— HOOFSTUK 1 —
Sy kyk af na die petite babatjie langs haar. Die wiegie waarin sy lê, is deurskynend. Dit staan teenaan haar hospitaalbed en sy wonder skielik of ’n pasiënt wat nog nie deur haar dokter ontslaan is nie deur die kraamsaal se elektroniese deur mag gaan? Of sal hulle haar vra waarheen sy op pad is? Dalk kan sy sê sy wil net gou gaan koeldrank koop. Wat dan as hulle aanbied om dit vir haar te gaan koop en sy moet erken dat sy nie kontant by haar het nie en haar debietkaart in haar spieëlkas se boonste laai by die huis lê? En sy kan seker nie met haar nagklere hier uit loop en al haar goed net los nie?
Sy sal nie graag haar baba buite die hospitaal iewers wil los nie …
Die babatjie kreun. Sy skrik en sidder vir haar eie gedagtes. Sy het jare gelede, in die kinderhuis, belowe dat sy nooit eendag haar kind sal verlaat soos haar ma haar verlaat het nie. Sy het nou ’n kind. ’n Dogtertjie. Al het sy jare daarna haarself belowe dat sy nie gaan kinders hê nie.
Sy kyk af na die fyn handjies wat netjies onder die klein koppie ingevou is. Sy kyk na die salige, volmaakte, rustige uitdrukking op haar naamlose baba se gesig.
Hoe hanteer mens so ’n klein mensie?
Die suster het gesê dat as die baba begin kla, of as dit drie-uur is, moet sy die knoppie druk en dan sal hulle haar kom help borsvoed.
Borsvoed.
Sy moes borsvoed kies, want sy het nie geld vir blikmelk nie.
Borsvoed.
’n Baba.
Die gedagtes dwaal deur Nicolette se kop en sy wens skielik sy het nie so in ontkenning geleef die laaste paar maande nie. Sy wens sy het vroeër begin beplan.
Nicolette het nooit haar eie ma gesien nie. Sy weet nie hoe sy gelyk het nie. Dalk gaan haar dogtertjie soos haar ma lyk? Sy weet haar ma se naam was iets soos Greta. Sy wil nie haar dogtertjie Greta noem nie – nie na iemand wat iets wat uit haar bestaan gekom het net so kon weggee sonder om een keer in dertig jaar dit te probeer opspoor nie.
Sy het die belofte gemaak toe Alison in die kinderhuis gekom het. Alison was ook agt jaar oud, dieselfde as sy, toe sy by die kinderhuis aangeland het. Haar ma het haar kom aflaai en gesê dit is net tot sy gesond is, dan kom haal sy haar weer. “Jou ma gaan nooit weer terugkom nie,” het Nicolette dit na Alison gespoeg. Alison het haar aangestaar met trane wat stadig in haar oë saamgepak het. Sy het hard begin huil, maar nie beweeg nie.
“Ek sal nooit my kind eendag so los nie,” het Nicolette sag vir haar gesê en Alison se stem het stil geword, maar die trane het bly loop. Sy het niks gesê nie. Sy het ’n week later vir die eerste keer met Nicolette gepraat.
“Ek dink jy was reg.”
Natuurlik was sy reg, niemand het nog ooit weer hul kinders kom haal nadat hulle so met tas en al weggegee is nie.
Sy en Alison het ná skool saam gaan studeer, albei met beurse as beloning vir hul harde werk op hoërskool. Alison met haar lang blonde hare en lang lyf was altyd sagter as sy. Dit was seker te danke aan die agt jaar dat haar ma teenwoordig was in haar lewe. Dit het seker daarvoor gehelp. Die kinderhuismoeders tel nie ’n baba op as sy huil nie.
Alison het haar droomman in hul tweede jaar ontmoet, ’n ruk daarna getrou en stadig maar vir goed uit Nicolette se lewe verdwyn.
· · ·
Die baba maak weer ’n geluid en gisteraand flits deur Nicolette se gedagtes. Sy was lus vir iets kouds in die Februarie-hitte en het geweet die Wimpy af in die straat maak eers halfnege toe. Net voor die hysbak se deure toegegaan het, het die geheimsinnige man van nommer 16, drie woonstelle van hare af, saam met haar in die hysbak geklim. Hy het haar vriendelik gegroet. Sy kon sien hy bestudeer haar, maar sy het sy blik heeltemal ontwyk, soos sy altyd doen. Nog te meer sedert sy uitgevind het sy is swanger. Sy het net geknik.
“Weet julle al wat die geslag is?” Sy stem was warm, soos ’n kaggel in die winter.
Julle.
Ek.
“Nee.” Kortaf.
Die lae rugpyn wat die hele dag gekom en gaan het, het gedreig om haar hard te laat kreun, maar sy het net haar lippe saamgepers. Die hysbak se deure het oopgegaan en Nommer 16 het haar gewuif om eerste te loop, waaroor sy dadelik spyt was aangesien dit al vir ’n paar dae seer was om te loop. Sy het net weer haar kop geknik en gehoop hy verstaan dit as dankie. Maar drie tree buite die hysbak het haar voete gevries. Die vreeslike brandpyn wat aan albei haar sye ingeskiet en na haar uitgestote naeltjie beweeg het, was ondraaglik! Sy kon nie die pynkreun inhou nie.
Warm hande het om haar elmboë gevou en haar gehelp om regop te bly staan. Dit was die eerste keer na dáái aand dat ’n man aan haar geraak het. Ook die eerste keer wat sy in Nommer 16 se sjokoladebruin oë gekyk het. Daar was kommer op sy gesig en in sy stem.
“Is alles reg?”
Sy wou antwoord, maar die volgende golf pyn het haar bene lam gemaak en sy was dankbaar vir sy warm hande wat haar ondersteun. Sy het nie haar oë uit syne gehaal nie. Net haar onderlip gebyt in die hoop om so haar trane te keer. Nicolette Swart huil nie maklik nie, maar dié is verby seer!
Voor sy nog kon luister wat die woorde is wat uit Nommer 16 se mond vorm, het sy ’n warm, nat gevoel in haar broek gekry en stadig afgekyk. Sy het hulpeloos gesien hoe dun straaltjies water by albei haar bene afloop.
“My water het gebreek.”
Haar stem was sag en hees en vol vrees. Sy het geweet dit gaan gebeur. Sy het genoeg in tydskrifte en boeke gelees oor wat om te verwag, maar wat sy sou doen wanneer dit gebeur, daaroor was sy tot op daardie stadium onseker. Hy het iets gesê, maar sy kon nie hoor nie. Sy moes by die hospitaal kom! Sy het gelees jy hoef nie te jaag hospitaal toe nie, tensy jou kontraksies opmekaar is.
“Hoe laat is dit?”
Nommer 16 was onkant gevang deur die vraag, maar het nietemin sy een hand van haar arm gelig en duidelik gesê: “Dis tien oor agt. Kan ek iemand vir jou bel?”
Sy het geweet dit was die derde keer dat hy dit gevra het.
“Ek moet my bagasie kry en die kontraksies dophou.”
“Kan jy staan?”
Haar kop het gesê ja en hy het die hysbak se knoppie gaan druk. Sy het koud gevoel toe sy spasie leeg was.
Hy het haar skaars op die derde vloer uit die hysbak gehelp toe die volgende golf tref en sy inmekaar wou vou van die pyn. Sy hande het dié keer besorgd om haar skouers gevou. Die beleefdheid en onbekendheid van vroeër het seker op die grondvloer agtergebly. Na haar eerste hoorbare snak na asem het hy haar styf teen hom vasgedruk en kon sy sien hy kyk op sy horlosie. Sy stem was hees, maar kalm.
“Nie eers vyf minute nie.” Sy blik het hare gevange geneem vir wat vir haar soos ’n ewigheid gevoel het. “Ek’t al genoeg films gekyk om te weet dit is nie goed nie.”
Sy het swaar gesluk voor sy gepraat het, haar mond was droog. “Sal jy dalk asseblief vir my … ’n ambulans kan bel?”
Sy het nie ’n motor nie. Haar werk, en alles wat sy nog ooit nodig gehad het, is loopafstand van haar woonstel af.
Daarna onthou sy nie veel nie. Sy weet die geheimsinnige vreemdeling van nommer 16 het haar woonstel oopgesluit, haar op haar rusbank laat sit en asof hulle dit geoefen het alles wat sy gepak het, gekry. Hy het haar weer na die hysbak, af na die motorgarage toe en in ’n silwer Audi gehelp. Haar kontraksies het net onder die vyf minute uit mekaar gebly en sy moes meer as een keer aan die paniekhandvatsel vasklou om te keer dat sy skree.
Die laaste keer dat sy die vreemdeling van nommer 16 gesien het, was toe hulle haar met die rolstoel wegstoot en sy hom kon hoor sê: “Nee, ek is nie die pa nie.”
Daarna het die susters oorgeneem en sy het uitgetrek en hulle het haar ondersoek en bevat soos sy nog nooit tevore betas is nie. Die dokter het gekom en wanneer hy gesê het: druk, het sy probeer druk, wanneer hulle sê: asem, het sy onthou sy moet iewers tussen die druk en die pyn deur asemhaal, en toe sy ’n klein stem hoor huil kon sy dadelik voel alles is oor. Die res van die aand het sy net gelê en die susters en dokter toegelaat om met haar te maak wat hulle wou, want sy was moeg. Doodmoeg. ’n Moeg soos nog nooit tevore nie. Sy wou huil, veral toe hulle die kleine lyfie in die wit kombersie toegedraai vir haar wys, maar sy was te moeg.
· · ·
Drie-uur druk sy die roepknoppie. Die baba maak kort-kort ’n geluidjie, maar het gelukkig nog nie gehuil nie. Dit is ’n vriendelike blonde suster wat kom help. Sy pak kussings op Nicolette se skoot en glimlag vir haar. Sy tel die baba liefdevol op. Sy hanteer Nicolette se bors asof dit die speen van ’n koei is en druk en trek en vryf aan haar tepel. Sy help die baba se mondjie om daaroor te vou en Nicolette voel die skiet in haar baarmoeder toe die baba se suig raaksuig. Haar oë vergroot en die suster vra vriendelik of die baba ge-‘latch’ het en sy knik maar net haar kop, want dit is die vreemdste dog saligste gevoel wat sy nog ooit ondervind het.