Emma staar na die lemmetjiegroen koevert wat Bianca na haar uithou. In goue hoofletters staan haar naam: EMMA ROUX. Die koevert is versier met allerhande goue krulle wat met die hand daarop geteken is. Sy kyk op na Bianca, wat terugstaar na haar met ’n netjiese frons tussen haar lieflike groen oë.
Emma het nog altyd die tweeling se oë beny. Dit is nie ’n groen wat mens gereeld teëkom nie. Bianca se tweelingbroer, Bayron, het identiese oë. Dit is ook Bayron se oë wat die meisies oor hom laat dagdroom. Emma, aan die ander hand, alhoewel sy saamstem dat Bayron uniek en hoogs besondere oë het, vind hom glad nie aantreklik nie.
Nie alleen dink hy dat hy mooier as Channing Tatum is nie, hy verbeel hom ook al wat ’n meisie is, is sy slaaf. Emma het al gesien hoe die meisies, sonder om dit eers te besef, sy bevele uitvoer tydens pouse. Van sy tas vir hom dra tot in die ry gaan staan by die snoepie. Hy gebruik hulle en ignoreer hulle dan asof dit tweede natuur is.
Nee, al het Bayron pragtige oë, is dit al van hom wat pragtig is.
Nou staan sy sussie hier voor Emma met ’n koevert in haar hande, wat ooglopend ’n uitnodiging is. Na wat?
“Emma?”
Emma snuif en neem die koevert by Bianca. “Wat is dit?”
“Jou uitnodiging,” sê sy met ’n stemtoon wat insinueer dat Emma dit eintlik moes geweet het.
Uitnodiging na wat?
Hestine gryp Emma om die skouers en red die situasie, soos gewoonlik. “Dankie, Bianca. Dis great dat julle ons nooi.”
Hestine is Emma se beste vriendin. Hulle doen alles saam. Emma gaan Maandae tot Donderdae na skool saam met Hestine na haar huis toe totdat Emma se ouers klaar gewerk het. Emma se ouers, Karin en Wihan Roux, is die mees gesiene eiendomsagente op Brinkstad en in die distrik. Dus is hulle gereeld besig om die een of ander belangrike persoon een of ander massiewe huis te wys. Hestine en haar sussie, Zilna, woon by hulle ouma, want hulle ouers werk in die buiteland. Hulle kom elke tien weke vir twee weke huis toe en dan gaan hou hulle iewers vakansie en voel dit vir Emma of haar wêreld stilstaan.
Hestine is ook Emma se grootste aanhanger. Sy is die een wat die meeste in Emma glo. Nie alleen haar besonderse talent vir potloodsketse nie, maar ook haar onlangs ontdekte speurvaardigheid.
Hestine ken ook vir Emma goed genoeg om dadelik te weet wanneer sy iets wegsteek.
Bianca stap weg met ’n swaai van haar blonde hare, wat in ’n lae ponie agter haar kop vasgebind is, maar normaalweg tuis is oor haar regterskouer. Soos wat sy wegstap, sien Emma dat dit tot by haar sitvlak hang. Dit lyk sag en vloeiend en dik. Emma vryf oor haar bob-gesnyde grasbesemhare en draai na Hestine.
“Waarheen gaan ons?”
Hestine rol haar oë voor sy Emma antwoord, asof Emma werklik teen hierdie tyd al moet weet wat om haar aangaan. “Dis die tweeling se b-day party, Ems. Volgende naweek.”
“Hoekom nooi hulle mý?”
Hestine trek haar skouers op en stoot haar dikraambril reg op haar neus. Hestine word elke jaar genooi, maar sy gaan nooit nie. “Beats me. Dis ook vreemd dat jy dit vandag eers kry, ons … ek bedoel, die gewone klomp het dit al meer as ’n maand terug gekry. Dit was ook bekendgemaak op Facebook.”
Emma sug. Omdat haar ouers, en by ouers bedoel Emma haar ma, iewers gelees het dat skermtyd en gluten sleg is vir die ontwikkeling van kinders, word Emma nie toegelaat, soos gewone kinders van haar ouderdom, om ’n selfoon of skootrekenaar te besit nie. Sy het ook nie ’n Facebook-rekening nie. As sy iets wil opsoek op die internet, moet sy dit met haar ma se rekenaar doen sodat, in haar ma se woorde, die geskiedenis nagegaan kan word. Asof sy die tipe kind is wat onheilse dinge aanvang? (Of nie weet hoe om die geskiedenis uit te vee nie?)
Goed, daar was die insident met die skildery en die mosgroen kar. Maar dit was die éérste keer én sy het ’n kunsdiefstal oopgekrap en ’n baie waardevolle skildery so opgespoor!
Emma draai die koevert om en sien dat dit aan die agterkant ook met goue krulle versier is. Sy kyk na Hestine en dan terug na die koevert. “Het julle s’n ook so gelyk?”
“Jip. Ons was eers getag in die Facebook-post en daarna het ons die regte uitnodigings gekry. Miskien is dit hoekom jy joune nou eers kry? Omdat jy nie getag kon word nie.”
Emma trek haar skouers op en haal haar skooltas van haar rug af. Sy rits dit oop en druk die koevert in haar tas. “My ma sal anyway nie dat ek gaan nie.”
Wanneer Hestine nie vir Emma antwoord nie, kyk sy op. Hestine se oë glinster en haar mondhoeke duik so diep in haar effense ronde wange in dat Emma sommer dadelik weet Hestine is besig om iets in die mou te voer.
“Wat?”
“Wat as … ?”
Hestine sit haar wysvinger op haar ken neer en kyk om hulle rond. Emma weet sy soek vir Trisha, die derde wiel van die fiets. Trisha is nie onaangenaam of iets nie, sy is net eintlik Hestine se vriendin.
Hestine se hand vou om Emma se boarm en sy trek haar nader.
“Wat van ons gaan? Dit sal nie alleen vir Bianca omkrap nie, maar hier is ’n hele paar jaloerse graad agts wie ons briesend gaan maak. Toe?”
“Ag, Stien, my ma sal nooit instem nie. Jy weet mos? Sy gaan haar oë rek en sê: ‘Wat gaan jy eet? Jy weet alles wat by partytjies is bevat gluten!’ en … ”
Hestine laat Emma gaan en sê: “Wat as ék haar vra?”
Emma sug.
“Regtig, Ems … ek sal vir haar sê dat die tweeling se ouers is ook gesondheidsbewus en dat hulle self nie gluten eet nie.”
“Is dit regtig so?”
“Hoe sal ek weet?” Hestine bars uit van die lag. Sy haal haar bril af en sê: “Ek was nog nooit daar nie!”
“Stien?”
Sy sit haar bril terug en antwoord: “Ag, Ems. Dit is die eerste jaar wat jy ook genooi word … ek wou eintlik nog altyd gaan.”
Emma besef die impak van Hestine se woorde. Aangesien die tweeling ook saam met hulle in die laerskool was, beteken dit dat Hestine al jaar na jaar die uitnodigings van die hand wys oor die blote feit dat sy, Emma, nie genooi word nie. Sy knip haar oë om die skielike dankbaarheid wat vogtig daarin opbou, weg te maak. Sy knik eers sag haar kop ja, voor sy die moed bymekaar skraap om te praat.
“Dit is reg, Stiena. Ons kan my ma vra, maar … ás sy nee sê, kan jy regtig gaan, sonder my. Ek sal nie kwaad wees nie.”
· · ·
Emma trek haar geel gordyne met die wit madeliefies op, weg en stoot haar kamervensters oop. Die hitte is drukkend en Emma wonder of daar al reën op pad is. Sy tel die lemmetjiegroen koevert met die goue, handgetekende krulle van haar lessenaar op en gaan sit op haar bed. Sy vou haar voete onder haar in en staar na haar naam wat in die lig van die bedlampie blink. Eintlik, as sy dit nou aan haarself moet erken, voel sy nogal goed oor die feit dat sy hierdie jaar ook genooi is na die tweeling se partytjie. Dit is dié geleentheid van die skooljaar. Sy weet die rede hoekom sy nie genooi word nie, is omdat sy … wat is die regte woord om nou hier te gebruik … anders … ja, sy is anders as die ander kinders. Nie omdat sy nie ’n selfoon het nie. Ook nie omdat haar ouers streng is nie. Dit gaan oor sy haarself nie betrek by die doen en late van die in-spul van die skool nie. Sy doen nie sport nie en sy kyk ook nie sport nie. Sy neem nie deel aan debatte of enige iets nie. Sy gaan skool toe en praat met Hestine en Trisha en dit is dit.
Maar nou is sy uitgenooi na die tweeling se verjaarsdag en sy besef skielik dat sy wil gaan. Sy wil gaan! Sy sal haar ouers vra dat Hestine Saterdag kom kuier en dan sal hulle saam vra. Sy skeur die koevert versigtig oop sodat dit nie beskadig nie. Dit is vir haar vreemd hoe goed die lemmetjiegroen en goud saam pas. Terwyl sy altyd voel dinge lyk beter in ’n eenvoudige potloodskets, kan kleur jou soms onverwags oorrompel. Dit kan jou hart laat bokspring en jou binnekant kielie. Dit laat jou mond spontaan glimlag en maak jou hart warm. Veral as kleure onverwags werk, soos die goud en lemmetjiegroen.
Die vel papier binne is dun en sag en dieselfde groen as die koevert. Dit lees: ‘Jy word hartlik en persoonlik genooi deur Bayron Gruvé na die partytjie van die jaar.’ Met die datum en sy ouers se kontakbesonderhede. Alles ingesluit. Op ’n bosveldplaas 33 kilometer uit die dorp: Gruvé Bult.
Vreemd.
Sy laat die uitnodiging sak. Hoekom lees dit net ‘Bayron Gruvé’, en nie ‘Bianca én Bayron Gruvé’ nie?
Sy moet onthou om vir Hestine te vra.
Sy wonder of haar ouers haar sal toelaat om te gaan?
· · ·
“Is jy genooi?”
Emma vra vir Trisha, wat haar kougom met oorgawe kou. Die klok het nog nie gelui nie, maar hulle staan reeds voor die registerklas.
“Jip.”
“Gaan jy?”
“Nope.”
“Hoekom nie?”
Sy trek haar skouers op, bars ’n kougomborrel en druk dit met haar tong terug in haar mond. Sy kou dit eers weer ’n paar keer voor sy praat. “Ons gaan weg daardie naweek. Dis anyway ’n simpel plaastema-ding hierdie keer. Dit was laasjaar meer fun toe ons almal Sun City toe was.”
Emma knik en kyk na Hestine, wat net haar oë laat sak. ’n Skuldgevoel maak nes in haar hart. Sy het nooit besef hoeveel Hestine vir haar opoffer nie.
“Wel, ons gaan my ouers môre vra of ek mag gaan.”
Dit lyk nie of Trisha omgee nie. Sy kou haar kougom asof sy in ’n kompetisie is.
Hestine vermy oogkontak. Emma vra haar steeds: “Hoe werk die uitnodigings?”
Hestine stoot haar dikraambril terug op haar neus. “Wat bedoel jy?”
“Ek bedoel, nooi die tweeling mens sáám uit?”
“O … nee, soos ek verstaan kry elkeen vyftien kinders om te nooi.”
“En Bianca het jou genooi?”
Hestine se oë vergroot met haar woorde: “En nie vir jou nie?”
Trisha hou op kou en haar ore spits letterlik.
Emma kyk ongemaklik van haar een vriendin na haar ander. “Um, nee. Bayron het.”
Trisha se mond val oop en Hestine draai na haar. Hulle lag klankloos asof hulle van iets weet waarvan Emma onbewus is.
“Wat is dit nou?”
Trisha kou verder en wys met haar kop na Hestine, wat verstaan dat sy sal moet verduidelik.
“Wel, dis net … Bayron nooi altyd net seuns. Hy’t nog nooit ’n meisie genooi nie.”
“Hoe weet julle dit?”
“Die tags, onthou? Op Facebook. Bianca tag haar uitnodigings en Bayron syne. Bianca nooi nog altyd seuns en meisies, maar Bayron … ”
Trisha giggel. Emma voel hoe haar wange rooi word. Sy weet wat hulle dink.
“Dalk is dit ’n fout?”
Hestine probeer hard om haar lag te sluk.
“Ag toe nou, julle is simpel.”
“Is ons? Ems, dink net hoe gaan die kinders praat as hulle dít moet hoor!”
“Hoekom het Bianca dan die uitnodiging vir my gegee?”
Asof geroep kom Bianca en haar vriendinne aangestap.
Hestine laat nie op haar wag nie. “Kom, daar is net een manier om uit te vind.” Sy trek Emma aan haar pols ongewillig agter haar aan.
Emma durf nie te protesteer nie, want Bianca-hulle is binne hoorafstand, maar haar voete wil nie saamwerk nie en Hestine moet haar soort van sleep.
“Hi, Bianca! Hoor hier, ons wil gou iets opklaar. Kyk, Ems hier mag mos nie Facebook hê nie, maar haar uitnodiging het gelees dis van Bayron af?”
Bianca rol haar oë en kyk na haar vriendinne. “Ja, en … ?”
“Hét hy haar genooi?”
Weer, asof hulle dit eintlik moes weet, asof dit ’n bekende feit in die skool is, antwoord sy met: “Ek sal haar beslis nie nooi nie.”
Dan begin Bianca-hulle aanstap.
Hestine is so verslae dat sy net bly staan en is dit Emma wat agterna roep: “Maar hoekom?”
Bianca gaan staan stil, draai om en kyk Emma op en af. Dan draai sy haar kop effens skeef, trek haar skouers op en antwoord: “Ek weet nie. Hy’t net vir Mammie gesê dat sy ’n ekstra plek vir jou moet maak, want jy gaan kom en toe gesê ek moet dit vir jou gee, omdat ons saam in die klas is.”
Al drie meisies bly verstom staan en vir Bianca agternastaar soos sy die klas in verdwyn. Trisha loop nader tot langs Hestine, wat na haar kyk en dan terugkyk na Emma, wat stadig omdraai na hulle toe.
“Ek wil dit nie hoor nie.”
Trisha bars ’n borrel en sê: “Ek wens nou skielik ek kon ook gaan.” Dan begin sy lag. Hard lag. Uit haar maag lag en dan sê sy die woorde waarvoor Emma gevrees het: “Kan dit wees dat die mooie Bayron baie van onse Emmarentia hou?”
Emma skud onbewus haar kop heen-en-weer. Hestine kyk na Trisha en pers haar lippe saam. As Hestine dit sê, hol Emma weg. Sy sweer.
Maar Hestine sê dit nie, al kan Emma sien haar kuiltjies trek saam. Emma laat haar oë sak en stap ook die klas in.
Gelukkig is Bayron nie in enige van dieselfde klasse as Emma nie.
· · ·