— HOOFSTUK 1 —
“May gaan waarskynlik vandag ontslaan word,” sê Lizél vir Dwayne terwyl hulle vanoggend weer op die strand, al langs die see, draf.
Lizél hou daarvan om aan wedlope deel te neem. Om te oefen en fiks te wees, is haar grootste doelwit in die lewe.
Wanneer Dwayne Ferreira so af en toe hier in Mosselbaai by sy suster kuier, draf hy gewoonlik saam met haar. Vanoggend is weer een van daardie onbeskryflik mooi oggende waar die mis laag oor die see hang sodat dit ’n misterieuse voorkoms daaraan verleen.
“Ja, ek het gehoor.”
“Jy besef natuurlik dat sy vir eers by jou sal moet intrek?” vra sy.
“Is jy nou van jou sinne beroof? Wat dink jy gaan Bernice daarvan sê?”
Sy maak ’n sagte kreungeluid: “Ek weet nie wát jy in daardie vroumens sien nie. Ek hou niks van haar nie. Daar is net iets aan haar wat my koue rillings gee. En sover my kennis strek, het sy jóú gevra om met háár te trou.”
Dwayne vererg hom vir haar: “Hoe dit gekom het dat ek en Bernice verloof geraak het, is nie nou ter sprake nie!”
Lizél stop, sy is effens uitasem: “Wel, sy sal maar doodeenvoudig by die nuwe verwikkelinge moet inval, Dwayne. Sy sal dit ook maar net moet aanvaar dat ons geen ander uitweg het nie. Wat anders kan ons aan die saak doen?”
“Waarom kan jy en Hendrik haar nie onder julle dak inneem nie?” Sy donkerblou oë blits gevaarlik en sy donkerbruin kuif lê deurmekaar oor sy voorkop.
“Het jy vergeet dat ek en Hendrik oor twee dae Amerika toe vertrek? Jy weet baie goed dat ons vir die volgende ses maande nie in Suid-Afrika gaan wees nie. Hoe het jy gedink gaan ons dit regkry om binne ’n dag vir May ’n paspoort en visum te reël? Veral omdat sy, in die huidige toestand waarin sy verkeer, nie eers in besit van ’n identiteitsdokument is nie.”
Na ’n kort oomblik waarin Lizél haar ewewig herwin, en Dwayne nie op haar woorde reageer nie, praat sy kalmer: “Daar is nie ’n ander uitweg nie, Dwayne. Waarheen moet sy gaan?”
“Dan het ek seker nie ’n keuse nie. Ek sal haar dan maar later vanoggend gaan haal.” Die afgelope maand het May en haar toestand byna ál sy aandag en tyd in beslag geneem. Hy hét vergeet dat Lizél-hulle op die punt staan om Amerika toe te vertrek.
Vir ’n vlietende oomblik is Dwayne spyt dat hy die een is wat ’n maand gelede vir May hier in die seewater, amper op die strand, sien dryf, en haar gered het. Sy het so byna-byna verdrink. As hy en Lizél nie daardie oggend vroeër as normaal gaan draf het nie, het May sekerlik gesterf. Dwayne was pas klaar met die verfilming van die onderseetonele vir die nuutste reeks vir sy gewilde televisieprogram: ‘Ken jou kuslyn – diepseelangs’. Die laaste verfilming vir daardie reeks het hier in Mosselbaai en die omliggende omgewing plaasgevind. Daarom het hy vir ’n paar dae by sy suster, Lizél, en haar man, Hendrik Moolman, kom kuier.
Sedert daardie oggend wat hy op May afgekom het, is sy hele roetine omvergewerp.
Aangesien hy haar gered het, het Lizél by hom daarop aangedring dat hy haar moet bystaan terwyl sy in die hospitaal is en daarom is hy steeds hier. Omdat sy bewusteloos was en daar niemand te voorskyn gekom het wat haar ken nie, het hy haar vir alle praktiese doeleindes tydelik May Nieman gedoop.
Noodgedwonge was hy vir haar hospitaalonkostes en al die ander verpligtinge wat met haar hospitalisasie gepaard gegaan het, verantwoordelik gehou. Hy het op daardie stadium nog gedink dat hy dit later van haar sal verhaal – sodra sy haar bewussyn herwin en hy al die nodige inligting by haar kon kry.
Toe May ’n paar dae later haar bewussyn herwin, het hulle met ’n skok agtergekom dat sy aan algehele geheueverlies ly. Tot op hede kon sy nog nie onthou wie sy is; wie haar familie en vriende is; of waar sy vandaan kom nie.
Daardie dag toe die sewe-en-twintigjarige Dwayne haar drywende liggaam in die golwe opgemerk het, het hy vanselfsprekend aangeneem dat sy ’n toeris is. Omdat sy in swemklere geklee was, is hy vas oortuig daarvan dat sy vroeg daardie oggend, voor dit nog lig geword het, gaan swem het. En dat ’n sterk seestroom haar die see ingetrek en heelwat later eers weer op ’n heel ander plek uitgespoel het. Dit is gewoonlik mense wat nie die see ken nie wat dink dat hulle voor sonop kan gaan swem en dan in een of ander moeilikheid beland.
Hy het sy weergawe van wat hy dink met haar gebeur het, later, toe sy haar bewussyn herwin het, aan haar vertel, maar sy kon nie onthou of sy hier met vakansie is nie. Sy kon ook nie onthou of sy daardie oggend gaan swem het nie.
Aanvanklik het haar geheueverlies hom nie te veel ontstel nie, want, het hy gedink, sy sal dit mettertyd herwin. Die werklikheid het hom erg ontnugter. Dit is nou al ’n maand later en sy kan steeds niks onthou nie. Die enigste mense wie sy nou ken, is vir hom en Lizél, omdat dit net hulle twee is wat al om die beurt by haar hospitaalbed gewaak en tyd by haar deurgebring het.
· · ·
“Is dít nou die meermin wat jy vir jouself uit die see gaan haal het? Bly te kenne, meermin May,” maak Pedri van Pletzen met haar kennis toe Dwayne haar aan hom voorstel daardie selfde aand net na hulle by Dwayne se huis in Hermanus aangekom het.
May voel skaam onder Pedri se tergende stem terwyl sy blik geamuseerd op haar rus. Haar stem is sag: “Bly te kenne, Pedri.”
Pedri gooi sy kop agteroor en lag uit sy maag: “May is nou nie juis die mooiste naam wat Dwayne jou kon gee nie en dit pas jou glad nie. Ons sal aan ’n ander naam vir jou moet dink. Eerder iets soos Blondie, of Nooientjie, of dalk Nimfie. Dink jy nie ook dit is meer gepaste name vir jou nie?”
“Daar is niks fout met die naam wat Dwayne my gegee het nie.”
Dwayne weet dat dit Pedri se geaardheid is om almal, altyd oor alles te treiter, maar vandag ontstel hierdie gespottery hom: “Hy terg jou net, May, ignoreer hom.”
“Kan ek vir julle iets gaan skink om te drink?” vra sy om haar verleentheid te verbloem, al weet sy nie waar enigiets in Dwayne se kombuis is nie. Sy sal maar in al die kaste grou totdat sy die glase en alles wat sy gaan benodig, opspoor.
Hulle plaas hul bestellings en sy verdwyn kombuis toe. Sy wil nie te lank in hul geselskap wees nie, omdat sy heeltemal ongemaklik daarin voel.
“Ons kan die verfilming van ons volgende reeks nie langer uitstel nie, anders gaan ons nie betyds daarmee klaar wees nie,” sê Pedri die oomblik toe May buite hoorafstand is. “Op die heel laatste sal ons môreoggend moet vertrek. Jy sal jou meermin maar moet saamneem.”
Die spottende glimlag om Pedri se lippe en die tergende uitdrukking in sy oë ontsenu Dwayne net verder. “Ek weet ons kan dit nie langer uitstel nie, maar my seiljag is te klein om haar ook te akkommodeer.”
“Jou seiljag het meer as genoeg plek vir haar ook,” antwoord Pedri.
Dwayne reageer nie, daarom praat Pedri verder: “Waarom nader jy nie nou maar die polisie vir hulp nie? Dit is tog duidelik dat niemand op die artikel wat in die koerant verskyn het, gaan reageer nie. Selfs jou plasing op die sosiale mediaplatforms lewer geen resultate op nie.”
“Ek het ook daaraan gedink, maar ek het gehoop dat dit nie nodig sou wees nie. Ek het regtig gedink dat sy teen hierdie tyd al haar geheue sou herwin of dat iemand intussen die foto van haar wat ek versprei het, sou herken en kontak met my sou maak. Ongelukkig moet ons môreoggend baie vroeg vertrek, maar sodra ons terugkeer sal ek die polisie kontak. Sy sal seker in elk geval intussen hier by my moet bly totdat hulle iets uitgerig kry,” antwoord Dwayne.
Hy het werklik gehoop dat dit nie nodig sou wees om haar onnodig deur die drama van ’n polisie-ondersoek te plaas nie, maar dit lyk of hulle geen ander uitweg gaan hê nie. Laat hulle net eers hierdie week agter die rug kry.
“Jy weet natuurlik dat daar iemand is wat jou kan help om haar identiteit vas te stel en uit te vind waar sy — ?” begin Pedri weer praat.
Dwayne val hom in die rede: “Ek het reeds vir Terry geskakel. Hy kan my nie help nie. Hy het gesê dat hy haar naam of haar van, of een van haar ouers se name, of as sy getroud is haar man se naam, of anders haar geboortedatum nodig het. Sonder énige van daardie inligting kan hy net mooi niks doen nie. Hy het ten minste iets nodig om mee te werk en ek kan hom niks gee nie.”
Impulsief praat Pedri harder: “Sit jy dan nou met haar opgeskeep tot sy eendag haar geheue herwin, of tot die polisie iets aan die saak kan doen?”
“Ja, sy is nou my probleem tot tyd en wyl.” Dwayne se stem is ook harder. Hy voel hoe die irritasie in hom opstoot. As hy dít geweet het, sou hy by Lizél daarop aangedring het dat hulle iemand anders ook aan haar voorgestel het terwyl sy nog in die hospitaal was. Iemand by wie sy nou gemaklik sou voel om tydelik te woon tot hulle kan vasstel wie sy is en waar haar huis is.
May stap met ’n skinkbord in haar hande die sitkamer binne. Die uitdrukking op haar gesig laat Dwayne besef dat sy hul gesprek gehoor het. Hy staan op om die skinkbord by haar te neem, maar sy draai haar rug op hom en hou dit voor Pedri sodat hy sy glas kan neem. Slegs vir ’n oomblik kyk sy stip in sy oë, maar sy spreek nie haar gedagtes hardop uit nie.
Woordeloos draai sy om en plaas die skinkbord op die koffietafel, wat in die middel van die vertrek staan, neer sodat Dwayne homself kan help. Sonder om ’n woord te sê, stap sy by die sitkamer uit.
’n Ongemaklike atmosfeer sluip tussen Dwayne en Pedri in. Stil drink hulle hul drankies klaar en kort daarna groet en vertrek Pedri.
Verleë oor die neerhalende manier hoe hy op Pedri se woorde gereageer het, begin Dwayne na May soek. Hy vind haar in die gastekamer. Dit tref hom weer hoe perfek haar ligblou oë by haar ligte, goudblonde hare pas.
Voor hy ’n woord oor sy lippe kon uiter, sê sy: “Ek is jammer dat ek vir jou ’n probleem geword het. Ek wil vir niemand ’n las wees nie, veral nie vir jou nie. Jy het alreeds so baie vir my gedoen en ek besef dat ek heel waarskynlik nou net in jou pad is. As jy verkies om my eerder na iemand anders toe te stuur, sal ek daarby inval. Ek vertrou jou oordeel en ek glo dat jy my in betroubare mense se sorg sal plaas. Ek sou werklik enigiets doen net om my geheue te kon herwin sodat ek na my eie huis kon terugkeer, maar my brein weier om enigiets te onthou.” ’n Traan rol stadig oor haar wang.
Instinktief gee hy ’n tree nader aan haar. Hy kry haar opnuut weer jammer: dit moet ongelooflik moeilik wees om nie te weet wie jy is; en om niks van jou eie lewe te onthou nie.
“Ek is jammer. Jy is nie vir my ’n las nie. Dit is net: ons moet môre vertrek om opnames vir ons televisiereeks te maak en ek weet nie of jy saam met my … ons vir ’n week lank op die see sal wil wees nie. Ek weet ook nie wat om aan die saak te doen as jy dalk nie daarvoor kans sien nie. Sal jy dit oorweeg om saam met ons te kom?” Al waarop hy nou kan hoop, is dat sy die gedagte om alleen saam met hom en ’n paar vreemde mense op die oopsee te wees, nie vreesaanjaend vind nie.
“As ek nie in julle pad gaan wees nie, sal ek verkies om saam met jou te gaan,” antwoord sy. Sy wil werklik nie nou na vreemde mense toe gaan nie. Dwayne het nou al aanvaar dat sy niks van haarself of haar verlede kan onthou nie en hy respekteer dit. Dit gaan baie moeilik vir ander mense wees om ook eers op daardie punt te kom.