— HOOFSTUK 1 —
Joan van der Byl hoor die honde opgewonde buite blaf en loop na die houtdeur. Die boonste deel is soos altyd oop en haar hand begin senuweeagtig speel met die skuifslot. Sy glimlag en kyk na haar skoonma.
“Ek sien stof, Ma, hulle is naby.”
Sy laat haar oë oor die groen grasperk gly. Die onlangse reën het die plaas in ’n skildery verander ten spyte van die stormskade wat aangebring is. Die stof sweef die lug op al met die houtheining langs. Die landerye op die horison spog gesond. Die honde staan met waaiende sterte by die hek en wag. Die pad kronkel deur die landerye en haar hart word warm wanneer sy haar man se wit Toyota Hilux sien.
Ouma Ralie se stem bring haar terug tot in die kombuis.
“Nou waarvoor wag jy? Laat ons op die stoep loop sit asof vir ure. Die kind moet nie staan’t dink ons is niks gewoond nie.” Ouma Ralie is ’n sterk vrou vir die ouderdom van vier-en-sewentig. Die rumatiek pla in die hande en die onweer in die knieë, maar sy kla nooit.
“Kom dan, Ma. Ek sien al die bakkie.”
Hulle stap vinnig deur die ou plaashuis na die groot voorstoep. Elkeen met ’n bondeltjie breiwerk wat al ure onaangeraak op die tafel gelê het, in hul hande. Hulle gaan sit op die houtbankie wat met breiwerk oorgetrek is, by die venster. Opwinding tasbaar in die lug oor die meisie wat hulle elf jaar laas gesien het. Die meisie wat tydelik by hulle gaan kom woon.
Die bakkie hou stil by die houthek. Joan se oë talm op haar man wat uitklim en die hek oopmaak.
“Sy is seker gewoond dat mans agter haar aanloop.” Ouma Ralie steek nie die lag in haar stem weg nie. “Ek vermoed sy gaan swaar kry hier op die vlaktes. Stadsmense is mos anders.”
Joan antwoord nie. Haar hartklop gaan nie bedaar tot sy in die meisie se oë kyk nie. Die oë wat sy so goed onthou. Roeland se oë!
Haar oë dwaal links van die stoep na die donker bos wat duskant die buitehuis is. Wanneer mens daarbinne is, voel dit of jy in ’n woud is.
Die bakkie hou stil naby die voorstoep, maar die deure gaan eers oop wanneer die stof gaan lê. Albei vrouens staan gelyk op en loop in afwagting nader. Hulle gaan staan stil tussen die twee wit pilare wat weerskante van die trappe gebou is. Die stoep het ’n groen sinkdak. Joan se oë soek nie dié van haar man soos oudergewoonte nie, sy bestudeer eerder die meisie wat om die bakkie geloop kom. Die steeds opgewonde honde ruik-ruik aan haar voete en sy tel haar been heel verskrik op en maak rukbewegings in die poging om hulle weg te jaag. Haar man raas met die honde en hul gehoorsaam. Die kind is geklee in ’n los swart romp wat hang tot net onder haar knieë. Met die swart halternek-hemp daarby is sy eintlik nie ’n meisie nie, maar ’n vrou. Sy gaan staan langs haar oom. Haar hande saamgevat agter haar rug. Die sagtheid van haar lang blonde hare is sigbaar selfs hier van die stoep af. Sy het ’n fyn gesig. Alles van haar is fyn. Haar vol lippe is rooi en haar oë … haar oë is Roeland se oë.
Roelien veg teen die senuwees wat ’n permanente tuiste in haar maag gemaak het. Sy druk haar tong teen haar verhemelte en fokus om haar asemhaling rustig te hou. Oom Bernard was baie vriendelik teenoor haar. Vir meer as twee ure het hy die geselskap aan die gang gehou. Sedert hulle vertrek het uit Pretoria, het die senuwees begin saampak en stadig maar seker ’n dun laag onsekerheid oor haar hart getrek. Oom Bernard het baie oor sy broer gepraat. Menige male genoem hoeveel van hom hy in haar sien. Die hitte is neerdrukkend. Dit is anders as in Pretoria. Droër. Haar mond voel droog. Oom Bernard het nie op die dorp stilgehou nie. Dorp? Nee, dis geen dorp nie, daar was net ’n paar geboue waarby hulle verby gery het. Die onbekende ooptes maak haar benoud. Wat doen sy hier?
Oom Bernard haal haar bagasie van die bakkie af en sy neem haar grimeertassie by hom. Sy is baie bewus van die twee vrouens op die stoep wat haar elke beweging openlik bestudeer. Tannie Joan is drie-en-veertig. Sy weet dit want sy was haar pa se maat. Sy het donker hare wat tot net onder haar ore gesny is en sagte bruin oë. Sy het ’n rok aan wat Roelien se ma altyd beskryf het as plaasklere. Daar span ’n vriendelike glimlag oor haar gesig en Roelien vee onseker haar hare agter haar ore in. Sy hoop nie die mense se verwagtinge van haar is te hoog nie. Sy het nie krag in haar oor om mense te beïndruk nie.
Sy volg oom Bernard met die trappe op. Die vrouens tree terug om vir hulle spasie te maak. Hy sit haar bagasie by ’n tafel met agt stoele neer. Roelien kyk onseker na die ouer vrou. Sy lyk vir Roelien nog net soos sy gelyk het toe sy haar die laaste keer gesien het. Háár ouma Ralie. Haar pa se ma. Ouma Ralie van der Byl wat haar lewe lank woon op Byl se Nes. Dié plaas. Hier waar sy nou moet woon omdat iemand in ’n hof iewers besluit het dit is wat moet gebeur.
Sy loop met ’n gemoed vol twyfel trappie vir trappie op tot voor hulle. Sy probeer sluk, maar haar mond is te droog.
“Hallo, Tannie.”
Sy draai na haar ouma. Het sy reg om haar ouma Ouma te noem? Ouma Ralie het dun grys hare wat in ’n bolla agter haar kop saamgevat is. Sy het ook ’n plaasrok aan, maar dit is vir Roelien die mooiste rok wat sy nog ooit gesien het.
“Hallo, Ouma.”
Ouma Ralie het blou oë, soos sy. Kreukels vou daarom. Sy en haar ouma is dieselfde lengte. Wanneer sy haar arms oopmaak weet Roelien dat ’n ouma ’n ouma bly al is daar jare tussen drukkies.
“My kind, maar jy’t groot geword!”
Roelien gee haar ’n soen op die wang en ’n druk so styf dat sy bang is sy maak haar ouma seer. Sy asem diep in en word teruggeneem na haar kleintyd. Terug na haar pa toe.
“Het sy nie mooi geword nie, hè, Joan? Is sy nie net te pragtig nie!”
Roelien voel die blos oor haar reeds warm wange slaan.
“Pragtig,” herhaal tannie Joan. Sy gee haar ook ’n druk en draai vir die eerste keer na haar man. “Rustig gery, Bernard?”
Hy sit sy hand op haar skouer neer. “Ja, dankie, ons het. Ons is nou net vrek dors. Hoe lyk dit?”
Hy knip vir haar oog en sy lag.
“Daar is vars lemoensap in die yskas. Ek gaan haal dit gou.”
“Kom sit.”
Oom Bernard hou sy hand na Roelien en sy neem dit. Hy lyk nie soseer vir haar na haar pa nie. Sy hare is donker, nie blond nie. Sy vel lig, nie blas nie. Sy oë is groen, nie blou nie. Maar dit is wanneer hy praat dat Roelien iewers haar pa in sy stem hoor. Dit is dán wanneer sy hom blindelings volg in afwagting vir nog ’n stukkie bekendheid. Hy laat haar sit by die tafel en trek ’n stoel vir sy ma uit. Ouma Ralie gaan sit langs haar. Sy bestudeer steeds vir Roelien skaamteloos.
“Is jy moeg, kind?”
Haar oë speel tennis tussen haar oom en haar ouma en die houthek wat haar hier gaan hou.
“Nie te veel nie.”
“Is jy gesond?”
Roelien frons. “Hoe bedoel Ouma?”
“Jy lyk bietjie rooi in die wange.”
Sy vat instinktief aan haar warm wange. Sy het onderlaag aangesit, maar weet dit is lankal afgesweet. Sy wou ’n goeie indruk skep. Sy sak haar oë.
“Dis die hitte, Ouma.”
Tannie Joan kom uit met ’n skinkbord en oom Bernard staan dadelik op en neem dit by haar.
“Daar’s’y. Lekker koud.”
Sy gee die eerste glas aan Roelien. Roelien glimlag dankie en neem ’n groot sluk. Sy voel die koue af in haar keel tot in haar maag vloei. Dit maak geen verskil aan die senuwees wat daar brand nie. Sy loer weer na die houthek. Sy luister nie na oom Bernard wat aan sy vrou en ma begin vertel van hulle rit nie. Daar kruip herinneringe nader. Die laaste keer wat sy hier op die stoep gesit het, het albei haar ouers gelewe. Sy asem in en verken die omgewing met haar oë. Alles lyk anders as toe. Daar is meer blomme in die tuin. Die stoep was nie onderdak soos nou nie. Die muurtjie wat om die stoep is, lyk perfek om op te sit en lees.
Sy kyk na oom Bernard wat steeds gesels. Hy het by al die hekke op pad hierheen aangedring dat sy bly sit en hy dit oopmaak. Sy het vir hom gesê dat sy gee nie om nie en sal uitklim, maar hy het na haar sandale gekyk en geglimlag. Sy kyk weer uit oor die werf. Daar is ’n groot skuur en stalle wat agter die huis uitsteek. Daar is ook ’n kleiner huisie, of woonstel, wat naby die donker bos, maar tog binne die werf, staan. Die mure is ook wit en die dak groen, net soos hierdie kolossale plaashuis waarin sy nou moet woon.
“Waar is Julia?”
Oom Bernard se vraag laat haar weer na die mense wat saam met haar op die stoep sit, kyk.
“By die stalle saam met Andries. Hulle is besig om daar skoon te maak.” Tannie Joan waai haar hand deur die lug. “Los jou tasse hier, ek sal sommer dat Lena dit na jou kamer neem. Stap saam met oom Bernard na die stalle, ek is seker Julia sal baie bly wees om jou te sien.”
Sy volg oom Bernard weer blindelings af met die trappe oor die werf. Die stalle is ’n hele ent weg verby die skuur. Hy verduidelik haar in die stap dat die stalle bietjie verder weg gebou is sodat daar nie nog meer vlieë na die huis toe kom nie. Agter die stalle is kampe en weiplek vir die beeste. Die beeste slaap nog verder weg. Hy lag en sê dat tannie Joan nie die reuk van beeste kan hanteer nie.
Hulle stap verby hondehokke. Hulle stap verby hoenderhokke. Hulle stap verby ’n dammetjie wat ook met ’n houtreling omhein is. Daar is ganse en eende en nog ander onbekende bruin voëls wat op die water swem. Die groen gras is oneindigend. Die digte bome is reusagtig … of is dit magtig? Roelien kyk terug na die huis. Die agtertuin is ook ryk aan bome. Die takke hang laag.
“Diekant toe.”
Sy drafstap om hom weer in te haal. Sy asem diep in en blaas stadig uit. Verskillende geure maak nes in haar gemoed. Dit ruik bekend en vreemd. Gras en blomme. Hoenders en stof. Vars lug. Ja … die skoonste lug wat sy in jare ingeasem het.
Perde.
Sy gaan staan stil by die ingang na die stalle, wat vir haar lyk soos die deurgang na die hel. Die spasie krimp. Haar bors trek toe. Sy fokus op haar asemhaling, sy skud haar kop en knip haar oë. Die silhoeët van twee gestaltes word duidelik. Sy dwing haar voete om nader te stap. Daar is twee mense daarbinne. Een is ’n jong vrou. Haar donker hare is hoog op haar kop vasgemaak. Haar kakiebroek is kort en die stewels aan haar voete lyk swaar. Dit kom op tot by haar knieë. Daar is stofstrepe haar hele gesig vol en op haar rooi toeknoophemp ook. In haar hand is ’n graaf. Die handskoene wat duidelik te groot is vir haar, pas by haar stewels. Julia haar niggie, twee jaar jonger as sy.
“Julia, Andries! Roelien is hier.”
Roelien se hart mis ’n slag en haal dit te vinnig in. Sy asem in en tel haar ken op. Toe hulle op die stoep gesê het dat Julia besig is om die stalle skoon te maak saam met ‘Andries’, het sy gedink hulle praat van ’n seningrige ou plaaswerker. Nie hierdie … hierdie Romeinse-god wat vol selfvertroue haar blik vasvang nie! Hy kyk na haar asof sy ’n bees is wat hy op ’n veiling wil koop. Hy het ook stewels aan, maar sy lang denim is daar ingedruk. Sy denim wat baie laag op sy heupe sit.
Sy kaal bolyf is bruin gebrand. Sy kaal bolyf wat hom soos ’n swemmer laat lyk! Hy het spiere wat sy nie geweet het bestaan nie. Hy staan stadig regop en stut sy hande op die graaf en begin om sy handskoene tydsaam uit te trek. Roelien kry nie weggekyk nie. Sy druk haar tong teen haar verhemelte in ’n poging om kalm te word soos hy sy regterhand deur sy lang swart hare trek. Dit is asof alles in stadige beweging is.
Hy glimlag en Roelien blaas haar asem hard uit. Sy stem laat alles om haar stil.
“Dag, Oom. Hallo, Roelien.”
Sy verdrink in sy blou oë. Nee, sy oë is die kleur van die wolke net voor die reën val. Sy oë is grys.
Julia laat haar graaf neerlê en loop nader aan Roelien. “Hi, Roelien. Welkom hier.”
Julia giggel en Roelien breek uit Andries se greep en kyk na haar.
“Vreemd om jou hier in die stalle te sien. Al wat ek van jou kan onthou is dat jy altyd in die huis wou bly. Te bang vir die ganse en die honde gewees.”
Roelien voel die blos oor haar wange slaan. Al weer. Sy neem Julia se hand wat sy soos ’n man na haar uithou. Sy forseer ’n glimlag vir haar. Oom Bernard praat agter haar en sy kyk na hom.
“Dis reg, ja, en sy wou nooit gaan saam perdry nie.” Hy knip vir Julia oog.
Sy kyk onwillekeurig na die man wat woordloos luister en voel die woede in haar hart vlam vat vir die pragtige glimlag wat om sy mond speel.
“Ek gaan kyk waar my kamer is.”
Sy draai om en stap weg sonder om te luister na wat hulle verder sê.
Andries.
Vervlaks. Hy was nie veronderstel om só mooi te wees nie!
· · ·
Na haar man en die kind om die hoek van die huis verdwyn het, sê Joan sag vir ouma Ralie: “Die seer is sigbaar in Roelien se oë. Die arme kind.”
Haar skoonma antwoord haar met dieselfde sagte stemtoon. “Drie maande is niks. Veral nie na so ’n ondervinding nie.” Sy draai na Joan. “Lyk sy nie vir jou presies soos Roeland nie?”
Joan staar lank in haar oë. Herinneringe flikker deur haar gedagtes. Haar oë soek die bos met haar woorde. “Nee, Ma. Ek sien net vir Roeland in haar oë. Verder lyk sy presies net soos Má.”
· · ·
Roelien huiwer nader aan die heining wat die ganse binne hou. Ja, sy was bang vir die honde. Hulle was groot en vreemd en sy was klein. Al is sy ouer, was sy nog altyd kleiner as Julia. Roelien was nog altyd die kortste op skool en in haar vriendekring. Oom Bernard het self gesê dit lyk asof sy nog op skool moet wees toe hy haar teen hom vasgedruk het in Pretoria. Ja, en sy was bang vir die ganse ook! Sy is steeds bang vir die wit voëls wat in haar rigting blaas. Maar hulle is nou in ’n hok en loop nie wild buite rond soos toe nie. Sy draai om en kyk terug na die stalle. Sy kan niemand sien nie, maar sy verbeel haarself sy hoor hulle lag.
Sy stap aan. Die perde was ook reuse goed. Hoe moes sy in elk geval iets vertrou wat sy nie ken nie? Die honde lê oral onder die bome. Daar is twee witterige poedels met langerige hare naby die huis. Daar lê ’n swart hond naby die hek. ’n Bruin een by die tuinstel. Geeneen van hulle beweeg eers ’n oor nie.
Tannie Joan en Ouma Ralie sit steeds op die stoep. Haar tasse is nie meer daar nie. Sy gaan staan stil voor hulle en rus haar hande op ’n stoel.
“Het julle vir Julia gekry?”
Daar is liefde in tannie Joan se stem. Roelien weet reeds dat sy baie van haar tannie gaan hou.
“Ja, ons het. Mag ek dalk … sal Tannie my asseblief kan wys waar my kamer is?”
Tannie Joan staan op. “Sekerlik, volg my.”
Roelien kyk na haar ouma. Daar lê heimwee in haar oë.
“Kom, kind.”
Tannie Joan staan by die deur en Roelien glimlag vir haar ouma voor sy agter haar tannie die huis inloop. Sy wys en brei uit oor die huis en sy antieke meubels. Alles waarop Roelien se oë val het herinneringe en karakter. Die huis is netjies en ruim. Vertrek na vertrek het groot vensters met diefwering en gaas en swaar gordyne.
“My en jou oom se kamer is deur daardie deur. Ons het ons eie badkamer.” Sy wys na ’n deur aan die ander kant van die vertrek waarin hulle staan. “Dié is die geselskamer waar ek en jou ouma die meeste van die tyd is. Veral as dit swaar reën en ons nie op die stoep kan sit nie. Die televisie is ook hier, maar ons kyk eintlik net nuus. Die opvangs is swak.”
Hulle loop deur ’n deur waar daar ’n netjiese, meer modern sitkamerstel is. “Die sitkamer vir gaste en die dominee.”
Die sitkamer het twee deure. Die huis voel groter as wat sy onthou. “Daar is die gang, ek sal jou dit nou wys. Hier is die eetkamer.”
Roelien se oë val op die ou geelhout eetkamerstel wat sy kan onthou uit haar kleintyd. Toe sy laas aan die tafel gesit het, het haar ouers langs haar gesit.
“Ek weet nie of jy alles nog onthou nie, ons het die huis so bietjie verander.”
Roelien glimlag net. Sy onthou genoeg. Sy onthou te veel. Die eetkamer loop in die kombuis in wat vier deure het. Roelien sug. Daar is ’n buitedeur, ’n deur na die waskamer, ’n deur na die eetkamer en ’n deur na die gang.
“Wil jy nog iets drink?”
Sy skud haar kop. “Nee, dankie, ek sal net graag wil weet waar ek gaan slaap?” Sy glimlag, want sy wou nie ongeskik klink nie.
“Ja-nee, seker lekker moeg van die lang rit. Kom ek wys jou verder.”
Die gang het baie deure. Roelien tel hulle. Daar is twee badkamers, twee gaste kamers, ouma Ralie se kamer en Julia se kamer. Sy gaan in die gastekamer woon naby dié van Julia.
“Middagete is oor ’n halfuur in die eetkamer. Jy hoef nie te help met iets nie, Lena is gewoond aan kos maak.”
Tannie Joan glimlag liefdevol en trek die deur tot op ’n skrefie toe agter haar. Roelien bly staan. Haar tasse staan voor ’n ekstra-groot dubbelbed. Die mooiste hout-kopstuk met fyn snywerk gee die kamer ’n Middeleeuse atmosfeer. Die sjokoladebruin gordyne voor die groot vensters pas by die res van die beddegoed. Daar is ’n laaikas, spieëlkas en een staanhangkas in die kamer. ’n Stoel staan by die venster en ’n bankie voor die bed. Sy gaan sit daarop en sak haar gesig dadelik in haar hande. Wat doen sy hier?
Sy laat haar hande sak en staan met ’n sug op. Sy sal nie nou oor daardie gedagtes talm nie. Sy sal haar klere uitpak en gemaklik raak. Die uitsig by die venster is van die donker bos en die klein huisie wat alleen staan asof dit verban is van die res.
Sy tel een van haar tasse op die bed en zip dit oop. Dit is baie warm. Sy wil haar hare opsteek uit haar nek. Sy grou in die tas vir haar haarsakkie en wanneer sy dit kry, gaan sit sy voor die spieël. ’n Vreemdeling staar terug na haar. Haar ma het altyd gesê sy trek na haar pa, maar noudat haar ma ook nie meer lewe nie, sou sy enige iets gee om háár te sien wanneer sy in die spieël kyk. Sy onthou die woorde wat haar ma aan haar pa gesê het kort voor hy dood is: “Roelien is nie ’n Van der Byl nie!” Sy weet tot vandag toe nie waaroor hulle baklei het nie. Sy het net daardie woorde gehoor en weggehardloop.
Sy skud haar kop en begin haar hare vassteek.
Veg. Veg teen die gedagtes wat dreig om jou hartseer waar te maak.
Sy staan op en pak al haar goed uit in die leë kaste. Twee maande kan lank wees. Sy stoot die tasse onder die bed in. Voor sy haar pad na die eetkamer begin soek, kyk sy ’n laaste keer na haarself in die spieël. Haar ma het haar geleer om altyd op haar beste te lyk. Net omdat jy ’n slegte dag het, hoef die wêreld dit nie te sien nie.
Daar is niemand in die eetkamer nie. Sy vermoed hulle sit nog op die stoep. Sy besluit om te gaan kyk wie in die kombuis is, maar dan kom tannie Joan binne en glimlag dadelik.
“Jou hare lyk mooi so vasgesteek, kind. Ek was juis nou op pad om vir Julia en Andries te gaan roep.”
Roelien vou haar hande saam voor haar.
Daar vorm ’n ligte frons tussen haar tannie se oë. “Alles reg, Roelien?”
“Ja, Tannie.” Sy antwoord vinnig. Tannie Joan knik en stap om haar, maar Roelien keer. “Tannie?”
Sy draai om, die glimlag weer terug op haar gesig.
“Wie is Andries?”
“Kom sit, ons het nog ’n paar minute.”
Sy wys na die stoele en Roelien gehoorsaam. Sy hou haar hande saamgevat op haar skoot.
“Andries se pa was een van ons goeie vriende. Hy was voorman op die plaas anderkant Byl se Nes. Andries het na sy pa se dood vir nog ek dink drie jaar, tot hy so twintig was, daar gebly en gewerk. Maar toe verkoop ou Japie die plaas en die nuwe eienaar wil niks weet van Andries nie. Andries was verlore. Boer is al wat hy ken. Waarmee hy grootgeword het. Jou oom het mos so ses of so jaar terug van sy perd afgeval.” Sy lag asof sy weer alles kan onthou. “Hy moes alles rustiger vat, sy rug het baie seergekry. Toe vra ons vir Andries of hy nie maar hier by ons wil kom werk nie.”
Roelien huiwer, maar vra: “Woon hy dan hier by julle?”
“In die kothuis, ja. Is daar fout, kind?”
Roelien lag. “Nee, Tannie. Daar is nie fout nie.”
Daar is fout. Sy het nie van Andries geweet nie én hy het saam met Julia haar uitgelag.
“Roelien. Ek weet dit moet baie moeilik wees vir jou om alles wat jy ken te los en na ’n so te sê vreemde plek en byna vreemde mense toe te kom. Maar jy sal sien, ons is nie slegte mense nie. Ons is net plat op die aarde. Ons is jou familie en jy sal dit geniet hier.”
Sy laat haar oë sak. “Dankie, Tannie.”
“Ek wil hê jy moet weet dat jy enige tyd oor enige iets met my kan praat.”
Sy hou haar oë op haar hande op haar skoot. “Dankie, Tannie.”
“Laat ek die mense gaan roep. Bly sommer hier, Lena gaan nou die tafel kom dek.”
Sy staan op. Roelien ook, maar bly staan wanneer tannie Joan die vertrek uitstap.
Eet Andries ook hier?
Lena is ’n kort, fyngeboude vrou met ’n doek oor haar kop en ’n voorskoot aan haar lyf. Roelien glimlag vir haar en sy antwoord terug met ’n opregte glimlag. Sy dra aartappels, rys, groente en vleis in. Middagete? Sy is nie honger nie! Wie eet in elk geval kookkos vir middagete? Sy skud haar kop. Sy sal maar sê sy het ’n aansienlike ontbyt geëet.
Ouma Ralie kom eerste die eetkamer binne. “Sit solank, kind, ja, sommer daar. Jou bene gaan seer word as jy staan wag vir al die mense.”
Sy glimlag ongemaklik en gaan sit by die naaste stoel. Ouma Ralie gaan sit op die een punt van die tafel.
Oom Bernard kom ingestap. “Wag julle al? Jules en Andries was net gou. Die stalle is darem nou weer goed skoon vir ’n slag.”
Hy gaan sit aan die ander punt van die tafel. Roelien hou haar oë op die leë bord voor haar en begin vroetel met die tafeldoek wat op haar skoot lê.
Tannie Joan gaan sit aan Roelien se kant langs haar man. “Hulle is nou hier.”
Roelien kyk net vir ’n oomblik op, glimlag na haar tannie en sak dadelik weer haar oë. Sy wens hulle het nie so ’n bohaai gemaak oor haar nie. Sy hoor stemme en kyk op na die deur. Julia is mooi. In die vaalste klere wat Roelien nog gesien het, is sy beeldskoon. Haar vel is bruin en sterk. Sy lyk volwasse en selfversekerd. Haar lang, donker hare is gesond en haar lag klink soos iemand wat alles besit wat hul hart begeer. Agter haar is Andries. Sy glimlag span groot oor sy mooi mond. Hy gaan sit regoor Roelien. Sy konsentreer op haar asemhaling. Sy gespierde lyf is toe onder ’n vaalbruin knopieshemp. Sy hare is deurmekaar en sy gesig het nog plek-plek stof op.
“Goed, almal hier? Laat ons dank.”
Almal se hande gaan lê op die tafel en sy neem ouma Ralie en tannie Joan s’n. Sy is nie gewoond aan bid voor etes nie.
Oom Bernard se stem is duidelik. “Seën, Here, alles … ”
Roelien maak nie haar oë toe nie. Sy kyk na die mense aan tafel wat almal met gebuigde hoofde sit. Haar familie. Familie? Sy ken hulle nie! Sy is nie ’n Van der Byl nie. Sy hoort nie hier nie. As sy ’n keuse gehad het, was sy nie hier nie. Maar die testament was spesifiek.
“Amen.”
Almal kyk op en voor Roelien weer haar oë kan sak, gryp Andries dit vas. Het wolke ’n kleur voor reën? Hy glimlag en draai dan na oom Bernard.
“Ek wil bietjie gaan kyk hoe pomp die water by die gras. Wil Oom saamry?”
Almal om Roelien begin inskep. Andries se stem hou haar gevange.
“Nee wat. Hoekom vat jy en Jules nie vir Roelien saam nie, dan kan sy bietjie sien hoe lyk die plaas?”
Almal kyk na haar.
“Wat sê jy?”
Julia praat voor sy kan antwoord. “Moenie so bekommerd lyk nie. Ons ry met die bakkie, nie met die perde nie.”
Sy lag hard en Roelien kan nie help om die glimlag om Andries se mond ook te sien nie.
“Nee, dankie, dalk volgende keer.” Sy hou die tafeldoek stywer vas. Die vlam in haar word aangehits. Hulle lag sowaar wéér vir haar!
“Kry vir jou kos, kind.” Ouma Ralie klink besorg.
“Ek is nie juis baie honger nie, ek het ’n groot ontbyt gehad.”
Roelien sak weg in die stoel. Die mense om haar eet en gesels en sy voel so uit soos ’n papegaai in ’n duiwehok.
“Die gras om die windpomp is regtig iets om te sien. Ry saam, ons gaan nie lank daar bly nie.”
Sy kyk stip in Andries se oë terwyl hy met haar praat. Hy wag op haar antwoord. Sy tel haar ken op en kyk na Julia, wat op haar beurt opgehou het met eet.
Tannie Joan se hand vou onverwags om hare op haar skoot. “Die kind is moeg en vreemd. Laat haar rus. Andries, jy kan haar môre gaan wys wanneer jy die eiers vir tan’ Betsie vat, dan kan Roelien haar sommer ook ontmoet. Ek het haar al baie van jou vertel.” Sy druk haar hand en eet verder.
Roelien se oë is eers op Julia wat nie verder eet nie en kyk dan na Andries, wat antwoord.
“Goed, Jules wou in elk geval nie vanmiddag saamry nie.”
Hy eet verder en na ’n rukkie begin Julia ook weer eet. Julia loer elke nou en dan na Andries, maar hy hou sy oë op sy bord. Ouma Ralie leun nader en vra vir Roelien of sy dan niks gaan eet nie?
Sy glimlag skram en skep ’n bietjie van alles in. Wanneer sy klaar is, skud sy haar kop. Haar bord is vol kos.
· · ·
Na ete sit Roelien op die stoel voor die venster in die kamer wat nou haar kamer is. Hier is alles anders. Alles is stiller. Behalwe die mense, hulle praat baie. Sy is nou nog versadig. Wat sou aandete wees?
Daar is ’n klop aan die deur en Roelien laat haar bene sak.
“Binne.”
Julia kom huiwerig die kamer binne. “Pla ek?”
Roelien skud haar kop en wys haar om te sit. Julia het skoon klere aan. Haar hare is steeds hoog op haar kop vasgemaak.
“Wat doen jy?”
Roelien kyk om haar rond na iets om as verskoning te gebruik. “Nee wat, niks nie.”
Dit lyk of Julia haar help soek soos haar oë ook deur die vertrek sweef. “My ma sê jy het gestudeer in Pretoria?”
Dit voel vreemd om met haar te gesels. “Ek het.”
Julia kou haar onderlip vir ’n rukkie en vra. “Het julle ’n groot huis gehad in Pretoria?”
“Soortvan. Nie so groot soos dié een nie, maar dit was ’n dubbelverdieping.”
“En jy en jou ma het alleen gebly?”
Roelien sak haar oë. Die grys mat is vaal en sonder patroontjie. “Ja.”
“Hoe lank terug is jou pa oorlede?”
Sy sluk droog voor sy antwoord. “Kersfees is dit elf jaar.”
Die stilte raas in Roelien se ore. Maar Julia is nog nie klaar nie.
“Waar het jy die drie laaste maande gebly na jou ma dood is?”
“By vriende van my ma. Die eksekuteur het eers probeer uitvind of die opdrag in die testament geldig is. Wat doen jy vir ’n lewe?”
Sy wil die onderwerp verander. Sy wil nie oor haar ma praat nie. Sy veg elke sekonde van elke dag om nie aan haar ma te dink nie. Die oggend wat sy haar ma vir die laaste keer gegroet het, voel soos gister. Sy onthou die oproep van die hospitaal.
“My pa het gesê ek mag na matriek eers hier op die plaas help. Ek moet na ek een-en-twintig is finaal besluit wat ek wil doen.”
Sy babbel voort oor haarself. Oor hoe gelukkig sy en Andries hier op die plaas is. Oor hoe goed sy kan perdry en alles doen wat Roelien nie eers in haar drome sal kan doen nie.
“Wanneer verjaar jy?” Roelien vra sodat dit lyk of sy geluister het.
“Oktober. Jy?”
“Maart.”
“Ouma Ralie verjaar ook in Maart.”
Roelien weet. Haar pa het ook in Maart verjaar.