GROENHEIDE BOEKE

Heideroos Romanse #11: Die Wraak is … Soet?

— HOOFSTUK 1 —

Breggie Alberts trippel haastig by die verkeerslig oor die straat, maar steek verbouereerd vas toe die motor wat vir haar moet stilhou skielik oorverdowend kort en skel toet. Verskrik vlieg haar blik op na die bestuurder en sy kyk vas in die gesig van ’n jongman wat laggend joviaal vir haar waai.

Onseker, omdat die skerp son se weerkaatsing op die voorruit haar sig belemmer, wonder sy of dit iemand is wat sy ken. Sy kyk skerper, maar herken die man glad nie. Dan besef sy dat dit niks anders as ’n grapmaker is nie, en dat hy sy stuitigheid baie duidelik saam met vriende wat by hom in die motor is, terdeë geniet. Sy vervies haar oombliklik.

Strydlustig loop sy om na sy oop venster. Sy skud haar welige bos koperkleurige hare terug en druk haar wysvinger amper in sy oog, so boos is sy. Haar pragtige groen oë blits gevaarlik.

“Verkoop jou toeter en betaal jou kar klaar, laspos!” snou sy hom toe, swaai weg en loop dan driftig verder, sonder om haar verder aan hulle te steur.

Verbrandse stuitige mansmense! Kan hulle dan nie sien dat ek ’n splinternuwe blink ring aan my vinger het nie?

Etenstyd is ook maar net só lank en ’n mens kan nie veel doen as jy tydens druktyd so tussen die mense moet deurvleg nie. Die skerp son op die warm Pretoria se strate help ook nie juis om sake te vergemaklik nie.

Skielik steek sy vas voor die uitstalvenster van ’n bruidswinkel en snak na haar asem. Haar hart klop opgewonde en die swaar pakkies in haar hande waarmee sy so geworstel het, is skoon vergete. Wat sy daar sien, laat haar heeltemal van die gewoel om haar vergeet.

Dít is presies wat ek nog altyd in gedagte gehad het vir my groot dag, adem sy.

Dié dag wat sy gaan deel met Werner Gouws. Sy kan dit nou nog nie glo nie. Wonderlike, dierbare, uitgelate Werner met sy blonde hare en blou-blou oë vir wie sy so lief is. Haar Werner, net twee jaar ouer as syself. O, hoe mooi en wonderlik is die lewe!

Slegs twee weke na hulle kennismaking het hy haar die groot vraag gevra, en sy kon nie anders as om ja te sê nie. Sedertdien dartel sy behoorlik soos ’n vlinder rond. Wie in hierdie wye wêreld sal dan nou nee sê vir ’n sprokie wat gaan waar word? Werner het gesê dat hy niks langer wil wag om te trou nie, maar sy kon hom darem oorreed om ten minste drie maande te wag. Daar is nog so ongelooflik baie dinge om voor hulle groot dag te doen.

’n Vinnige blik na haar polshorlosie om te sien of daar nog tyd is om binne te gaan en die rok aan te pas, laat haar teleurgesteld. Sy sien dat daar geen enkele minuut meer is om te verspil nie. Sy moet terug kantoor toe.

Net môre gaan ek kom navraag doen oor daardie rok. My droomrok móét dan net nog hier wees, is haar hoopvolle versugting terwyl sy wegdraai en vinnig begin aanstap.

Met teetyd drom haar kollegas om haar saam.

“Toe-toe, wys, jong.”

“Wat het jy nou al weer vir jou held, of eerder, julle woonstel aangeskaf?”

“Hy sal hom wat verbeel om so bederf te word!” kom dit van alle kante.

Hulle wil sien wat sy nou weer gekoop het vir Werner se woonstel wat sy na die troue met hom gaan deel. Vrolik begin sy uitpak. Sy wys hulle ’n pragtige seegroen badkamerstel met bypassende bedlinne en die mooiste kristalvaas.

Dis nog net ’n maand voor die groot dag. Almal babbel opgewonde deurmekaar, want natuurlik is hulle almal genooi. Hulle kan nie wag vir die groot geleentheid nie. So gaan dit nou al vir ’n paar weke aan, want sy wil so graag net die beste vir hul woonplek hê. Werner moet trots wees op haar en nie skaam wees om sy vriende en kollegas te nooi om daar te kom kuier nie.

Om vieruur maak sy vinnig haar goed bymekaar, verlaat die kantoor vrolik, en al groetend haas sy haar om by haar motortjie te kom. Sy kan nie wag om haar aankope vir Werner te wys wanneer hy weer kom kuier nie. Vandat hulle terug van hul vakansie is, bly hy streng by sy reël dat hy slegs drie keer per week kom kuier. Die verskoning wat hy aangevoer het, was dat hy baie tyd by die kantoor moet deurbring, maar sy gee nie om nie. Binnekort sien sy hom elke dag vir die res van hul lewens saam. Behendig bestuur sy deur die verkeer na die voorstad in Centurion waar sy by haar ouers woon, terwyl sy lustig saam met die musiek oor die radio neurie.

Energiek spring sy uit haar motor, pluk die motorhuis se deur oop en trek versigtig in. Sy maak haar arms vol met haar inkope en beweeg buitentoe. Daar steek sy onseker vas met die sleutels tussen haar tande vasgebyt.

Tipies ek. Nou het ek nie genoeg hande om die motorhuis se deur te sluit nie! O wel, ek sal maar later moet terugkom om dit te doen.

Sy stap na die voordeur, talmend om te geniet van die pragtige tuin wat haar moeder so liefdevol versorg.

Dit is voorwaar ’n oase, met welige plante en watervalletjies oral onder die koelte van die groot bome, waar ’n mens kan droom oor al die wonderlike verwagtinge vir die toekoms. Ma Anna spandeer soveel ure hier, en ’n mens kan nie anders as om gelukkig en tevrede te voel tussen hierdie malse weelde van al die kleure en die groen rustigheid van die skadutuin nie. Sy gaan hierdie tuin geweldig mis wanneer sy na die woonstel moet trek.

Vol lewe trippel sy verder en dan die huis binne.

“Hallo, Mams, ek’s terug!” roep sy sommer al van die deur af. Sy steek bly-verras vas as sy merk dat haar pa ook al tuis is en langs die kombuistafel sit met ’n koppie koffie.

“Dis ’n lekker verrassing, Paps! Dis nie aldag dat ons ou werkesel voor my by die huis is nie. Is daar dalk fout êrens?” vra sy, terwyl sy haar pakkies op die tafel neersit. Sy gooi haar arms om hom en soen hom op die wang.

“Hallo, my kind. Nee, daar’s nie fout nie. Ek het sommer net lus gevoel om so ’n bietjie stokkies te draai,” antwoord hy.

Sy oë vang vinnig dié van sy vrou met ’n pleitende boodskap: Moet asseblief niks sê nie!

Ongemerk knik sy, draai om na die ketel en skakel dit aan.

“Dag, my kind, ’n koppie koffie vir jou? Hoe is ma se kind dan vandag so vrolik? Seker weer iets gekoop as ek al die pakkies so bekyk. Wanneer hou jy dan op, jong? Jy het dan al so vreeslik baie goed. Ek is seker jy is al bankrot soos jy aangaan, ounooi.”

“Ai, Mams, ek kon dit net nie weerstaan nie. Kyk net hoe mooi!” sê sy opgewek terwyl sy die inhoud van die pakkies op die tafel uitskud. Sy gaan dan verskonend voort: “Hierdie is mos goed wat ’n mens móét hê. Dis maar net omdat die tyd so kort is dat dit lyk asof ek wild aangaan.”

“Dís die ding wat my pla, my kind. Dink jy nie julle is nou te oorhaastig nie? Ek voel regtig dat julle maar eers kon gewag het. Verstaan mooi, ek het niks teen Werner nie, daarvoor ken ek hom nog nie goed genoeg nie. En ’n mens leer nie iemand in só ’n kort tyd ten volle ken nie. Hoe weet ons of ons hom kan vertrou?” vra ma Anna met ’n versigtige fronsie en die kommer duidelik sigbaar in haar oë.

“Wel, ek voel asof ek hom al my hele lewe lank ken. Ek het nog nooit iemand só liefgehad soos vir hom nie en ek sal my lewe vir hom gee as dit nodig sou wees,” sê sy ernstig en met die voortvarendheid van die jeug. “Ek gaan ook saam met hom oud word soos julle twee,” kom dit met volle oortuiging.

“En wat dink jy van sy ouers? Ons het hulle nog nie eers ontmoet nie, al vind die verlowingspartytjie al Saterdagaand daar by hulle aan huis plaas.”

“Ek het hulle ook nog net een keer ontmoet, Ma, die slag toe Werner se pa hom ontbied het terwyl ons by die klub was. Ek het mos vertel, Werner se pa het nogal baie ernstig gelyk en hy was taamlik kortaf, miskien was daar probleme by die besigheid.”

“Moontlik, of hulle kan dalk teen julle vinnige huwelik gekant wees.”

Breggie se gesig verstil.

“Dis moontlik, Ma. Hulle is skatryk mense en ek het nogal die indruk gekry dat hulle maar ’n snobistiese klomp is. Hulle woon in ’n paleis van ’n plek daar in Irene. Ek het die gevoel gekry dat hulle op my neersien en toe Werner aan hulle sê dat ons verloof is, kon ’n mens behoorlik sien hoe hulle verstyf van skok!”

Ma Anna frons. “Jy het nooit vir ons daarvan vertel nie, kind. Dis tog te verstane dat hulle geskok sou wees, jy weet hoe óns oor hierdie gejaagdheid voel.”

“Werner is nie naastenby soos hulle nie en hy het gesê dat ek my nie daaroor moet bekommer nie, want ek trou met hom en nie met hulle nie!” ’n Ligte fronsie plooi Breggie se voorkop. “Terwyl Werner en sy pa in die studeerkamer besig was met hul sake, het sy ma my geselskap gehou in die familiekamer en sy het my omtrent bestook met vrae. Ek moes behoorlik my hele familiegeskiedenis vir haar uitlê. Die vermetelheid! Ek het my regtig vervies, maar moes my inhou ter wille van Werner.”

“Jy moet onthou dat dit belangrik is dat die verhouding tussen julle goed moet bly as jy die vrede met jou man wil behou,” sê ma Anna vermanend.

Breggie roer haar koffie met haar oë op haar hand. “Ek moet sê dat ek nogal uit my plek gevoel het daar, hééltemal te la-di-da na my smaak. En soos julle weet het hulle toe later voorgestel, nee, eintlik sommer daarop áángedring, dat daar ’n verlowingspartytjie by hulle huis gehou moet word, want hulle het glo ’n groot klomp sakekennisse wat hulle móét nooi.”

“Ons gaan dus in style saam met belangrike mense feesvier, nè? Ma, jy sal my kispak maar deeglik moet afstof, hoor!” laat pa Manie vir die eerste keer weer met ligte spot van hom hoor.

“Na my mening is dit nie eintlik meer nodig nie. Ons is mos al klaar verloof en ek kry die gevoel dat Werner daarteen gekant is, maar hy het niks gesê nie.” Vir ’n oomblik sit sy stil na haar ma en kyk en gaan dan voort: “Maar ek verstaan nou ook nie mooi nie, Mams. Julle het dan ingestem toe Werner kom ouers vra het, wat het verander?”

“Niks het verander nie. Onthou dat jy al drie-en-twintig is en dus lankal mondig. Ons kan nie regtig meer vir jou voorskryf nie, net goeie ouerlike raad gee en bid dat jy sal luister. Jy het ons lewens eers laat kom verryk en daarom is jy vir ons ekstra kosbaar. Ons wil nie hê dat jy seerkry nie, ons wil vir jou net die beste in die lewe hê. Die oumense het altyd gesê dat mense eers ’n sak sout saam moet opeet voordat hulle mekaar ken, en dis waar. Ek en Pappa het mekaar ook ’n volle twee jaar geken voordat ons aan trou gedink het.”

“Wel, ek dink ook soos Werner gesê het, dat dit vir ons bestem is om bymekaar uit te kom. Hy sê dat ons spesiaal vir mekaar gemaak is. Dink net terug. Ons ou drietjies besluit om see toe te gaan vir ’n vakansie, en wie wag daar vir my? My droomman!” giggel Breggie.

Pa Manie, wat tot nou toe nog redelik stil was, kug. “Dis juis dié tyd wanneer ’n mens versigtig moet wees, my kind. ’n Mens raak so maklik verdwaal in ’n vakansieromanse en as ’n mens dan later terugkyk, sien jy dat dit maar net dít was, ’n vakansieromanse en niks méér nie. Wil julle nie maar nog ’n bietjie wag nie? As julle werklik vir mekaar bestem is, sal Werner mos nie verdwyn nie.”

“Pappa, ek is dan so seker van my gevoel vir hom. Hoekom dan nog wag? Ons mors mos net kosbare tyd!” kan sy nie help om nou geïrriteerd te begin voel nie.

“Ai, my kind, ons kan dan maar net bid en vra dat die Vader met julle sal wees. Het jy al jou voorgenome huwelik aan onse Heer opgedra, ounooi?”

Sy kyk haar pa eers verbaas aan. Maar dan vlug haar oë voor syne en val op haar hande wat, as gevolg van die spanning wat besig is om in haar op te laai, styf saamgevou voor haar op die tafel lê. Sy bly hom ’n antwoord skuldig. Hoekom sal die Vader dan nie sy goedkeuring gee vir ’n huwelik wat so reg voel nie? Sy wil dan ook, nes haar ouers, net haar liefde vir haar man uitleef!

“Ek neem net gou hierdie goed kamer toe, Mamma, dan sal ek kom help met die voorbereiding van aandete.” Haar oë is neergeslaan terwyl sy, nou heeltemal bedeesd, opstaan en die pakkies bymekaarmaak.

“Toemaar, my kind, aandete is klaar in die oond. Jy kan maar net later vir ons die tafel kom dek,” antwoord ma Anna rustig.

· · ·

Breggie maak die deur agter haar toe en bly dan vir ’n oomblik staan terwyl haar oë deur haar kamer dwaal. Al die vreugde van die dag is weg. Sy het nooit kon dink dat haar ouers teen die huwelik gekant sou wees nie. Wat het dan verkeerd gegaan?

Sy sak op haar bed neer en staar na die mat onder haar voete terwyl sy die ring om en om haar vinger draai. Haar gedagtes dwaal terug oor die afgelope twee en ’n half maande. Sy dink terug en onthou hoe opgewonde sy was toe sy saam met haar ouers Margate toe is vir ’n welverdiende vakansie na ’n baie lang en bedrywige jaar.

Haar onmiddellike omgewing vervaag en sy is terug in daardie onvergeetlike twee weke …