hy het byna nooit bo honderd kilometer per uur gery nie. Nie eers op die langpad as hulle moes oorslaap vir een of ander opgemaakte rede nie.

Die pad verander in twee rybane en Marlene laat nie op haar wag nie. Sy moet wegkom van hierdie Mercedes-familie. Dit herinner haar net aan wat sy amper gehad het, maar moes opgee. Teen haar wil … nie omdat sy nie ’n familie wil hê nie. Sy wou. Met haar hele hart. Sedert haar pa oorlede is, was dit net sy en haar ma. Haar ma se familie het hulle ingeneem en betrek by alles, maar dit is steeds nie dieselfde as om ’n gesin te wees nie. ’n Gesin met ’n hond en ’n kat en ’n voël en ’n vis. Iemand om jou lief te hê, vas te hou en te sê dat alles sal reg wees.

“Byt net vas, hy is lief vir jou. Alles sal reg wees.”

Haar ma se woorde weerklink die kar vol en sy skakel die radio weer af.

“Alles sal reg wees.”

Dalk moet sy nie daardie woorde gebruik om haarself te troos nie. Niks voel ooit reg nie, maar as mens terugkyk is alles reg. Miskien is alles nie reg nie, dit is net verby en omdat dit verby is, is dit makliker om te aanvaar. Sy is nie seker of sy sal kan aanvaar wat Junior gedoen het nie.

“Alles sal reg wees. Hy is lief vir jou.”

Oom Matt het gesê die woonstel is hare tot einde Februarie. Daar is net besoekers geboek vir die eerste week in Maart. Tannie Dana se heup pla, hulle gaan nie hierdie Desember, soos dit ’n jaarlikse tradisie is vir solank sy kan onthou, op Pumula deurbring saam met sy gesin nie. Hulle gaan by sy seun in Groenkloof tuisgaan om nader aan die hospitaal daar te wees. Sy moet net die honde kos gee en die ape van die lemmetjies weghou vir hom, verder mag sy ontspan.

Die Suidkus is dalk net die medikasie wat sy nodig het, het haar ma namens haar besluit en sy moet bieg … sy het baie verlang na die southeid wat so taai kan saampak om jou lippe.

As hierdie lastige Mercedes net wil padgee. Sy gaan maar links verby. Sy konsentreer om nie te kyk na die perfekte familie wat seker vir haar sit en aangluur nie. Dit is tog so kinderagtig wanneer iemand jou verbyneem as hulle jou so uitkyk asof jy sonde pleeg deur by die spoedgrens te hou. Sy wil nie nou, net omdat sy haastig is om haar voete in die seesand te druk, een van daardie oordeelagtige mense wees nie. Genadiglik besluit die Mercedes nie om in ’n hoofweg-wedren betrokke te raak nie en sy kan met gemak in die truspieël aanskou hoe daar nog motors tussen hulle inkom.

Tussen hulle. Wie het werklik tussen haar en Junior gekom? Sy nuwe verloofde of sy bevordering na junior vennoot. Hy het hard gewerk vir daardie titel. Sy ook. Aande en aande om, vir hom. Sodat hy bevorder kan word en hulle verhouding ernstig mag wees.

Dit is seer om asem te haal. Sy wonder of die sout wat in die lug hang by die see die rouheid in haar longe sal genees? Sout maak mos wonde skoon en help dat dit vinniger gesond word. Haar ma is seker reg. Al is die pad ver en alleen en moet sy seker weer aftrek by die volgende vulstasie, sal die Desember-blaaskans die moeite werd wees.

Sy sluk wanneer die bordjie lees Van Reenen’s Pass. Sy sal dit seker eers moet aandurf voor sy stop. Netnou verloor sy moed en draai om. Opdraandes en afdraandes. Hoë afgronde. Sterk wind. ’n Spoedgrens teen ’n afrit wat jou wiele wil laat rol maar jy moet rem. Jy moet rem want een verkeerde beweging gaan jou laat tuimel … af en af en af met die afgrond af tot jy stukkend en gebreek op die vloer lê en wonder hoe jy hier geland het.

Miskien was sy nie só stukkend nie. Dit is dalk die probleem. Binne bloei sy, maar aan die buitekant is sy koel en kalm en verstaan sy hoekom Junior haar gelos het. Miskien het die gebreekte hart en die swere in haar longe meer te doen met die feit dat sy haarself verloor het, as die feit dat sy haar hart verloor het. Miskien het sy nooit eers haar hart gegee nie, want dit was nooit daar om te gee nie … sy het dit dalk heel moontlik al lankal verloor. Dit is hoekom dit so seer is. Want dit is seer daar waar haar hart moet wees. As haar hart in haar bors was, was dit dalk ’n gekonsentreerde seer. ’n Fokuspunt. Dan sou dit dalk nie so gebrand het as sy inasem nie.

Wat wou sy word op skool? Sy weet daar was iets waarvan sy gedroom het …

Net voor sy haar flikkerlig aansit om af te draai by die vulstasie, kom dieselfde Mercedes wraggies verby gejaag en druk tussen haar en die vragmotor voor haar in. Sy flikkerlig bly aan. Hoekom doen mense dit? Hoekom verbyjaag as jy wil afdraai? Hoekom jaag … hoekom iets jaag wat nooit op jou lys was nie?

Sy skud haar kop en ry verby die Mercedes wat by ’n petrolpomp stilhou. Sy sit vir ’n oomblik in haar motor voor sy uitklim. Die son is op en sy trek eers haar trui uit voor sy na die ruskamers stap.

Terwyl sy haar hande was, staar sy na haarself in die spieël. Sy is alleen hierbinne. Die meeste mense se verlof het nog nie begin nie … die pad en die strande sal eers van volgende week af begin besig raak. Teen daai tyd sal sy seker al haar dink kon dink. Wie weet. Miskien onthou sy binne ’n paar dae en dan kan sy huis toe gaan en van voor af begin. Sy moet net weet waar sy wil begin.

Sy rek haar bruin oë groot om te sien of daar groen in is. Daar is, soos altyd as sy moeg of hartseer is. Hoe meer sy huil, hoe meer groen is om die iris se randjie. Bruin oë is gelukkige oë. Dit was jare laas net bruin. Sy trek die rekkie uit haar hare en trek haar vingers daardeur. Daar is enkele gryshare wat silwer skyn tussen die donkerbruines. Sy tel dit op en glimlag vir die rooi wat besig is om uit te groei. In werklikheid is dit nie meer rooi nie, maar ’n ligtebruin kleur wat dit laat lyk of sy ’n tipe van ombré probeer het. Ten minste sal niemand haar kan beskuldig dat sy vervelige hare het nie.

Sy buk vooroor en maak dit oor vas met ’n los bolla reg bo-op haar kop. Sy probeer glimlag, maar dit is moeite en sy vergewe haarself dat sy nie eers vir haarself kan glimlag nie. Nie eers halfpad nie. Dit is net te veel werk.

Sy spoel haar gesig af en laat die druppels stadig op haar hemp drup …

· · ·

Die winkel is stil. Sy loop rak op en rak af. Haar gunsteling om te eet – haar ‘go to’ – is sjokolade. Sy is nie nou lus daarvoor nie. Sy neem ’n pakkie Wine Gums, ’n boksie Smarties en vir die wis en die onwis ’n sak Whispers. Daar is nog water in die kar. Sy kan in elk geval nie so baie drink nie, want dan moet sy net meer stop vir die toilet. As sy hier ry, wil sy deurry tot ten minste Amanzimtoti.

Terwyl sy staan en wag vir die kaarttransaksie om deur te gaan, sien sy die ongeskikte SUV wegry en besluit sy sommer om vir haar ’n roomys te gaan koop by Steers. Sy wil asseblief tog net nie weer agter daardie voertuig beland nie. Dan loop sy eerder nog draaie hier.

· · ·

Sy ruik die see lank voor dit sigbaar is. Dit is daai rotsreuk wat jou reuksintuig bespring asof dit ’n kraak in jou hart vul soos ’n kraak in droë grond met reënwater gevul word. Volgende keer sal sy sorg dat sy nie bestuur nie, sodat sy soos kleintyd haar oë vasgenael op die horison kan hou om seker te maak sy sien éérste die see!

Die see wat meteens net daar is. Die een oomblik soek jy nog daarna, die volgende oomblik is dit onmisbaar. Dalk moet sy net gou stop, net gou hallo sê?

Sy kry dit reg om vir die see te glimlag. Na soveel ure is dit beter om by die plan te hou. Sy tel haar foon op, gaan op WhatsApp in en kies die gesprek tussen haar en haar ma, wat heelbo lê. Sy hou die stemboodskapknoppie in en sê: “Ek sien die see, Mamma. Laat weet asseblief vir oom Matt die bordjie wys Port Shepstone is agt-en-negentig kilometer.”

Die see loer kort-kort of sy nog reg is en elke keer voel sy haar asemhaling verbeter. Die seelug alleen maak dit makliker om te lewe. Die gestoei na rede is vir eers op die agtergrond van haar gedagtes. Al wat daar nou is, is opwinding. Sy soek haar tone in die sand en sy smag na die taaiheid op haar vel!

· · ·

Oom Matt het ’n plat pethoed op, amper soos daai wat die golfspelers dra. Syne is net mooi grys met ligte strepies. Sy blou oë is warm en die drukkie wat sy by hom kry laat haar haar oë styf toeknyp in die hoop dat die trane dan sal wegbly. Hy hou haar ’n rukkie langer vas en laat haar gaan.

“Goed gery?”

“Die pad was stil. Daar was veel minder vragmotors as wat ek verwag het. Almal het gesê ek gaan hel hê by Durban, maar daar was nie probleme nie.”

“Wonderlik. Jou tannie is in die kamer, gaan groet jy. Ek dra jou bagasie solank in.”

Sy kry vir haar oom ook geglimlag en soek dan haar pad deur die onbekende huis na die kamer. Die kamer het ’n groot glasskuifdeur wat uitkyk oor die see. Tannie Dana lê en glimlag. Sy sien nou dat sy hulle op die stoep kon sien. Die plante versteek die ingang, maar belemmer nie die uitsig nie.

“My kind!”

Sy buk af en gee haar tannie ’n vinnige drukkie. “Dis darem ’n ongelooflike uitsig?”

Sy skud haar kop ja. “Dra my deur elke dag. Dit en God se genade, natuurlik. Word elke oggend bevestig deur die sonsopkoms. As jy dit wil beleef, gaan sit by die swembad, hoor! Dan het jy ’n breër uitsig oor die water.”

“Dankie, Tannie. Ek sal dit onthou.”

“Jy eet by ons vanaand. Kom so vyfuur.”

Marlene knik en soek dan weer haar pad uit. Sy waai na haar tannie wanneer sy verby die deur op die stoep loop om na die woonstel wat aan die huis is, te gaan. Die sitkamer is klein en snoesig. Daar is twee rooi enkelbanke en een dubbelbank. Die TV staan op ’n laaikas en daar langsaan is ’n boekrak. Die kombuis is oopplan en oom Matt kom by ’n deur uit wat seker na die slaapkamer gaan.

“So ja, jou tasse is voor die bed. Daar is sleutels vir die deur in die kamer ook. As jy wil strand toe, draai net regs onder by die grootpad en hou reguit tot jy ’n bordjie sien wat lees Voetplaatpark. Ek stel dit voor vir nou. Dit is veilig en mooi en daar is ’n eetplek ook.”

Sy kry weer ’n drukkie en dan word sy alleen gelaat. Maar dit is reg, want waar sy in die sitkamer staan kan sy die see sien. Wild en vol perdjies. Haar hart klop vinniger. Sy is hier! Alleen. Oom Matt en tan’ Dana ry oor twee dae. Die honde is ’n Franse poedel en ’n ou Jack Russell. Hulle ruik aan haar voete en besluit dan om hulself tuis te maak op die bruin matjie voor die TV.

Haar oë soek weer die see. Piepie en sonblok, dan is dit ek en jy!

· · ·

Sy los haar plakkies in die kar. Sy vat net haar selfoon en motorsleutels wat sy in haar broeksakke druk. Die karwag groet vriendelik in Engels, maar die aksent is vreemd. Daar is tot haar verligting nog motors wat rondstaan en die eetplek is besig. Die kos ruik heerlik! Sy kan nie nou eet nie, anders gaan sy sukkel vanaand. Die vroue wat op die sypaadjie sit by die trappies wat aflei strand toe, groet met oorgawe.

“Hats fifty rand. Dresses one-twenty.”

Sy kan nie die res hoor nie. “Thank you, not today.”

Die volgende vrou het presies dieselfde voorraad en dieselfde pryse en Marlene lag hardop. As sy sou wou koop, hoe gaan sy kies tussen die twee?

Die branders breek bereidwillig teen die onroerende strand. Die rotse staan vas teen die houe van die see en die rotspoel se water is so skoon en stil. Sy kan die gebreekte skulpies daarin sien. Sy loop nie na waar die wit pale met rooi-en-geel vlaggies aanwys waar dit veilig is om te swem nie. Sy stap anderkant toe. Nie te ver weg van die ander mense nie, net daar waar sy met haarself hardop kan praat sonder dat iemand gaan hoor. Sy loop tot die eerste brander oor haar voete spoel en sy insak tot haar enkels, dan kyk sy op.

“Hallo, See.”

Die volgende brander breek en sy sak dieper in. Sy keer nie die soutwater wat uit haar oë loop nie. Dalk is dit goed vir haar vel as haar trane en die seesproei meng. As haar foon en sleutels nie in haar broeksakke was nie, sou sy nou plat gaan sit het sodat die water bo-oor haar kan spoel.

Dalk spoel die see haar hele wese skoon en kan sy sommer letterlik skoon begin.

· · ·

Eers wanneer dit voel dat die sonblok nie meer die son afweer nie en haar maag vir haar grom dat sy moet onthou om te eet, besluit Marlene dat sy diepgenoeg in die seesand gesak het. Sy tree met moeite uit en besef dan eers hoeveel die seevlak gestyg het sedert sy hier kom staan het. Haar bene is skoon moeg van die gestoei om regop te bly staan. Haar hele liggaam is moeg van die gestoei om regop te bly – want eintlik is haar hart mos nie gebreek nie. Sy en Junior was nie in ’n vaste verhouding nie. Hulle was net medewerkers. Die soene wat hy haar mee bederf het wanneer hulle alleen was, was net om dankie te sê vir haar harde werk met sy voorleggings. Die drukkies en komplimente en beloftes was vir “eendag” of “sodra ek my lewe agtermekaar het”. Toe is sy eendag nie bedoel vir haar nie en sy stoei daagliks om te vergeet dat sy haarself gebluf het, nie Junior nie. Sy. Sý het vir haarself gejok.

· · ·

Marlene moet versigtig die erf inry, want dit kom voor asof die honde nie gewoond is aan motors nie. Sy parkeer onder die afdak en stap af na die voordeur. Mens sal in elk geval nie by die agterdeur kan inkom nie. Daar is seker sestig sentimeter spasie tussen die dak en die grond agter én dit is toe met ysterdiefwering.

Oom Matt wag vir haar op die stoep. Of miskien het hy net hier gesit en uitkyk oor die see, want daar staan ’n koffiebeker langs hom op die tafeltjie.

“Honger?”

Sy knik.

“Kom. Ons wil vroeg slaap. Het jy die strand maklik gevind?”

· · ·

Die gordyne is nie baie dig nie en nog voor die ape op die dak spring of die hadidas goeiemôre skree, is Marlene al wakker, maar sy staan nie op nie. Sy bly lê. Sy het nie haar oom-hulle hoor ry nie. Sy gaan nie vanoggend ’n strand soek om die son te sien opkom nie, sy sal net nou-nou koffie maak en op die stoep gaan sit. Haar foon wys dit is net na vier. Die son kom blykbaar tien-voor-vyf op. Dalk as sy ’n kussing oor haar kop trek, kry sy verder geslaap …

· · ·

Wanneer Marlene weer wakker word, is alles in die woonstel verlig. Skynbaar het sy weer aan die slaap geraak. Dit is goed. Haar liggaam is oormoeg van al die bestuur. Sy staan sleepvoet op en gaan maak koffie. Buite is dit bewolk en windstil. Die see is ’n lieflike aqua-blou. Half tropies. Die twee enkele palmbome in die uitsig help die tropiese gevoel aan. Voor sy gaan sit, loer sy om die afskorting om seker te maak haar oom-hulle is weg. Die gordyne is toegetrek. Sy gaan sit op die rottangstoel en rus haar voete op die tafel. Die koffie hou sy vas asof dit meer werd is as goud.

Sy asem diep in en blaas die tweedehandse seelug stadig uit. Iewers twiet daar voëltjies, maar sy hoor geen voertuie nie. Iewers het sy gelees mens kan sestig kilometer die see in sien. Daar is ’n vragskip duidelik sigbaar nader as sestig kilometer.

Sy moet gaan inkopies doen.

Eers gou weer vir die see gaan hallo sê.

Om met die see te praat, moet jy haar kan hoor. As Marlene haar oë toemaak, hoor sy branders breek, maar sy hoor ook die voëls en haar eie asemhaling en die honde wat in die agterhuis skarrel.

Liewe Vader, sy moet tog net nie vergeet om die honde kos te gee nie!

Om met die see te praat, moet sy al wees wat jy hoor. Brekende branders wat doelgerig oor jou voete breek en jou kans gee om jou hart leeg te praat, sonder woorde. Want sy kan hoor, solank jou voete net gegrawe is in haar sand.

· · ·

Eers strand en dan winkels. Die naaste supermark is in Umtentweni. Sy sal kyk na die bordjies en die kaart wat in die woonstel is en dalk môre die sonsopkoms by ’n ander strand aandurf. Sy koop vis en tjips vir ontbyt. Die mense is Engels maar vriendelik en sy besluit dat sy volgende keer sommer net haar skoene by die woonstel gaan los, want sy stap kaalvoet die supermark in.

Die uitleg is verwarrend en sy loop die helfte van wat sy soek mis. In die omdraai proses stoot sy haar waentjie teen ’n knorrig man s’n vas. Hy kyk haar stip aan. Daar roer nie ’n spier op sy sterk gesig nie. Sy hare is swart en kort aan die kante. Dit is na agter gekam en dit bring die bruin in sy hartseer oë uit. Hartseer oë? Iets aan sy oë laat hom hartseer lyk – dalk die sakkies wat dik daaronder pof. Maar sy mond bly ’n streep al glimlag sy haar grootste vals glimlag.

“Ek is so jammer.”

Hy beweeg steeds nie. Hy het ’n helder-oranje golfhemp aan, denim en donkerbruin skoene wat lyk soos loafers. Maar die loafers beweeg nie, hulle bly vas staan. Sy glimlag skuldig en trek haar waentjie terug. Sy waag nie weer praat nie, want soos sy om hom loop, verhard die hartseer in sy oë en gluur hy haar aan asof sy iets uit sy waentjie gegaps het. Sy vat sommer drie sjokolades, want sy voel skuldig oor veel meer as net die supermark ongeluk.

En buite word sy wraggies amper omgery deur ’n houtskoolkleurige SUV. Sy drafstap met die pakkies in haar hand om weg te kom agter die Mercedes en sien, tot haar spyt, dat die blêrrie EQC400 met sy plakkerfamilie ook hier kom vakansie hou het!

· · ·

Voor sonsopkoms hou sy stil by Voetplaatpark. Daar is net nog een ander motor en geen karwag nie. Sy kyk om haar rond. Dit is al lig en die horison glinster rooi. Sy druk haar selfoon in die paneelkassie, klim kaalvoet uit en maak seker die motor is gesluit. Ver onder op die strand sien sy mense stap. Sy gaan sit op die sementbankie wat uitkyk oor die see. Haar hande druk sy in haar baadjie se sakke. Anderkant toe is daar iemand wat met sy hond stap. So hier is redelik mense, al is hier nie motors nie.

Die branders breek onder rof teen die rotse en binne die rotspoel in en skep ’n voorbereide skildery vir die son wat sy warm strale oor die water gaan vrylaat. Seker moes sy dit eintlik afgeneem het. Sy kon dit altyd later op Facebook laai. Junior en … wat is haar naam nou weer? Iets met ’n L. Tien teen een traak dit hulle glad nie dat sy nou agthonderd kilometer weg is van hulle nie. Dalk sal dit hulle net genot verskaf. Sy wil hulle nie genot verskaf nie. Sy wil hulle niks verskaf nie. Sy wil wraggies waar net van hulle vergeet.

Maar sy moes dit dalk afgeneem het. Dit is nou te laat. Geen wonder daar word gesê die oggendstond het goud in die mond nie, want die lyn tussen water en lug verkleur letterlik na goud. ’n Mooi goud. ’n Warm, gloeiende goud. ’n Transformerende goud wat die water vir ’n oomblik in iets magies laat verander. Soos ’n magtige massa wat jou in ’n onuitkombare trans laat val. ’n Trans wat jou laat vergeet wie jy is en waar jy vandaan kom. Al wat jy weet is waar jy nou sit en waarna jy nou kyk. ’n Mooi wat net ’n klein getal mense sien … maar jy kan nie weet wat jy mis as jy dit nog nooit gesien het nie.

En dan skyn die son vol in haar oë en kyk sy met toegenypte oë weg. Maar sy glimlag, want sy het gesien waarna sy kom soek het.

Hoop.

Daar is altyd hoop.

· · ·

’n Groot ontbyt sorg dat sy net aan alles wat lekker is kan peusel voor slaaptyd. Sy bly buite sit met die pak blou Doritos op haar skoot tot lank na die see in die swart van die nag verdwyn en lastige muskiete haar tone vol rooi kolletjies kleur. Sy gee oor aan die behoefte en druk op die Facebook-ikoon op haar foon. Sy blaai vinnig af met haar muur, maar die meeste mense is duidelik nog by die werk.

Sy gaan soek Junior se profiel. Iets wat sy haat! Sy voel soos ’n bekruiper, maar as sy eers op Facebook is, dan kan sy nie anders nie. Die status skreeu klankloos in haar ore. Verloof. Het die vrou nie haar eie profiel nie? Ook maar beter so, anders sou sy haar ook gesluip het. So pateties. Dit sal ook geensins help sy ontvriend hom nie, want hulle het te veel van dieselfde Facebook-vriende. Dalk moet sy hom blok?

Dan lyk dit of sy jaloers is.

Is sy jaloers?

Nee.

Sy is hartgebroke. Verpletter. Vernietig … haar drome is afgebreek. Daar is niks oor nie, maar hy hoef dit nie te weet nie. Sy maak Facebook toe. Dalk help dit dat sy nie so gereeld daarop gaan nie. Sy antwoord net ’n paar WhatsApps en dan stel sy haar foon sag.

Sy is nie hier om met mense te praat nie. Sy is ook nie hier om haar doen en late op Facebook te verkondig nie. Sy is hier om te soek. Sy gaan nie vind waarna sy soek op Facebook nie.

Is sy jaloers?

Dalk.

Jaloers op die feit dat ’n ander vrou nou haar drome gaan leef, alles waarvoor sy so hard gewerk het en sy moet net hier sit, alleen, en uitwerk wat daar is in die wêreld wat vir haar belangrik is, buiten haar werk (wat sy nie eers meer het nie).

· · ·

Marlene droom van afgewerkte meisies met kort tennisrompies wat haar uit die woonstel jaag en dit sorg dat sy weer op die strand is voor Aurora die lug goud kleur. Southport se strand is besiger. Die pragtige blou vlag wat trots wapper het seker iets daarmee te doen. Maar Marlene neem nie notisie van die vrolike kinders wat reeds op die strand baljaar nie. Die water moet baie koud wees, want niemand gaan die see in nie. Sy kyk ook blindelings na die mense wat met bekers in die hand staan en uitstaar na die see, soos sy.

Die wind laat perdjies orals op die water. Haar hare waai los, maar sy steur haar nie daaraan nie. Vanoggend sit sy en veg teen trane. Miskien moes die SUV se plakkerfamilie maar oor haar gery het. Dan was daar goeie rede vir haar om te huil.

Dalk sou sy dan in ICU gelê het met geheueverlies. Dink net hoe wonderlik dit sou wees! Dan kon sy vergeet van hoe dit voel as Junior beheer verloor en sy hande toegelaat het om te dwaal. Sy warm hande waarna sy vir jare smag. Jare. Meer as vyf lang jare wat sy opgegee het vir hom. Geen ete uitnodiging deur iemand anders is aanvaar nie. Sy het gewag vir hóm. ’n Gesteelde soen wanneer niemand kyk nie of ’n amper vry wanneer hulle alleen is, was genoeg vir haar om haar lewe aan hom te belowe terwyl hy nie een enkele belofte aan haar gemaak het nie.

“Hy is lief vir jou, gee hom kans. Hy sal dit nog besef.”

Daar was die enkele kere van te veel wyn drink as hulle moes oorslaap wat genoeg was om haar te oorreed dat hy die man vir haar is. Opgemaakte redes deur hom. Altyd aparte kamers, maar as daar wyn betrokke was, het hy eers seker gemaak dat sy in haar eie bed kom. Die vry het nooit verder gegaan nie. Sy sak haar kop in haar hande en gee oor aan die brand in haar. Sy huil, snikkend en sonder terughou. Sy kan nie eers sê hy het haar misbruik vir seks nie!

· · ·

Daar sit ’n oulike voëltjie op die telefoondraad wat soortvan haar uitsig soms belemmer van die see, maar sy het al geleer om oor die kabel te kyk. Die voëltjie jaag al die ander voëls weg. Blykbaar lê ’n koningrooibekkie eiers in ander voëls se nes. Sy skop darem nie die ander voëls se eiers uit nie. Die mannetjie het blykbaar ook gewoonlik meer as een vroutjie. Hy is territoriaal en uiters begaaf in sy uitgebreide hofvlugvertonings waar hy oor ’n wyfie hang en ’n lied sing vanaf ’n hoë ‘sitplek’ … net ’n geknetter en gekraak, maar die vroutjies vind dit onweerstaanbaar.

Sy het nie eers eiers om in die nuwe vrou se nes te sit nie.

Sy het niks.

Net ’n kar. Nie eers woonplek nie.