GROENHEIDE BOEKE

Mandjies word Boontjies

— HOOFSTUK 7 —

Saterdag breek aan met ’n lug vol grou wolke waaruit fyn motreën neersif.

“Ag nee!” kreun Tessa toe sy die gordyne van haar slaapkamer ooptrek.

Sy gryp haar selfoon en druk vinnig ’n nommer.

“Toe, antwoord!” jaag sy aan toe Anneke nie onmiddellik antwoord nie. “Dis nie nou tyd vir laat slaap nie!”

Anneke maak kraakgeluide toe sy sê: “Ek weet, Tes, dit reën.”

“Eet jy?” vra Tessa ongelowig.

“My ma sê ek gaan nêrens voordat ek nie my Krispies inhet nie,” verduidelik Anneke nadat sy gesluk het. ’n Oomblik later klink nuwe krake.

“Hoe kan jy eet? My maag trek op ’n knop as ek net daaraan dink!”

“Jy ken my ma. Mens stry nie met haar nie.” Kraak, kraak. “Wat wou jy gesê het?”

“Ek wil weet wat ons gaan doen. Dit reën.”

“Ek het gesien, maar ek dink nie dit gaan aanhou nie. Ons kan in elk geval niks daaraan doen nie. Het jy die weerberig gekyk?”

“Nee. Gee kans, dan gaan skakel ek gou die teevee aan. Bel jou nou weer.”

Tessa sit haar foon neer en hardloop na die familie­kamer om die knoppie van die televisie te druk.

“Wat maak jy?” roep haar ma uit die kombuis waar sy en die huishulp met borde en bekers rinkel.

“Ek wil net gou die weerberig kyk, Ma. Dit reën!”

Vinnig spring sy van een kanaal na die ander.

“Kry jy?” kom dit vanuit die kombuis.

“Nee, mag ek Ma se rekenaar gebruik?”

“Wag net ’n oomblik dat ek my goed bêre, ek was besig daarop.”

Tessa wip ongeduldig op en af terwyl haar ma klaarmaak, maar toe sy die weerberig op die skerm sien, sak haar moed.

“Heeldag!”

“Ag nee wat, dis nie so erg nie,” troos haar ma. “Kyk na die persentasie kans, dis maar dertig.”

“Ja, dis waar, ek het nie daaraan gedink nie. Dit kan dus maklik opklaar. Dankie, Ma!”

Tessa piksoen haar ma op die wang en haas haar terug na haar kamer om aan te trek. Alles is die vorige aand al reg gesit, haar rybroek en die Poniehoewe-Klub se seegroen T-hemp, lang sokkies en haar kort swart rystewels, blink gepoets. Bo-oor haar rybroek trek sy ’n sweet­pak­broek aan sodat dit nie vuilsmeer nie. Sy moet net onthou om haar reënbaadjie saam te vat.

Haar selfoon lui. Dis Anneke wat wil weet of Tessa uitgevind het van die reën.

“My ma dink dit gaan ophou,” sê sy. “Hoe laat gaan julle ry?”

Almal se ouers het ingestem om tellinghouers te wees, sodat hulle sommer voor die tyd met die motors na die hoewe sal gaan.

“Ek dink ons moet so vroeg as moontlik daar wees,” antwoord Anneke. “Dis nou halfsewe, nie later as agtuur nie.”

Ook net betyds, want toe Tessa-hulle daar aankom staan daar reeds twee ruiters by die hek en wag. Tessa herken hulle, van skool af.

“Bly julle hier?” vra sy nuuskierig terwyl sy die hek oopsluit.

“Ja, daar heel op die anderkantste hoewes. My ma het gesê toe julle daar was om plek te soek vir jul ponies, maar ons het al reeds Trudi hier — ” sy wys na die ander meisie “ — en nog iemand s’n ook gehad en julle was net te baie,” antwoord die een meisie wat Tessa as Janie ken. Albei ry bruin ponies, sterk bonkige perdjies wat reg lyk vir enigiets.

“Nee, ek verstaan,” sê Tessa. “Dis net dat ons julle nie by die gimkana gesien het nie.”

Trudi antwoord: “Ons wou, maar dit was juis die naweek toe ons klaar bespreek het vir ’n ruiter­kursus.”

“Ek’s in elk geval bly julle’t nou gekom, ry maar eers tot daar by die skuurtjie,” beduie Tessa.

Mildred het gesê die hek mag oopgesluit bly, maar dan moet haar twee perde en die ponies in die stalle toegemaak word. Hulle het gedink daar sal hope tyd wees, maar, soos Trudi laggend sê: “Ons het vroeg gekom om die stormloop te vermy!”

Gelukkig kom Anneke-hulle en die Samuelse ook net aan en ’n entjie agter hulle spat die druppels van die nat teerpad op soos Roy en sy broer op dié se motorfiets aangejaag kom.

“Kom julle,” roep Tessa, “ons moet gou die perde inkry!”

Die perde het al klaar agtergekom daar is vreemde­linge in hul tuisveld en staan nuus­kierig nader. Dapper en Sneeuvoet pronk-draf met hul sterte in die lug en Kuifkop runnik uitdagend, terwyl Star hulle met ’n kiertsregop nek bekyk. Breaker en Gillie kom ook aange­draf en dis net Rollie wat ongeërgd aanhou grassies kou.

Die stalle is darem groot genoeg dat al sewe inpas. Hulle sit vir Kuifkop by Gillie, Sneeuvoet by Breaker en die ander drie saam in die oorblywende stal. Dis tog net vir ’n kort rukkie, totdat hulle opgesaal gaan word.

Met die motors geparkeer kom die ouers nou ook aangestap en saam met Roy se broer is daar dus elf wat kan telling hou, een vir elke hindernis.

“As Juanita nog saambring, kan hulle aflos,” besluit Anneke.

Intussen word Ruan gestuur om eers hek­wagter te wees sodat hy die mense kan wys waarheen om te gaan. Hy het ’n leë koffieblik met ’n gleuf in die plastiekdeksel uitgekerf by hom, waarin Janie en Trudi se vyfrande toe­gangs­geld reeds rammel.

“En sê nou iemand gee ’n tienrandnoot?” vra Dommie.

“Dan haal ek die deksel af en gee kleingeld, Dómmie,” sê Ruan en gaan neem sy pos in.

’n Halfuur later kom hy terug na die skuurtjie, waar die ander sit om uit die reën te kom. Janie en Trudi het hul ponies buite aan ’n paal vas­gebind, met plastiek-omhulsels oor hul saals. Die ouers het verkas na Mildred se huis.

“Ek is papnat,” kla Ruan, “en julle sit lekker droog hier binne. Ek sweer daar gaan niemand anders kom nie.”

Tessa loer by die deur uit.

“Lyk dit nie asof dit minder word nie?” vra sy hoopvol.

“Dit reën nie hard nie, maar baie,” sê Ruan. “As dit so aanhou gaan die grond glad wees.”

“Ag nee wat,” sê Trudi, “ons gaan ons nie laat vermaak deur ’n bietjie nattigheid nie. Wanneer kan ons die baan loop?”

Gelukkig weet Anneke nog van die skouspring af dat ruiters voor die kompetisie altyd die hindernisse te voet mag bekyk, dus het sy haar antwoord reg.

“Ek dink so ’n bietjie later, net voordat ons begin, dan kan ons sommer die tellinghouers ook hul plekke gee.”

“Kan ons dan solank iets te ete kry?” Janie haal ’n paar muntstukke uit haar sak.

Te laat onthou Anneke dat die plakkaat wat die kompetisie adverteer, verversings belowe.

“O griet!” sê sy.

“Ons het skoon vergeet om te onthou van die spek-en-eier­broodjies!” Roy klink heel ontsteld.

“Nee toemaar, ek en Ma het gemaak, ek het net vergeet om dit in te sit,” sê Tessa. “Nou sal ons my pa moet vra om terug te ry.”

“Ek en André kan mos gou gaan, sommer met sy motorfiets,” sê Roy. “Nè, Ouboet?”

“Ja, ek is hoeka al moeg vir hierdie gerond­sittery,” antwoord André en staan op. “Sê net waar is dit, is die huis gesluit?”

“Nee, Katerina is daar, sy ken vir Roy dus dis geen probleem nie. Vra haar, sy weet waar die broodjies is. En dankie!”

’n Rukkie later klink die gedreun van die motorfiets en Tessa sê vir Janie: “Ons is nou-nou reg met die verversings.”

“Ook maar goed ek het gevra, nè?” lag Janie.

“Dis nie altemit nie,” bevestig Tessa, “ons moet reg wees vir die honger hordes.”

“Wat nog nie opgedaag het nie,” sê Dommie somber. “Ek hoop julle het nie te veel broodjies gemaak nie.”

“Twee dosyn,” sê Tessa, “net genoeg dat dit tussen ons gedeel kan word as dit moet.”

Ruan tel op sy vingers.

“Vyf van ons plus Janie en Trudi, dis sewe. Vyf ma’s en vyf pa’s, tien. André – wat van Han, is hy ook hier?” Han is Tessa se jonger boetie en sy antwoord: “Nee, hy’s by Katerina, nog steeds so anti-ponie soos altyd.”

“Dis dan altesaam agtien so ver. Juanita sal beslis nog kom en ek glo ons moet ook maar daarby berus dat Shanu gaan opdaag. Twintig. Het ek reg getel? Dan is daar vier broodjies oor — ”

“Wat van Mildred en tannie Elsa?”

“Reg, en Tjello ook. Die kat hoef nie te kry nie, dan is daar nog een, wat ek sal vat,” besluit Ruan.

“Ag, jy’s sommer simpel,” sê Anneke vies. “Jy sal sien hier gaan nog tonne mense kom.”

“Haai, dit het ophou reën!” roep Dommie waar sy by die deur staan.

“Gaaf,” sê Tessa en kyk op haar selfoon. “Dis nou nege-uur, dit kan nog droog word as die son net wil uitkom.”

“Ek begin op my senuwees raak,” sê Anneke skielik. “Sê nou maar — ”

“Ag nee, moenie nou begin spoke opjaag nie.” Tessa klink self ’n bietjie onseker en dis Dommie wat hulle gerusstel met: “Alles sal perfek wees, julle sal sien. Nè, Ruan?”

“Natuurlik,” antwoord haar broer. “Wat kan nou verkeerd gaan?”

“Ek wil liewer nie weet nie,” verseker Tessa hom.