GROENHEIDE BOEKE

GSSR #3: ZODIAC

— HOOFSTUK 1 —

Die geur van jasmyn hang in die lug. Dit verbloem alle ander reuke wat daar ook al teenwoordig mag wees. Kolonel Berrie Oosthuizen asem die geur diep in, hier waar hy voor die oop venster van sy kantoor by sy lessenaar sit. Die struik is jare gelede langs die lykshuis aangeplant en dit het die hele struktuur oorgroei. “Dit sal sommer die aaklige doodsreuk verberg,” het iemand gesê en almal het daarmee saamgestem, want die eetvertrek is nie vêr daarvandaan nie. Jasmyn sal hom altyd aan die dood laat dink.

’n Klop aan die oop deur trek sy aandag en hy kyk op.

“Kom binne, Majoor.” Die bevel word kortaf gegee. “Is daar al vordering met die ondersoek?” Majoor Van der Bijl word nie genooi om te sit nie.

“Nog niks verder nie, Kolonel, ons soek ook nog na die res van liggaam. Die vrou se kop, een arm en haar bene is reeds gevind.”

“Dit is verlede week reeds gevind, Majoor! Kon julle al vasstel wie die oorledene is?”

“Nog nie, Kolonel. Ons het die foto nou ook na die ander polisiestasies gestuur.”

“Dit moes reeds verlede week gestuur gewees het! As daar nie gou vordering kom nie, Majoor, sal ek jou en jou span speurders laat vervang! Ek wil vanmiddag, op die laaste vieruur, ’n verslag van jou hê! Jy kan maar gaan! Stuur daardie gedig vir my. Jy het dit darem seker afgeskryf!”

“Ek het, Kolonel! Ek stuur dit dadelik.” Majoor van der Bijl salueer en draai om. Hy verlaat die kantoor asof iets besig is om hom te jag. Die besef dat hy nie opgewasse is teen die reeks­moordenaar se modus operandi nie, maak hom moedeloos, want net sodra hy dink dat hulle sterk op die person se spoor is, moet hy uitvind dat hulle mislei is. Daar het reeds agt moorde plaasgevind wat hulle positief met dieselfde person verbind, die een wat homself Zodiac noem. Hierdie moord was die negende een gewees.

Oosthuizen sak agteroor in sy stoel. Nog nooit voorheen het hy meer hulpeloos gevoel nie, want die uitwerking van ’n ongeluk wat jare gelede plaasgevind, het hom kantoorgebonde gemaak. Hoe wens hy dat hy nog fisies geskik was om self die ondersoeke te doen!

Die papier met die gedig daarop afgeskryf, saam met die verslag van die forensiese afdeling, word by hom afgelewer. Die verslag lees soos al die ander: daar is geen vingerafdrukke op die papier nie en dit is dieselfde person wat al die ander briefies geskryf het.

Die papier word vervolgens oopgevou:

Nommer vier in die diereriem is die Kreef,
Maar sy Engelse naam herinner ’n mens aan kanker!
Want so is elke teef,
Hulle breek elke gesin se anker!
Die kreef is per ongeluk deur Hercules onder sy voet vermorsel,
Maar is deur Hera herstel.
Ek moet egter self met my probleem worstel,
Daarom stuur ek elke teef na die hel!
Nog net een keer,
Dan was ek reeds vyf keer gelukkig!
Wie is ek?
Zodiac!

Kolonel Oosthuizen frons. Die gedigte maak geen sin nie. Ook nie die feit dat die liggaamsdele in die Klipriviernatuur­reservaat gevind is nie. Dit is deur een van die veldwagters gekry, nie ver van die heining af nie. Daar is geen teken dat die vrou daar vermoor is nie, daar was geen tekens van ’n worsteling nie. Daar was ook geen teken van bloed op die toneel nie, inteendeel, volgens die berig was die liggaamsdele leeggebloei gewees, wat dit duidelik maak dat die moord elders gepleeg is. Die honde wat moes spoorsny, is van stryk af gebring deur iets wat oor die spore gestrooi is.

Nou sug hy. Hoe verlang hy nie na sy ou staatmaker nie! Maar Tienie van Zyl is nou al jare lank werksaam by die New York stadspolisie waar hy intussen tot luitenant gevorder het. Die man het die land verlaat nadat Van der Bijl hom die soveelste keer onderdeur gespring het.

Die twee speurders was werksaam by die moord- en roof­afdeling. Die gedurige wedywering tussen die twee, of liewer, Van der Bijl se wedywering met Van Zyl, het tot groot onmin gelei, veral die kere wat Van der Bijl met listige sette die louere ingeoes het vir Van Zyl se vernuftige speurwerk. Dit het ook veroorsaak dat Van der Bijl vinniger bevorder is en toe was die gort behoorlik gaar. Hy het nou sy meerdere posisie verder misbruik om die erkenning vir ’n ander se arbeid te ontvang. Die gedurige misbruik van mag het ’n onherstelbare breuk tussen die twee manne veroorsaak, maar nog was dit nie die einde daarvan nie. Van der Bijl het met sy sjarmante maniertjies daarin geslaag om sy opponent se meisie af te vry en om verdere sout in Van Zyl se wonde te vryf, het hy met haar getrou. Hy het geweet dat die meisie gou deur hom sou sien, want hy was nie eers ’n skaduwee van die formidabele Van Zyl nie. Hy wou egter deur hierdie daad sy meerderwaardigheid teenoor sy junior probeer bewys.

Kort na hul troue het hy sy ware kleure begin wys en sy vrou het gou besef hoe sake staan. Sy het egter ook geweet dat daar geen terugkeer sal kan wees nie. Sy het net een oggend blinde­lings voor ’n vragmoter ingestap. Sy is op slag dood. Hoewel Van Zyl haar reeds afgeskryf het, het haar dood hom geruk. Van der Bijl het verlof geneem en gemaak dat hy wegkom, sy vrees vir Van Zyl se reaksie op die dood van sy vrou het die spot onder die manne laat posvat.

Van Zyl het uit die diens bedank en na Amerika geëmigreer, waar hy deur New York se polisiediens opgeraap is. Hy het gou opgang gemaak en beklee nou die rang van luitenant. Vroue is egter nie deel van sy lewe nie, hy leef net vir sy werk, natuurlik tot die teleurstelling van die baie vroue wat so hoopvol was.

Kolonel Oosthuizen kom vinnig tot ’n besluit. Hy trek die telefoon nader, skakel ’n Pretoria nommer en wag dat die foon beantwoord moet word. Die operateur is gou om te antwoord, dit is net die kolonel se ongeduld wat hom laat glo dat hy lank wag. Hy word deurgeskakel.

“Swiegers!” Die general se stem dra gesag.

“Goeiemôre, Generaal. Dit is Kolonel Oosthuizen wat praat.”

“Berrie, my ou maat! Ons het so pas van jou gepraat. Hoe gaan dit daar in Sodom en Gomorra?”

“Moeilik” sug die kolonel. “Van der Bijl en sy span maak geen vordering nie en die media skeur ons uitmekaar. Dit is asof die moordenaar vooruit weet wat ons beplan, want die manne word elke keer koudgesit.” Hy bly eers stil.

“Gaan aan, Berrie,” word hy aangemoedig. “Wanneer jy klaar gepraat het, wil ek ’n voorstel aan jou maak. Ek het dit reeds met die minister bespreek en hy gee sy goedkeuring, want die hele parlement is op hol oor die gebeure.”

“Ek wil ook iets voorstel,” sê Oosthuizen huiwerig, “maar dan gaan dit dalk klink asof ons heeltemal onbevoeg is.”

“Praat maar!” word hy aangemoedig.

“Ek stel voor dat ons Tienie van Zyl se hulp inroep.” Aan sy stemtoon is dit duidelik dat die kolonel beskaamd is oor sy manne se onvermoë.

“Jy het nie dalk meeluisterapparaat in die minister se kantoor nie?” Swiegers se stem lag. “Ons het oor dieselfde moontlikheid gepraat. Ek wou jou nog nie daarvan inlig voordat daar bevestiging is nie. Dan is dit ook nog onseker of Van Zyl sal instem om te kom help.”

“U weet dat die man soos ’n seun in my huis grootgeword het, Generaal. Ons is ook nog in verbinding met mekaar, hy skakel ook nog met my seun wat saam met hom op skool was. As ek mag, kan ek die aanvoorwerk daarvoor doen.”

“Maak so, Berrie. Sodra ek bevestiging het, sal ek jou laat weet. Tot later dan.”

“Totsiens, Generaal!” Oosthuizen se stem is nie meer so terneer­gedruk nie. Dinge gaan nou begin gebeur!

Toe hy opkyk, staan Van die Bijl in die deur. Dit is duidelik dat hy die laaste deel van die gesprek gehoor het, want sy gesig is vertrek met haat. Hy sê egter niks nie, tree net nader toe hy met ’n waai van die hand nadergesein word.

“Wat het jy daar vir my?” vra die kolonel toe hy die stuk papier in die majoor se hand sien.

“Die paaie-afdeling het die res van die lyk langs die Swart­koppies­pad by Meyersdal, sowat vyf kilometer van waar die kop, bene en die een arm gekry is, gevind toe hulle instandhoudings­werk gedoen het. Hulle het die plaaslike polisie gebel, wat op hulle beurt weer ons kantoor gekontak het. Sersant Booysen was in die omgewing gewees en die radiokamer het hom daarheen gestuur. Hy het die gedig oorgeskryf terwyl hy vir forensies gewag het. Hy het dadelik hierheen gery, want ons was in gesprek gewees en die aanklagkantoor se sersant aan diens wou ons nie steur nie.”

Kolonel Oosthuizen besef dat die onsamehangende en stotte­rende verduideliking van die majoor die gevolg is van die telefoon­gesprek tussen hom en die general, wat ooglopend deur die man gehoor is. Hy het die majoor nog nooit so senuweeagtig gesien nie. Hy neem die brief by die man sonder enige verdere woord.

Kolonel Oosthuizen sug moedeloos. Hoeveel keer in die verlede het hy nie al so gesug nie? Die leidrade het geen sin nie, tog lyk dit vir hom asof die moordenaar iets vir hulle wil sê, so al asof hy hulle op sy spoor wil lei, asof hy gevang wil word! Verder lyk dit asof hy iewers inligting vandaan kry, want sy modus operandi is altyd die teenoorgestelde van die speurders se optrede. Hy hoop maar dat Tienie hulle sal kom bystaan.

Sy teleurstelling is groot toe hy later die middag skakel en Van Zyl se nommer beset bly. Hy los dit toe tot die volgende dag en skakel die polisiehoof in New York. Aangesien hulle al dikwels telefoongesprekke gevoer het, verloop die gesprek gladweg. By navraag verneem Oosthuizen dat die speurder met verlof is en dat hy iewers in die berge vakansie hou. Hy sal ook eers oor ’n week op kantoor wees, maar dan lê daar ’n moordverhoor voor waarin hy die staatsgetuie is. Hoewel die luitenant alreeds sy getuienis afgelê het, het die verdediging gevra dat hy beskikbaar is wanneer die verhoor weer in aanvang neem, ses weke later. Van Zyl se hoof voorsien nie dat hy binne twee maande beskikbaar sal wees nie, maar hy belowe dat hy die boodskap sal oordra sodra die man weer op kantoor is.

Dit is ’n teleurgestelde kolonel wat die generaal daarvan inlig: “Ek sal voorlopig self probeer om die ondersoek te doen, Generaal. Ek gaan nie met die manne se werk inmeng nie, maar ek sal werk op die inligting wat ek het.”

“Dit is in orde, Berrie, maar jy weet dat jy deur die spesialiste verbied is om weer operasioneel te wees.” Die generaal se stem is vol twyfel.

“Ek sal versigtig wees, maar ek kan nie meer stilsit nie.” Die kolonel se stem is beslis.

Hulle groet en lui af. Dan skakel Oosthuizen die argief en gee opdrag dat die dossier oor die Zodiac-moorde na hom gebring moet word. Die dossier is binne tellings in sy hande en hy slaan die eerste lêer oop. Hy blaai verby die verslae en haal die brief uit wat die moordenaar op die toneel gelos het. Die inhoud word vergelyk met dit wat hy voorheen reeds netjies in ’n oefeningboek oorgeskryf het. Die plekke waar die dele van die lyke gevind is, word op die regterkant van die dubbelblad aangedui. Die brief word op sy plek teruggeplaas en hy trek die volgende lêer nader. Al die briewe word vervolgens uitgehaal en die woorde daarvan vergelyk met dit wat hy neergeskryf het, so ook die plekke waar die lyke, of dele daarvan, gevind is. Laastens skryf hy die inhoud van die brief wat so pas aan hom gegee is, oor in die oefeningboek. Toe hy klaar is, lees hy die redelike lang ‘gedig’. Daarna bêre hy die boek sorgvuldig in sy aktetas en staan op. Dit is tyd om huis toe te gaan. By die huis kan hy ongehinderd aangaan om die leidrade te probeer ontsyfer. Die dossier word aan die argief terugbesorg op sy pad uit die gebou uit.