— HOOFSTUK 1 —
Debbie is met die helm gebore, het haar ma haar vertel, en dis seker hoekom sy anders is as ander mense. Nou nie dat sy spoke sien nie, gelukkig, want daarvoor is sy so bang soos die spreekwoordelike bok vir ’n skoot hael, maar sy voel partykeer dinge aan wat vir haar onverklaarbaar is, en wat dan later net so gebeur. En van haar drome is so duidelik asof dit werklikheid is. Sy is gewoond daaraan, maar mense kyk haar vreemd aan as sy daaroor praat. Dus bly sy maar liewer stil, soos nou. Sy en haar ouboet Christo kuier by sy pelle Bob en Adam en hul sussie Lida op die plaas Moordenaarsrant en is saam met hulle op ’n nagrit. Sy voel glad nie gelukkig daaroor nie. So ’n voorgevoel kielie in haar kop …
· · ·
“Waar gaan ons?” vra Debbie soos die perde gelykmatig oor die veld draf. Die maan is amper vol en skyn genoeg lig om rondom hulle te kan sien.
“Dis die pad na die rante, wat is daar te sien?” Christo ken die plaas amper net so goed soos sy maats, want hulle het al baie saam rondgery. Bob antwoord: “Ons wil julle die ou murasie gaan wys — ”
“Ag nee, man,” val Adam hom in die rede, “nou bederf jy alles. Ons wou mos juis gehad het hulle moenie weet voordat hulle dit sien nie.”
“Ek weet van niks,” sê Lida. “Watse murasie is dit?”
“Kan netsowel sê,” brom Adam. “Toe, boet, vertel wat Jonas gesê het.”
Bob hou sy perd ’n bietjie in sodat almal kan bykom. “Jonas het ons gister vertel dat hy partykeer met die trop skaap by ’n ou murasie oornag want daar is ’n soort van takkraal waar die jakkalse nie kan inkom nie, en dis daar waar hy sweer hy’t die ander aand ’n spook gesien. Dit was ’n man op ’n perd, maar toe hy nader gaan om te kyk wie dit is, is die perd omgeruk en dit het weggalop soos ’n skim, so vinnig. En wat hom snuf in die neus laat kry het, sê hy, is dat hy nie hoefslae gehoor het nie.”
“Was dit deurskynend?” maak Debbie notas in haar kop. Ondanks haar vrees vir spookgedoentes, weet sy hulle gaan na die vakansie ’n opstel moet skryf oor wat hulle gedoen het en hierdie lyk na ’n belowende onderwerp.
“Jonas het nie gesê nie, seker maar nie, want hoe kon hy hom anderste gesien het?”
“Het hy hom daarna weer gesien?”
“Nee, maar toe hy rondvra, sê een van die ander manne hý het, toe hy laas daar naby in die veld oorgestaan het. Dit was net soos nou heldermaan en hy’t duidelik ’n wit perd met ’n ruiter op sien hardloop en sy hoewe het sulke vonke uit die klippe geslaan, maar hy het niks gehoor nie. Hy het stilgebly sodat mense nie vir hom moet lag nie, maar hy sweer ook dis waar.”
“En daarna? Niemand anders?”
“Nee, maar nou moet ek darem sê die troppe kom deesdae naby die werf oornag,” sê Bob. “Pa het al gewonder hoekom, maar nog niks gesê nie.”
“Daar was dus twee bevestigde waarnemings,” maak Debbie seker.
“Dis reg.”
“En as julle tweetjies se onderhoud een of ander tyd klaar is, kan iemand ons asseblief vertel van watter murasie julle nou eintlik praat?” sê Christo. “Ek was ook al oor die hele plaas, maar het nog nooit iewers twee bakstene bo-op mekaar sien staan nie, wat nog van ’n hele muur.”
“Ek en Adam was al daar,” antwoord Bob, “maar dit was voor die spook. Dis ’n ver ent, dié dat die skaapwagters dit as ’n halfwegstasie gebruik het — ”
“Maar nie meer nie,” herhaal Adam, “hulle’s nou te bang en wil hê ons moet eers die spook wegjaag.”
“Toe Jonas dit die slag vir ons gewys het, het hy gesê dis ’n huis wat die trekboere nog destyds gebou het vir ’n sendeling sodat hulle darem op pad kon trou en kinders doop, is wat hy ook maar gehoor het,” vat Bob die storie verder.
“Hoekom weet Pa dit nie? Hy sou ons mos al vertel het daarvan, en hy het nie.”
“Dit moes seker gewees het voordat Oupagrootjie-hulle die plaas gekoop het. Ons het nie gevra nie, want dan word daar net weer vir ons gesê ons moet wegbly daar, dis mos wat hy altyd sê.”
“Hoekom sou hy?” vra Debbie .
Bob trek sy skouers op. “Ek dink maar net so.”
Lida kyk hom wantrouig aan. “Daar’s iets wat jy nie vir ons sê nie,” beskuldig sy. “Wat het van die sendeling geword?” Skielik dink sy aan iets. “Waar kom die plaas se naam vandaan? Het dit iets daarmee te doen?”
Maar pleks van antwoord spoor Bob sy perd aan. “Toe kom, ons moet aanstoot anders kom ons nie voor ligdag weer terug nie.”
“Wag vir my!” roep Lida toe haar klein ponie nie kan byhou by die groteres nie.
· · ·
Die maan begin al skuins wegsak na die weste toe Adam sy perd stilhou. Hy wys na ’n bos bloekombome ’n ent daarvandaan.
“Daar. Sien julle?”
Die ander trek hul oë op skrefies na die donkerte onder die bome.
“Kom ons gaan nader,” sê Bob, “ek sien nog niks.”
“Is dit die spook?” vra Debbie angstig. Daardie nare voorgevoel word al hoe sterker.
“Nee, man, dis die ruïne, die murasie,” sê Adam. “Mens kan dit duidelik hiervandaan sien.”
“Net omdat julle weet dis daar,” sê Lida. “Toe kom.” Sy spoor haar perd aan en ry vinnig na die bome toe.
Eers toe hulle naby is sien die ander ook dat hier eens ’n gebou moes gestaan het. Uit die puinhoop van kleistene staan nog ’n paar stukke muur regop en daar is selfs ’n deuropening in een daarvan, en ’n stuk vensterraam van verrotte hout. In die helder maanlig lyk dit soos iets uit ’n rillerfliek, asof daar enige oomblik ’n monstermens te voorskyn gaan kom.
Adam het klaar van sy perd afgegly, die teuels oor ’n tak gehaak en nadergestap. Bob laat nie op hom wag nie en bind sy skimmel Kroon vinnig aan ’n boomstomp vas sodat hy ook kan gaan kyk.
“Nou toe, julle meisies, kom julle?” roep Adam. “Of is julle bang die spook gryp julle? Hoehoe!” maak hy ’n grillerige geluid.
Lida vererg haar en stuur haar ponie na die murasie toe. “Wie’s jou bang, hè?” Sy klim uit die saal en lei Blitsie sommer saam na binne.
Christo kyk na Debbie. “Is iets verkeerd?” Hy weet mos van haar voorgevoelens.
“Julle kan eerste gaan, ek sal wag,” sê Debbie, wat haar perd se teuels styf vashou sodat sy hom onmiddellik kan laat hardloop as dit moet.
Christo klim af en bind tydsaam sy perd vas. Vir die wis en die onwis haal Debbie ’n flits uit haar saalsak. Mens weet nooit of daar nie dalk ’n wolk voor die maan gaan inskuif nie.
Sy kyk in die rondte en luister na elke naggeluidjie, ongerus oor die spookstorie en die onheil wat sy aanvoel. Veraf hoor sy ’n jakkals roep en wonder vir ’n oomblik hoekom daar op ’n skaapplaas nog jakkalse is. Seker maar moeilik om hulle weg te hou van die lekker maklike prooi af, probeer sy haar gedagtes aflei van die donkerte in die maanlig. Of miskien voel hul maats se pa dat hulle daar hoort, in die veld, waar hulle al was voordat die mense met hul veetroppe ingetrek het, redeneer sy. Sy hoop so, want sy hou nie van die gedagte dat die jakkalse doodgemaak word nie. Dis seker hoekom daar op hierdie plaas nog skaapwagters met honde is om na die troppe te kyk.
Sy skyn die flits se lig onder die bloekoms in en skielik ruk sy styf. Die ligstraal vang iets.
Iets wat wit tussen die bome skemer.
Debbie laat val die flits en gil.