GROENHEIDE BOEKE

Heideroos Romanse #23: Gesnyde Liefde

— HOOFSTUK 1 —

Dit is nie asof sy gevra het om hier te wees nie. Dit is nie asof sy gevra het om gebore te word nie. Dit is nie asof sy kon kies nie, asof die keuse enigsins hare was nie. As sy so onverskrokke was soos die meisie van Thirteen Reasons Why, dan sou sy al lankal die mes in haar badkamerkassie gebruik het om haar polse te sny. Net soos die meisie van die reeks het. Net so diep. So doelgerig. So … finaal. Maar sy is glad nie dapper nie. Sy is pateties en al wat sy regkry is om die onvermydelike te verleng.

Amy stoot die gedagte van die mes eenkant toe en fokus op die woorde wat uit die sitkamer kom. Haar tannie is duidelik onder die indruk dat sy nog in die kamer wegkruip.

“Ek is bekommerd oor haar, Daan. Die kind het nog skaars drie woorde gesê vandat sy hier aangekom het.” Tannie Kitty Snyman neem haar plek in langs haar man met ’n beker koffie in die hand. Haar ligbruin hare met grys strepe in, is soos altyd in ’n bolla laag agter haar kop vasgesteek. Sy sit die beker op die tafeltjie en vou haar hande oor haar maag voor sy verder praat. “Sy is nou al twee dae hier en ek sien haar net met etes; én sy eet nie veel nie.”

Oom Daan bestudeer sy vrou oor sy bril. “Gee haar kans, vrou. Haar pa is nie eers ’n week gelede begrawe nie. Om híér tussen vreemde mense te kom woon en na ’n nuwe skool te gaan — ”

Tannie Kitty antwoord vinnig met ’n skerp gluur in haar blik. “Ek is g’n ’n vreemde mens nie, Daan. Ek is haar tannie! Sy is my broerskind. Dit maak tog geen verskil waar ’n mens woon nie, jy word honger en jy moet eet?”

Hy blaas sy asem stadig uit voor hy weer praat. “Sy is nie só maer nie, vrou. Sy is net fyn gebou.”

Dit is asof haar stem nou net so skerp soos haar blik word en sy moet haarself terug hou in die bank. “Fyn gebou se voet! Daar is fout met daai kind, Daan. Hoor wat ek jou sê! Groot fout. Mens kan dit in haar oë sien.”

Oom Daan plaas sy hand op sy vrou se knie, sy stem bly kalm. “Gee die kind net kans, sy sal praat en sy sal eet. Jy weet tog haar pa was al wie sy gehad het.”

Tannie Kitty se stem is nou ook sagter, asof sy nou skielik bang is iemand sal hoor wat sy sê. “Ja, en ék sê dis daai ma van haar se skuld dat sy is soos sy is. Amy was ’n lieflike kind, tot dít gebeur het. Karl het my vertel, ons het mekaar mos gereeld geskakel. Dit was asof daai feeks van ’n vrou van hom die arme kind se lewe verwoes het met haar dade. Die arme kind … ”

Oom Daan skuif sy bril reg voor hy antwoord. “Ek weet, vrou. ’n Lelike ding gewees daai. So wees asseblief geduldig met die kind, sy het net tyd nodig. Die een persoon wat sy vertrou het, is nou nie meer daar nie; wat verwag jy moet sy sê?”

“Ek weet nie. Iets? Sy kan tog nie altyd so in haar kamer wegkruip nie?”

“Ag, vrou, kyk hoe was Theo toe hý hier kom woon het? Hy het ons al ons dae gegee en nou — ”

“Nóú is hy steeds stil en bot, Daan. Dit het ons niks gebaat om hom alleen te laat nie. Ek wil nie hê Amy moet soos hy — ”

“Kitty.” Sy stem is hard en sy weet hy noem haar net op haar naam as hy genoeg gepraat het. Sy sak terug in die stoel. “Theo se verlede en Amy s’n is twee verskillende berge. Jy weet dit. Gee die kind net kans om oor haar pa se dood te kom en gemaklik te raak hier by ons. Sy dood was baie onverwags.”

Tannie Kitty antwoord nie, sy weet beter as om teen haar man op te staan as hy so is. Maar die kommer in haar hart word nie so maklik gesmoor nie.

· · ·

Die bekende, ongemaklike smeulende pyn in Amy se maag laat haar teen die muur gaan lê met haar tannie se woorde. Waar hulle in die sitkamer sit en koffie drink vertoon hulle die huis perfek. Maar dit is nie. Niks is perfek nie. Haar voete wou nie beweeg toe sy besef dat haar tannie en oom oor haar praat nie, maar noudat hulle stil is, is dit asof dit skielik losgekom het uit ’n onsigbare web.

Moes hulle nóú oor haar pa gepraat het? ’n Ongeluk, het hulle gesê. ’n Motor verby gevat en in ’n trok wat van voor af gekom het, vasgery. ’n Ongeluk? Haar pa was depressief, maar hy sou haar nie alleen agterlaat nie. Sou hy? Nie eers twee jaar nie, dan is sy klaar met skool. Hy sou seker nog twee jaar kon uithou met haar? Sy knyp haar oë styf toe. Die las is swaar. Soms is dit te swaar om te dra. Swaar soos ’n ton sand op ’n kruiwa wat sy nog nie teen die heuwel opgestoot het nie. Sy weet nie altyd mooi hoekom sy juis die kruiwa moet die heuwel op nie, sy weet net dit is haar straf.

Hulle sê sy mag maar lank treur. Volgens wat sy nou uit tannie Kitty se mond gehoor het, wil sy egter hê sy moet treur en vrolik wees tegelyk. Hoe is jy vrolik as jy nie hoort nie? As jy jou lewe lank nog net in die pad was. Miskien was twee jaar te lank. Miskien wou haar pa al teen ’n trok vasry toe sy nege jaar oud was. Toe sy die een was wat hom die waarheid laat sien het. Onervare en onskuldig. Sy het nie geweet sy breek haar pa nie. As sy geweet het, sou sy die geheim vir haarself gehou het.

Sy maak haar oë toe en luister na die stilte waarin slegs die huis asemhaal. Sy sal maar weer terugsluip kamer toe. Verder gaan wegkruip. As tannie Kitty dalk besluit om te grou, sal sy dalk uitvind sy is reg om haar te bekommer oor Amy en sy weet sy sal moet mooi speel om hulle te laat glo alles ís reg. Sy kan nie verduidelik nie. Sy kon nog nooit verduidelik nie. Die gevoel, die seer, die onaardsheid wat binne haar broei, brand, leef. Sy kon nog nooit die regte woorde vind om dit eers hardop aan haar self te erken nie. Hoekom is ek hier.

Dit is ’n skroeiende hartseer gevestig in haar bestaan waarvan hulle nou steeds rou wonde wat stoei en spartel om rowe te probeer vorm, oopkrap met hulle onnosele woorde. Dinge waaraan sy nie wil dink nie … waaroor hulle bly praat.

Die trappe is hout, maar kraak nie wanneer sy daarop trap nie en sy loop geluidloos tot bo. Kan mense nie verstaan dat die verlede beter is waar dit hoort nie: in die verlede! Waarom altyd daaroor wil praat? Die seer, die vrees … hoekom weer daaraan dink? Jy moet daaroor praat. Nee, sy hoef nie. Dit is beter om nooit weer daaroor te praat nie. Dit het niemand nog nooit iets gebaat as sy praat nie. Alles is beter as sy nie in haar eie hart inloer nie. As sy maak asof niks fout is nie, dan kán niks fout wees nie.

By die eerste kamerdeur gaan staan sy stil. Daar is twee kamers en ’n badkamer bo. Sy staar na Theo en probeer wat sy voor haar sien in haar gedagtes uit te pluis. Haar brein wil dit nie aan haarself beskryf nie, in die vrees dat dit vorm gaan vind en gaan verdwyn. Soos alles waarvan sy hou altyd net verdwyn.

Die vreemde ou met sy tatoeëermerke prikkel haar nuuskierigheid. Iewers ontkiem ’n onverklaarbare gewonder oor hom. Oor sy kortgeskeerde hare wat hom vir een of ander simpel rede meer aanloklik maak. Sy is nie eers seker of hy kan praat nie. Sy het hom nog net hoor brom, aan tafel, soms, as oom Daan vir hom ’n vraag vra. Aan haar het hy nog nie ’n woord gesê nie. Hy is soos sy. Hy eet net en wag en gaan weer na sy kamer toe … soos sy. ’n Omgekeerde spieëlbeeld van haar.

Nou sien sy ’n ander kant van hom, iets wat sy nooit kon raai nie. Die note wat hy op die kitaar speel hang in die lug vir iemand om in te asem. Maar sy hoor hulle nie, sy volg net sy vingers wat delikaat en sensueel oor die snare gly en sy lyf wat ritmies saam beweeg soos hy sy gevoelens uitbeeld en in klanke verander. Ongesproke, ongewysde gevoelens en geheime. Sy oë is oop, hulle boor deur haar en laat haar knieë lam voel. Sy is skielik weer in die web vasgegrendel, maar hy hou nie op met speel nie.

Die stimulerende, belonende dopamien bly vloei …

Theo.

Wat met hom gebeur het noem niemand nie. Dit is wat haar pa altyd vir haar gesê het. Hy het hier kom woon toe hy veertien was, ses jaar terug, toe sy elf was. Dit is blykbaar oom Daan se sussie se kind. Of stiefkind.

Maar niemand praat oor wat sy pa aan hom gedoen het nie en wanner mens in sy oë kyk, is dit onmoontlik om jou eie afleidings te maak. Almal sê net hy is ’n moeilike mens en was vir baie lank ’n skoorsoeker.

Sal hy dalk verstaan?

Sy besef eers dat hy opgehou het met speel toe hy reg voor haar staan en sy hom ruik wanneer sy inasem. Hy is baie langer as sy, gespierd en deur sy regter wenkbrou is ’n ring ingeskiet en die tatoe op sy skouer lyk soos ’n gebreklike rankplant wat onder sy mou uitpeul. Sy bruin oë flits ongesproke en onnodige waarskuwings na haar. Sy kan nie beweeg nie. Na ’n hele paar tellings waartydens hy nie vir ’n oomblik weggekyk het nie, slaan hy onverwags die deur in haar gesig toe.

Sy stap sleepvoet aan na haar kamer, maak die deur agter haar toe en gaan lê op haar bed. Haar bed? Dit is wat vir haar gesê is. Jou kamer. Nee, haar kamer was in haar pa se huis, langs sy kamer. Waar dit altyd was, nie hier in hierdie vreemde huis, op ’n vreemde dorp nie!

Maar hier is waar sy nou moet woon. Hier is waar sy nou moet skoolgaan. Hier is waar sy moet leer om met al die gisters saam te leef en te maak asof daar nie ongenooide drake om haar woel op ’n daaglikse basis nie. Asof dit nie ondraaglik is om te wees nie. Asof sy hoort. Al weet sy dat sy nie moes wees nie. Sy knyp haar oë toe, maar net betyds voel sy die passie in die liedjie wat deur die muur klim en soos lafenis vir die siel op haar neerval. Al is die klanke sag en voel sy skuldig oor sy lê en luister, voel sy ewe skielik of dit so hoort.

· · ·

Dit is ’n klop aan die deur wat haar laat wakker skrik. Sy knip haar oë ’n paar keer om seker te maak sy het nie gedroom nie. Met die volgende klop staan sy op en kyk eers in die spieël. Haar hare staan woes, sy vryf dit plat en gaan maak daarna die deur oop.

“Gaan jy kom eet, kind? Die kos is al op die tafel.”

Tannie Kitty se vriendelike oë word ondersteun deur haar glimlag. Amy knik en gooi haar oë oor die kamer voor sy uitgaan, asof sy al haar gedagtes weggesteek het in haar kamer en bang is een van hulle steek kopuit. Sy trek die deur agter haar toe en volg haar tannie na onder.

Theo en oom Daan sit reeds aan die tafel, albei se oë dadelik op haar. Het hulle oor haar gepraat? Dalk het Theo hulle vertel sy het na hom gestaan en luister?

Na hulle gedank het, begin hulle eet. Tannie Kitty klets voort sonder ophou en sonder om te besef dat niemand werklik na haar luister nie. Seker omdat almal onbespreek ’n kop knik of ’n proes uiter op die regte oomblikke.

Dan skielik: “Amy, kind, jy het nog nie eers aan jou kos geraak nie?”

Amy weet sy het nog niks geëet nie, maar Theo se oë steel kort-kort ’n kyk na haar en dan kan sy nie asemhaal nie, wat nog van eet? Pleks dat sy nooit by sy deur gestop het nie. Nou is alles anders.

Sy dwing ’n glimlag na haar tannie en forseer haarself om ’n klein happie van die hoenderpastei te neem.

Tannie Kitty skep vir haarself nog kos in en gesels weer voort. Oom Daan sê so nou en dan iets, maar Theo is ook stil. Soos sy.

· · ·

Skool.

Sy trek haar tas oor haar skouer en hou haar oë op die grond. Niemand het nog met haar gepraat nie. Sy sit pouses voor die klas en wag vir die klok om te lui. Sy waag dit om haar foon uit te haal en blaai rond op Facebook. Sy weet dat die ander kinders oor haar praat, maar sy gee nie veel om nie. By haar ou skool het sy vriendinne gehad, maar sy was altyd die stil een. Die ekstra een in die crowd. Die een wat eenkant met ’n bek vol tande gestaan en mooi lyk het. Ja, sy weet sy is nie lelik nie. Daarvan het niemand haar nog ooit beskuldig nie en is sy seker dit is hoekom sy enigsins enige vriendinne gehad het. Sy is die stil, mooi een wat nie die spotlight op haar wil hê nie en ook nie enige van die in-meisies se shine probeer vang nie. Sy is net. Sy is net altyd daar. Stil en ordentlik. Gewoon. Haar punte is nie sleg nie, maar ook nie die beste nie. Sy doen nie sport nie, maar sy is nie oorgewig nie. Sy is net en sy vermoed dit is wat die kinders die meeste oor praat. Die feit dat sy stil is, maar daar geen rede gevind kan word om haar te spot nie.

· · ·

Tannie Kitty sê Theo gaan na ’n ander kerk toe as hulle. Dit is vir haar vreemd. Theo lyk nie soos die tipe wat kerk toe gaan nie. Tannie Kitty en oom Daan is lieflike, rustige mense en sy het besluit om haar bes te probeer om meer tuis voor te kom. Hulle dwing haar nie om saam met hulle kerk toe te gaan nie. Tannie Kitty sê hulle moet vir haar nog gaan klere koop, want nie alleen het sy nie klere wat volgens hulle formeel genoeg is vir hulle kerk nie, weet tannie Kitty ook dat haar pa het nooit kerk toe gegaan nie. Sedert haar ouers se egskeiding het hy besluit om so ver moontlik van die kerk af weg te bly. Sy weet nie hoekom nie. Sy het hom nooit gevra nie. Sy is net dankbaar dat sy nie nou gedwing word om nog iets te doen wat sy nie wil nie.

Darem is dit maklik om vriendelik voor te kom met net die nodigste woorde. Môre. Totsiens. Middag. Dankie. Ja. Nee. Nag.

Maar dit is steeds ’n vreemde huis met vreemde mense. Sonder haar pa. Hoe beweeg mens aan na so iets? Hoe trap jy oor ’n onsigbare gat waarin jy weet jy gaan val? Aanhou af en af val sonder om die bodem te tref. Want jy weet die dag wat jy die bodem tref, gaan jy dalk net daar wil bly lê, vir altyd. Sonder om weer iewers die moed te soek om op te staan.

Donderdagaande is dit brug by die klub en oom Daan en tannie Kitty mis dit nie vir die wêreld nie. Soos die vorige Donderdagaand van die afgelope weke sit Amy alleen in die sitkamer voor die televisie. Haar voete onder haar ingekrul en ’n kombers oor haar skouers. ’n Warm beker koffie langs haar op die koffietafel. Sy kyk nooit TV saam met haar oom en tannie nie. Dit voel net te vreemd.

Op haar skoot lê Onderwêreld wat sy veronderstel was om al by die vorige skool klaar te gelees het. Sy het gedink al die skole is dieselfde. Blykbaar toe nie. Sy is nou agter. Ten minste gee dit haar iets om te doen. Sy kan die verskoning dat sy werk wil inhaal gebruik om pouses in die klas te bly. Die Afrikaans-juffrou het vir haar gesê dat dit lekker is om ’n jongmens te sien wat so hard werk aan haar toekoms. Toekoms? Dit is ’n grap. Sy moet eers uitwerk hoe om oor die verlede te kom.

Theo studeer blykbaar by die kollege. Na skool moet sy ook gaan. Haar pa het daarvoor gesorg. Die juffrou, Van Wyk, het haar begin uitvra oor wat sy gaan studeer. Sy weet nie. Sy het nog nooit daaraan gedink nie. Sy het eintlik gedink sy moet dadelik gaan werk na skool sodat sy die finansiële las op haar pa ligter kan maak. Sy het nie geweet haar pa gaan in ’n trok vasry en so sorg dat sy nooit weer iets gaan makeer nie.

Sy wil nie aan haar pa dink nie. Sy laat skuldig haar gedagtes eerder soek na Theo, wie nog nie een enkele woord aan haar gesê het nie. Sy tel haar foon op, gaan op Facebook en tik sy naam in. Sy vind niks. Sy sug. Al wat ooit uit sy mond kom is die bromgeluide wat as antwoord dien as oom Daan aan hom iets vra. Maar dan, nét aan tafel, wanneer hulle saam gedwing word, dan gaps hy haar oë vir ’n sekonde of meer.

En as sy hom op sy kitaar hoor speel, wanneer hy homself in sy kamer toesluit, dan kantel haar siel. Haar seer. Haar ongehoort wees. Ongehoort – soos in sy hoort nie hier nie. Nie hier soos op die sitkamer bank nie, maar hier soos in haar vel.

En Theo? Hy weet nie daarvan nie. Hoe is dit moontlik dat iets so hard en woes so kalmerende effek op haar het? Iets onbegrypliks waarna sy al begin uitsien het.

Wat op die televisie is, weet sy nie; en wat in die boek staan, gee sy nie om voor nie. Sy blaai weer aandagloos deur Facebook en hou van ’n paar foto’s van Asha se nuwe kat. Die koue van die nag wat die bietjie hitte van die dag omvou laat haar die kombers nog stywer om haar trek. Koue? Hoe anders is dit nie hier as in Montana nie? Is dit die leegheid in haar hart of die wind buite wat haar laat koud kry? Verlange is ’n vreemde gevoel. Iets wat sy ken, iets wat sy leer saam leef het. Iets wat sy nooit sal kan verstaan nie. Iets wat haar pa se afwesigheid vorm gegee het.

Die teenwoordigheid van iemand by die deur onderbreek haar gedagtes.

Theo.

Hy staan stil met sy oë op haar. Sy gesig sê niks nie en vir Amy is die naarheid wat in haar maag vlam oor die ongemak wat sy voel, iets wat sy maklik kan versteek. Soos baie ander dinge. Toe plak. Uit sig hou vir ander. Sy weet net nie mooi hoe sy moet optree in sy teenwoordigheid nie. Sy weet nie of sy veronderstel is om met hom te gesels nie.

Hy beweeg stadig nader aan haar, sy voel die bloed in haar are stol. Hy loop tot voor haar en gaan staan stil teen die bank waarop sy sit. Sy oë direk in hare. Dan buk hy nader, sy hou op met asemhaal en haar oë volg sy hand wat stadig in haar rigting beweeg.

Hy neem die afstandbeheerder wat op haar skoot langs die boek lê, beweeg stadig agteruit en gaan sit dan op ’n stoel ’n ent van haar af. Hy verander die kanaal na een wat musiek speel en sit die afstandbeheerder langs hom neer. Sy oë op die televisie.

Amy gaan skuldig en vinnig uit Facebook en sluit haar foon. Sy blaas haar asem stadig en sag uit. Sy tel Onderwêreld op en probeer fokus, maar as sy haarself vind is sy besig om hom te bestudeer. Sy gesig is uitdrukkingloos, die tatoeëermerk op sy arm bind haar oë vas aan hom en sy kan nie help om te wonder hoekom hy dit het of wanneer hy dit gekry het nie.

Is dit dalk sy manier om homself aan die wêreld oop te maak? Kyk, dit is ek, vol seer en haat. Vol woede en kwaad.

Is sy stomheid en stilte ’n manier om hom onbereikbaar te maak vir die wêreld? Jy mag kyk, maar nie vat nie. Nie ken nie. Nie naby kom nie. Nie verstaan nie.

Is dit ’n goeie manier om mense te laat verstaan hoe en wie jy is? Anders as sy, wat niks het om vir die wêreld te wys vir hoe sy voel nie. Haar woede en kwaad steek sy weg. Haar seer is net vir haar om te sien, vir haar alleen om van te weet. Iets wat sy self moet leer aanvaar.

Maar hoe?

Wat sy doen is goed, hoe sy haarself beklemtoon, help.

Vir nou.

· · ·

“Tiaan du Plessis. Ek móét net weet wie jy is, want ek het gehoor die hemel soek ’n verlore engel en ek het ’n vermoede dat dit jy is.”

Amy kyk om hulle rond. Daar is niemand naby nie. Haar eerste gedagte is dat iemand hom ge-dare het om met haar te kom praat. Sy rol haar oë. Net omdat sy niemand sien nie, beteken nie hulle word nie dopgehou nie. Sy gaan nie smelt, soos sy al gesien het al die ander meisies met wie hy praat, doen nie.

“Regtig? Dis darem ’n heavy ou lyn.”

Kan die aantreklike ou met sy blonde hare en blou oë regtig belang stel in haar? Hy krap skaam agter sy kop. Hy kyk nie rond nie maar behou haar blik. Dit lyk nie asof hy iemand probeer beïndruk nie. Sy sug.

Hy trek sy skouers op. “Jy lyk soos ’n engel en niemand kan vir my sê wat is jou naam nie. Toe kom vra ek maar. Jy sien, die hemel het blykbaar ’n enge— ”

“Regtig? Flip. Ek is Amy, OK? Amy Smith. So los my nou asseblief uit.”

Sy tel haar tas op om aan te stap, maar Tiaan weet duidelik nie dat ’n meisie soms nié kan belangstel nie.

“Amy? Dis ’n mooi naam.”

Sy voel die blos oor haar wange slaan en wens sy kon haarself skop omdat sy so reageer oor ’n kompliment van ’n simpel wanne-be Don Juan.

“Stap jy koshuis toe?” Sy stem is sterk en duidelik en laat haar hart ’n klop mis.

“Nee, ek stap huis toe. Ek bly ’n paar blokke van hier af, by my tannie en oom.” Amy weet nie hoekom sy dit vir hom sê nie. Die woorde rammel ditself af, asof hulle weet sy gaan hul eintlik wil keer.

“Mag ek saam stap? Net om seker te maak jy is nie die verlore engel nie.”

Amy rol haar oë, maar antwoord hom nie. Sy begin aanstap, haar oë op die grond. Sy kry nie die glimlag teruggehou wanneer Tiaan agter haar aangedraf kom nie. Daar verskyn ’n fyn kuiltjie in haar wang, net-net sigbaar. Sy vryf haar kort, bruin hare agter haar oor in, maar dit val weer uit. Die bob is te kort om vas te maak. Net lank genoeg om los te mag dra.

Wanneer Tiaan langs haar loop, sê sy selfvoldaan: “Ek kan jou verseker ek is nie ’n engel nie, ek sal reg wees, dankie. Jy hoef nie saam te loop nie.”

“Maar ek wil.”

“Ek wil nie hê jy moet nie.”

Die verslae uitdrukking op sy gesig laat Amy besef hy is regtig nie gewoond daaraan dat ’n meisie vir hom nee sê nie en dit is asof dit die dryfkrag in sy oë net sterker aanmoedig. ’n Doel wat haar hart vol vermoede laat en sy begin weer aanloop.

Sy hand vou om haar bo-arm en sy vingers boor daarin. “Amy Smith?”

Sy draai na hom, haar hare val oor haar gesig en sy vee dit vies weg.

“Ek is bang as ek jou laat gaan, ek jou dalk nie weer gaan kry nie. Kan ek nie dalk net kom koffie drink nie? Ek is seker jou tannie is by die huis?”

Hy laat haar gaan en sy tree terug. Stel hy werklik belang? Of is dit omdat sy nie soos al die ander meisies vir sy blou oë val, dat dit hom haastiger maak om haar te kry?

“My tannie én my oom is seker by die huis, ja.”

“Nou toe, waarvoor wag ons?” Hy tel haar sak van haar skouer af en hou daarna sy arm na haar uit.

Amy huiwer vir ’n paar sekondes, maar haak dan by hom in.