GROENHEIDE BOEKE

Emma Roux #3: Die Raaisel van die Rooi Borsspeld

“Wat van se dag?”

“Wear Something Gaudy Day.”1

Emma kan nie die frons wat wyd oor haar voorkop span, keer nie. “Gaudy?”

Hestine, Emma se beste vriendin en ook die persoon wat Emma met haar lewe vertrou, lag uit haar maag. “Ja, Ems. Gaudy – jy weet, soos tasteless maar op ’n stylvolle manier.”

Emma skud haar kop stadig. “Jy maak glad nie sin nie.”

Trisha, Hestine se ander vriendin wat ook pouses by hulle sit, bars ’n borrel van haar kou­gom en voeg dan by: “Kyk, Emma, ons moet vyf rand betaal om iets funky aan te trek. Dit moet shiny en helder wees, abnormaal maar asseblief nie simpel nie. Verstaan?”

Emma blaas haar asem stadig uit. Haar lewe deur probeer sy eintlik om onder die radar te bly, veral by die skool. Sy neem nie deel aan sport nie en sy hou haar punte so dat sy nie uit­blink nie, maar ook nie onnosel voorkom nie. Sy meng nie met die “in” groepie nie, maar bly ook weg onder hulle voete sodat daar nie ’n rede is vir hulle om haar te teiken vir een van hulle veel­volle bespottings nie. Al het onlangse gebeure tydens die gewildste seun in die graad se verjaars­dagpartytjie op dié se wildplaas egter seker gemaak dat al die kinders weer her­in­ner is aan die feit dat daar wel ’n Emma Roux op hier­die aarde is,2 kry sy dit steeds reg om tussen die skare te verdwyn wanneer daar ’n verpligte skoolbyeenkoms is. Maar om nou nog een of ander simpel rok aan te trek met blinkers en goeters, gaan sy beslis nie doen nie.

“Julle kan dit maar sonder my doen.”

“Ag toe nou, Ems, ek sal jou vyf rand betaal.”

Emma trek vir Hestine ’n gesig. “Dis nie die vyf rand nie, dis die rok wat jy vir my beplan.”

Hestine lag, kruis haar bene en sit met ’n reg­op­rug. “Het jy nog daardie hoed wat ons vir jou by die Hospice gekoop het?”

Emma knik en kyk na Trisha, wat haar kou­gom in afwagtig kou.

Hestine glimlag eers slinks voor sy verder praat. “Ouma Hester het báie lieflike bors­spelde. Wat van ons bind net ’n helder lap om jou hoed en steek dit met ’n elegante borsspeld vas? Niks meer nie.”

Emma kou aan haar onderlip. Dit klink darem nie so erg nie? Sy hou nogal van die pers klokkie­hoed wat Hestine vir haar gekies het by die Hospice. Die doel vir die koop van die hoed was eintlik om te keer dat die son haar brand wanneer sy so op en af in die strate loop. Goed, sy mag dit nie meer doen nie, want sy is nog semi-gehok oor die insident met die skildery,3 maar as sy hard genoeg smeek, laat haar ouers haar genadiglik af en toe nog na haar gelief­koosde koffiewinkel stap vir ’n latté. Sy het eintlik vergeet van die hoed. Dit hang sedert hulle dit gekoop het nog oor die een hoek van die Frida-skildery teen haar kamermuur. Dit voel asof die hoed en die skildery saam hoort, asof hulle ’n onsigbare band het. Maar dit is seker net sy wat vasklou aan geheime wat lankal ontrafel is.

“Wanneer is dit?”

“Luister jy nooit as Haakneus afkondig nie?”

Emma trek net haar skouers op en Hestine sug moedeloos.

“Dinsdag, so ons moet vandag vir Ouma vra om in haar juwele te krap, dan kan jy oor die naweek ’n lint of iets in die hande kry?”

Emma knik. “Ek moet Saterdag gaan huis kyk saam met my ouers. Hulle het weer een of ander herehuis buite die dorp gekry om te ver­koop. Groot plaas en so … ek sal vra dat ons eers by die winkels aangaan voor ons daar­heen gaan en dan kan jy dit Maandag goedkeur?”

Trisha bars ’n borrel voor sy sê: “Ek gaan weird kouse aantrek en my naels verf.”

Hestine stoot haar dikraambril terug op haar neus. “Gaan jy dit waag?”

Trisha trek haar een wenkbrou op. “Dis mos net een dag en ons betaal daarvoor.”

Hestine vestig weer haar aandag op Emma. “So jy is in?”

Emma glimlag verlig. Dit is net ’n hoed, ’n lint en ’n borsspeld. Wat kan verkeerd gaan?

· · ·

Tydens Kuns gee Juffrou Du Preez vir hulle ’n tema-taak om te doen. Emma staar na haar tannie, wie ook haar kunsjuffrou is, met onder­drukte opwinding. Haar ore spits behoorlik soos sy elke detail van híérdie opdrag inslurp. Rentia du Preez is ’n vry-van-gees, oopkop juffrou wat weet van die balans tussen klassieke kuns en alternatief. Sy het nie tyd vir abstrak nie – of nie meer as wat sy verplig is om aan te spandeer nie. Emma glimlag vir haar tannie se woorde.

“‘Gaudy’ sal ek persoonlik vertaal as buiten­gewoon of prikkelend, selfs glinsterend … die vang­plek hier is dat julle skets moet in wit-en-swart wees. Jy moet die ontwerp helder laat vertoon, sonder kleur. Dit moet nie nodig wees vir blinkers of helder kleure nie, jou ontwerp moet daarvan drup. Jy moet daarna kyk en jou geestesoog moet outomaties die inligting verwerk in die uniekste vorms en kleure wat daar bestaan.”

Emma druk ingedagte die agterkant van haar potlood in haar mond. Sy wil dadelik idees begin neerpen, maar dan lui die klok.

Juffrou Du Preez rammel die laaste woorde vinnig af: “Onthou dat ek soek dit Dinsdag – daar gaan ’n wenner aangekondig word. Die prys is ’n verrassing.”

Emma bly sit tot al die kinders uit is. Haar tannie loop nader soos Emma opstaan en haar tas oor haar skouer gooi.

“Emma, jy sal moet uithaal en wys. As ek jou kies as wenner, moet daar nie na die tyd geskinder kan word oor wat die rede daarvoor is nie. Moet my nie teleurstel nie, ek weet hier­die is ’n kans waarvoor jy al lank wag.”

“Enige leidraad oor die prys?”

Rentia lag haar mond-oop-perfekte-tande-wys lag. “Nee, behalwe miskien dat die prys iets vir later is.”

“Iets vir later?”

“Jy moet maar wag en sien.”

“Ek het baie idees, dankie, Júffrou. Maar eers moet ek Hestine se opge­won­den­heid blus oor wat ek gaan aantrek Dinsdag, of opsit seker eerder.”

Rentia knip vir Emma oog en daarmee loop Emma na buite. Kuns was die laaste periode. Sy weet Hestine sal reeds vir haar wag by haar bromponie. Sy het baie idees vir hierdie tema-taak. Sy sal sommer dat Hestine so gou moont­lik een van ouma Hester se borsspelde kies, sodat sy kan begin teken voor die warrelwinde van idees in haar kop gaan lê.

Hestine hou die valhelm uit na Emma wat aangedraf kom. “Jy kan naweke met jou tante klets.”

“Ek vertel jou by die huis. Kom!”

· · ·

Terwyl hul smul aan gebakte tostadas, vertel ouma Hester vir die meisies dat dit honderd persent uit mielies gemaak is, dus sal Emma se ma, wat onder andere streng gluten-vry is, nie omgee dat Emma haarself so heerlik ooreet aan die morsige happies nie.

“Daar is dalk net bietjie te veel kaas op.”

Die meisies lag vir ouma Hester wat steeds altyd ’n manier vind om hulle te bederf, al was een van die voorwaardes dat Emma na skool Maandae tot Donderdae by Hestine mag wag tot haar ouers klaar gewerk het, dat ouma Hester ’n streng dieet vir Emma volg. Dit is nog ’n rede hoekom Emma so lief is vir Hestine, want alhoewel sy nie gluten-vry hoef te lewe nie, eet sy saam met Emma die kos wat ouma Hester vir haar maak. Sy sit nie en pasta eet voor Emma nie.

Pasta is Emma se gunsteling kos. Haar mond begin skoon water wanneer sy net daaraan dink en sy staar vir ’n oomblik verlangend na die sous wat in haar bord drup. Sy het nie gehoor wat Hestine vir haar ouma gesê het nie.

“Nè, Ems?”

Sy waag dit om net te knik. Dit is soms gevaarlik om ’n antwoord te gee wanneer jy nie na die vraag geluister het nie en Emma hoop hierdie is nie een van daardie gevalle nie.

Dit is nie. Hestine stoot haar bril reg en vra vir haar ouma: “So mag ons asseblief bietjie in Ouma se juwele grou? Ek is seker daar sal iets wees wat elegant en spoggerig en heeltemal out of place gaan wees.”

“Nou maar goed, ek vertrou julle sal waarop julle ook al besluit, oppas.”

Dit lyk behoorlik of Hestine ’n kat is wat room gekry het. Alhoewel sy meestal haar sin kry, kan sy steeds nie help om so selfvoldaan te pronk wanneer sy dit kry nie. Miskien is dit omdat Zilna, Hestine se ouer sussie, tuis die kollig steel?

“Dankie, Ouma.”

Emma druk die laaste stukkie tostada in haar mond en luister hoe ouma Hester vir Hestine verduidelik waar om te kyk vir haar houer met die borsspelde in. Sy wonder skielik hoeveel juwele ouma Hester het? Noudat sy daaraan dink, trek ouma Hester byna nooit iets aan sonder dat daar een of ander smaakvolle bors­speld vasgesteek is nie. Kom winter of somer. Of aan ’n serp, of aan ’n jurk, of soos nou sommer net vasgesteek aan die rok se kraag.

“Ek sal die skottelgoed was vandag. Julle kan weer môre. Gaan kyk solank, ek kom op sodra ek klaar is.”

Hestine staan op, loop tot agter haar ouma en vou haar arms om haar nek. “Dankie, Oums is die beste! Kom, Emma. Daar is skatte om uit te grawe.”

Hestine loop vooruit en Emma lag eers sag voor sy ook opstaan. “Ouma red my lewe. Ek kan al sien hoe behoorlik bont en shiny sy gaan aantrek skool toe. Ek dink die hoof gaan spyt wees hy het hierdie geldinsameling goed­gekeur!”

· · ·

  1. www.timeanddate.com/holidays/fun/wear-something-gaudy-day [terug]

  2. Sien Die Geheim van die Geroeste Volla. [terug]

  3. Sien Die Raaisel van die Raam. [terug]