SPOKE UIT DIE VERLEDE
“Mevrou, ek is jammer.”
“Nee!”
Die woord hang swaar in die donker kamer toe Lindi verskrik regop sit. Dit is al drie jaar, maar die dokter se woorde volg haar tot in haar drome. Moedeloos sak sy neer op die kussing, maar kan nie weer aan die slaap raak nie.
Sy slaak ’n sug van verligting toe haar selfoon lui.
“Lindi Grundling,” antwoord sy vriendelik.
Sy luister na die man en vra dat hy na die praktyk moet gaan. Sy sal hom daar kry.
Lindi het al alles gereed gekry teen die tyd wat die kort, blondekop man by die praktyk instap.
“Naand, Dokter. Marius Brümmer,” groet hy vriendelik terwyl hy sy hand na haar toe uitsteek.
Haar groot blou oë kyk vraend na hom toe sy teruggroet. Sy soek vir die hond wat hy moes inbring.
“Hy het dit nie gemaak nie, Dokter. Hy is op pad hierheen dood,” gee hy die inligting nog voordat sy kan vra.
“Ek is jammer om dit te hoor. Weet u watter soort slang dit was wat hom gepik het?”
“Ongelukkig nie. Ek het net die twee tandmerke op hom gesien. Ek dink dit was reeds te laat gewees om enige iets te kon doen, maar ek het maar bly hoop. Jammer dat ek u dié tyd van die nag verniet laat uitkom het.”
“Dit is geen probleem nie, Meneer Brümmer.”
Na die man weer gery het, bly Lindi in haar kantoor agter. Sy wil nie nou weer teruggaan na haar woonstel nie. Dit is in elk geval nog net ongeveer twee ure voor almal gaan begin inkom. Sy begin deur die lêers werk wat op haar tafel lê.
· · ·
“Lindi, kan ek jou gou sien?” vra Tim Ferreira aan haar toe hy later die oggend by die praktyk instap.
“Seker, Dokter.”
Sy volg die ouerige man na sy kantoor.
“Sit solank, ek wil net gou vir die tannie sê om alle oproepe terug te hou.”
Toe hy agter sy lessenaar gaan sit, kyk Lindi hom ernstig aan. Dokter Ferreira se donkerbruin oë is altyd vol simpatie vir die eienaars van die diere. Sy grys hare is altyd netjies. Sy kan nie onthou dat sy dit al ooit deurmekaar gesien het nie. Sy weet sy was gelukkig om by hom alles te leer wat sy vandag weet. Maar vandag is die oë wat na haar kyk ernstig.
“Dit klink belangrik,” begin Lindi.
Hy kyk ondersoekend na Lindi. Sy lyk eerder asof sy nog twintig is en nie agt-en-twintig nie. Haar groot donkerblou oë skyn helder teen haar goudbruin vel. Haar lang hare is soos gewoonlik agter haar kop vasgemaak.
“Dit is. Jy werk nou al vir die afgelope sewe jaar vir my.”
Bekommerd kyk sy na die ouer man. “Dit is reg. Is daar ’n probleem?”
“Nee, alles behalwe. Ek is baie gelukkig met jou werk. Dit is juis waaroor ek met jou wil praat. ’n Goeie vriend van my is opsoek na iemand om hom te help met sy praktyk. Hy voel hy is te oud om alles verder alleen te hanteer. Ek het jou aanbeveel.”
Lindi kyk hom verward aan. Sy probeer onthou of sy iewers ’n fout gemaak het.
Is hy nie gelukkig met my werk nie? Waarom stuur hy my nou weg, mymer sy. Onseker kyk sy na hom. “Hier is tog baie veeartse wat seker vir hom wil werk?”
Daar verskyn ’n frons op Tim se voorkop terwyl hy dink oor hoe hy die nuus aan Lindi moet gee. “Hierdie is nie in die stad nie. Dit is op ’n dorp. Witsteen, duskant Vryburg in Noord-Wes. So ongeveer vyfhonderd kilometers hiervan af.”
Sy het nie nodig om te dink wat haar antwoord gaan wees nie. “Dankie, Dokter, maar ek wil nie weggaan nie. Is daar nie iemand anders wat u kan stuur nie?”
“Ongelukkig nie. Aangesien die praktyk op ’n dorp is, sal die veearts na die plaasvee ook moet kan omsien. Ek voel nie gemaklik met een van die ander om die verantwoordelikheid vir hulle te gee nie.”
Vir ’n oomblik kyk hy haar net stil aan.
“Lindi, jy het al genoeg ondervinding opgedoen en het ’n groot kennis veral van die plaasvee. Dit is iets wat baie belangrik gaan wees in die werk. Daar is baie plase om die dorp en die meeste noodgevalle gebeur maar daar. Dokter Groenewald sal ook nie tyd hê om iemand touwys te maak oor die behandelings nie. Dit is waarom hy iemand soek wat klaar ervaring het.”
Toe sy hom net stil aankyk, vervolg hy: “Ek het die volste vertroue in jou.”
Lindi byt haar lip tussen haar tande vas. “Ek weet nie. Indien ek nee sê, sal ek nog my werk hier behou?”
“Natuurlik. Dit is nie nodig om daaroor bekommerd te wees nie.” Hy sit vorentoe met sy vingers in mekaar gevleg op die lessenaar. Die oë wat na haar kyk, vol simpatie. “Lindi, kom ek wees nou eerlik met jou.”
“Ja, Dokter.”
“Jy moet hier wegkom. Dit is al drie jaar sedert Alex se dood. Dit is asof jy saam met hom doodgegaan het. Jy spandeer elke vrye minuut hier by die praktyk.”
“Ek verkies dit so.”
“Ek weet, maar dit is nie gesond nie. Ek glo dat die verandering jou net goed sal doen. Miskien ontmoet jy nog iemand spesiaals daar,” sê hy liefdevol.
Sy kyk hom geskok aan. “Ek stel nie belang om weer ’n man te kry nie,” kom dit verbitterd. Dan vervolg sy sag: “Maar Alex se graf … ”
Tim het verwag dat sy dit gaan sê. Dit wat hy nou moet sê is seker een van die moeilikste dinge wat hy nog ooit moes doen: “Dit is tyd om te laat gaan. Jy weet hy is nie daar nie.”
Lindi byt weer haar lip tussen haar tande vas. Sy woorde is soos ’n mes wat in haar hart gesteek word. Toe sy na hom kyk kan hy die uitdrukking van pyn daarin sien. Hy is jammer dat hy dit so aan haar moes sê. Nog nie een van hulle het dit nog reguit vir haar gesê nie, maar hy weet die tyd het aangebreek dat hulle haar moet help om die werklikheid te begin aanvaar.
Vandat sy vriend hom gebel het, was Lindi die heeltyd in sy gedagtes. Hy besef dat dit dalk die enigste manier sal wees om haar te help om Alex se dood te aanvaar. Hy wil haar nie verloor nie, maar vir die kind voor hom sal hy enige iets doen.
“Kan ek daaroor dink?”
“Natuurlik. Maar ons sal graag so gou as moontlik ’n antwoord wil hê. Indien jy besluit om te gaan, sal dit ook onmiddellik wees. Jy hoef nie ’n kennistydperk te werk nie.”
“Goed, ek sal u laat weet. En, Dokter, dankie vir die geleentheid,” sê sy voor sy die kantoor verlaat.
· · ·
Na werk ry Lindi eers weer na die begraafplaas. Die son is besig om te sak. Dit lyk soos ’n rooi kombers wat oor die grafstene gegooi is.
By die grafsteen gaan sit sy op haar hurke en streel met haar hande oor die letters.
“Alex, ek wil jou nie hier alleen los nie, maar ek weet ook dat jy nie regtig hier is nie. Dit is net dat ek nog nie gereed is om totsiens te sê nie.” Die trane loop sag oor haar wange. “Maar dalk is dit nou tyd dat ek probeer om sonder jou aan te gaan. Jy sal altyd by my wees, maak nie saak waar ek is nie.”
Sy staan op en druk ’n soentjie met haar vingerpunte op die grafsteen. ’n Snik ontsnap haar. Sy draai om en loop weg terwyl die trane nog oor haar wange loop.
Toe sy in die bakkie is, gee sy oor aan die seer. Die snikke ruk deur haar. Dit is eers nadat haar trane opgedroog het, dat sy wegry.
· · ·
Die volgende oggend gaan Lindi dadelik na dokter Ferreira se kantoor. Sy het lank oor die aanbod gedink deur die nag en weet dat indien sy langer daaroor gaan dink, sy dalk haar besluit mag verander.
“Dokter, kan ek jou gou sien?”
“Kom in, Lindi,” nooi hy.
“Ek het gedink oor jou voorstel. Ek sal dit aanvaar,” sê sy gelate.
Tim kyk haar ondersoekend aan. Hy sien die donker kringe onder haar oë en weet dat sy die vorige nag weereens nie geslaap het nie. Indien hy nog gewonder het of hy die regte besluit geneem het, weet hy nou dat dit was. Hy weet dat dit dalk nie noodwendig gaan help om haar te kry om oor Alex se dood te kom nie, maar dit kan dalk net werk. Hier is te veel goed wat haar die heeltyd aan Alex herinner.
“Jy het die regte besluit geneem. Jy sal sien dinge kan net beter gaan.”
“Wanneer moet ek daar begin?” vra Lindi vinnig.
“Vat die volgende paar dae af en kry al jou sake in orde. Dan laat weet jy my wanneer jy reg is. Soos ek gesê het, dit is nogal dringend. Jy hoef nie bekommerd te wees oor verblyf nie. Daar is ’n gemeubileerde woonstel op die perseel vir jou. Dit is ingesluit in jou pakket, so jy hoef nie daarvoor te betaal nie.”
“Goed, Dokter.”
· · ·
Die volgende paar dae is Lindi baie besig. Sy moet kennis gee by haar woonstel. Die eienaar kom haar tegemoet en sê sy hoef nie vir ’n kennismaand te betaal nie. Hy het ’n lang lys van mense wat wag vir ’n plek om oop te gaan.
Die res van die tyd spandeer sy daaraan om deur haar persoonlike goed te gaan en alles wat sy wil saamneem eenkant te sit. Sy begin ook dan om die minder belangrike goed in bokse te pak. Sy reël ook vir ’n stoorplek waar sy haar meubels kan bêre totdat sy weet wat verder gaan gebeur.
Sy laat weet haar vriende wat sy gaan doen en alhoewel hulle almal verbaas is om te hoor dat sy weggaan, is hulle baie ondersteunend.
Daar is ’n klop aan die deur. Lindi staan traag van die vloer af op. Sy is nie nou lus vir mense nie. Die bokse is uiteindelik almal gepak en gesorteer.
Dit is Hannah wat voor die deur is en onmiddellik verander Lindi se gemoedstoestand. Bly gooi sy haar hande om haar vriendin.
“Hannah, jy het nie laat weet jy kom kuier nie!”
“Het jy regtig gedink ek sal jou laat weggaan sonder om totsiens te sê?” vra sy met opgeligte wenkbroue terwyl sy by die deur instap.
Die twee is vriende van skooldae af en Lindi weet dadelik dat dit nie al rede is waarom Hannah hier is nie. Lindi is korter as Hannah en sy moet effens opkyk na haar. Sy kyk ondersoekend na die rooikop meisie. Haar groen oë is ernstig op Lindi gerig.
“Ek weet wat jy wil sê, maar kom ons praat later daaroor. Eers gaan ek vir ons koffie maak,” ontwyk Lindi haar vriendin se blik.
Dit is Hannah wat eerste praat toe hulle elkeen later met ’n koppie koffie in die hand sit.
“Is jy seker dit is wat jy wil doen?”
Lindi kyk pleitend na haar. “Nee. My hart sê dat ek net hier moet bly, maar my verstand sê dat ek nie moet nie.”
“Ek verstaan. Ek weet dit is nie maklik vir jou nie, maar ek wil eintlik saam met jou verstand stem.”
“Nou waarom vra jy my dan?”
“Ek wil hê jy moet dit hardop sê. Ek wed jou jy het nog nie met iemand hieroor gepraat nie.”
“Nee, ek het nie,” erken Lindi.
“Ek kan sien daar is nog iets. Waaroor is jy bekommerd?”
“Ek weet nie regtig nie. Dit is seker die onsekerheid oor die nuwe plek. Wat as ek nie daar inpas nie? Ek weet niks van klein dorpies nie en die dinge wat ek nou al gehoor het, maak my bang.”
“Jy gaan op geen plek van die begin af inpas nie. Dit is hoe dit op enige plek werk, nie net op dorpe nie,” sê Hannah reguit.
“Jy help nie regtig nie,” glimlag Lindi vir haar.
Hannah kyk met ’n gemaak-seer uitdrukking na haar. “En hier dink ek dat ek doen.”
“Jy doen. Ek dink dit is die eerste keer dat ek beter voel oor my besluit.”
“Onthou dat jy altyd weer by my kan kom bly indien dinge nie uitwerk nie.”
“Ek weet. Jy sal altyd daar wees om my weer op te tel. Maar kom ons praat oor minder ernstige dinge nou.”
· · ·
Twee weke later ry die blou bakkie die dorp binne. Dit is nog skaars tien-uur, maar dit is klaar baie warm. Dit is maklik om dokter Ferreira se aanwysings te volg. Dit is nie lank nie, dan stop Lindi voor die groot wit gebou. Sy sit net in die bakkie en staar na haar nuwe werksplek. Vir ’n oomblik wonder sy weer of sy die regte ding gedoen het.
Dokter Ferreira het haar destyds aangesê om ’n viertrekbakkie te koop toe sy gesoek het vir ’n kar. Dit werk beter op die plaaspaaie, was sy redenasie. Lindi was nog nie een keer spyt nie. Die enigste probleem is dat sy omtrent van die sitplek moet afgly elke keer wat sy uit die bakkie klim, omdat sy so kort is.
Daar is nie nou omdraai kans nie, dink sy terwyl sy uitklim.
Net toe sy by die gebou wil inloop, kom ’n man woedend by die deur uitgestorm. Hy stamp teen Lindi toe hy verby haar loop en mompel net: “Jammer,” terwyl hy verder wegloop sonder om vir haar te kyk.
Is almal op die dorp so ongeskik soos hierdie man? Waarin het ek my begewe? wonder sy bekommerd.
Sy is nog besig om oor die man se gedrag te dink toe ’n vrou skielik met haar praat: “Goeiemôre, Dame, kan ek u dalk help?”
Die vrou is ongeveer sestig jaar oud met grys strepe wat plek-plek in haar donker hare wys. Voor Lindi nog kan dink oor wat sy moet sê, kom die woorde eerlik: “Môre, Mevrou. Is die man altyd so ongeskik?”
“Gelukkig nie. Maar u moet hom asseblief verskoon. Hy het Dokter dringend nodig, maar ek kry hom nie in die hande nie. Dié is ongelukkig uit om te help met ’n geboorte en ek kry hom nie in die hande nie,” sug Pippie moedeloos.
“Miskien kan ek help. Ag, verskoon tog. Ek het nie eers vir u gesê wie ek is nie. Ek is Lindi Grundling. Ek moet by dokter Groenewald begin werk oor twee dae,” stel sy haarself voor terwyl sy haar hand vriendelik uithou na die ouer vrou.
“My goeiste, Dokter. Ek het ’n baie ouer vrou verwag. Sal nie kan glo dat jy al ’n graad agter jou naam het nie. Ek is dokter Groenewald se vrou, maar jy kan sommer net vir my Tannie Pippie sê.”
Lindi hou dadelik van die vrou voor haar.
“Kan Tannie vir my sê wat die man se probleem is? Dalk kan ek help,” bied sy weer aan.
“Aai, mens. Sy hond is deur ’n bul geskraap en volgens hom is die dier baie ernstig beseer. Hy was op die dorp toe hulle hom laat weet het.”
“Tannie, waar is die man se plaas? Ek sal sommer dadelik ry. Ek het my eie toerusting saamgebring vir sulke gevalle.”
“Maar jy het nog nie eers afgepak nie,” sê Pippie onseker.
“Daar sal nog baie tyd wees. Hierdie is belangriker.”