GROENHEIDE BOEKE

Heideroos Romanse #8: Liewer ’n Stalkneg

— HOOFSTUK 1 —

Dis soos met eksamen: jy weet ’n spoegie in die Kalaharisand het ’n groter kans op oorlewing as dat jy gaan deurkom, maar jy bly hoop. Totdat die uitslae kom. En vir Ronèl het die uitslae so pas gekom.

Blazoen is verkoop.

Haar maag sit op ’n knop en haar mond is droog. “Is jy seker?”

Kobus, wat haar die nuus gebring het, knik sy kop. “Ma het haar prys gekry.” Sy antwoord nie, staar hom net aan, en hy sê lomp, asof dit alles gaan regmaak: “Danksy jou harde werk. Ma sê self jy het wondere verrig met hom, as dit nie vir jou was nie … ” Onseker bly hy stil en trek sy skouers op. “Jy het tog geweet, Ro?”

· · ·

Ja, sy het geweet, van die begin af, vanaf die oomblik toe Sam hom uit die vervoerlorrie lei, en hy vasgesteek en sag gerunnik het om te vra of daar van sy soortgenote in hierdie vreemde nuwe plek is. Kobus, wat langs haar gestaan het, het gesê: “Ronèl, ontmoet Blazoen.” Hy het nadergegaan om die halterriem by Sam te kry, maar Ronèl het gekeer.

“Ek wil.” Sy het die riem gevat en haar ander hand uitgesteek sodat die perd daaraan kon ruik. “Aangename kennis!” het sy gesê, en haar hart verloor.

En geweet dit gaan breek die dag wanneer hy verkoop word.

Soos nou.

· · ·

“Is jy seker jy sien kans?” vra tant Ellen daardie dag vir die soveelste keer.

Ronèl streel oor die sagte fluweelneus en stoot die beweeglike lippe weg wat speels ’n vashouplek aan haar mou soek. Al die voorbereidingswerk is gedoen, wekelank van grondwerk, stembevele leer, saal op die rug – eers net lossies, toe vasgetrek met die buikgord – toom op, met trens heuninggesmeer sodat dit lekker in die mond is. Van albei kante – hot en haar – langs hom gestaan en oor sy rug geleun totdat hy gewoond was aan gewig in die saal. Dit alles het hy hom laat welgeval met die ingeteelde goedmoedigheid van sy soort.

“Ja, ek is reg,” sê Ronèl. “Kom, Kobus.” Sy staan links langs die perd, met die teuels in haar regterhand en haar linkerhand op die saalboom.

Met sy oë wantrouig op die perd se tande maak Kobus van sy hande ’n bakkie waarin Ronèl haar linkerknie sit, sodat hy haar liggies in die saal kan wip.

Blazoen gee verbaas ’n tree agtertoe en Kobus gryp instinktief na die teuels, maar Ronèl waarsku: “Nee, los!” en hy staan vinnig terug. Sy vat self die teuels vas en neem sag kontak op met die perd se mond. Weer tru hy. Ronèl druk hom ferm met haar kuite in die sye en gee die bevel wat hy aan die lang lonsteuel geleer het: “Stap aan!” Net ’n oomblik aarsel hy, sy ore agtertoe asof om seker te maak dis haar stem wat vanaf die ongewone plek opklink, toe laat sak hy sy kop en stap vorentoe.

“Braaf, Blazoen,” prys Ronèl hom sag.

· · ·

“Wanneer … ” Ronèl se woorde sit in haar keel vas, dan stoot sy dit moeisaam uit, “ … wanneer gaan hy?”

“Sodra sy papiere reg is en die vervoer gereël, seker vroeg volgende week,” sê Kobus. Toe Ronèl nie antwoord nie, gaan hy voort: “Luister, Ro, ek het jou gewaarsku om nie geheg te raak aan die perde nie, ons kan hulle nie hou nie. Dis wat ons doen – perde skool en verkoop.” Hy wil sy arm troostend om haar skouers sit, trek dan terug. “Dis moeilik, ek weet, veral omdat hy jou eerste was. Maar vir Blazoen sal daar weer ’n ander een kom, ek belowe.”

Sy knik haar kop en veg teen die trane wat dreig om oor te loop.

“Waarheen gaan hy?”

Kobus kyk haar nie aan nie. “In die Kaap, iewers.”

Iets in sy houding laat alarmklokke lui.

“Kobus! Dis nie ’n man nie, is dit?”

Hy ontwyk nog steeds haar blik.

“Ek dink Ma het so iets gesê,” sê hy lam.

Ronèl se ontsteltenis neem nou reuse-afmetings aan.

“Blazoen haat mans, jy weet dit tog!”

“Weet ek dit nie!” Hy vryf onbewus sy arm waar Blazoen weereens ’n geniepsige hap ingekry het toe hy ingedagte te naby aan sy staldeur bly stilstaan het.

“Nou dan moes sy hom dit tog gesê het?”

“Sy het, maar die man het glo gesê hy sal hom regsien, hy ken van perde. Ronèl, verstaan nou tog, die man het Ma se prys sonder enige geknibbel aanvaar en jy weet self hoe nodig ons daardie geld het.” Kobus pleit nou behoorlik. “Een van die dae koop ons dalk nog ’n regte Warmbloed, wie weet, voer een in uit Holland, dink net wat dit vir ons sal beteken!”

Vanaf kort nadat sy by Kobus-hulle se ryskool begin kom het, hoor sy hom al praat oor dié wonderlike sportperde, KWPN-perde. Blazoen het van hul bloed in hom, maar is nie suiwer nie.

Nogtans.

Ronèl gryp Kobus se arm vas. “Jy moet met haar praat, Kobus, asseblief! Blazoen is bang vir mans en as hy geboelie word gaan hy ongelukke maak. Dis nie reg nie, ek het hom geskool omdat jy nie kon nie en nou verraai julle hom!” Die trane vloei vryelik oor haar wange en sy doen nie moeite om hulle af te vee nie.

“Vervlaks, Ronèl, dis net ’n perd! Ons het hom gekoop en nou verkoop ons hom teen ’n wins sodat ons kan bestaan. Dis wat ons doen!” herhaal hy onnodig ru omdat hy nie opgewasse is teen haar trane nie.

’n Oomblik is Ronèl stomgeslaan, toe snuif sy en vryf die agterkant van haar hande oor haar oë. Dan sê sy skor: “Ek verstaan, ja, hy is maar net ’n perd. Iets om te koop en te verkoop.” Sy draai om en stap na die skuur waar haar bromfiets staan.

“Ronèl! Luister tog!” Hy draf agterna, maar sonder ’n woord klim sy op die fiets en ry weg, huis toe.

· · ·

Hoe sy ook al probeer, Ronèl kan daardie aand nie aan die slaap raak nie. Sy rol rond tot die duvet geknoop is, en verfomfaai haar kussing, maar die onrus spook in haar. Sy hoor steeds Kobus se stem, en as sy haar oë toemaak sien sy hoe Blazoen met ’n sweep ‘reggesien’ word – en hoe langer sy tob, hoe duideliker kry die arrogante skurk wat hom gekoop het horings en bokpote en ’n pylstert. Toe sy die grynslag op sy bakkies nie langer kan verdra nie, staan sy op en gaan kombuis toe. Miskien sal ’n bietjie warm melk die slaap aanhelp.

Terwyl die mikogolfoond sy ding doen, kom Ronèl se ma vaak-vaak die kombuis binne.

“Iets verkeerd?”

“Kan nie slaap nie, toemaar, Ma, dis sommer niks,” probeer Ronèl die inkwisisie ontduik. Tevergeefs. Haar ma is nou helder wakker, gaan sit by die tafel en klop met haar hand op die plek langs haar.

“Kom sit. Jy lyk al die hele aand soos ’n uitgewaste vadoek, maar ek het gedink dis maar oor Kobus en wou nie uitvra nie. Nie kan slaap nie, dis iets anders. Vertel, dat ek kan help.”

“Wat bedoel Ma, dis oor Kobus?”

“Ag, my kind, dink jy nou regtig ek en jou pa weet nie dat jy en Kobus uitgemaak het nie? Ons is darem nie onnosel nie, vandat jy by Ellen se ryskool is, was dit al die jare net Kobus voor en Kobus na en die afgelope weke was daar nie ’n woord oor hom nie. Nie dat dit ons hinder nie, hoor,” haas sy haar om by te voeg, “sulke kalwerliefde hou nooit as mens eers klaar is met skool nie.”

Ronèl haal diep asem om die dreigende trane te keer. Kalwerliefde kan seermaak, maar nie so erg soos perdeliefde nie.

“Dis nie oor dit nie,” sê sy. “Ek is steeds lief vir Kobus, maar soos vir ’n broer. Wat ek nie het nie,” voeg sy beskuldigend by.

“Jammer daaroor, maar ek hoop nie jy wil hê ek moet een vir jou maak nie.”

“Nee, dis nou te laat, ek wou altyd ’n ouer broer gehad het.”

“Dankie tog. Toe, jou melk is warm, jy beter vir my ook daarvan gee noudat ek in elk geval wakker is.”

Ronèl haal die beker uit die mikrogolf en gooi die helfte van die melk uit in ’n ander beker.

“Bietjie Milo in?” vra sy.

Haar ma skud haar kop terwyl sy die beker vat.

“Nee, dankie.” Sy blaas op die warm melk en vat ’n slukkie. “Maar as dit nie oor Kobus is nie, wil ek tog graag weet hoekom ons hier in die middel van die nag sit en warm melk drink.”

Ronèl aarsel ’n oomblik, staar na die melk in haar beker, en sê dan sonder om op te kyk: “Blazoen is verkoop.”

“Ag, nee!” Haar ma se reaksie is instinktief, sy sit haar hand op Ronèl s’n en vleg hul vingers inmekaar. “Ek is jammer, my kind, ek en jou pa het so baie sommetjies gemaak en probeer bykom om hom vir jou te koop, maar ons moet alles spaar vir jou studies volgende jaar. Ek het so gehoop … ”

Ronèl se hand klem styf om haar ma s’n.

“Ek weet, Ma, maar dis ’n duur perd, en al sou ek hom ook kon kry, sou die stalgeld in elk geval te veel wees, elke maand.” Sy bly stil en broei oor haar gedagtes.

Uiteindelik drink sy haar beker leeg en staan op.

“Kom ons gaan slaap, Ma. Kom tyd, kom raad, soos Pa mos altyd sê.”