— HOOFSTUK 1 —
“Kan ek help?” praat ’n mansstem agter Amelia Collins toe sy weer ’n keer aan die voordeur klop. Terwyl hy netnou nog op sy plaas besig was, het hy die swart huurmotor by sy buurman se grond sien inry. Kort na die onbekende rooikopvrou uitgeklim het, het die huurmotor weer gery.
Verskrik swaai sy om. Net betyds onderdruk sy die gil wat amper-amper by haar mond uitspring. Haar hart klop wild in haar keel en dit neem haar ’n paar oomblikke om haar selfbeheersing weer onder beheer te bring.
Sy span al haar kragte in om vriendelik te groet: “Goeiemiddag, Meneer Murray.” Hy lyk totaal anders as wat sy hom in haar gedagtes voorgestel het. Baie aantrekliker ook. Hy is nou wel nie besonder lank nie, maar sy breë skouers en bultende armspiere straal brute krag uit.
Die oomblik wat hy in haar oë kyk, is hy verras om te sien dat dit die kleur is van die wolklose hemelruim. Hy het half en half verwag dat dit groen sou wees om te pas by haar lang, rooi hare wat in groot, los krulle oor haar skouers val.
“Meneer Murray is nie tuis nie,” antwoord hy in ’n swaar Ierse aksent.
Nie een van hulle twee is bewus van die persoon wat besig is om tydsaam nadergestap te kom nie. Toe die man hul stemme hoor, stop hy dood in sy spore. Versigtig beweeg hy nog nader en neem dan skuiling agter die muur van die huis sodat hulle hom nie opmerk nie.
“Ek is jammer. Ek het aangeneem dat jy meneer Kevin Murray is. Is jy sy voorman?”
Maxwell se wenkbroue skiet verbaas die lug in. Vir ’n oomblik is hy sprakeloos gelaat, voor hy met ’n verdwaalde uitdrukking in sy oë vra: “Sy voorman?”
“Moet nou nie voorgee dat jy nie verstaan nie,” sê sy uiters gefrustreerd. Amelia is doodmoeg na die lang internasionale vlug waartydens sy byna niks geslaap het nie. Boonop het die motorrit van die lughawe af hierheen ook nog oneindig lank gevoel. Asof dit nie genoeg is nie, is sy al bykans ’n halfuur lank hier en tot dusver het niemand nog haar klop aan die deur beantwoord het nie. Sy dwing haarself tot bedaring en herformuleer haar vraag kalmer: “Bestuur jy meneer Murray se plaas?”
Sy hele liggaamshouding verander. “Is dít wat jy bedoel?” Gevaarligte flikker in sy donkerblou oë. “Ek bestuur sy plaas, ja.” Hy voel nie in die minste skuldig oor sy antwoord nie. Terwyl Kevin weg is, ‘bestuur’ hy mos sy boerdery – al is dit net uit goeie buurmanskap.
“Hoe laat verwag jy meneer Murray terug? Hy het ’n afspraak met my gemaak om hom vandag te kom sien,” gesels Amelia sonder om die smaad wat flussies by sy stem ingesluip het of sy veranderde liggaamshouding op te merk.
Sy blik rus op haar gesig. “Meneer Murray sal eers oor drie dae tuis wees, Juffrou uhm … ?”
Dit dring tot haar deur dat sy haarself nog nie aan hom voorgestel of gevra het wat sy naam is nie.
“Amelia Collins, en jy is?” antwoord sy vlugtig en steek gelyktydig haar regterhand na hom toe uit.
Terwyl hy haar hand in syne neem, sê hy oordrewe: “Maxwell O’Donnell, tot u diens, Juffrou Collins.”
Sy trek haar hand uit syne. “Jy mag my maar Amelia noem.”
“Nou goed dan, Amelia. Waarom is jy werklik hier? Ons albei weet ewe goed dat meneer Murray jou nié genooi het om hom vandag te kom sien nie.”
Sy vererg haar bloedig vir hom. “Hoe durf jy my tot leuenaar maak?”
“Meneer Murray is tans weg met sy jaarlikse vakansie. Daar is geen manier dat hy dit sou vergeet en ’n afspraak vir vandag maak nie.” Sy uitdagende blik wyk nie voor hare nie.
“Hy hét ’n afspraak met my gemaak.” Sy pluk haar handsak oop en haar hande bewe terwyl sy die koevert daaruit haal. “Hier! Dit is die e-pos wat hy drie maande gelede al vir my gestuur het.”
’n Hewige frons verdeel sy voorkop toe hy die brief oopvou en dit sommer hardop begin lees: “‘Geagte Juffrou Collins. U familielid, ene meneer Logan McKenzie, het ’n etlike jaar gelede alleen op sy plaas in Waterford-distrik, Ierland, gesterf. Sy boedel is steeds onafgehandel. Sy grond en ander eiendom mag nie verkoop word tensy daar bewys kan word dat hy geen bloedverwante erfgenaam het nie. Na intense ondersoek het ek ontdek dat u sy enigste lewende familie is. U kan dus die eiendom opeis. Al wat ek benodig, is u identiteitsnommer, sodat ek al u persoonlike besonderhede kan bevestig, en u bankbesonderhede, sodat … ’”
Nog voor hy die brief klaar gelees het, roep hy uit: “Jy is nie ernstig nie! Dit is ’n slenter hierdie!” Gelykertyd swaai hy die papiere in die lug rond. “Moenie vir my vertel jy het hiervoor geval nie.” Sy donkerblou oë pen haar ligbloues vas. Die wind pluk aan sy blonde kuif.
“Dit is nie ’n bedrogspul nie,” antwoord sy in ’n hees stem, glad nie meer so seker van haarself as wat sy ’n paar minute gelede nog was nie. Drie maande gelede, toe sy die e-posbrief ontvang het, het haar vriendin, Ella, ook gesê dat dit nie ’n betroubare dokument is nie. Sy het daardie dag Ella se siniese opmerking afgelag.
“Natuurlik is dit,” sê Maxwell. “Hierdie brief doen vir jare al die rondte en derduisende mense word hierdeur beroof! Woon jy op een of ander afgeleë eiland, dié dat jy dit nie weet nie?”
Die drie-en-twintigjarige Amelia sluk eers swaar voor sy antwoord: “Ek kom van Suid-Afrika af. Ek weet dat daar ’n soortgelyke klugbrief rondgestuur word, maar hierdie een is anders. Ek het ook nie my persoonlike besonderhede verskaf soos meneer Murray gevra het nie.”
Sy staan ’n paar treë nader aan hom en neem die papiere uit sy hande. Vinnig blaai sy na die volgende bladsy voor sy dit weer aan hom oorhandig. “Kyk, hiér het ek hom geantwoord dat ek self wil kom kyk of die plaas werklik bestaan. As jy verder lees, sal jy sien dat hy op my boodskap gereageer het deur ’n afspraak met my te maak om hom vandag te ontmoet en daarom is ek hier.”
“Dit is die domste ding wat ek nog ooit gehoor het,” reageer hy skerp. “Hierdie is nie eers Kevin se e-posadres nie!”
“Baie mense het meer as een e-posadres. Ek het twee.”
’n Kritiese uitdrukking vlam in sy oë op. “Dit is nie die punt nie. Die persoon wat hierdie brief aan jou gestuur het, het definitief bymotiewe hiermee. Dalk weet hy dat meneer Murray juis nou weg sou wees en daarom het hy jou hierheen gelok.”
“Waarom sou hy my hierheen lok?”
“Wie weet wat in so ’n mens se kop aangaan? As hy jou hier in die hande kry, kan hy enigiets met jou aanvang. Hy kan jou dwing om al jou geld en besittings aan hom te oorhandig of hy kan jou aanval of hy kan jou ontvoer of erger nog, hy mag dalk ’n moordenaar wees.”
Terwyl Amelia na Maxwell se argument luister, word sy so wit soos ’n laken. “Nie alle mense is noodwendig misdadigers nie. Waarom probeer jy my nou bang maak?”
“Ek probeer jou nie bang maak nie. Ek lê net vir jou die feite op die tafel neer.”
“Nou bel dan vir meneer Murray, hy sal vir jou vertel dat hy die e-pos aan my gestuur het.”
“Hierdie nommer wat op jou e-posbrief verskyn, is ook nie meneer Murray se selfoonnommer nie. Buitendien, het hy nie nou selfoonopvangs nie,” antwoord hy. “Soos ek reeds genoem het, sal hy eers oor drie dae van sy bootrit af terug wees.”
“Nou waar gaan ek dan intussen bly?”
“Wat bedoel jy?” Voor sy nog kon antwoord, roep hy geskok uit: “Het jy beplan om hiér te bly?”
Die onverbiddelike uitdrukking op sy gesig laat haar effens selfbewus antwoord: “Ek het aangeneem dat ek hier gaan intrek tot ons die saak aangaande my erfenis en die plaas uitgesorteer het.”
“Jy neem darem bitter baie dinge sommer net aan. Wat laat jou dink dat jy in Kevin se huis welkom sal wees, veral omdat jy hier is om sy plaas van hom te steel?”
Sy kan in sy stemtoon hoor dat hy besig is om sy humeur heeltemal te verloor, maar sy valse aantyging laat ook haar bloed in haar are kook. “Ek steel niks nie! Wat maak jou so seker daarvan dat dit sy plaas is?”
Slegs vir ’n oomblik staar hy verstom na haar voor hy antwoord: “Kevin is al die vierde geslag Murray wat op hierdie plaas boer.”
“En ek is die vyfde geslag McKenzie – die regmatige erfgenaam van hierdie eiendom.”
“Geen mens kan met jou redeneer nie! Watter bewyse het jy dat jy die enigste lewende nageslag van die vorige eienaar van hierdie grond is? Watter bewyse het jy dat die vorige eienaar van hierdie plaas wel Logan McKenzie was? Watter verdere bewyse het jy dat die Murray’s nie die grond by die vorige eienaar gekoop het nie? En moenie vir my vertel dat hierdie waardelose stukke papier jou bewys is nie – dit staaf net mooi níks nie!”
Smoorkwaad vir hierdie man wat haar behandel asof sy ’n skelm is, slaag Amelia nie daarin om haar ergernis in toom te hou nie. “Ek hoef niks aan jou te bewys nie. Ek en meneer Murray sal die saak hanteer sodra hy terugkom. Kan jy my dalk help om verblyf te kry tot hy terug is, asseblief?”
Hy wil haar sommer dadelik in haar peetjie stuur, maar besluit daarteen. Sy asem jaag nog effens soos hy hom vir haar opgewerk het.
Na ’n paar sekondes se stilte, sê hy: “Daar is ’n ekstra kamer in my huis. Jy kan tot tyd en wyl daar bly.”
“Nee, liewers nie. Ek ken jou nie eers nie.”
“Jy ken ook nie vir meneer Murray nie, maar nogtans het jy beplan om by hóm in te trek.”
“Dit is anders.”
“Dit is nie anders nie. Daar is geen verskil daarin of jy nou by hom of by my intrek nie – jy ken nie een van ons twee nie. Soos sake nou staan, kan jy ook nie juis kieskeurig wees oor waar jy wil bly nie.”
Hy sien dat sy steeds aarsel, daarom probeer hy ’n ander aanslag. “Daar is ’n webwerf wat spesiaal vir eiendomme in Ierland geskep is. Ek sal jou solank help om daar te gaan soek en te kyk of ons iets kan wys word oor wie nou eintlik die eienaar van hierdie plaas is. Dan kan jy ten minste voorbereid en deeglik ingelig wees teen die tyd wat meneer Murray terugkom.”
Teësinnig stem Amelia uiteindelik in om vir eers by Maxwell te gaan bly.
Eers toe Amelia en Maxwell op die twee-spoor paadjie wat na sy huis toe lei begin stap, tree die ander persoon uit sy skuilplek en stap terug na waar hy netnou geparkeer het. Sy vuiste bal – dáár spoel drie maande se deeglike beplanning sopas deur die drein.
· · ·
Die groot, S-vormige tuin reg by Maxwell se voordeur is oortrek met die lieflikste blomme wat Amelia nog ooit gesien het. Dit skep ’n vrolike atmosfeer wat mens sommer dadelik welkom laat voel.
Onnadenkend glip Amelia se gedagtes by haar mond uit: “Vir ’n voorman het jy werklik ’n pragtige, groot huis. Dit is selfs mooier en groter as meneer Murray s’n. Ek sal dit moet regstel sodra die formaliteite afgehandel is.”
Hy pers net sy lippe saam en skud sy kop sonder om op haar onvanpaste uitlating te reageer.
Toe hulle die sitkamer binnestap, loop ’n ouerige dame stadig nader.
“Goeiemiddag,” groet die vrou redelik verras.
Maxwell sit eers Amelia se enigste tas op die grond neer. “Amelia, dit is my moeder, Hailey. Sy woon hier by my. Mammie, dit is Amelia Collins.”
’n Glimlag verskyn om Amelia se lippe. Sy sou nooit kon raai dat hierdie vrou Maxwell se ma is nie. Met haar groen oë en donkerbruin hare, wat ’n rooierige skynsel in het al word dit al plek-plek grys, lyk hulle glad nie na mekaar nie.
“Aangename kennis, Tannie Hailey. Dit is ’n voorreg om u te ontmoet,” sê sy verlig. As hy netnou al genoem het dat sy moeder saam met hom in die huis woon, sou sy baie vinniger ingestem het om sy aanbod te aanvaar.
Maxwell se ma lyk steeds verward en hy verduidelik vinnig: “Amelia is eintlik hier om vir Kevin te kom kuier, maar soos Mammie weet, is hy nou met vakansie. Amelia het al die pad van Suid-Afrika af hierheen gereis. Daarom het ek aangebied dat sy vir eers hier by ons bly tot Kevin weer tuis is.”
“Natuurlik,” antwoord Hailey. “Jy is baie welkom, Amelia.”
Voor Amelia nog op haar woorde kon reageer, praat Hailey weer: “Ek het nou amper bly geword en gedink dat Maxwell uiteindelik vir hom ’n nooi gekry het.” Sy sug swaar. “Maar nou ja, ek sal seker met daardie begeerte na my graf toe gaan. Ek het al soveel kere vir hom gesê dat hy saam met Kevin en die ander jongmense moet uitgaan, maar hy weier net hardkoppig. Ek weet nie waar hy dink hy vir hom ’n vrou gaan opspoor as hy nooit sy voete van die plaas af wil sit nie.”
“Mammie kan mos nie — ” begin Maxwell praat.
Hailey praat voort asof sy hom nie hoor nie. “Hy sê altyd dat terwyl hy op die dorp rond rinkink, daar enigiets met my kan gebeur sonder dat hy daarvan weet.”
Amelia se blik verskuif geamuseerd na Maxwell. Dit is duidelik dat hy ongemaklik oor sy ma se opmerking voel. Daarom sê sy sag terwyl haar oë steeds op hom rus en ’n fyn glimlag om haar lippe speel: “Dit is baie bedagsaam van hom om so besorgd oor u te wees, Tannie. Die meeste jong mans van vandag dink nie eers daaraan om hul ouers se veiligheid bo hul eie plesier te plaas nie.”
“Dit het niks daarmee te doen nie,” antwoord Hailey vinnig. “Hy sloof hom hier op die plaas af. Ek sien hom in elk geval so min dat hy netsowel op die dorp kan gaan rondloop. Ek vra hom gereeld vir wie en wat dit is wat hy só hard werk. Weet jy wat het hy my die laaste keer geantwoord?”
Sy ma lyk en klink so verontwaardig dat Amelia ’n ernstige poging moet aanwend om nie uit te bars van die lag nie. “Nee, ek weet nie, Tannie. Wat was sy antwoord?”
“Dat harde hande-arbeid net so bevredigend soos ’n huwelik kan wees,” roep Hailey ontstoke uit.
“Dit is nie heeltemal waar nie, Mammie,” reageer Maxwell. “Wat ek gesê het, was dat ’n mens nie noodwendig getroud hoef te wees om gelukkig te wees nie. Mammie is ook nie die heeldag alleen nie, ek kom maak dan gereeld deur die loop van elke dag ’n draai hier.”
“Jy sou beslis anders oor die saak gevoel het as jy net met Thea wil trou.”
Hy verwerdig homself nie eers om haar te antwoord nie, maar voor sy ma hom verder in die verleentheid kan bring, sê hy vinnig: “Amelia is seker baie dors, Mammie. Sy het ver gereis en het nog niks oor haar lippe gehad vandat sy hier aangekom het nie.” Hy kyk na Amelia. “Stap saam met my kombuis toe.”
Na hulle iets gedrink het, vra Maxwell: “Wil jy saam met my stap? Daar is nog ’n paar goed wat ek moet doen voor dit te laat word. Dan kan jy sommer sien hoe die plaas lyk.”
“Ek sal graag saamstap. Laat ek net gou ander skoene gaan aantrek.”
Toe hulle buite is, maak Amelia haar oë toe. Terselfdertyd trek sy haar asem diep deur haar neus in en blaas dit deur haar mond uit. Die kenmerkende vars reuk van gesnyde gras het sy nog altyd verfrissend en kalmerend gevind. ’n Fyn, tevrede glimlag verskyn om haar lippe.
Tydsaam gaan haar oë weer oop voor sy met Maxwell begin praat: “Ek het opgemerk dat jou ma se woorde jou omgekrap het. Veral toe sy van Thea gepraat het. Wie is Thea?”
Weg is die vreedsame gevoel wat net besig was om by sy hart in te sluip terwyl hy haar onderlangs dopgehou het. Die vlamme skiet by sy oë uit. “Sy is Kevin Murray se niggie. My ma probeer nou al vir jare om haar aan my af te smeer. Hoe meer ek vir my ma vertel dat ek nie in verhoudings belangstel nie, hoe meer vertel sy vir my hoeveel ek uitmis omdat ek nie met Thea wil trou nie.”
“Ek kan nogal verstaan waarom dit jou omkrap.”
“Dit maak my woedend as sy so aanhou en aanhou!”
“Dit lyk darem of jy jou nie deur jou ma laat beweeg om iets te doen wat jy nie wil nie.”
Hy kyk net vinnig na haar, maar reageer nie.
· · ·
Heelwat later, toe sy opmerk dat hy alles alleen doen, vra sy: “Waar is jou helpers? Het hulle reeds van diens af gegaan?”
Sy oë rus weer vir ’n oomblik op haar gesig. Dit raak vir hom al hoe duideliker dat sy geen idee het hoe dinge hier werk nie. “Hierdie is nie ’n kommersiële boerdery nie, so hier is nie helpers op die plaas nie. In hierdie geweste moet ons die dinge maar self doen. Dit is nie Suid-Afrika nie. Jy sal dit baie vinnig moet begryp as jy ’n sukses van enigiets wil maak.”
’n Frons val oor haar voorkop terwyl sy verbaas reageer: “Geen ekstra hulp nie? Hoe kry jy dan alles gedoen? Geen wonder jou ma sê dat sy jou byna nooit sien nie. Daar moet tog seker genoeg mense wees wat werk soek? Het jy die saak al met meneer Murray bespreek en gevra dat hy nog mense in diens neem om ’n paar van jou pligte by jou oor te neem, of om jou ten minste daarmee te help?”
’n Stout uitdrukking verskyn in sy oë. Selfs sy stem klink anders. “So, nou het ek hulp nodig?”
Hy wag dat sy hom antwoord, maar omdat sy nie daarop reageer nie, praat hy weer: “Ek het nie die saak met meneer Murray bespreek nie. Dit is nie oop vir bespreking nie.”
“Alle sake is oop vir bespreking. Ek sal die probleem aanspreek sodra hy terug is.” Vir haar is dit onredelik van meneer Murray om van hom te verwag om al hierdie werk alleen te doen.
“Jy gaan dit beslis nie doen nie! My werk is nie vir my ’n probleem nie!”
Sy skrik vir sy onverwagse uitval. Gaan hy in die moeilikheid wees as sy die saak aanroer? Outomaties neem sy aan dat dit die geval moet wees, daarom verander sy die onderwerp. “Dink jy ons gaan vanaand nog tyd kry om bietjie rond te delf op daardie webwerf waarvan jy vroeër vandag gepraat het?”
Sy blik rus vir ’n oomblik op haar gesig voor hy rustiger as flussies antwoord: “Ja, ons sal vanaand na aandete kyk wat ons kry.”
“Dankie, Max.”
“My naam is Maxwell, nie Max nie,” sê hy ferm.
Speels rek sy haar oë en tuit haar mond. “O jammer, Maxwéll,” sê sy tergend.
“Oppas vir jou! Jy mag dalk net kry waarna jy soek,” sê hy kwaai.
“Waarna is dít nogal?” vra sy kamma-verbaas.
“Jy weet baie goed,” en sy sien die gloed wat opeens in sy oë brand.
“Ek trek sommer net jou been. Jy hoef nie so ernstig te wees nie,” antwoord sy vlugtig, waarna sy omdraai en solank na die huis toe terugstap.
Sy het skaars ’n paar treë gevorder toe hy langs haar inval en sê: “Ek sal jou help om die geskiedenis van die plaas na te slaan, maar eers gaan ons die oorsprong van daardie e-pos van jou opspoor. Jy sal sien, daardie brief is niks anders as ’n bedrogspul nie.”
“Nou goed dan. As dit jou gelukkig sal maak, kan ons eers die oorsprong van die e-pos vasstel. Maar ek waarsku jou, jy gaan teleurgesteld wees. Ek is só seker daarvan dat dit nié ’n slenter is nie, dat ek al my besittings in Suid-Afrika verkoop het voor ek hierheen gekom het.”
Die skok lê oor sy gesig geskryf. “Jy is selfs onverantwoordeliker as wat ek gedink het!”
“Jy kan dit maar noem wat jy wil. Ek is oortuig daarvan dat hierdie plaas aan my voorouers behoort.”
· · ·
Dit is al lank na middernag toe Amelia moedeloos sê: “Ek kan nie verstaan waarom daar nou skielik geen spoor van hierdie e-posadres is nie.”
“Weet jy regtig nie, Amelia?”
Sy verbleek merkbaar, maar antwoord hom nie.
Met minder veroordeling in sy stem praat hy weer na ’n paar oomblikke se stilte. “Dit is nie net die e-posadres wat nie meer bestaan nie. Ons albei probeer nou al vir ure lank om daardie kontaknommer wat die persoon aan jou verskaf het, te skakel – sonder enige sukses.”
Hy kan steeds nie glo dat sy naïef genoeg was om vir hierdie ou truuk te val nie. Met die druk van ’n knoppie skakel hy sy skootrekenaar af. “Ek dink ons is albei nou te moeg om verder te soek. Dalk kyk ons lankal óór iets wat ons veronderstel is om raak te sien. Ons sal weer môreaand verder soek.”
Diep teleurgesteld omdat hulle niks kon vind nie, sê sy nag en stap na haar kamer.