GROENHEIDE BOEKE

Dressuur vir Dommie

— HOOFSTUK 1 —

“Reg,” sê Mildred, “ek het nuus vir julle, maar ek weet nie of julle dit wil hoor nie.”

Die vyf Poniehoewe-Klublede - Dommie, Anneke, Roy, Ruan en Tessa - sit op die stoep van die huis op die hoewe waar hul ponies aangehou word. Dis al gewoonte dat hulle gaan groet voordat hulle huis toe gaan, en oor perde gesels saam met Mildred en haar vriendin uit Engeland, tannie Elsa, wat by haar kuier.

Tessa speel met Tjello se rooi bal en probeer dit op die hond se neus balanseer, maar elke keer hap hy sekuur sodat dit weer tussen sy tande beland. Sy hou op en kyk soos die ander vier vol afwagting na Mildred.

“Wat dan?” vra Anneke.

“Philippe, julle weet, die rymeester van die Equestrian Centre daar anderkant,” Mildred kry dit reg om haar afkeur van die man duidelik te kenne te gee sonder om lelike woorde te gebruik, “was hier. Hy sê hy gaan ’n eendaagse driekamp daar by hulle reël, dis nou dressuur, ’n heg-en-stegveldren, en skouspring, alles op een dag. Hy wou weet of julle sal kom.”

“Lekker!” roep almal amper tegelyk, maar Mildred is nog nie klaar gepraat nie.

“Daar is ’n paar probleme, dus het ek nog geen antwoord gegee nie.”

“Maar ons gaan, dan nie?” vra Ruan hoopvol.

Mildred skud haar kop.

“Wag eers. Hy sê dis ’n graderingkompetisie, wat beteken dat julle en die perde geregistreer moet wees.”

“Dan doen ons dit gou, hoe moeilik kan dit wees?”

“Moenie vir my vra nie.” Mildred trek haar skouers op. “Hulle het die reëls vir kinder­ruiters verander vandat ek laas daar was, die hoogte van die ponies en alles.”

“Hoekom?”

“Glo om aan te pas by internasionale stan­daarde en die metrieke stelsel.”

“Wat het die metrieke stelsel met ponies uit te waai?” wil Tessa verbaas weet.

“Perde en ponies is in my tyd in hande gemeet,” verduidelik Mildred, “en ’n hand is gelyk aan vier duim in die empiriese voete-en-duimestelsel. ’n Ponie was enige perd onder veertien twee hande — ”

“Behalwe ’n Arabier en ’n miniatuurperd,” val tannie Elsa, wat tot dusver nog niks gesê het nie, haar in die rede. “Hulle is perde al is hulle hoe klein.”

“Dus is dit verkeerd as ek sê Dapper is ’n ponie?” vra Anneke. Dapper is Anneke se wit perdjie, en haar hart se punt.

“Ja, hoewel mens deesdae wel Arabierponies kry, maar dis kruisings met allerhande ponie­rasse,” antwoord Mildred. “By skoue tel in elk geval net die hoogte, nie die ras nie, dus daar is Dapper ’n ponie. Moet net nie nog wil weet nie, ek het nie bygehou nie.”

Mildred waai haar hande in die lug om haar onkunde te betuig.

“Dis darem nie so erg nie,” troos haar vriendin, “as dit volgens die Britse reëls is, kan ek help met die nuwe hoogtes en so.”

“Hoe sal jy weet?”

Halfverskonend antwoord tannie Elsa: “Greg het daarop aangedring dat ek betrokke raak by ons plaaslike ponieklub, want hy het geweet anders vergaan ek – Greg is my man,” verduidelik sy aan die vyf maats.

“Waar’s hy dan nou?” Dis net Roy wat sulke persoonlike goed vra, maar tannie Elsa gee nie om nie.

“Hy moes vir sy werk drie maande na Amerika en toe kom kuier ek hier by Milly. Nou kan ek haar sommer help met julle afrigting, of hoe sê julle?”

“Kan ons dus registreer?” vra Anneke gretig.

“Dit kos gewoonlik ’n aardige bedrag — ” begin Mildred, en Tessa antwoord onmiddellik: “Ons het nog die geld van die heg-en-steg.”

“Ja, maar wat ek eintlik wou sê is dat dit nie gaan help om oorhaastig daar in te hardloop nie. Philippe — ” sy spoeg die naam uit “ — sal sit en wag dat julle ’n gek van my maak, dus moet ons kyk wie is werklik geskik vir driekamp. Eerlik nou?”

Roy laat nie op hom wag nie. Hy skud sy kop.

“Rollie kan nie spring nie.”

Tessa dink na voordat sy teensinnig sê: “Ek dink nie Sneeuvoet en ek is al reg vir groot kompetisie nie. Ek sal maar knegpersoon wees.”

“Wat? O ja, natuurlik. Wel, dié moet daar ook wees,” troos tannie Elsa. “Wat van jou, Anneke?”

“Dapper kan, ek is net nie seker van die dressuur-affêre nie. Is dit baie moeilik?”

“Nie op daardie vlak nie,” antwoord Mildred, “en ek vermoed trouens dat Dapper dit al gedoen het. Ek wéns ek kon uitvind wat daardie perdjie se geskiedenis is!” voeg sy fronsend by.

“Mens kan mos rondvra, iemand moet hom ken,” sê tannie Elsa, maar Mildred antwoord: “Ons weet nie wat sy regte naam is nie, maar nou ja, dis tot daarnatoe. Ruan, wat van jou – en jy besef ek vra net uit beleefdheid?”

Ruan glimlag skewebek vir die grappie, ook uit beleefdheid.

“Ek weet Kuifkop kan nie spring nie, maar mag ek weer vir Gillie ry?” vra hy hoopvol.

“Dit hang af of daar klasse gaan wees waar kinders op perde mag deel­neem,” antwoord tannie Elsa.

Mildred skud egter haar kop.

“In geen geval, beslis nie. Philippe sal hom by die reël hou waarvolgens perde met ’n stang gery moet word, en Gillie word nie.”

“Kan ons nie net vir hierdie een keer — ” begin Ruan, maar Mildred val hom in die rede.

“Nee. Hy is deur ’n vorige eienaar met ’n skerp stang seergemaak en ek het hom belowe om nooit weer ’n stuk metaal in sy mond te sit nie. Ek hou daarby.”

“Ek sal hom mos nie trek nie,” probeer Ruan nogtans.

Mildred antwoord nie eers nie en Tessa vra: “Hoekom mag mens nie sonder stang ry nie?”

“In party lande word dit wel toegelaat,” verduidelik tannie Elsa, “maar volgens wat Mildred van hom vertel twyfel ek of Philippe sal. Dit geld darem net vir dressuur.”

“Nou ja, dan sal ek ook maar stalkneg wees,” sê Ruan gelate.

Dommie het nog heeltyd stilgebly en tannie Elsa vra: “Wat van die veearts se ponie, Diamond? Hy is mos hiernatoe gebring vir Dommie om te ry, dan nie?”

“Sy naam is nou Boontjies,” sê Roy pront en tannie Elsa lag.

“O ja, ek onthou, en ek wil nog steeds nie weet hoekom nie. Maar wat van hom? Weet julle hoe geskool hy eintlik is?”

“Volgens dokter Venter is hy geleer, maar hy sê hy weet nie in hoeverre sy dogter en Philippe hom verniel of verbeter het nie. Ek reken egter hy sal nogtans so ’n beginnersdriekamp maklik kan doen. Sien jy kans, Dominique?” vra Mildred.

“Ek weet nie. As jy my wys hoe?” antwoord sy aarselend en Mildred sê: “Natuurlik sal ons, ek en Elsa albei. Ek reken ook dat hy klaar geregistreer is, dus is dit net jy wat moet bykom, en Anneke en Dapper.”

“Het ons nog genoeg tyd?” wil Anneke angstig weet. “Wanneer is dit?”

“Volgende maand,” sê Mildred, “ek sal die registrasies vandag nog instuur.”

“Dus ons gaan,” sê Anneke tevrede.

“Dit lyk so,” beaam Mildred. “Van môre af begin ons weer met lesse.”

“Wat van ons wat nie deelneem nie?” wil Roy weet.

“Julle is saam in die les, dit sal jou goed doen want onthou, dressuur is die grondslag van alle rykuns. Cowboys s’n ook,” sê Mildred, en ná daardie tower-woord stry Roy nie verder nie.

· · ·

Toe hulle op hul fietse huis toe ry, sê Anneke: “Ek wonder of Mildred ook ’n man gehad het.”

“Ja,” sê Ruan.

“Wat ja, wonder jy of het sy?”

“Sy was getroud, sy en tannie Elsa was mekaar se strooimeisies.”

“Hoe weet jy dit?”

“Sy het my vertel, daardie keer toe ons gery het om tannie Elsa op die lughawe te gaan haal.”

“Is nie, ek weet dan niks daarvan nie,” sê Roy opstandig.

“Jy’t geslaap, met jou rewolwer en al waarmee jy ons moes beskerm,” spot Ruan. “Nee regtig, sy was beslis getroud, maar ek weet nie wat van haar man geword het nie.”

“Sy is al oud — ” begin Roy, maar Tessa val hom in die rede: “As my ouma jou nou hoor sal sy jou baie goed laat verstaan sestig jaar is beslis nie stokoud nie!”

“Is dit hoe oud sy is?” vra Roy beïndruk. “Dan is haar man sweerlik al dood.”

“Miskien is hulle geskei, sy gebruik in elk geval haar nooiensvan.” Anneke hou duidelik nie van die gedagte dat Mildred ’n treurende weduwee is nie.

“Ag, wat maak dit saak,” sê Ruan. “As julle so nuuskierig is, vra haar.”

Maar Tessa begin skielik lag.

“Wat is nou so snaaks?” vra Anneke.

“Nee, ek dink maar net, sy en Philippe van die Centre kan mekaar mos nie verdra nie, dalk is hy nog haar eks!”