GROENHEIDE BOEKE

#0: Die Nege Siele van Joshua Duran

— HOOFSTUK 1 —

DIE OPDRAG

Joshua Duran gooi whiskey in die glas. Die ysblokkies dans daarin en verander na liggoud. Hy sluk alles met een slag af. Hy tel die foto op en staar daarna. Dit is of sy deur hom kyk. Dit is haar oë, haar grysgroen oë wat staar asof sy geweet het die foto word geneem sodat hý eendag daarna moet kyk.

Volgens die verslag is die foto drie jaar gelede geneem. Haar koper hare lê in krulle oor haar kaal, vleklose skouers. Die blou rok wat sy aanhet vertoon haar ferm borste. Sy is besonders, uniek. Sy is anders as enige vrou wat hy nog gesien het.

Zeetha Kleinhans is die naam wat met ’n dik swartmerker op die geel lêer geskryf is.

Die naam wat in die verslag geskryf is, is egter Zeetha Ponce. Sy is die dogter van Carlos Ponce, die hoof van die Orde van Goed, wat agt van sy, Joshua, se familielede vermoor het. Die man wat sy lewe vernietig het. Die man wat sy grootste vyand is. Carlos Ponce, ook bekend as Carl Kleinhans.

Hoe dom dink die Orde van Goed is hy? Is hulle? Die Orde van Kwaad is sterker as enige ander mag op aarde. Hy glimlag. Carlos se dag gaan kom. Carlos gaan sý wraak voel. Hy gaan voel wat hy het die dag toe sy familie vermoor is.

Hy vryf oor sy stoppelbaard. Die foto van Zeetha Ponce laat hy langs die oop lêer lê. Hy gooi vir hom nog ’n dubbel whiskey met ys. Hy kan byna nie sy geluk glo nie. Hy sou dit nooit waag om te vra vir hierdie opdrag nie. Dit is die grootste opdrag wat die Orde van Kwaad nog gehad het. Daar is jare gesoek na Carlos Ponce. Nie net oor sy familie se dood nie, maar ook omdat Carlos die enigste man op aarde is wat die mag besit om sý hele Orde ten gronde te bring.

Maar Carlos het altyd ’n stap voor hulle gebly. Hulle kon hom nie opspoor nie. Hy het nie geweet daar is ’n dogter nie.

Hy tel die foto weer op. So ’n mooi vrou. Haar lippe is vol en rooi. Haar wange lyk sag. Haar neus fyn. Hoe dit nie moet voel om aan haar te vat nie. Dalk kan hy? Dalk – laat hy die opdrag klaar lees. Hy sal nie daarvan kan afwyk nie. Dit moet gevolg word. Woord vir woord uitgevoer word.

Zeetha Ponce. Ouderdom, 27. Enigste kind van Carlos en Lesya Ponce. Eienares van Clouds and Things Art Gallery in Pretoria. Woonsaam in die solderwoonstel bo die galery. Enkellopend.

Hy laat sy oë oor die fisiese beskrywing van haar gly. Woorde sal nie kan vasvang wat die foto van haar sê nie.

Die opdrag.

Hy drink die whiskey in die glas klaar en gooi nog een. Hy is nie seker hy wil die opdrag lees nie. Dit is al waarvoor hy lewe. Die wraak. Carlos moet die seer voel waarmee hy grootgeword het. Hy moet voel hoe dit is om iemand waarvoor jy lief is, te verloor. Deur moord. Nie natuurlike oorsake nie. Hy het sy familie geroof. Nou sal sy dogter met geweld gesteel word.

Hy drink die glas leeg en vryf oor sy gesig. Die bloed jaag deur sy are. Sy asemhaling verhoog. Satisfaksie is naby. Hy kan dit proe.

Zeetha se oë volg hom soos hy om die tafel loop. Hy wonder hoe sag haar nekvel is. Hy wonder of ’n mes maklik daardeur sal gly.

Sy bolip trek effens op na links. Sy is beeldskoon.

Die opdrag …

Die teiken moet in besit geneem word die aand van 24 November na die uitstalling van haar nuwe reeks skilderye. Sy moet opgeneem word na haar woonstel. Sy moet vasgebind word op die stoel in haar kamer aan haar voete en haar hande. Haar mond moet toegeplak word. Die ligte in die woonstel moet afgeskakel bly. Sy moet so min as moontlik van jou gesig sien. Daar moet die volgende aan haar voorgelees word:

"Zeetha Ponce, dogter van die hoof van die Orde van Goed, Carlos Ponce, hiermee word jou doodsvonnis uitgespreek. Jou polse sal gesny word en jy sal stadig doodbloei. Dit is jou straf. Dit is jou vader se straf. Hy sal in kennis gestel word van jou dood die oomblik van jou dood. Daar is geen kans vir jou om te oorleef nie. Zeetha Ponce, dit is jou straf vir jou vader. Oor die moorde wat hy laat pleeg het. Oor die besluite wat hy geneem het. Oor hy jou in die wêreld gebring het."

Daarna sal jy die lem in die bruin koevert neem en haar polse vertikaal sny. Twee snye aan elke arm. Van die hand tot die elmboog. Aan die binnekant van haar arm. Jy sal staan en kyk tot sy dood is. Jy sal haar nie toelaat om te praat nie. Jy sal haar nie help nie. Dit is jou geskenk van ons. Dit is jou opdrag vir wraak. Dit is vir jou familie en al die lede van die Orde van Kwaad wat vermoor is deur haar vader. Die oomblik wat sy nie meer asemhaal nie, sal jy haar vader skakel by die volgende nommer: 082———————.

Hy sit die lêer neer. Haar oë hou hom gevange. Dit is ’n jammerte dat hy nie meer aan haar kan doen nie. Hy sou haar lyding baie langer wou laat duur. Hy kan aan ’n hele paar ander maniere dink wat haar vader seer sou maak. Maar die dood van ’n geliefde is erg genoeg. Hy weet. Daar is niks wat seerder maak as dit nie. Die dood is finaal. Die dood steel. Die dood martel.

Hy gooi die laaste whiskey uit die bottel in die glas, sonder ys. Hy weet die son is aan die opkom. Hy het een week. Hy lees verder.

Jy moet seker wees dat sy dood is voor jy die nommer skakel. Jy moet aan Carlos Ponce die volgende voorlees:

"Carlos Ponce, hoof van die Orde van Goed, vader van Zeetha Ponce, jou dogter is dood. Dit is jou straf. Dit is my wraak vir die moorde wat jy laat pleeg het. Dit is vir my ouers, Daniel Duran en Mariena Duran. Dit is vir my broers. Dit is vir my."

Daarna moet jy die battery uit die foon haal en beide saam met die lem terug in die koevert sit. Jy moet ongesien uit die gebou gaan. Jy moet die koevert in die pos gooi en jy moet terugkeer.

Einde van die opdrag …

· · ·

Hy skeer sy stoppels geduldig. Sy oordeelgevulde, bloedbelope oë staar terug na hom. Hy spoel die skeermes rustig af. Hierdie is die begin van alles. Hy moet fokus om die opwinding binne hom, binne te hou.

Hy gel sy hare agtertoe. Hy trek sy swart leerbaadjie aan oor sy wit hemp. Hy trek sy leer puntskoene aan. Die koevert met die opdrag in, is onder in sy reistas. Die vliegtuigkaartjie lê op die tas. Hy moet ongesiens weggaan. Niemand moet weet dat hy Pretoria toe gaan nie. Niemand moet weet van die voorreg wat hy ontvang het nie. Die eer. Die beloning.

Joshua Duran was die jongste van nege broers. Hy het net vae herinneringe van sy ouers. Hulle het op tien by die tuisbasis van die Orde van Kwaad kom woon. Twee jaar later is sy familielede vermoor. Almal, in die naam van die Orde van Goed.

Hy voel die satisfaksie in sy maag vestig. Nou, ’n verdere agtien jaar later, gaan hy wraak neem.

Hy is grootgemaak met die reëls van die Orde van Kwaad. Die OVK. Streng reëls. Hulle is geleer skiet, jag en voertuie bestuur. Hy het ook op ’n jong ouderdom die kuns van Combat Sambo bemeester. Ook het hy Jujutsu, Hapkido en ander vorms van selfverdediging aangeleer en bemeester. Asook ander Mixed Martial Arts. Swaar oefening is deel van sy daaglikse roetine. ’n Baie streng dieet word gevolg. Niks meer as ses ure se slaap nie. Al wat hy mag gebruik soos goeddink, is drank. Elke lid van die OVK kan sy drank hanteer. Hy weet hy drink hopeloos te veel. Hy voel dit in die oggende aan die moeite wat dit is om die eerste stel oefeninge te doen. Maar hy doen steeds sy oefeninge. Dissipline is belangrik. Dissipline, lojaliteit en fokus. Opdragte word uitgevoer sonder vrae. Woord vir woord. Geen afdwaal. Geen inisiatief.

In die spieël sien hy nie homself raak nie. Hy sien ’n masjien. ’n Dooie man. Iemand met geen gevoel nie. Nee. Hy voel! Hy voel haat. Hy voel kwaad. Hy voel woede. Hy begeer! Hy begeer wraak. Hy begeer – hy begeer ’n vrou. Hy weet hy het ’n vrou nodig. Maar die reëls is dat hy nie ’n vrou buite die OVK mag kry nie.

Hy stel nie belang in enige van die lede van die OVK nie. Die vroue het geen skaamte nie. Hulle maak hom naar.

Sagtheid. Die Orde van Kwaad besit nie sagtheid nie. Sag wees is ’n teken van swakheid. Weerloosheid is ’n teken van swakheid.

Hy glimlag. Hy gaan die een wees wat Carlos Ponce vernietig. Na hy vir Zeetha Ponce vermoor het, gaan Carlos niks wees nie. Niks! Net soos hy.

Die foto van Zeetha Ponce is nie in die koevert in sy tas nie. Die foto van Zeetha Ponce is in die binnesak van sy baadjie.

Hy zip sy reistas toe. Hy tel dit op, want om dit te sleep sal aandag trek. Hy sluit sy kamerdeur agter hom en druk die sleutel in sy broeksak. Die gang van die koshuis is koud en leeg. Sy voetstappe weergalm nie.

Die swart BMW 320i staan gereed. Sleutels daarbinne. Die GPS is reeds geprogrammeer na die lughawe. Hy skakel nie die radio aan nie. Hy ry in stilte.

Hy moet fokus.

· · ·

Eersteklas. Stilte. Vriendelikheid.

Vriendelikheid is onnodig wanneer jy niks het om te baat nie. Hy praat nie terug met die lugwaardinne nie.

Die foto in sy binnesak roep na hom. Hy haal dit uit en staar daarna. Wraak, so naby.

Die vlieënier kondig af dat die vlug korter gaan wees as verwag.

Hy hou nie daarvan nie. Hy hou daarvan as dinge presies volgens plan verloop. Presies.

Hy sit die foto van Zeetha Ponce in sy sak en sluit sy oë.

Wraak, so naby.