— Hoofstuk 1 —
“Dis vervlaks onregverdig! Hoekom mag hy gaan en nie ons nie?”
Anneke staan met haar hande in haar sye en gluur in die rigting van Mildred se huis.
“Ons kon mos lootjies getrek het,” sê Dommie. “En vee daardie selfvoldane gryns van jou bakkies af.”
Hierdie versoek is gerig aan haar broer Ruan, wat eenkant staan en luister. Dit is waar, hy lyk baie in sy skik en ook nie ’n wonder nie. Mildred het so pas die bom gelos dat sy oor ’n paar dae stad toe ry om ’n vriendin by die lughawe te gaan afhaal. Dis ’n ver ent en sy hou nie daarvan om alleen te ry nie, dus het sy die Samuelse gevra of hulle sal omgee as Ruan haar vergesel.
Gewoonlik, het sy verduidelik, gaan Tjello orals saam met haar, maar hierdie keer gaan sy oorbly in ’n hotel en honde word nie daar toegelaat nie. Ruan se ouers het toegestem, want dis in elk geval skoolvakansie en dit sal ’n lekker uitstappie vir hom wees. Ruan self is in die wolke oor die buitekansie.
“Dis tog logies dat sy mý sou vra,” redeneer hy nou tussen die ander Poniehoewers se gekibbel in. “Ek is die oudste en die grootste en dit help nie sy vat een van julle saam nie. Padrowers teiken vroumense in motors — ”
“O ja, en hulle gaan só vinnig weghardloop as hulle jóú sien,” val Tessa hom in die rede. “Siestog, droom verder, outjie!”
“Ek dink ek moet ook saamgaan,” gooi Roy sy stuiwer in die armbeurs. “Twee mans is nóg veiliger as een.”
“Máns?” proes Dommie. “Sê liewer snuiters!”
“Snotneuse!” sis Tessa.
“Dit sal die dag wees,” verseker Anneke hom luidkeels. “Ons moet dan al die werk doen en kruiwaens wegry en alles terwyl julle in die stad loop flenter!”
“Ons moet met Mildred gaan gesels,” sê Tessa. “Kom.”
Sy vat koers na die huis agter Mildred aan.
· · ·
Mildred gee hulle koeldrank en koekies, maar blyk onvermurfbaar toe hulle haar smeek om elkeen ’n gelyke kans te gee om gekies te word vir die rit stad toe. Net soos Ruan reken sy dat dit veiliger is om langpad saam met ’n man – Dommie snork hoorbaar en Mildred verander haar woordkeuse na jóngman – te ry as wanneer sy een van die meisies by haar sou hê. Dis ’n te groot verantwoordelikheid, sê sy.
“Wat van my?” vra Roy. “Ek is mos ook ’n man.”
Mildred kyk hom ingedagte aan.
“Nie sleg nie, dan kan julle mekaar geselskap hou terwyl ek met my vriendin gesels. Ja,” besluit sy, “ek sal sommer dadelik jou ouers bel.”
’n Proteskoor van drie gaan op, maar Mildred steur haar nie daaraan nie.
“Julle moet bly om na die perde te kyk,” sê sy onverbiddelik. “Toe, gaan saal op.”
Toe hulle uitstap gee Dommie Roy in die verbygaan ’n klap, sommer net om beter te voel. Soos dit ’n man betaam, ondergaan Roy die aanslag met ’n edelmoedige glimlag.
“Jaloesie maak jou lelik,” maan hy verdraagsaam in suiwer anglisisties.
· · ·
Die aand voor hul vertrek slaap die twee seuns in Mildred se spaarkamer, want hulle gaan die volgende oggend sommer douvoordag vertrek. Die ou Volvo-stasiewa is klaar gelaai met net die allernodigste want, het Mildred gesê, hulle moet plek hou vir haar vriendin se bagasie en dié kom vir drie maande kuier dus dit sal heelwat wees. Asof dit vanselfsprekend is, het sy bygevoeg: “Haar saal sal omtrent al die hele bagasiebak volmaak.”
“Hoekom bring sy ’n saal saam?” het Ruan redelik onnosel gevra en Roy het onmiddellik gesnip: “Om perd te ry, natuurlik!”
Voordat Ruan kon antwoord en dit in ’n bekgeveg ontaard, het Mildred verduidelik dat haar vriendin een van daardie mense is wat stres as sy nie elke dag minstens ’n uur of wat op ’n perd se rug kan wees nie.
“Wie gaan sy hier ry? Bring sy haar perd ook saam?” het Roy gevra en hierdie keer was dit Ruan wat hom getroef het met: “Moenie simpel wees nie, Mildred het mos self perde!”
En Mildred het bevestig: “Ja, ek en sy gaan die wêreld platry met Gillie en Breaker.”
· · ·
Toe die groot staanhorlosie die volgende oggend vyf slaan, sit die drie al klaar in die kombuis ’n laaste koppie tee en drink. Ruan en Roy het min geslaap, want hulle was te opgewonde en het tot laat in die nag gelê en beplan wat hulle alles in die groot stad gaan doen sodra hulle onder Mildred se oë uit is.
“Toemaar, jy kan op pad verder slaap,” sê Mildred toe Roy groot gaap. “Jy’s in elk geval alleen op die agterste sitplek.”
Die twee neem hul taak as beskermers ernstig op en terwyl Roy sy knalrewolwer by hom het, het hy vir Ruan tydelik een van sy broer se krieketkolwe gegaps. Dié word in die beenruimte van die passasiersitplek gebêre, waar dit onmiddellik gegryp kan word in geval van nood.
Uiteindelik word afskeid geneem van die bek-af Tjello – die kat slaap nog – die huis gesluit en koers gevat stad toe. In die ooste begin die nag reeds wyk voor die opkomende son.
Roy Met Die Rewolwer is binne ’n paar minute aan die slaap, maar Ruan geniet stil die dagbreek, en later begin hy en Mildred gesels. Mildred vertel hom van Elsa, wat uit Suid-Afrika na Engeland geëmigreer het en nou die hele ent pad daarvandaan kom kuier.
“Ons ken mekaar al baie lank, van toe ek as kind vakansies by familie in die Kaap gekuier het, en hoewel ons later op die internasionale skoubane teen mekaar gekompeteer het, het ons altyd vriende gebly.”
“Ons het foto’s van jou gesien waar jy gewen het,” sê Ruan sonder om te dink en eers toe Mildred vra: “Waar was dit?” besef hy dat sy nie weet hulle het in haar besittings gekrap nie, destyds toe hulle op die hoewe aangekom het..
Beskaamd antwoord hy: “In ’n kis op die skuurtjie se solder, dis hoe ons uitgevind het wie jy is.”
Mildred se oë bly op die pad gerig, maar haar mond vertrek toe sy sê: “My naam was nooit ’n geheim nie.”
“Ja, maar ons het nie geweet Mildred Heywood was so ’n topruiter nie. Net Anneke het.”
Vir ’n rukkie is dit net die motor se eentonige dreungeluid wat die stilte versteur, dan vra Ruan: “Hoekom is al daardie goed so weggesteek? Is jy nie trots daarop nie?”
Weer is dit stil, en toe Mildred begin praat, is dit sag en amper asof sy hardop dink, asof sy vergeet het van Ruan wat langs haar sit.
“Ek was, eens. Ek en Elsa het altyd getel wie die meeste trofeë het en soms was dit ek en dan was dit weer sy, maar ons was nooit jaloers op mekaar nie. Die twee van ons het saam na skoue gereis en mekaar les gegee en was strooimeisies op mekaar se troues.” Mildred glimlag by die onthou. “Ons mans het ook goeie vriende geraak en gou geleer om te help met die perde. Dit was dom, maar ons het gedink dit sal nooit eindig nie.”
Sy begin ’n liedjie neurie wat Ruan nie ken nie, en hy wag geduldig dat sy voortgaan met die storie. Toe sy egter weer praat, is haar stem bitter.
“Daar was ’n ongeluk. Haar perd se been het oor ’n hindernis vasgehaak en hy het bo-op haar geval en omtrent alles in haar gebreek wat kón breek.”
“Maar sy het oorleef?”
“Ja, sy het. Hulle het gelas en geplak en penne ingesit en sy het geleef, maar moenie vra hoe nie.”
“Hoe dan?”
Mildred draai vinnig haar kop na hom toe, om dan weer stip na die pad voor hulle te kyk. Dit lyk asof sy in daardie kort oomblik gesien het dat Ruan nie uit morbiede nuuskierigheid wil weet nie, maar in opregte medelewe. Tog duur dit ’n tydjie voordat sy antwoord.
“Sy was maande lank in die hospitaal en toe sy uiteindelik huis toe kon gaan, het sy haarself Frankenstein se Monster genoem, so van die lelike littekens was sy. Hulle het haar na die beste van hul vermoë opgelap, maar loop kon sy nooit meer nie.” Mildred se hande omklem die stuurwiel. “Dis toe dat ek al my trofeë en rosette weggepak en in die verste uithoek van die platteland ’n stuk grond gekoop het om saam met my perde tot rus te kom. Ek was klaar met kompetisies.”
“Ek verstaan.”
Mildred knik haar kop.
“Dis goed. Nou sal jy in elk geval nie skrik as jy sien dat Elsa in ’n rolstoel is nie. Sal jy hom — ” sy beduie met haar kop na Roy wat agter hulle lê en slaap “ — voorberei? Ek is jammer, ek moes vir die ander ook gesê het, maar ek het nie geweet hoe om te begin nie.”
“Moenie jou daaroor bekommer nie,” verseker Ruan haar, “ons is nie een isties nie.”
“Isties?”
“Ja, jy weet, rassisties, seksisties, aktivisties, gestremdisties … ”
“Veral daardie laaste een,” lag Mildred hardop en Ruan lag saam, bly dat sy weer vrolik is.