— HOOFSTUK EEN —
Darryl Jenkins beur met inspanning teen die steilte voor hom uit. Ondanks maande se strawwe oefening om homself voor te berei vir dié bergklim ervaring, is sy asemhaling swaar en sy bewegings geforseerd. Die dun suurstof so hoog bo seespieël is besig om sy tol te eis, besef hy. Hy loer oor sy skouer na die ander klimmers wat in enkelgelid agter hom aankom, maar hy bepaal hom vinnig weer by die gids wat die laaste ent van Uhurupiek voor hom uitklim. Hy kan die smaak van oorwinning amper proe.
’n Paar treë later staan hy hygend bo op die kruin van Kilimanjaro. ’n Asemrowende toneel van uitgestrekte eindeloosheid begroet hom. Hy kan die manjifieke uitsig kwalik verwoord. Die sneeubedekte piek, afgeëts teen ’n inkblou hemel en ’n spierwit wattetapyt van wolke aan sy voete is ’n ongelooflike gesig. Ten spyte van sy gespierde ses-voet-vier gestalte voel hy meteens baie klein voor soveel grootheid en prag.
Die laaste paar dae se moeisame trek maak plek vir genoegdoening en hy drink die ongekende vreedsaamheid dorstig in. Dis stil met net die gesuis van die wind in sy ore.
Die res van die groep sluit bo by hom en die gids aan. Hy neem ’n paar skote met sy kamera en tuur weer in stille bewondering na die majestieuse prag wat hom omring. Hy wens Alana was by om die oomblik met hom te deel. Maar dit was ’n meëdoenlose klimtog. ’n Sweem van ’n glimlag pluk aan sy mondhoeke. Nie dat sy nie durf en deursettingsvermoë in daardie klein lyfie van haar het nie, dink hy minsaam. Maar so ’n ekspedisie is nie sonder gevare nie. Sy goeie vriend, Charles Hoffman, moes reeds die vorige dag deur ’n noodreddingsspan opgetel word nadat hy akute bergsiekte opgedoen het.
Hy neem nog ’n paar foto’s vir Charles se onthalwe. Dalk vergoed dit op ’n manier vir sy vriend se teleurstelling. Was dit nie vir Charles se fondsinsamelingsprojek ten bate van sy skool vir gestremdes nie, sou hy self nie nou op die sneeubedekte vulkaniese berg gestaan het nie.
Hy is bly dat hy hom laat ompraat het om Afrika se hoogste berg te kom klim. Die uitmergelende roete deur Tanzanië se vyf verskillende klimaatsones het hom die ideale geleentheid gebied om sy kop skoon te maak; om helderheid te kry oor sy toekoms, oftewel hy en Alana se toekoms saam. Te lank al sloer hy met die verhouding en hou hy haar op armlengte. ’n Meisie soos sy moet ’n man nie deur sy vingers laat glip nie. Dit het tyd geword dat hy oop kaarte met haar speel.
Die onrus roer in hom en sy kake wil-wil op mekaar klem. Dit gaan nie maklik wees nie. Hoeveel jaar is dit nou al – nege? – dat hy dié muur rondom hom opgerig het? Sy gedagtes flits terug, net vir ’n oomblik, na die hel wat hy deurgemaak het. Dan trek hy die sluier weer dig. Hy dink met opset nooit meer aan daardie pynlike deel van sy verlede nie. Dit beroof hom net van enige vrede.
Alana is die eerste meisie wat dit reggekry het om deur sy skanse te dring, alhoewel hy selfs nie eers vir haar ’n kykie in sy diepste binneste gegun het nie. In die bietjie meer as ’n jaar wat hy by haar kuier, weet sy nou nog net so min van hom af soos die dag toe hulle ontmoet het. En sy verdien dit nie, dink hy nugter. Sy verdien die waarheid omtrent sy verlede en wie hy werklik is. Hy moes dit lankal reeds gedoen het, voordat die vriendskap so ver gevorder het. Tog hou die vrees dat hy haar sal verloor, hom telkens terug.
Sy hart vermurwe as hy aan haar dink – haar petite lyfie, die fyn geur van parfuum wat aan haar kleef wanneer sy haar arms om sy nek sit, haar lippe sag en ontvanklik onder syne. Hy wil haar nie prysgee nie. ’n Intense verlange stoot in hom op. Hy is skielik haastig om by haar te kom, om in haar pragtige gesig af te kyk en haar lieflike stem te hoor. Die laaste ding wat hy wil hê, is dat sy moet seer kry. Hy sal haar alles vertel en as sy daarna nog vir hom kans sien, sal hy haar vra om met hom te trou.
· · ·
Dwayne Jenkins hou met ’n gehuurde motor oorkant die woonstelgebou stil en kyk weer na die adres in sy notaboekie. Hy hoop die meisie kan hom help. Nege jaar is ’n lang tyd. Hy dwing die rusteloosheid in sy siel tot bedaring. Dit kan nie langer wag nie. Hy móét sy broer eenvoudig sien en ’n ander opsie as hierdie het hy nie. Hy tel die rose op wat langs hom op die passasiersitplek lê en klim vasbeslote uit.
Alana frons toe sy die onverwagse klop teen die deur hoor. Darryl se vlug land eers oor twee dae en sy verwag niemand op hierdie koue wintersaand nie. Sy loer versigtig deur die loergaatjie. Toe sy tog die groot gestalte herken, verhelder haar gesig in ’n blye glimlag. Met ’n opgewonde gilletjie maak sy die veiligheidsketting los, pluk die deur wyd oop en gooi haarself in die sterk arms. “Ek dag jy kom eers oormôre!” groet sy oorstelp.
’n Heerlike warmte spoel oor Dwayne. Die modelmooie meisie verstrengel haar hande in sy hare en trek sy kop laer sodat hy haar moet soen. Hy laat nie op hom wag nie. ’n Mooi meisie kon hom nog altyd van windrigting laat verander. Eers toe sy uitasem terug rem en na die vergete blomme in sy hand beduie, laat hy haar gaan.
“Die rose is seker vir my?” lag sy.
“E … ja, natuurlik,” kug hy.
“Hulle is pragtig, dankie.” Sy staan op die tippie van haar tone om hom met nog ’n soentjie te bedank. Toe sy ongeskeerde baard tintelend teen haar vel skuur, kreukel sy haar neus vir die vreemdheid daarvan op. “En? Hoe was die staptog toe?” pols sy nuuskierig terwyl sy hom aan die hand kombuis toe trek.
Dwayne laat hom gewillig lei. Die meisie se blonde hare val sag oor haar skouers en die byna ontwykende geur van haar parfuum prikkel sy reuksin en sit sy verbeelding op loop. Toe sy strek om ’n blompot bo in ’n kas by te kom en die handeling ’n stukkie van haar midrif ontbloot, tree hy op sonder om te dink. Sy arms gly om haar fietse middel en hy draai haar om sodat sy dig teenaan sy harde liggaam te staan kom.
Alana se hart gee ’n wilde pluk toe hy die vaas uit haar hande neem en haar mond vurig opeis. Dis ’n sy van Darryl wat sy nie ken nie. Sy soen hom met oorgawe terug en verlekker haar in die wete dat hy haar netso verskriklik verlang het.
Toe sy hand egter onder haar toppie ingly, lui die waarskuwingsklokkies. “Sjoe, ons beweeg nou op gevaarlike terrein,” keer sy hees terwyl sy haar teësinnig uit die omhelsing losdraai. “Sit jy vir ons die ketel aan, dan maak ek vir ons koffie sodra ek hierdie pragtige bos blomme gered het.”
Haar woorde het ’n nugterende effek op Dwayne. Hy kan homself skop oor sy gebrek aan selfbeheersing. Wat makeer hom tog om hom te vergryp aan sy broer se meisie? Dis duidelik dat sy nie weet wie hy is nie. Hy moes homself met die intrapslag voorgestel het. Nou sal sy hom glad nie wil help nie!
Alana kraan die blompot vol en begin die roosstingels een vir een versigtig in die water druk, dan loer sy ondersoekend na die breedgeskouerde, donkerkop man wat roerloos bly staan het. Die teruggetrokke uitdrukking in sy oë vang haar onkant.
“Darryl? Is iets fout?”
Hy kyk haar swyend aan en skud dan sy kop. “Los maar die koffie,” mompel hy. “Ek moet gaan.”
Sy kan nie glo sy’t reg gehoor nie. Hy het nog nie ’n woord gerep oor Kilimanjaro nie. Sy druk die oorblywende roosstingels vinnig tussen die ander in en vee haar hande aan haar broekspype af. “Ek verstaan nie … ?”
“Ek’s jammer, OK?” sê hy. “Ek moes nooit gekom het nie.”
Hy is al by die deur toe sy tot verhaal kom. “Darryl? Dárryl!”
Hy maak die deur oop en stap uit sonder om terug te kyk.
Sy staar verslae na die deur wat agter hom toegaan. Sy kan nie glo dat hy uitgestap het sonder ’n verduideliking of ’n groet nie.
· · ·
Dis amper middernag toe sy steeds die donker in lê en tuur. Sy het verwag dat hy sou bel en om verskoning vra – ten minste verduidelik waarom hy so skielik van haar af weg is. Teen elfuur toe hy nog niks van hom laat hoor het nie, het sy krapperig in die bed geklim. Sy weet glad nie wat om van sy gedrag te maak nie. Dis nie hoe sy vir Darryl ken nie. Hy was nog altyd bedagsaam en sensitief.
Sy slaap sleg en toe die wekker vroegmôre afgaan, is dit met ’n dikkop gevoel dat sy opstaan en regmaak vir skool. Teen die tyd dat sy klaar gestort, aangetrek en hare drooggeblaas het, is daar nog geen boodskap van hom nie. Sy is in die versoeking om hom te bel, maar op die ingewing van die oomblik bedink sy haar. Hy was die een wat uitgestap het. Hy kan self bel en verduidelik. Sy kan nou nog nie sy eienaardige optrede kleinkry nie.
Net na vier die middag sluit sy haar woonsteldeur weer oop. Sy sit haar sak gelaai met vraestelle op haar lessenaar neer en stap kombuis toe om die ketel vir ’n welverdiende lafenis aan te sit. ’n Rukkie later skop sy haar skoene uit en gaan sit sy kruisbeen op die rusbank met ’n stomende beker tee. Die onrus knaag opnuut aan haar en haar blik verskuif na die groot ruit waarteen fyn reëndruppels begin spat. Darryl is doodstil.
Sy sit ’n rukkie na die reën en kyk terwyl sy aan haar tee teug, dan spring sy op en grawe in haar drasak na haar selfoon. Genoeg is genoeg. Sy moet nóú weet wat aan die gang is tussen hulle. Tot haar teleurstelling is dit net ’n bandopname van sy stem wat in haar oor speel: “Jammer, ek is nie op die oomblik beskikbaar nie … ”
Sy kreun van pure magteloosheid. Moet hy juis nou nie sy selfoon antwoord nie? Die moontlikheid dat hy iets makeer, is skielik sterk in haar gedagtes. Sê nou net hy’t ’n vreemde virus opgetel en hy lê al van die vorige aand af in ’n beswyming met niemand wat hom help nie? Sy stry die paniek weg wat in haar wil oplaai. Hy was nie siek of koorsig toe hy haar besoek het nie. Hy was net – ánders.
Voor hy weg is Tanzanië toe het hy haar verseker dat sy niks het om oor te bekommer nie. Hy is weke vantevore ingeënt teen geelkoors; hy het die nodige voorsorg teen malaria getref en die enigste ander gesondheidsrisiko was akute bergsiekte. Laasgenoemde, het hy haar gerus gestel, kon omgekeer word deur bergaf geneem te word.
Maar as hy nie siek is nie, waarom laat hoor hy dan niks nie? Voorheen het hy douvoordag geboodskap en iewers in sy besige dag het hy altyd tyd afgestaan om te hoor hoe dit met haar gaan. Die stilte is vir haar net te ongewoon.
Sy drentel afgetrokke venster toe. Onder in die straat skarrel ’n klompie mense onder sambrele verby. Ander trotseer die reënweer sonder beskerming, hul treë haastig totdat hulle by gebouingange in verdwyn. Sy vryf oor haar arms asof sy die koue kan voel nader kruip. Sy draai sugtend weg, radeloos oor wat haar volgende te doen staan. Sy weet nie waar anders sy met hom in aanraking kan kom nie. In die verlede kon sy hom nog altyd op sy selfoon bereik.
Haar hande vou koesterend om die laaste bietjie hitte van haar halfgedrinkte beker toe sy weer gaan sit.
Darryl Jenkins is nie ’n man wat graag oor homself praat nie. Eintlik weet sy bitter min van hom af. Hy is ’n argitek van beroep, dit weet sy wel, met ’n baie sagte plekkie in sy hart vir kinders.
’n Bietjie meer as ’n jaar gelede was dit juis by ’n gestremde kinderkonsert dat hulle ontmoet het. Uit die staanspoor het die reus van ’n man, so stil en op sy plek, haar belangstelling geprikkel. Hy was glad nie van die opdringerige soort waarmee sy al te doen gehad het nie en uiteindelik was sy die een wat ’n gesprek aangeknoop het.
Sy onthou hoe die rustigheid in sy stem haar aangetrek het en hoe sy dadelik op haar gemak by hom gevoel het. Sy’t nuuskierig uitgevra oor sy betrokkenheid by die gestremde skooltjie, maar hy’t verduidelik dat hy in die argitektuurbedryf is en net daar was as ondersteuner. Sy het spontaan gelag en gesê dit maak twee van hulle. Op haar beurt het sy hom vertel dat sy onderwys gee by ’n meisiesskool daar naby.
Sy’t sy geselskap terdeë geniet, maar sy het geen verwagting gekoester om hom ná die konsert weer te sien nie. Tog het die donkerkop man ’n blywende indruk op haar gemaak en kort-kort het hy haar gedagtes oorheers.
’n Week later het hy haar voete onder haar uitgevee toe hy skool toe bel en haar nooi vir koffie. Sy’t allermins gedink dat hy notisie geneem het van waar sy skoolhou, maar die feit dat hy dié onbenullige detail onthou het en moeite gedoen het om die skool se telefoonnommer op te spoor, het haar laat besef dat hy ’n man is wat dinge gedoen kry.
Marion’s, ’n gesellige koffiewinkeltjie in die middestad, het hulle gunsteling kuierplek geword. Soms het hulle gaan fliek of na ’n opvoering gaan kyk, maar die vriendskap het platonies gebly. En net toe sy moed opgee dat die verhouding ooit enige vordering gaan maak, het hy haar gesoen. Diep en talmend en innig.
Sy sug saggies, verlangend. Sy ken nie nog so ’n man soos hy nie, altyd die ware heer met sy emosies streng onder beheer. Dit wat hulle het, is seldsaam en kosbaar. By hom voel sy veilig, verborge.
Sy sluk die laaste van haar tee weg, ’n fyn fronsie tussen haar wenkbroue.
Wat het dan skeef geloop vandat hulle tien dae gelede van mekaar afskeid geneem het? Die man wat gister in haar woonstel was, was ’n heel ander persoon – driftig met sy liefkosings, maar andersins bot en ontwykend.
Die gebeure van die vorige aand speel weer in haar geestesoog af. Wat het hy bedoel toe hy gesê het: “Ek moes nie gekom het nie”? Sy onthou die klank van finaliteit in sy stem, kompleet asof hy spyt was dat hy gekom het. Asof … hy nie met die verhouding wou voortgaan nie.
Die gedagte is erg ontstemmend. Is dít wat hy eintlik bedoel het? Het hy tydens sy bergklim in Afrika tot die besef gekom dat hy iets meer uit die verhouding verlang – iets wat hy weet sy nie bereid is om voor die huweliksnag te gee nie? Dalk wil hy nie gebind wees nie en sien hy nie vir hulle ’n toekoms saam nie. Het hy gekom net om haar reaksie finaal te toets?
Dit voel of haar hele wêreld skielik verkrummel. Haar ouma het haar met sterk Christelike waardes grootgemaak en dis die een beginsel wat sy nie bereid is om prys te gee nie. Nie eers vir ’n man soos Darryl Jenkins nie.
’n Donker leemte vou om haar. Is dit hoe dit tussen hulle moet eindig? Sommer só, sonder afskeidswoorde? Die optrede strook net nie met sy karakter, met die mens wat sy leer ken het nie. Hy sou die kwessie nooit op so ’n onsensitiewe manier hanteer het nie, stry haar hart en haar logika.
Maar tog hét hy.
· · ·
Darryl haal sy reistas van die vervoerband af, dan gaan hy eenkant weg van die samedromming van mense staan en haal sy selfoon uit. Sy plan is om eers huistoe te gaan om te stort en vars aan te trek voordat hy na haar toe gaan, maar eers móét hy net haar stem hoor.
Sag, byna huiwerig, hoor hy haar sê: “Hallo?”
Hy wens hy was al by haar dat hy haar teen hom kan vasdruk. “Meisiekind, dis so goed om jou stem te hoor.”
Sy bly tellings lank stil. Toe sy praat, is haar stem hees, haar woorde stamelend. “Darryl … ek het gedink … toe ek niks van jou hoor nie … ek het jou probeer bel … ”
Haar verwarring laat hom onbegrypend frons. “Alana, meisie, het jy dan vergeet dat ons kommunikasieprobleme sou hê terwyl ek weg was? Die sein was baie swak en soms was daar glad nie opvangs nie.”
Hy hoor die skerp intrek van haar asem. “Jy weet dis nie wat ek bedoel nie. Ek praat van Donderdagaand, toe jy weg is sonder om eers totsiens te sê en daarna nie weer van jou laat hoor het nie,” sê sy gekrenk.
Haar woorde bring hom self in die war. “Ek verstaan nou nie mooi nie. My vlug het so pas geland — ”
“Jy het Donderdagaand vir my rose gebring!” val sy hom ontsteld in die rede. “Darryl, wat gaan aan?”
’n Ysige hand omsluit sy hart toe die enigste logiese verklaring vir so ’n misverstand hom tref. Hy moes gepraat het, lankal al. Hy sweer, as sy op enige manier te na gekom is …
“My meisie, wag net daar, ek is op pad.”