GROENHEIDE BOEKE

GSSR #2: Die Blitsbrekers

DIE BLITSBREKERS

Daniël van Zyl glo aan die spreekwoord wat sê dat die môrestond goud in die mond het, en dis dan ook nog skaars lig toe hy by sy vriend, die rooikop Herman ‘Duitser’ Kaindlbinder, gaan aanklop. Dis doodstil, net Bruno, die familie se groot herdershond, spring teen hom op.

“Môre, jou ou spoegbeklummel. Slaap daai kleinbaas van jou nog? Kom ons loop ruk hom uit sy kooi uit!” gesels Dan met die hond voordat hy by die buitekamer se venster inloer en skree: “Word wakker, word wakker, die dag raak al hoe kakkerlakker!”

“Demmit, Dan, moet jy altyd so raas? Dis nog nag, man, ek slaap,” kom dit mompelend van binne af.

“Daar’s genoeg tyd om te slaap as hulle jou kas die dag toekap en jou ses voet diep plant. Toe, staan op!”

“Vir wat?”

Daniël klim deur die venster en gaan sit op die bed. “Ek is diep verveeld, omtrent al ons ou skoolmaats het werk of is weg op vakansie.”

“Nou sê dit nie vir jou iets nie? Hulle rus en slaap laat, want dis wat mens in jou vakansie doen.”

“Ja, maar niks gebeur in hulle vervelige lewens nie. Ons soek opwinding!”

“Jy bedoel seker jý soek opwinding, want ek kuier lekker in droomland!”

“Aag man, lig jou alie, ons gaan doen net iets, mens sal vrek van verveeldheid!” En na ’n oomblik se stilte: “Kom ons gaan ry sandstorms uit in die duine, al maak ons net of ons wildstropers of iets jaag. Een van die dae is ons weer terug in die kamp waar ons op en af marsjeer … en vir wat?”

“Ja tog, nou toe. Maar ek wil eers iets gaan eet.” Moeisaam strek Duitser homself uit, hy weet dis nutteloos om met Dan te stry, wat nie ophou totdat hy sy sin gekry het nie. “Maar wag gou, jy praat nou van duine, kyk eers hier,” en hy tel sy tablet van die vloer af op en skakel dit aan.

Baie gou kry hy waarna hy soek en wys dit vir Dan.

“Dit lyk kwaailekker,” sê dié terwyl hy na die video van ’n gesimuleerde oorlogsaanval met motorfietse in ’n woestynagtige area kyk. “Ons jaag ook so in die duine! Waar is dit?”

“Hierdie is iewers diep in die Kalahari en hulle word die Blitsbrekers genoem. Dis blykbaar ’n baie klein spesiale eenheid en hulle soek ouens soos ons wat al so jaar of wat in die weermag is … en hulle word goed betaal, baie danger pay. Hoekom gaan check ons dit nie uit nie? Dis lyk darem baie meer opwindend as die infanterie waar ons nou vasgevang is.”

Dan kyk hom ongelowig aan. “Wanneer het jy so hard op jou kop geval? Oor wat sal hulle ons twee vat? Ons is nie juis modelsoldate nie, tensy dit is om vir die ander manne te wys hoe daar in die weermag gedurig iemand op jou skree en jy jou gat af hol vir geen rede nie!”

“Dink positief, ou! Ons kan al klaar goed motorfiets ry en ons is redelik fiks, hulle lei ons net verder op in woestynoorlogvoering. Ons word op groot Veldkatte geleer om nóg beter te ry. Kyk na hierdie beskrywing,” en hy wys na die teks onderaan die video. “Die Blitsbrekers doen diens op ons landsgrense om te voorkom dat terroriste en misdaadbendes van die buiteland af oorstroom om alles te kom deurmekaar krap.”

“Hoe meen jy nou? Als hier is al hoeka deurmekaar!”

“En kyk na die langtermynvoordele, my ou, daar is altyd werk vir sulke spesialis-opgeleide ouens in sekuriteitsdienste! Dis deesdae ’n groot storie met terrorisme die wêreld vol, mense wil veilig voel.”

Met ’n sarkastiese smuk op sy gesig, antwoord Dan: “Meen jy nou ons kan karwagte in die Gemsbokpark word?”

“Jy kan darem die onsinnigste twak kwytraak!”

“Nee, maar OK, ernstig nou. Ons kan probeer en kyk wat gebeur. Maar nou moet ons eers daai wurms in jou pens loop voer sodat ons ’n paar koues in die hande kan kry voordat ons die duine pak. Kom, lig jou alie.”

· · ·

“Ons is wraggies gekeur,” en Dan lag uitbundig toe hulle hul goed uit die kaserne verwyder. Die ander manne wens hulle geluk met hul keuring en voorspoed met die strawwe opleiding wat nou voorlê.

Buite staan ’n troepedraer en wag. Twee gewapende soldate sit met outomatiese gewere agter by hulle, woordeloos gedurende die ure lange rit. Die seile van die SAMIL 50 is afgetrek, dus het Dan geen idee van waar hulle is toe hulle uiteindelik by die opleidingsbasis aankom nie. Die soldate beveel hulle om uit te klim en hul woorde is nie juis motiverend nie: “Nou gaan julle boy’tjies kak tot die tiende mag! Sammajoor Nel sal julle regsien!”

Die sersant-majoor wag hulle in en bekyk die twee manne met ’n afkeurende blik. Nel kan sommer dadelik sien dat die lang en ongemaklike rit nie uitsluitlik geblameer kan word vir die verslonsde uniforms nie. Hy kom staan reg voor hulle.

“Luister en luister mooi, sodat julle dit onthou. Die vakansie wat julle as die weermag leer ken het, is sopas verby. Teen volgende week sal julle wens julle’t eerder by die Recces aangesluit. Dan, as julle die volgende drie maande oorleef, gaan julle oorneem by die uitgaande Blitsbrekers.” Hy sug afkeurend. “Maar eers moet ek regte Blitsbrekers uit julle twee slapgatte maak. Vergeet wat jy dink jy weet van oorlog maak, want hierdie is nie die infanterie nie. As jy vasbrand, is jy dood. Hier is nie Ratels en Rooikatte om jou gat te red nie. Net jy en jou maat — ”

Saggies brom Daniël: “Sammajoor, kan Sammajoor ’n bietjie stadiger praat, ek kan nie so lekker byhou nie.”

Sersant-majoor Nel se gesig vertoon verbasing, maar uiterlik kalm kom staan hy voor Dan. Sy stem is bedrieglik sag: “Nou goed, Van Zyl. Laat ek jou dan eerder wys wat ek wou sê: Jy en jou makker hier is die laaste van die groep om te arriveer. Die ander agt-en-dertig kandidate is daar by die kaserne. Jý, Weerman Daniël van Zyl, gaan nou soontoe draf en hulle inlig dat hulle oor vyftien minute hier moet aantree met al hul toerusting, want julle almal gaan op ’n pretloop van drie kilometer deur die ongerepte natuurskoon van die Kalahari. Die pret-gedeelte is vir my, want terwyl julle met julle trommels hardloop, kry ek die kans om julle met my jeep te jaag asof julle springhase is. Daarna, as ek jou nie langs die pad vrektrap nie, Van Zyl, en jy kom terug, gaan jy my jeep skoon was en ordentelik waks. En moet geen van jou toerusting langs die pad verloor nie, want jy sál dit soek en jy sál dit vind!” en daarmee stap hy flink na sy Kubota RTV.

· · ·

Vyfuur die volgende oggend klap Dan die slapende Duitser teen die been. “Kom, ons het ’n halfuur, dan moet ons aangetree wees. Hulle gaan vir ons Bybel lees en bid en dan gaan ons wei!” waarop hy die gekreunde woorde: “Los my!” hoor.

Die volgende oomblik stap een van die instrukteurs by die kaserne in en reguit na Duitser se bed toe. Daniël probeer nog om sy maat te waarsku, maar sonder om ’n woord te sê, vat die instrukteur die kant van die bed vas en keer dit met Duitser en al om.

Dié spring woedend en grootoog op met net sy onderbroek aan, en almal begin hardop te lag. Gedurende die volgende halfuur leer hulle met strawwe oefeninge hul eerste les: Blitsbrekers lag nooit vir hul makkers nie, altans nie voor hoërrange nie.

Teen die tyd dat hulle aantree vir ontbyt, tap die sweet hulle behoorlik af.

“Dis seker hoekom hulle al voordag vir ons beskerming bid, iemand moet ons teen ’n voortydige dood aan hulle hande behoede! My bene voel soos boomstompe en my bors brand soos ’n braaivleisvuur,” kla Duitser toe hulle na die tafelgebed in die ry staan om hul ontbyt in te skep.

· · ·

Die eerste dinge wat hulle tydens veldkuns leer, is kamoeflering van die Veldkat-motorfietse en hoe om hul teikens ongesiens daarmee te bekruip.

“Sien julle hierdie hefboompie?” en die instrukteur wys na ’n hefboom net onder die petroltenk. “Daar is ’n N en ’n S op gegraveer; die N staan vir normaal en die S vir sluipmodus. Hoekom is dit belangrik?” Hy wag nie, maar beantwoord sy eie vraag: “Sluipmodus verminder jou bruikbare krag met omtrent die helfte, maar wat belangrik is, is dat jy bedags nie die enjin kan hoor nie. In die nag word warm uitlaatgasse, wat ’n hittespoor op infrarooitoestelle laat, koud gemaak sodat julle onbespeurbaar met die Veldkat kan beweeg.”

· · ·

Dit is maak of breek en elke oggend wonder Dan of hy nog ’n dag van die rugbrekende en spierverlammende oefeninge wat hulle moet doen, gaan oorleef. Van die manne gee moed op en gaan druipstert terug na hul ou eenhede toe.

Uiteindelik, na drie maande van intensiewe opleiding, breek die dag aan waarop die finale keuring vir grenswagsoldate, oftewel Blitsbrekers, plaasvind.

Sersant-majoor Nel verduidelik dat man en masjien in vandag se oefening een gaan word. “Net die eerste vyftien wat terugkom, gaan bly, die res van julle gaan ’n keuse gegee word van eenhede waarheen julle herontplooi sal word, met volle erkenning van jul suksesvolle opleiding hier.”

Ons is van veertig af na net vier-en-twintig oor, so nog nege moet uitgeskakel word. Ek hoop Tsamma val uit, hy’s hopeloos te windgat net oor sy pa ’n kolonel is, dink Dan.

“Nou goed, die baan is so vyf-en-twintig kilometer lank. Elkeen van julle het ’n kaart met ’n ander roete wat merkers op het. Daar is instrukteurs by elke merker wat jy in volgorde moet besoek. As jy hier aankom en jy het een merker gemis of dis nie in volgorde soos op jou kaart nie, is jy uit. Langs die pad is daar ook versteekte items, soos patroondoppe, mortiere of handgranate. Moenie dit optel of daaraan peuter nie! Onthou dit net, want jy sal dit by jou merker moet aanteken. By elke merker sal julle ook gesê word hoe daar na die volgende merker beweeg moet word: in volle vaart, op sluipmodus of te voet. Daar gaan julle!”

· · ·

By die tweede laaste merker word Dan aangesê om sy motorfiets af te skakel en na die volgende merker te stoot. Ondanks die feit dat hy fiks geoefen is, voel dit na slegs ’n kilometer oor die los sand al klaar vir hom asof hy maar liewer kan kruip.

Hou uit, hou uit, ek’s amper klaar! Was ek mal om aan te sluit? Wat van opgee en teruggaan huis toe? Nee wat, Pa sê altyd daar is nie medaljes vir ouens wat opgee in die lewe nie! Hou net nog uit, jy gaan trots wees as jy eers jou Blitsbrekerwapen kry!

Pootuit tree Dan by die laaste merker aan. Hy kan skaars vertel wat hy alles opgemerk het, so moeg is hy. Dit neem hom dus etlike minute om die prosedure by die merker af te handel en dit is dan dat die korporaal hom inlig dat elf manne reeds die ‘wenstreep’ oorgesteek het en dat hy, Dan, ook tans die enigste een is wat nog rondstaan by sy laaste merker.

“Nel sê dat jy kan maar volspoed jaag en jou eie pad vind na die einde toe. Ek dink hy wil sien of jy inisiatief kan toon,” gee die korporaal die laaste instruksie.

Die ondeunde trek op die man se gesig laat vir Dan so bietjie ongemaklik voel terwyl hy terugstap na sy Veldkat. En vir wat staan daai een so naby aan my fiets? dink hy toe hy die uitgaande Blitsbreker daar gewaar.

Hy vind gou uit toe hy sy Veldkat probeer aansluit. “Jou vrek! Wat het jy aan my fiets gedoen?”

“Lyk my dis die einde in die Blitsbrekers vir jou, Van Zyl, en dit nog voor jy een kon wees,” smaal die vent.

Dink vinnig, dink vinnig …

Dan kyk om hom rond en neem alles by die merkpunt in: twee manne, altwee taai Blitsbrekers, kamptafel en stoele, ’n Kubota nutsvoertuig met ’n laaibak …

Inisiatief … hy’t gesê Nel wil sien of ek inisiatief kan neem, en daarmee duik Dan waaghalsig die saboteur af grond toe. Vuishoue volg soos die twee in die sand rol.

Die korporaal staan oorbluf en kyk, neem dan sy besluit en storm op die malende stofwolk af om sy makker te help.

Dan baklei soos ’n gewonde rooikat, maar besef dat hy lelik gaan verloor wanneer dit twee teen een is. Dis ek of julle, daarom op die oomblik wat die korporaal naby genoeg is, verbreek Dan kontak met sy teenstander en skop hy die korporaal se regterknie na binne. Soos wat die man val, skop Dan met die volle geweld van sy linkervoet hom op sy linkeroor en laat die man soos ’n nat lap in sy spore neerval.

Alhoewel die korporaal nou buite aksie is, het die Blitsbreker van die geleentheid gebruik gemaak om op sy voete te kom en hy swaai nou sy swaar stewel reguit na Dan se kwesbare ribbes toe.

Die pyn laat vir Dan sterre sien, maar soos wat die man sy voet wegtrek om weer te skop, gryp Dan dit stewig vas en met al sy krag gooi hy dit in die lug op. Die kort oomblik wat die man van balans af is, is genoeg vir Dan om op sy voete te spring.

“Nou is ons gelyk. Net ek en jy, man teen man, jou drol!”

Die uitgaande Blitsbreker glimlag en maak homself gereed vir ’n maklike geveg, want dit is net die instrukteur in gevegskuns wat hom kan oorwin … en dit ook net omdat hulle tydens oefeninge nie té geweldadig kan word nie.

Wat hy egter nie verwag het nie, is die draaiende rugskop wat Dan sedert skooldae bemeester en vir hom verskeie medaljes in karate besorg het, wat hom vol op die sonnevleg tref.

“Jy kan maar lê, maar laat ek gou kyk of Moore darem oraait is,” verklaar Dan voordat hy sy dooie Veldkat agterop die nutsvoertuig se bak laai en met tollende wiele wegtrek na die eindpunt toe.

· · ·

Teleurgesteld tree die nege manne wat nie toegelaat gaan word tot die Blitsbrekers nie, aan op die klein paradegrond. Kolonel Buys lewer ’n motiverende toespraak oor moed en durf, maar die manne, Daniël van Zyl ingesluit, voel steeds soos mislukkings. Hy is nie seker wat om nou te doen nie. Duitser het die strawwe keuring geslaag en gaan môre sy amptelike Blitsbreker-kenteken ontvang.

Druipstert terug na sy ou infanterie-eenheid? Of aansluit by die valskermbatteljon?

Almal salueer die kolonel aan die einde van sy toespraak en nadat hulle verdaag is, roep sersant-majoor Nel vir Dan nader.

“Van Zyl … beide ek en die kolonel was beïndruk met die manier hoe jy jou probleem by die laaste merker opgelos het. Heeltemal teen die reëls van die oefening … maar dan weer, op die slagveld moet reëls dikwels verbreek word om hopelose situasies deur middel van inisiatief te red. So wanneer jy vanmiddag die vorm invul rakende jou keuse van eenheid om na toe oorgeplaas te word, sal ons dit gestand doen as jy ‘Die Blitsbrekers’ neerskryf. Van Zyl, jy is ’n slordige soldaat, maar jy is ’n bobaas vegter, so maak die regte besluit.”