GROENHEIDE BOEKE

Heideroos Romanse #13: Antoni se Laaste Vlug

— HOOFSTUK 1 —

Die hartseer het Nikita Schoonraad van vooraf oorval toe sy Vrydagmiddag haar en Antoni se vakansiehuis in Knysna binnegestap het. Antoni het hierdie huis gekoop sodat hy so gereeld as moontlik uit Kaapstad kon kom en hier kom afsluit van die spanning wat sy werk as internasionale vlieënier veroorsaak. Nou het die noodlot alles omver kom werp.

· · ·

Dit is nog half donker toe sy opstaan. Sy het nie ’n goeie nagrus agter die rug nie. Net toe sy die kombuis binnestap om solank die ketel aan te skakel, begin haar selfoon lui. Terwyl sy terug na haar kamer toe stap om dit te gaan haal, wonder sy vlugtig wie haar so vroeg op ’n Saterdagoggend sal kontak.

“Môre, Jeffrey, dit is — ” groet sy verbaas, met ’n ligte frons op haar voorkop, na sy op die selfoon se skermpie gesien het dat dit hy is.

Hy wag nie dat sy klaar praat nie, maar val haar blitsig in die rede: “Môre, Niki, is jy tuis?”

“Ek is nie tuis nie, ek het gister in Knysna aangekom. Hoekom vra jy?” antwoord sy, nie baie seker wat om van hierdie oproep te dink nie.

“Maak asseblief vir my die hek oop,” sê hy en klink buitengewoon ernstig.

Stomgeslaan stap sy uit en druk die hek vir hom oop. Sy voel heeltemal verbysterd en wonder vlugtig hoe hy dan geweet het dat sy hier is.

Toe hy uit sy motor klim, neem hy haar in sy arms en soen haar net-net langer as wat nodig is.

“Niki,” fluister hy en vir ’n oomblik voel sy verwar deur sy optrede, maar die volgende oomblik draai hy om en maak sy motor se kattebak oop.

Sy staar so verstom na die twee, groterige, houtagtige houers wat hy daaruit haal, dat sy niks verder hoor nie.

“Niki! Ek praat met jou!” roep hy ontstoke uit. Sy bo-armspiere staan stokstyf gebult van die inspanning om die swaar houers aan hul stewige handvatsels vas te hou.

“Wat sê jy?” vra sy verbouereerd.

“Maak asseblief die kattebak toe. My hande is vol. Maak gou, voor iemand ons met hierdie goed betrap,” sê hy en stap inderhaas haar huis binne sonder om verder tyd te verspil.

Nikita gehoorsaam outomaties en na sy die kattebak toegemaak het, storm sy die huis binne.

“Wat is dit daardie?” vra sy die oomblik toe sy binnestap. ’n Benoude voorgevoel dat dit iets met die vliegtuigongeluk te doen het, dring haar hart binne.

Sonder om dadelik op haar vraag te reageer, plaas hy eers sy vrag met moeite op die eetkamertafel neer, waarna hy ongeërg omdraai en die voordeur deeglik toemaak. Daarna stap hy rustig terug en haal die items uit die digverseëlde, kratagtige houers. Na hy die twee items op die tafel geplaas het, verwyder hy die plastieksakke wat om elkeen gedraai is. Onmiddellik vul die oorweldigende, skerp reuk van staal wat gebrand het, die vertrek.

Jeffrey se stem klink half en half senuweeagtig toe hy uiteindelik antwoord: “Hierdie is die kajuitstemopnemer en die vlugopnemer van ons laaste vlug. Dit is die bewysstukke wat die waarheid oor die oorsaak van die ongeluk gaan laat uitkom. Jy moet dit hier wegsteek sodat die burgerlugvaartowerheid dit nie kan opspoor nie.” Hy sien hoe sy verbleek, maar hy verduidelik nietemin verder: “Die kajuitstemopnemer neem alles wat tydens vlugte in die kajuit gebeur en wat daarbinne gepraat word op. Die vlugopnemer neem weer al die tegniese en meganiese besonderhede van die vliegtuig tydens vlug op. Miskien sal jy beter verstaan as ek eerder van die vliegtuig se ‘black boxes’ praat.”

“Ek weet wat die kajuitstemopnemer en die vlugopnemer doen, Jeffrey!” roep sy kwaad uit. “Daar is geen manier dat ek hierdie apparate in my huis sal versteek nie! Waar het jy dit gekry?”

Jeffrey se kamma-kalm stem verraai niks van die storms wat in sy gemoed woed nie: “Ek het nie jou toestemming kom vra nie, Niki. Dit is die enigste manier hoe ons kan verhoed dat die ondersoekbeamptes vasstel dat Antoni vir die ongeluk verantwoordelik was; wat verder beteken dat dit Antoni se skuld was dat die ander tweehonderd-een-en-sestig passasiers en personeel wat ook op daardie vlug was, saam met hom gesterf het. Sonder hierdie twee apparate kan hulle nie die werklike oorsaak van die ongeluk vasstel nie. Hulle kan wel bespiegel wat hulle dínk gebeur het, maar hulle kan niks bewys nie. Ek kan dit nie langer in my huis versteek nie, want die polisie mag dalk in my huis begin rondsnuffel.” Hy gaan beslis nie aan haar verduidelik hoe hy daardie dag, drie weke gelede, toe die vliegtuig neergestort het, te werk gegaan het om hierdie twee apparate uit die wrak te verwyder voor die noodreddingswerkers of amptenare van die burgerlugvaartowerheid daar opgedaag het nie.

Die twee-en-twintig jarige Nikita snak eers na haar asem, voor sy vurig reageer: “Dink jy dat die ondersoekbeamptes onnosel is? Ek het net verlede maand nog gelees van die vliegtuig wat skaars vier jaar gelede op die grensgebied tussen Rusland en Oekraïne neergestort het. Die ondersoekbeamptes was genoodsaak om met die ondersoek na die oorsaak van die ongeluk te begin, sonder dat hulle die wrak met ’n oog kon sien! Al wat hulle gehad het om mee te werk, was die foto’s wat vir hulle gestuur was. Omdat die vliegtuig in ’n oorloggeteisterde gebied neergestort het, was dit te gevaarlik vir die ondersoekspan om na die ongelukstoneel toe te gaan. Ek het gelees dat hulle taamlik baie van die moontlike oorsake wat die ongeluk kon veroorsaak, kon elimineer, lank voordat hulle nog hul voete naby aan enige van daardie wrakstukke kon sit!” Uit pure ergernis, klop haar hart opeens wild in haar keel.

Sy is so kwaad dat dit vir Jeffrey lyk of haar ligbruin oë vlamvat.

“Wat jy vergeet, is dat die ondersoekspan wél die kajuitstemopnemer en die vlugopnemer van daardie vliegtuig ontvang het om mee te werk!” reageer hy driftig op haar woorde.

Die vonke spat by haar oë uit terwyl sy ontstoke reageer: “Dit is so, maar wat jy klaarblyklik vergeet, is dat daar geen bruikbare inligting daarop was wat hulle met die ondersoek kon help nie! Wat ook van al die ander vliegtuigongelukke van dié vliegtuie wat jare gelede sonder hierdie apparate gevlieg het, wat in die verlede al ondersoek en opgelos is? Hulle kon immers die oorsake van daardie ongelukke bepaal!”

Hy begin hom vir haar vererg: “Nikita, hierdie twee items sal net hier in jou huis bly! Niemand sal eers vermoed dat dit hier is nie.” Hy bly ’n halwe sekonde stil. Skielik klink sy stem dreigend toe hy weer praat: “Dan wil ek jou net waarsku dat as dit ooit uitlek dat dit hier by jou is, sal jy onmiddellik in hegtenis geneem word. So, ek stel voor dat jy aan niemand vertel dat jy in besit van die twee opnemers is nie.”

Dit voel vir haar of sy besig is om beheer oor haar eie wil te verloor, daarom sê sy so ferm as moontlik: “Nee, Jeffrey! Vat hierdie goed onmiddellik uit my huis uit!”

“Wil jy Antoni beskerm, of nie?” vra hy kwaai.

“Natuurlik wil ek, maar nie op hierdie oneerlike manier wat my in die tronk kan laat beland nie,” antwoord sy en haar stem getuig daarvan dat sy bitter ontevrede is.

Meteens staan hy nader aan haar en vryf liggies oor haar bruin hare wat net-net op haar skouers hang.

Sy stem klink onverwags skor toe hy kalmer met haar praat: “Daar is nie ’n ander manier hoe jy hom kan help en sy naam beskerm nie, glo my.”

Sonder om op haar reaksie te wag, draai hy om en begin om die opnemers weer met die plastieksakke toe te maak, waarna hy dit terug in die kratagtige houers plaas. Na hy die twee opnemers deeglik binne ’n kas in een van die kamers versteek het, maak hy gereed om te vertrek. Hy kan sien dat sy glad nie ingenome met hom is nie, daarom neem hy haar weer in sy arms. Al soen hy haar liggies, is daar tog ’n mate van onderdrukte drif in die wyse waarop hy haar lippe vir homself opeis.

Terwyl hy haar nog stywer teen hom vastrek, sê hy saggies: “Ek vertrek vanaand Toronto toe vir ’n paar dae verlof. Ek het toestemming gekry om die land te verlaat, met die voorwaarde dat die ondersoekspan my ten alle tye in die hande kan kry. Nou is ek spyt dat ek nie betyds met jou gereël het om saam met my te kom nie.”

Nikita stoot hom ferm van haar af weg. “Los my uit,” sê sy met ’n kriewelrige gevoel in haar binneste. Uiters verward draai sy om en begin om na haar voordeur toe te stap sonder om hom te groet.

Hy wend ’n probeerslag aan om haar aan haar arm te gryp sodat hy haar tot stilstand kan dwing, maar sy het reeds te vêr van hom af wegbeweeg. Daarom klink sy stem afgehaal toe hy agter haar aanroep: “Dit is nie nodig om so afsydig te wees nie, Niki. Ek het jou dan verlede week al vertel dat Riana besig is om van my te skei!”

Sy hoor hom praat, maar sy reageer nie daarop nie. Sy kan byna nie gou genoeg na haar sin binne haar huis kom nie. Toe sy die deur woedend agter haar toedruk, ruik sy weer die walglike reuk van gebrande staal. Onverwags neem haar gedagtes met haar op loop en sy kan byna nie glo dat dit skaars drie weke gelede was wat die middernagtelike oproep haar lewe onherroeplik verander het nie.

· · ·

“Naand, Jeffrey. Is daar fout?” het sy dadelik bekommerd gevra toe sy haar selfoon net na elfuur daardie verdoemde aand, drie weke gelede, geantwoord het.

Jeffrey se asem het gejaag, asof hy baie vêr gehardloop het, terwyl hy probeer het om so kalm as moontlik te antwoord, maar dit nie kon regkry om die angs en trane van skok uit sy stem te hou nie: “Niki! Ons vliegtuig het ongeveer vier ure gelede neergestort! Sover ek kan sien, is ek die enigste oorlewende. Die nooddienste is nog nie eers hier nie!”

“Wat van Antoni? Waar is Antoni?” het sy die vraag uitgeroep. Sy kon duidelik voel hoe die paniek haar oorweldig en sy het opeens onbeheerbaar begin huil.

Hy het egter nie haar vraag geantwoord nie.

“Nee! Dit kan nie wees nie,” het sy deur haar snikke gefluister toe die volle betekenis van Jeffrey se woorde uiteindelik by haar ingesink het. Haar bene het skielik lam gevoel en sy het geskok op haar bed se rand neergesak.

Jeffrey het op daardie stadium self gesukkel om kalm te bly, daarom het hy half oorstuur geklink toe hy sê: “Niki, ek weet nie wat om te doen nie!”

“Hoe ernstig is jy beseer?” het sy in haar toestand van skok gevra. Op daardie oomblik het sy ook nie geweet wat om te doen nie.

“Ek het ’n paar beserings opgedoen, maar niks wat lewensbedreigend is nie,” het hy verslae geantwoord. “Ek kan nog self nie glo dat ek lewendig uit hierdie wrak geklim het nie.”

Sy het weer begin huil.

Jeffrey se stem het meteens anders, half dringend, geklink toe hy weer met haar praat: “Niki, daar is iets wat ek vir jou moet sê. Dit is baie belangrik.”

“Wat is dit?” het sy gevra terwyl sy moedig probeer het om haar trane te sluk sodat sy al haar aandag aan dít wat Jeffrey haar wil vertel, kon gee.

“Antoni was vanaand in beheer van die vliegtuig gewees toe dit neergestort het. Hy het ’n nalatige fout begaan, wat hom persoonlik verantwoordelik vir die ongeluk maak.” Jeffrey se stem was gelaai met onderdrukte emosies terwyl hy hierdie ontstellende nuus aan haar breek.

Nikita onthou nog baie goed hoe sy haar onmiddellik vir hom vererg het: “Hoe durf jy so sê voordat daar nog ’n deeglike ondersoek na die ongeluk plaasgevind het? In elk geval, sover my kennis strek, was jy vanaand sy medevlieënier – waarom het jy dan nie ingetree toe jy sien dat hy ’n fout begaan en iets aan die saak gedoen voordat dit in ’n ramp geëindig het nie? As Antoni nalatig opgetree het, dan het jy net soveel skuld daaraan!”

“Stadig, Nikita, stadig. Jy was nie teenwoordig nie. Jy weet nie wat gebeur het nie. Ek wou ook nie beskuldigings rondgooi nie. Al wat ek eintlik wou doen, was om jou te verseker dat ek alles in my vermoë gaan doen sodat die ondersoekspan nooit sal vasstel wat werklik voor die ongeluk gebeur het nie en ook nie dat Antoni daarvoor verantwoordelik was nie.” Al het sy stem kalm geklink, kon sy hoor dat hy sukkel om sy emosies onder beheer te bring.

Sy het dadelik skuldig oor haar uitbarsting gevoel, daarom het sy met ’n sagter stem gevra: “Hoe dink jy gaan jy dít regkry? Die ondersoekspanne is gewoonlik baie deeglik met hul ondersoeke en hulle stel altyd die waarheid vas. As Antoni nalatig was, gaan dit immers in die ondersoek uitkom.”

Jeffrey se stemtoon het weer verander en sy kon hoor dat daar ’n onverwags, selfvoldane klank ingesluip het toe hy antwoord: “Ek het reeds voorsorg getref, jy hoef jou nie daaroor te bekommer nie. Verder het ek ook reeds besluit wat ek in my verklaring gaan sê oor wat gebeur het dat die vliegtuig neergestort het. Ek sal enduit by my storie hou, dit belowe ek jou vandag, Niki.”

Hy het ’n oomblik stilgebly, voor hy sag vervolg het: “Dit is eintlik al wat ek vir jou wou sê: dat ek alles in my vermoë gaan doen om Antoni se naam skoon te hou sodat hy nie verantwoordelik gehou gaan word vir die dood van al hierdie mense nie.”

’n Snik het uit haar bors ontsnap: “Jy weet dat ek nie van leuens hou nie, Jeffrey, dit bring mens net in die moeilikheid.”

Onverwags het ’n woede haar oorval, daarom het haar stemtoon eensklaps verander en het sy aanvallend gevra: “Waarom vertel jy hierdie goed vir my as jy in elk geval van plan is om ’n valse verklaring af te lê? Ek sou nie eers geweet het dat jy nie die waarheid praat nie!”

Sy stem was byna teer toe hy haar antwoord: “Sodat jy weet wat ek vir jou doen. Sodat jy kan weet dat ek sodoende vir jou en Antoni bo myself plaas en sy naam gaan beskerm, maak nie saak wát dit van my vra nie!”

“Waarom wil jy dit vir ons doen, Jeffrey?” het sy gevra terwyl die ou bekende gevoel van teleurstelling en ontnugtering weer van haar hart besit geneem het: Jeffrey het haar onlangs nog verraai en nou wil hy kom staan en voorgee dat hy vir haar omgee.

Sonder om op haar vraag te reageer, het hy gesê: “’n Eenvoudige ‘dankie’ sal in orde wees.”

Sy het skielik skaam gekry vir haar eie veroordelende houding teenoor hom – dit moet seker die skok wees wat haar nugtere denke aangetas het. “Ek is jammer, ek wou nie ongeskik wees nie. Dankie, Jeffrey,” het sy gesê en toe vlugtig op haar horlosie gekyk voor sy vervolg het: “Ek sal gou die lugredery van julle ongeluk in kennis stel.” Daarna het sy dadelik afgelui en die lugredery by wie Jeffrey en Antoni as vlieëniers werk, gekontak.

Haar hande het egter so erg gebewe dat sy vir ’n hele paar minute lank gesukkel het voor sy dit uiteindelik kon regkry om die regte nommer te skakel.