GROENHEIDE BOEKE

#0: ’n Porsie van My Lewe

— HOOFSTUK 1 —

Ons kom agter Herman word gou oneindig moeg en sukkel om asem te kry. Hy gaan na die huisdokter en dié doen ’n EKG. Hy skryf medikasie voor en sê Herman moet na ses weke weer kom; as daar nog nie verbetering is nie, gaan hy hom na ’n kardioloog in die Kaap stuur.

Ek gaan sommer terselfdertyd na die dienssentrum op Silwerbaai en die suster doen vir my ook ’n paar toetse. Ek, wat altyd redelik gesond was en my lewe lank aan lae bloeddruk gely het, kry die skokkende nuus dat my bloeddruk baie hoog is en my cholesterol en suiker beide ook kommerwekkend.

Herman is van mening dat as ons gesondheid so agteruitgaan dit miskien maar beter sal wees as ons die huis verkoop en in die stad gaan bly. In die stad is ons dan nader aan dokters en hospitale – so asof dit makliker sal wees om daar die dood te sit en afwag.

Toe die verkoop ’n werklikheid word, besluit ons dat ons intussen sal huur en dan maar nog ’n paar maande op Silwerbaai sal aanbly. Ons beplan om te begin rondkyk vir ’n plek in die Kaap, dit kan ons dan koop en ook verhuur. Nadat ons die koper se aanbod aanvaar het, breek ’n besige tyd in ons lewens aan. Die eiendomsagentskap wat die transaksie hanteer, weet van ’n huis wat ons moontlik sal kan huur. Ons gaan kyk na die plek en dit geval ons. ’n Tweeslaapkamerhuis met ’n baie groot garage en motorafdak, en ’n Wendy-huisie in die agterplaas. Ons was nie van plan om al ons goed uit te pak nie en die ekstra spasie pas ons dus uitstekend.

Ons sluit ’n kontrak vir ses maande, teen ’n billike huur. Met huisvesting uitgesorteer kan ons konsentreer op die pak en trek.

Intussen neem Herman se moegheid toe. Hy gaan weer dokter toe, dié neem sy bloeddruk, maar sê niks van die verwysing na ’n kardioloog soos vantevore nie. Ek voel onrustig daaroor, maar ons is so besig, ek dink nie weer daaraan nie. Hierdie is nie sommer net ’n gewone trek nie – dis ’n ander soort besigheid. Ons weet vir so lank as wat ons nog op hierdie dorpie gaan bly, wil ons net die nodigste uitpak in die huurhuis. Terselfdertyd is dit tyd dat ons nou begin bagasie afgooi met die oog op … ja, met die oog op wat? Ons gaan nooit weer so ’n groot huis bewoon nie, ons sal seker nie weer in die toekoms plek hê vir al ons dwarslêermeubels wat ons met groot moeite en onkoste bymekaargemaak het nie. My hand gly liefderik oor die hout van die groot, vierkantige eetkamertafel se blad wat dof glim in die helder lig wat van buite af inkom. Agt stoele so swaar dat ek dit net met groot moeite kan optel. Swaar, stukkende meubels, het my ma altyd gesê, veral die hoekrak wat ons spesiaal laat maak het vir ’n hoekie in ons huis, nog in Pretoria. As ek op die houtbankie gaan sit, gaan my gedagtes terug na die ronde venster in ons eerste aftreehuis in Pretoria. Die bankie is ook spesiaal vir dié venster gemaak en lyk bietjie vreemd teen ’n reguit muur. Dan is daar nog die koffietafel ook. Nou trek ons uit ons tweede aftreehuis. Hoeveel aftreehuise gaan daar nog wees? Elke keer moes ons ’n huis rondom hierdie groot eetkamerstel beplan, maar nou is dit tyd om te laat gaan.

Met ’n sug staan ek op om die lys te gaan optrek. ’n Lys met drie kolomme. Een vir die huurhuis, een vir die stoor en nog een vir goed waarvan ons ontslae moet raak. As ek nie lysies maak in my dagboek nie, sal ek verstrengel raak tussen al die take en reëlings. Ek stel twee advertensies vir die plaaslike koerantjie op. Een vir ’n motorhuisverkoping van al die losgoed, die ander een wat ek sommer vir die Distrikspos in Somerset-Wes ook gaan stuur, vir die eetkamerstel. Die groot, swaar kroeg met vier kroegstoeltjies gaan na ons dogter Mia toe. Ek moet haar bel om te hoor of sy al reëlings getref het vir die vervoer daarvan. Ek weet nie meer hoekom ons die groteske ding gekoop het nie, ons gebruik nie eens sterk drank nie. Ons onthaal nooit deftig nie, eintlik is Herman glad nie ’n sosiale soort mens nie. Seker maar omdat dit ook van dwarslêers gemaak is en teen ’n weggeeprys beskikbaar was.

Ons besluit ons gaan ’n nuwe motor koop. Die ou rooietjie ry nog goed, maar is al tien jaar oud. Ek gaan dit vir my hou om mee werk toe te gaan, die pad soontoe is vreeslik klipperig. Dis somme maak, sake bespreek, redekawel oor wat elkeen van ons wil hê of nie wil hê nie. Al dié dinge trek ons aandag effens af van ons hartseer.

Ek sit pryse op die goed vir die motorhuisverkoping, dit gee ook struweling af. Herman wil altyd alles verniet weggee, terwyl ek probeer prakties dink aan goed wat ons dalk in kleiner formaat sal wil vervang. Die geld kan dan daarvoor aangewend word.

Op sy beurt begin hy reël vir al die vereistes van die koopkontrak, soos ’n klaringsertifikaat van ’n elektrisiën wat daarvoor gekwalifiseer is. Ook vir ’n sertifikaat van ’n spesialis wat die huis se houtwerk vry van boorwurms moet verklaar. Die huis het houtvensterrame wat ons aangebring het omdat dit vir ons mooi is, asook houtgaragedeure. Hy tref reëlings vir die oorplasing van die munisipale rekening en dat die septiese tenk leeggemaak word. Geleidelik word al meer items op die lys afgemerk.

Herman het ’n haastigheid in hom wat ek nie elke dag mooi kan verstaan nie, maar dit steek my ook aan. Ons het nou weer sake wat ons aandag vereis. Hy raak weer soos net voor ons hierheen getrek het. Ek dink aan hoe my ma altyd gesê het hy is weer vandag soos ’n draai-orreltjie. Hy wil inry Kaap toe net om solank na plekke te gaan kyk. Glad te gou kry ons ’n plek wat ons geval en teken ’n aanbod op ’n plek in ’n sekuriteitkompleks.

Gouer as wat ons gedink het, kry ons ’n koper vir die eetkamerstel, iemand wat sommer hier in ons dorp woon. Die man kom en verwonder hom aan die pragtige meubels en sê dat hy nou al lankal ’n eetkamerstel na sy sin soek. Ons kan sien dat hy waardering het vir dwarslêermeubels, hy sê ook dat hy reeds ’n paar stukke het. Hy maak ’n goeie aanbod en ons verkoop. Die volgende dag kom hy met ’n grootbakvoertuig en die goed word gelaai. Ek kyk die voertuig agterna, nie sonder hartseer nie. Ons het so baie keer heerlike etes saam met vriende aan daardie tafel gehad. Baie aande se kaartspeel rondom die lekker groot blad speel in my gedagtes af. Ek neem op my eie manier afskeid van ’n tydperk wat verby is, in my hart weet ek dat niks ooit weer dieselfde sal wees nie.

Die oordrag van die onderskeie verkooptransaksies gaan deur en die restant van die geld nadat die eiendom in die Kaap betaal is, word aan ons uitbetaal. Ons het ons hele lewe lank nooit baie geld gehad nie. Nou veroorsaak ons verskillende sienswyses, veral onder die striemende omstandighede, baie struwelings.

Ons gaan weer Somerset-Wes toe om finaal na die motor waarop ons besluit het, te gaan kyk. Dit was heeltyd my bedoeling dat ons die motor kontant sou koop, ek was nog altyd bang vir skuld en dis erger op die ouderdom waar ons nou is. Toe ons uiteindelik tot die koop oorgaan, besluit Herman ons moet net ’n groot deposito betaal en die res op huurkoop sit. Ek weier aanvanklik, maar wil nie in ’n rusie betrokke raak voor vreemde mense nie en dis hy wat die tjek moet uitskryf. Alles word gereël vir die bestelling en aflewering van die voertuig, ’n week later.

Op pad terug huis toe vra ek hom wat dan nou van ons aanvanklike beplanning geword het. Hy sê dat hy nie kan sien hoekom ons nie maar die motor kan afbetaal nie, ons kan die res van die geld vas belê. Ek het steeds ’n onrustigheid in my, maar gee uiteindelik toe. Oor sy besluit om die motor te registreer op die adres van die woonstel het ek nie veel beswaar nie en na twee weke gaan haal ons die splinternuwe motor met die CA-registrasienommer. Hy die trotse eienaar, en ek ry tevrede agterna in die ou rooietjie.