GROENHEIDE BOEKE

Emma Roux #6: Die Sketskompetisie

“Maar dit is unfair!”

“Hestine wag al vir jou, Emma. Jy is ongeskik.”

“Sy kan wag. Ek wil eers weet hoekom word Herman se punt nie ook gehalveer, soos wat myne het, as hy dan gecheat het en ek het nie? Ek was dadelik eerlik!”

Emma vou haar arms en stamp haar voet teen die klas­kamer­vloer. Al haar klasmaats het verdaag en is sekerlik al op pad huis toe. Sy het agtergebly om eers met haar tannie te praat.

Rentia du Preez, wat ook Emma se kuns onderwyseres is, sug moedeloos. Vandag is Rentia se hare in ’n lae vlegsel oor haar skouer gebind. Sy het dieselfde dik krulle as haar sussie, Emma se ma.

“Emma, Herman het gebieg net voor die finale reëlings vir die uitstalling van die kompetisie aangekondig is. Besef jy hoe gelukkig die skool is dat ons nie net summier geskors is uit die kompetisie nie? Ek is aanbeveel om te sê ons wil onttrek sonder rede, maar ek het my gut gevolg en verduidelik en ons het een week. Net een, Emma. Dus het ek nie tyd vir jou nukke nie.”

“Maar — ”

“Maar niks, magtig. Gaan nou huis toe. As jy wil deelneem, het jy baie werk om te doen. Onthou, ek kon nét Herman se skets onttrek het en die naaswenner van die klas se skets gebruik het. Dan was jy steeds uit die kompetisie, want jy het afgeteken.”

Emma sak haar blik. “Whatever.”

Maar haar ‘whatever’ is binnensmonds en vol erkenning dat sy oorwin is. Sy gooi haar tas oor haar skouer en stap weg sonder om terug te kyk. Buite loop sy amper in meneer Bouer, haar Afrikaanse onnie, vas. Hy is duidelik op pad na Rentia toe en dit is natuurlik hoekom sy so gou van Emma wou ontslae raak. Emma sorg dat Charl Bouer presies sien dat sy deur hom sien met haar blik wat sy op hom vestig in die verbyloop.

Hestine hou Emma se valhelm na haar uit toe sy langs die bromponie gaan staan. “Vertel by die huis, Ems. Ouma gaan reeds wonder hoekom is ons so laat.”

· · ·

Emma sit haar koffiebeker hard op die tafel neer. “Hoe kan Ouma Rentia se kant kies?”

Sy ignoreer die koffie wat oor die rand mors en op die kombuistafel kring. Sy kyk verbaas na Hestine, wat ooglopend haar giggel met moeite onderdruk.

“Emma, jou tannie is reg. Sy doen jou ’n guns en jy sê dankie deur te tantrum. Ek hoop jy het gewag tot die klas leeg is voor jy haar aanval?”

Emma hou haar oë op die kring koffie om die beker op die tafel voor haar. As haar gunsteling tannie (wat toevallig ook haar enigste tannie is) en ouma Hester, wat Hestine se ouma is, maar vir haar soos ’n bloed-ouma voel, die twee mense wie altyd verstaan hoekom sy aanvang wat sy aanvang, as húlle albei dink Emma is onredelik, dan is sy dalk.

“Rentia het gesê: ‘Eerlikheid word beloon, dus behou Herman die punt wat hy vir die taak gekry het.’”

“Maar hy mag nie weer deelneem nie?” Ouma Hester glimlag.

“Nee.”

“Maar jy mag, al het jy my borsspeld afgeteken.”

Emma sug weer “Ja” uit.

“En sy het jou punt ook net verminder, omdat jy eerlik was.”

“Ja, maar ek het dadelik erken — ”

“En dit is seker hoekom Herman ook besluit het om skoon te kom. Kom nou daaroor, Emma. Jy’t tonne talent. Dink net aan al die moontlikhede wat daar is. Wat is die tema?”

Verander sy die onderwerp. Emma verstaan.

“Leeg.”

Nou kry Hestine nie haar lag ingehou nie en sy spoeg byna die koffie wat in haar mond was, uit. “Leeg?” Sy sluk, vee oor haar mond en sê: “Leeg? Wat? Moet jy ’n gat in die grond teken?”

Emma rol haar oë.

“O, wag … dalk ’n leë boks?”

“Ag, Stien.”

Sy giggel net as antwoord en drink verder aan haar koffie.

Emma sug vir oulaas en staan op om die afvee lappie te gaan haal. “Ek sal hulle wys. Ek sal die beste skets nóg teken en stof in hulle oë agterlaat.”

“Stof in hul oë skop.”

Sy kyk na Hestine. “Wat?”

“Jy bedoel jy gaan stof in hulle oë skop met jou skets.”

“Ag, whatever.”

· · ·

Haar tone vries. Dit is altyd die eerste ding wat begin koud kry, haar tone. Sy grou agter in haar laai en haal ’n paar dik, pers wolsokkies uit. Sy trek dit aan, tel die pak boeke op haar lessenaar op en gaan sit op haar bed met haar voete onder haar ingevou. Sy trek haar boek How to Draw What You See deur Rudy de Reyna nader en begin ingedagte daar deur blaai.

Sy het hierdie boek al duisend maal bestudeer en lees hier en daar ’n nota wat sy aan haarself gemaak het. Eintlik weet sy wat sy wil skets. Anders as met die rooi borsspeld, is daar nie nou enige afleidings nie. Dit sal perfek wees as daar geen raaisel oppop voor die skets klaar is nie, want dan kan sy met ’n geruste hart weet sy het die skets self ontwerp.

Sy los die boeke oop uitgesprei op haar bed en gaan haal haar sketsboek en potlode. As sy vanaand al die geraamte kan teken, kan sy Maandag daarmee klaar wees.

Seville, Emma se gemmerkat, kom lui die kamer ingestap.

“En waar was jy, Madam?”

Seville skuur haar lyf net skrams teen Emma se been en spring dan op haar bed. Sy trap versigtig oor al die boeke en maak haarself tuis op Emma se kopkussing. Die rustige spingeluid vul Emma met selfgenoegsaamheid en sy soek haar eie plekkie om op haar oorvol bed te sit.

Leeg. ’n Leë boks? Nee, moet nie aan Hestine se simpel voorstel dink nie, dink aan jouself, Emma. Wat van jou is beslis nie leeg nie? Sy druk die potlood teen haar onderlip. Haar gedagtes, dit is beslis nooit leeg nie. Sy hou byna nooit op met dink nie. Sy blaas haar asem stadig uit en teken sagte lyne om die vorm van ’n gesig, hare en ’n lyf te vorm. Haar lyf is ook nie leeg nie, haar hart is propvol. Propvol liefde vir die lewe en alles wat mooi is. Sy glimlag. Sy weet presies wat om te teken.

· · ·

Emma hou die brief wat aan haar ouers geadresseer is, agter haar rug. Sy gee nie om as ouma Hester dit eerste lees nie. Inteendeel, naas haar tannie, wie die brief aan haar oorhandig het in die klas voor al die kinders vanoggend, is ouma Hester die persoon wie sy die meeste wil hê moet die brief lees. Haar ouers moet die afskeurstrokie voltooi en teken, maar sy wil sien hoe ouma Hester se oë ophelder soos sy lees.

Rentia se oë was gevul met trots, al het sy dit nie weergee in haar stem en houding nie. Aan die begin, toe Rentia by die skool begin werk het, het hulle probeer om die feit dat hulle familie is, te ignoreer, maar die hele skool weet teen die tyd al. Dit maak dit moeiliker vir Emma, want Rentia is strenger op haar as met die ander kinders juis sodat niemand een van hulle kan beskuldig dat Emma voorgetrek word nie.

Hestine, by wie Emma smiddae van Maandag tot Donderdag bly na skool, en Hestine se ousus, Zilna, woon in hierdie groot huis terwyl hulle ouers in die buiteland werk. Hestine en Zilna sien hul ouers net met lang vakansies.

Hestine sê altyd dat dit haar nie pla nie, maar Emma weet hoeveel sy na hulle verlang. Zilna verlang ook, maar sy sal dit nooit erken nie. Sy sal eerder alles in haar vermoë doen om haar kleinsus en Emma se lewens hel te maak.

“Werk Zilna nog by die koffiewinkel?”

Emma weet dat Ouma weet sy steek iets agter haar rug weg, maar Ouma antwoord haar vraag geduldig: “Ja, ek is self verbaas. Dit kom voor asof sy dit geniet om haar eie geld te verdien.”

Wanneer Emma daar gaan latté’s drink, dan los sy vir Zilna ’n ekstra groot fooi. Net om haar te pes. Daar is geen manier wat Zilna ooit vir Emma of Hestine iets uit liefde sal doen nie, so hulle sorg dat hulle die feit dat Zilna hulle by die koffiewinkel moet bedien, goed invryf. Eers het hulle die koffiewinkel vermy, maar het later besluit dat dit lekkerder is om Zilna se siel uit te trek.

“Rentia het die klaswenner gekies. Tsepho en Danel het ook erken hulle het met die eerste skets afgeteken, so hulle kon ook nie weer deelneem nie.”

“En?” Ouma Hester se oë verhelder reeds.

Emma glimlag groot, sonder om tande te wys.

“Wat steek jy agter jou rug weg?”

Hestine het gaan aantrek, sy eet nooit middagete voor sy nie verklee het nie. Emma bring die brief stadig na vore en ouma Hester gryp dit speels uit Emma se hand. Sy vou dit oop en haar oë beweeg van kant tot kant soos sy dit lees. Sonder om iets te sê, trek sy vir Emma nader en hou haar styf teen haar vas. Die serp om Ouma se skouers is vasgesteek met ’n eenvoudige borsspeld wat teen Emma se wang druk, maar Emma steur haar nie daaraan. Dit is lekker om vasgehou te word.

“Ek is so trots op jou.”

Ouma laat haar gaan en Emma wys na die brief wat Ouma steeds vashou. “Blaai om, ’n afskrif van die skets is agteraan. Wat dink Ouma? Kon ek leeg goed vasvang?”

· · ·

“Die kompetisie vir die top vyf word Saterdag oor twee weke gehou. Emma kan sommer saam met my ry, dan kan ek ’n ogie oor haar hou.”

Tannie Rentia en haar ma is al meer as ’n halfuur besig om te gesels en Emma is al moeg koffie gemaak. Sy weet haar ouers sal nie weier dat sy gaan nie, maar sy vrees dat haar ma daarop gaan aandring om saam te gaan. Dit sal ’n behoorlike nagmerrie wees. Emma pers haar lippe saam.

Rentia vervolg: “As sy deurdring na die finale rondte, dan sal ek vir jou en Wihan kaartjies bespreek vir daardie geleentheid.”

Emma blaas haar asem so sag en stadig moontlik uit. Haar oë vasgepen op haar ma, wie tydsaam ’n sluk van haar koffie neem en haar sussie se woorde behoorlik nadink. Dit voel asof Emma wil opspring en haar ma aan die skouers gryp en skree: “ANTWOORD!!”

Sy antwoord: “Dankie, Rentia. Ek was redelik teleurgesteld in Emma omdat sy nie kon deelneem in jou vorige kompetisie nie. Maar sy het nou opgemaak daarvoor en ek vertrou jou.”

Ek vertrou jou.

Emma vou haar arms. Dit is niks nuut dat sy, wat Emma is, nie deur haar ma vertrou word nie.

Dit word bevestig wanneer haar ma sê: “Hou maar net ’n ekstra fyn oog oor Emma, jy weet sy het die gewoonte om moeilikheid uit te snuffel.”

Rentia lag as antwoord, wat Emma effens beter laat voel.

Saterdag (oor twee weke), hier kom ons!

· · ·