― Hoofstuk 1 ―
“Julle weet mos ek gaan nie saam kamp toe nie, nè?” Roy klop op sy ponie Rollie se boud dat die stof eintlik ’n wolkie uitslaan.
Ruan, Tessa, Dommie en Anneke, die ander vier lede van die Poniehoewe-Klub, kyk op van waar hulle besig is om hul eie ponies skoon te borsel.
“Ons het nie vergeet nie,” verseker Tessa hom.
Hulle vier gaan die langnaweek ’n perdrykamp bywoon, maar omdat dit vir skouspring en dressuur is, het Roy besluit hy bly. Rollie sou dit kan doen, het hy gesê, maar hy self hou nie van sulke goed nie.
“Ja, want ek en Rollie gaan leer rodeo ry,” sê hy nou.
“By wie nogal?” wil Ruan weet.
“By ’n regte cowboy, een wat by ons kom kuier.”
“En jy sê nou eers?” Daar is ongeloof in Anneke se stem. Hulle weet almal hoe behep Roy is met die Amerikaanse Wilde Weste, sodanig dat hy sy eie naam, Gerhardus, verander het na dié van sy filmheld Roy Rogers. Dat hy sou stilgebly het oor ’n besoek van ’n regte cowboy is net ondenkbaar.
Roy trek sy skouers op. Hy is die jongste van die vyf maats, tien (amper elf), en hy moet maar gedurig sy man staan teen hulle, want veral Ruan is lief daarvoor om hom, soos hy sê, op sy plek te hou.
“Julle stel mos nie belang nie. Ek sê maar net sodat julle kan weet. Dis al.”
Maar daarmee is die ander nie tevrede nie. Met hul ponies aan leibande staan hulle nader.
“Nee, vertel!” eis Tessa. “Wie is dit en vir wat kom hy hiernatoe?”
“Ek het ook maar eers gisteraand gehoor. My pa het al gesê een van sy Facebook-vriende kom kuier, maar ek het mos nou nie uitgevra nie. Toe hoor ek gister hy skryf boeke.” Hy bly ’n oomblik stil, voeg dan triomfantlik by, “Oor die Willeweste.”
“Maar dan is hy bloot ’n skrywer, nie ’n cowboy nie,” reken Dommie. “Jou pa skryf moordstories en hy is mos darem nie ’n moordenaar nie.”
Maar daarvan wil Roy niks hoor nie.
“Nee, om oor cowboys te kan skryf moet jy self een wees en hy is, en nou kom kyk hy of hier in die veld plekke is waar hulle western-flieks daarvan kan maak.”
“Dan is dit seker ‘velderns’,” veronderstel Anneke. Die ander lag, maar Roy vererg hom.
“Ja, toe, spot maar! Ek gaan baie leer by hom, julle sal sien.”
“Ja, ek sál nogal graag wil sien hoe rodeo jy op Rollie,” smaal Ruan, maar Tessa stamp aan hom dat hy moet stilbly.
“Sal dit nie gevaarlik wees nie?”
“Seker maar.” Die borsel word weer met mening oor Rollie se bont lyf getrek.
Terwyl sy Dapper vinnig wegtrek, merk Anneke op, “Daardie ponie het sowaar nog steeds sy winterhare!”
“Kom daarvan as mens nie ordentlik roskam nie.” Dommie vryf selfingenome Boontjies se glansende bruin huid waarop nie ’n enkele haartjie skeef lê nie.
Roy bly stil.
Anneke sit haar borsel op Dapper se breë wit rug neer en draai om.
“Nee, luister nou, julle, ek het al gelees oor die westerse manier van ry en dis heel interessant. Hoekom probeer ons dit nie almal nie? As die oom ons wil help, tenminste?”
“Hoe is dit anders as hoe ons ry?” vra Tessa. “Is dit nie maar net met ’n ander saal nie, soos Roy s’n?”
“Hùh!” klink dit minagtend van Roy se kant af waar hy nog steeds verwoed Rollie se hare laat waai.
“Nee,” sê Anneke, “dis heel anderster. Soos ek dit verstaan is dit by ons die ruiter wat leer om reg te sit en te ry en alles, terwyl in westerse rykuns dit juis die perd is wat geleer word om dinge te doen.”
“Hoekom?” vra Dommie.
“Omdat die cowboy op sy rug na die beeste moet kyk. As hy ’n bees aanjaag het hy nie tyd om ook nog te kyk dat hy die perd op die regte been laat hardloop nie.”
“Dis waar,” gee Dommie toe.
Roy se oë het gerek.
“Rêrig? Ek bedoel … ja, dis mos wat ek ook al die tyd sê, julle luister net nooit vir my nie.”
“Maar Rollie is nie so geleer nie,” sê Tessa. “Hoekom nie, terwyl jy in elk geval altyd kla oor Mildred en tannie Elsa se lesse?”
“Wil ek ook weet,” sê Dommie.
“Ek wou nog, noudat ek my cowboy-saal het,” skerm Roy.
“Ag, dis net ’n verskoning,” reken Ruan. “Ek sweer jy weet minder daarvan af as Anneke, sy het tenminste daaroor gelees!”
“Ek ook! Baie, hoor!” verdedig Roy homself, en speel dan sy troefkaart, “Maar hoe moet ek nou oefen as ek nie beeste het nie? Hè? Sê jy dit vir my?”
“Los nou, julle! Liewe land, julle kibbel soos twee klein kinders oor ’n speelding in ’n sandput!” sê Tessa. “Ek stem vir An se voorstel.”
“Wat was dit nou weer?” vra Dommie.
“Dat ons die oom vra om ons te wys hoe ry mens die westerse styl. Wat dink jy, Roy, sal hy?”
“Ek weet nie, ek ken hom mos nie. Onthou net ek gaan rodeo leer, ek gee nie om wat julle doen nie.”
“Ag man, rodeo is net bokspring,” sê Anneke. “Maar dit sal mos lekker wees om ’n slag van ander goete te leer as skouer-binnewaarts en saamgevatte draf.”
“Ek dog dis waarvoor die kamp is. Hoekom gaan julle as julle nie daarvan hou nie?”
“En moet ook nie dat Mildred jou hoor nie,” waarsku Dommie. “Sy sal sommer ophou met ons lesse en dan kan ons nie meer aan skoue deelneem nie.”
“Dalk gooi sy ons nog met ponies en al af van haar hoewe af,” voeg Tessa by. “En waarheen gaan ons dan? Onthou niemand wou ons hê nie.”
’n Tydjie terug is die stuk veld waar die dorp se perdeklub was, aan ontwikkelaars verkoop en moes almal wat hul perde daar aangehou het nuwe blyplek soek. Na ’n lang soektog, toe daar al sprake was van die ponies verkoop, het die vyf maats uiteindelik by Mildred Heywood, ’n beroemde ruiter, uitgekom wat ingestem het dat die ponies saam met haar eie twee perde by haar op die hoewe kan loop.
“Dis nie wat ek bedoel het nie,” krabbel Anneke terug. “Ek is dankbaar ons ponies mag hier bly en oor sy ons leer ry en alles, en skoue is heerlik, maar partykeer wil mens ’n slag iets anders ook doen.”
“Ek stem saam,” kom dit nou van Ruan, en hy gee sy geelperdjie ’n vriendelike klappie op die nek, “Kuifkop sal ook daarvan hou. Hy is goed met daardie rodeo se klawerblad-dromresies.”
“Nou ja, Sneeuvoet,” spreek Tessa haar witsokkiepoon aan, “dan piekel ek en jy maar saam. Sal jy hom vra, Roy?”
“Gaan julle dan nie kamp toe nie?”
“Natuurlik,” sê Anneke, “maar dis mos net vir die naweek. Hoe lank bly die oom?”
“Ek sal hom vra. As ek onthou.”