GROENHEIDE BOEKE

Heideroos Romanse #24: Meanderpad na die Hart van Adelaides Rust

— HOOFSTUK 1 —

Daniël Gericke steek in die deur van die restaurant vas. ’n Kelner kom hom tegemoet.

“Table for one, sir?”

Hy knik slegs en volg dan die jong man dieper die lokaal in. Hy gaan sit by die tafel wat hom aangewys word, plaas sy bestelling. Dan begin hy sy skootrekenaar opstel.

Hy blik vinnig na sy polshorlosie. Ja, daar is nog genoeg tyd om te eet en die aantekeninge, wat hy vroeër gemaak het, te hersien voordat die direksievergadering om twee-uur begin. Oupa Daniël is die stigter en eienaar van die groot ontwikkelings­maatskappy, Gericke en Seuns, en hy, as sy opvolger, het groot skoene om in die toekoms vol te staan.

Gelukkig is hulle kantore net oor die straat.

Terwyl hy vir sy bestelling wag, konsentreer hy op die skerm voor hom. Hy is slegs vaagweg bewus van die viertal vrolike meisies rondom die tafel langs hom.

As gevolg van die geroesemoes in die restaurant is hulle stemme hard en kan hy duidelik hoor wat hulle bespreek, maar steur hom nie aan hulle nie.

Die kos word voor hom geplaas. Die eerste hap is smaaklik en hy besef nou eers hoe honger hy is. Die warm, geroosterde ham, kaas en tamatietoebroodjie en aartappelskyfies was en is nog altyd sy gunsteling. Die koffie is warm. Hy teug versigtig. Met sy oë op die rekenaarskerm gerig, eet hy verder.

Op pad na sy mond toe huiwer Daniël se hand skielik in die lug. Het ek nou net my naam gehoor?

Hy spits sy ore. Die meisie aan die woord sit met haar rug na hom toe. Hy draai sy kop stadig na links en loer in die stem se rigting. Dit is niemand anders as die lastige swartkop, Lucille Meyer, wat nie wil of kan aanvaar dat hy nie in haar balangstel nie.

“ … en ek sweer daardie Daniël wíl eenvoudig nie nee vir ’n antwoord aanvaar nie.” Sy lig haar ken terwyl ’n giggel oor haar lippe stoot.

Daniël leun terug in sy stoel. ’n Geamuseerde trek plooi om sy lippe. Ag so, Juffrou Meyer, my intuïsie omtrent jou was toe sowaar in die kol.

“O, nè? En hoekom hoor ons nou eers van hierdie ondier? Jy vertel ons dan altyd alles van jou oorwinnings,” vra die blonde Belinda Swart aan haar linkerkant, skalks.

Lucille sug oordrewe. “Wel … die hele ding met hom het my ongemaklik laat voel. Hy gedra hom behoorlik soos ’n seekat. Daarom het ek verkies om nie daaroor te praat nie. Ek het hom al hoeveel keer soos ’n hond weggejaag, maar hy is só dikvellig.”

Daniël voel hoedat sy nekhare rys en sukkel skielik om sy asem te beheer.

Belinda swaai ’n wysvinger tussen hulle. “Maar, Lucille, in die verlede het dit jou nie juis gepla nie. Jy het altyd nog gespog oor hoe hulle een en almal voor jou swig.”

Lucille se lippe trek ’n oomblik styf. Sy vee haar hare agter haar oor in, rol haar oë. “Wel, ek kan julle verseker dat dit nie goed is om in Daniël Gericke se geselskap te wees nie.” Haar stem is skielik bytend skerp. “Hy is niks anders as ’n verrotte rokjagter nie en ek stel beslis nie in sý soort belang nie.”

“Ja-nee, Lucille, sy soort is gesaai, nie geplant nie. Sulke monsters hoort almal in strafkolonies! As ek hom darem moet raakloop, sal hy hom deeglik vasloop,” praat die meisie aan Lucille se regterkant. “Ek sou darem vir hom gewys het waar Dawid die wortels gegrawe het!”

Dié meisie se uitlatings maak dat hy met geslote oë op sy tande kners terwyl hy die brug van sy neus tussen sy duim en voorvinger styf vasknyp. Hy sluk hard. Dan leun hy effe terug sodat hy die stem by die gesig kan plaas.

Lucille bly egter sy sig versper. Hy skuif sy stoel sag na regs en leun verder vooroor. ’n Regte snipgesiggie met sproete oor die wipneus. ’n Wilde, kort, koperblonde krullebol omraam haar gesig. Duidelik nog baie jonk en onervare, of … is sy wel nog onervare … in die geselskap van iemand soos Lucille?

“So moet ’n mond praat, onse skone Pippie,” lag die brunet, Sophia Delport, langs haar.

Sy kake klem vas. Sy asem stoot hard deur sy neus. Die laaste gedeelte van die toebroodjie in sy linkerhand word behoorlik in die bord voor hom vermorsel. Die impuls om op te spring en die vrou­mens daar en dan te verpletter, stoot soos kokende lawa deur hom. Dit is niks minder nie as blatante naam­skending.

Hy suig hard om sy longe met vars lug te vul sodat hy weer nugter kan dink. Die besef van waar hy hom bevind, dring net betyds tot hom deur. Om hier in die openbaar ’n kabaal op te skop, sal hom niks baat nie. Daar is wel ander maniere om hierdie saak te besleg. O, sal hy dit darem nie geniet om Lucille te laat betáál nie! En verál daardie klein snipgesiggie!

Sonder om te dink, neem hy ’n groot sluk van die koffie. Die té warm vloeistof brand in sy mond en keel af. Hy verstik. Sy oë begin traan en hy moet die servet vinnig voor sy lippe druk. Sy oë sak vererg af na die koffiekol wat op sy bors beland het.

Verbrands! Dit ook nog!

Van die notas wat klaar opgedateer moes word, het nou nie veel gekom nie. Sy eetlus is ook heeltemal weg. Hy lig sy hand om die aandag van die kelner te trek en wys dat hy wil gaan. Terwyl hy vir die rekening wag, pak hy die rekenaar en notas terug in die sak.

· · ·

Vanwaar Daniël Gericke senior aan die kop van die groot half-ovaalvormige raadstafel sit, rus sy verbleikte blou oë ’n paar oomblikke spekulerend op sy kleinseun. Dié sit oorkant hom aan die ander kop. Dit wil vir hom voorkom of sy naamgenoot se aandag vandag nie ten volle by die besprekinge om die raadstafel is nie.

Vandat hy op sy stoel plaasgeneem het, is daar ’n duidelike frons tussen sy wenkbroue sigbaar. Die lippe is ferm opmekaar. Die oë rus gereeld, asof nadenkend, op die tafelblad.

Het hy ooit geluister na wat nou al hoe lank hier bespreek is?

Sy hand vee oor die ylwordende grys hare. Hy kug. “Wat is u opinie oor die nuutste plan, Meneer Gericke? Is daar enige insette wat u hieroor wil lewer?”

Daniël junior skuif regop in sy stoel. Hy leun vooroor. Sy elmboë steun op die blad van die tafel. Die feit dat Oupa na al die jare nog steeds aandring op die formele manier van aanspreekvorms in die raadsaal, is vir hom erg irriterend.

“Meneer die Voorsitter, ek stem nie saam met hierdie plan nie.” Sy stem kom veel driftiger voor as wat hy bedoel, maar hy self kom dit nie agter nie.

’n Ligte frons knak oupa Daniël se voorkop. Eers kam sy blik oor al die aanwesiges. Kom dan op Daniël te rus. “Kan u u beswaar dalk formuleer, Meneer Gericke?”

Daniël leun terug in sy stoel. “Hoekom, Meneer die Voorsitter? Laat ek verduidelik. Eerstens het ek dit teen nog ’n luukse kompleks vir afgetredenes. Luister maar na die advertensies in die media: ‘Die nuwe luukse wooneenhede kan nou besigtig word! Pryse wissel tussen tweemiljoen rand tot – ’” sy hande swaai driftig voor hom “ – wat ook al.”

Sy oë vee vinnig oor die mense voor hom. “Hoeveel mense wat aftree kan dit werklik bekostig om met ’n luukse lewe voort te gaan? Die meeste van hulle word gedwing om af te skaal.”

Oupa Daniël veg om sy emosies te beteuel. “Meneer Gericke, hierdie projek is tydens ’n vorige vergadering voorgestel en toe het u nie enige besware gehad nie. Wat het intussen verander?”

Hy kan sien dat oupa Daniël ontevrede is met sy reaksie. Hy bly egter by sy besluit en sit vorentoe. “Meneer die Voorsitter, ek was so ’n week of twee gelede by die gholfklub. Daar het ek toevallig geluister hoedat ’n groep pensioenarisse juis hierdie saak bespreek het.

“Hulle was dit almal eens dat hulle geval het vir die vooruitsig om ten minste die laaste deel van hul lewens luuks te kan leef. Party van hulle se eiendomme het met die verkoop daarvan nie genoeg opgelewer om die nuwe eenhede te koop nie en was hulle toe verplig om van hul beleggings gebruik te maak.”

Daniël se hande hang uitmekaar, maar met die palms na mekaar gedraai, bo die tafelblad. “Ons weet tog almal wat die stand van die ekonomiese sake in ons land is. Dat hierdie land alreeds afgegradeer is na rommelstatus. Rentekoerse daal en daardie mense se beleggings, of wat daarvan oorgebly het, lewer nie meer die inkomste waarop hulle gereken het nie.”

Sommige van die direksielede om die tafel knik hul koppe in erkenning. Ander sit net stil, uitdrukkingloos.

“En dan kom ons by die voorgestelde groot, meer as een verdieping, sakekompleks. Navorsing oor tyd het tog al bewys dat groot winkel­sentrums se lewenstydperke as gevolg van die ekonomie beperk is. Daar moet voortdurend ten duurste opknappings­werk gedoen word.

“Regverdig ’n aftree-oord langsaan werklik so ’n groot winkel­sentrum? Ek stel dus voor, Meneer die Voorsitter, dat ons hierdie beplanning eers deeglik hersien.”

Oupa Daniël se oë rus onthuts op sy kleinseun. Dit is mos nie die man wat hy ken nie! Waar sou hierdie nuwe gier vandaan kom? Die koste van ontwikkelings en alles daaraan verbonde het hom nooit voorheen gepla nie. Van sy geboorte af is hy aan net die beste gewoond.

“Meneer die Sekretaris, sal u asseblief hierdie beswaar notuleer?” Hy kyk na al die ander aanwesiges. “Is daar enig­iemand anders wat kommentaar wil lewer?”

Leon van Sittert frons ontevrede. Hierdie liewe ou swaertjie van my raak deesdae ’n regte haantjie. Wag maar, boetie, jou vlerkies sal nog geknip word.

Hy lek vinnig oor sy lippe en leun vorentoe. “Meneer die Voorsitter, van wanneer af bekommer ons ons oor mense wat nie ons ontwikkelings kan bekostig nie. Ons is mos nie ’n welsyns­organisasie nie!” Sy groot gesig vertoon rooi. Die dubbelken skud in sy drif. Hy laat sy blik oor die aanwesiges dwaal vir ondersteuning. “As ons ons aan sulke onbenullig­hede gaan steur, kan ons ons deure maar net sowel sluit. Ek staan meneer Gericke junior se beswaar beslis teen.”

Niemand reageer egter op sy teenargument nie.

Daniël se oë rus ’n oomblik hard op sy swaer. “Meneer die Voorsitter, vir my gaan dit hier nie oor welsyn nie. My idee is eerder dat ons al die eenhede baie vinniger sal verkoop en nie drupsgewys nie.”

Oupa Daniël leun sy arms op die tafelblad en vou sy hande saam. Aah, dit klink nou weer na my ou kleinseun, die geharde sakeman! So amper het ek gedink dat Daniël begin dwaal het.

“Nou goed. Ek stel voor dat almal sal gaan nadink oor die voorstelle en dan sal ons dit herbespreek tydens ons volgende byeenkoms. Ons sluit dan hiermee die vergadering. Goeiedag, dames en here.” Hy staan flink op en stap voor die ander die raadsaal uit. Sy regop houding spel duidelik sy tevredenheid uit.

· · ·

Terug in sy kantoor, is Daniël se gemoed versteur. Hy is steeds woedend en loop heen en weer. In sy gedagtes is hy terug in die restaurant en hoor hy weer die aantuigings teen hom gemaak. Sy vuis kom hard op die lessenaarblad te lande.

Hoe durf Lucille sulke stories versprei! Hý ’n gewetenlose rokjagter? Hoe durf sy! En dan daardie snipgesig. Hoe selfvoldaan was sý nie!

Hy is wel ongebonde en kuier gereeld saam met ’n paar vriendinne, maar nog nooit het hy enige beloftes gemaak nie. Ook is hulle almal bewus daarvan dat hy nie van plan is om hom gou te verbind nie. En dit is wat Lucille nie wil verstaan nie. Hy het baie gou agtergekom dat nie hý nie, maar sy geld die groter aantrekkingskrag is. En hy laat hom nie manupileer nie!

Gaandeweg bedaar sy woede soos die dae aanloop …